Is die dode lewend? Wat God sê
’N LIGTE vliegtuig het van ’n stad in Suider-Afrika opgestyg op pad na ’n dorp sowat 400 kilometer daarvandaan. Aan boord was die vlieënier en sy 12-jarige dogtertjie. Toe hulle ’n noodlanding probeer doen het, het die vliegtuig neergestort en is hulle albei gedood.
“Jehovah God alleen het van my pyn en verlies geweet, asook van my stryd om te kon aangaan”, sê Betty, die vrou en moeder. Hoe het sy dit reggekry? “Ek het voortdurend om moed en krag gebid om my situasie te verwerk sodat ek ander kon help om dieselfde te doen.” Betty het ook groot troos geput uit wat God oor die toestand van die dode en die hoop op die opstanding sê.
Wat sê God oor die dode? Die Bybel antwoord: “Die dooies weet glad niks nie” (Prediker 9:5). Die dode is dus onbewus. Dit is so eenvoudig. Waarom glo die meeste mense dan die teenoorgestelde? Omdat hulle deur ’n kolossale en ou, aardwye bedrogspul om die bos gelei word!
Aardwye bedrog
Dit het alles begin toe die heel eerste leuen vertel is. Die geskiedkundige verslag in die Bybelboek Genesis verskaf die besonderhede. Dit sê: “Van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:17). Dit was Jehovah God wat met die eerste man, Adam, gepraat het. Vergelyk dit nou met Genesis 3:1-4 waar Satan, wat deur die slang gepraat het, Eva oorgehaal het om aan God ongehoorsaam te wees deur te sê: “Julle sal gewis nie sterwe nie.” Satan het dus God se woorde weerspreek. So het hy die eerste leuen vertel en ‘die vader van die leuen’ geword.—Johannes 8:44; Openbaring 12:9.
Maar Adam en Eva het wel gesterf, asook miljoene der miljoene ander. Hoe het die leuenaar Satan daar verbygekom? Deur later die gedagte in te bring dat, hoewel die liggaam sterf, iets voortleef. Dit het gevolglik ’n leerstelling van eertydse godsdienste geword en is in Griekse filosofie opgeneem. Geloof aan die onsterflikheid van die siel is derhalwe feitlik universeel. En vir baie wat glo dat hulle afgestorwe dierbares êrens lewe, is dit moontlik ’n vertroostende gedagte. Maar die allerbelangrikste vraag is: Is dit waar?
Is jou siel onsterflik?
Die woord “onsterflikheid” verskyn drie keer in die Bybel, en al drie plekke is in die Christelike Griekse Skrifte. ’n Ondersoek van die gebruik daarvan maak een ding duidelik: Die mens is nie inherent onsterflik nie.
Kyk byvoorbeeld na die apostel Paulus se woorde in 1 Timotheüs 6:15, 16 waar hy Jesus Christus beskryf as “die Koning van die konings en Here van die here, wat alleen onsterflikheid besit”. Hoe verskil Jesus dus van alle ander “konings” en “here”? Hy is onsterflik; hulle is nie.
Onsterflikheid word weliswaar beloof aan die volgelinge van Christus wat geroepe is om saam met hom in die hemele te regeer (1 Petrus 1:3, 4). Ons lees dus in 1 Korinthiërs 15:53, 54: “Hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word. En wanneer . . . hierdie sterflike met onsterflikheid beklee is, dan sal vervul word die woord wat geskrywe is: Die dood is verslind in die oorwinning.” Maar let op dat ’n persoon met onsterflikheid “beklee” word. Dit is ’n beloning vir getroue, uitverkore Christene. Dit is nie iets wat alle mense erf nie.
Die Bybel sê ook nie dat die mens ’n siel het of een gegee is nie. Dit sê eerder: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” (Genesis 2:7; vergelyk 1 Korinthiërs 15:45.) Om iets te wees, is heeltemal anders as om iets te hê. Niemand sou die feit betwis dat om ’n hond te wees anders is as om ’n hond te hê nie! Om ’n siel te wees, is eweneens nie dieselfde as om ’n siel te hê nie.
Die feit dat nie alle mense onsterflikheid ontvang nie, blyk duidelik uit die Bybel se talle verwysings na die feit dat die siel sterf. Byvoorbeeld: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4, 20). “Elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word.”—Handelinge 3:23.
Wat gebeur wanneer ons te sterwe kom, aangesien ons nie onsterflike siele het nie? Ons “slaap”, want as gevolg van Christus se losprysoffer is daardie hoop op ’n opstanding (1 Korinthiërs 15:22). Toe Lasarus gesterf het, het Jesus gesê: “Ek gaan om hom wakker te maak.” Toe het hy verduidelik: “Lasarus is dood” (Johannes 11:11-14). Paulus het ook van die “ontslapenes” gepraat (1 Thessalonicense 4:13, 14; 1 Korinthiërs 15:20). Wel, as die dode slaap, . . .
Sal daar ’n ontwaking wees?
Beskou hierdie verbasende toneel: ’n Skare is voor ’n spelonk in Betanië, naby Jerusalem, vergader. Jesus is daar saam met Maria en Martha, susters van Lasarus wat onlangs gesterf het en wie se liggaam in ’n spelonk lê wat met ’n steen toegemaak is. “Neem die steen weg”, beveel Jesus. Martha maak beswaar: “Here, hy ruik al, want hy is al vier dae dood.” Maar na ’n kort gebed roep Jesus uit: “Lasarus, kom uit!” En die man Lasarus kom uit! (Johannes 11:38-44). Kan jy jou die verbasing en die vreugde van die skare voorstel—veral van Maria en Martha?
Sou Lasarus nie, as hy gedurende daardie vier dae lewend was, dit vir almal vertel het nie? Maar daar is geen verslag dat hy gepraat het van enige ondervinding wat hy gedurende sy dood gehad het nie, en die Bybel sê ter verdere bevestiging daarvan: “Die dooies weet glad niks nie.”—Prediker 9:5.
Lasarus se geval was nie uniek nie. By ’n plek met die naam Nain het Jesus die lykstoet van ’n jongman wat begrawe sou word, teëgekom. Jesus het gesê: “Jongman, Ek sê vir jou, staan op!” En wat het gebeur? “Die dooie het regop gaan sit en begin praat” (Lukas 7:11-17). Maar het die jongman iets gesê oor ’n plek waarheen mense na die dood gaan? Nee, want hy was klaarblyklik eenvoudig dood.
Jesus, Paulus, Petrus, Elia en Elisa het almal dooies opgewek. Nie een van diegene wat voorheen dood was, het ’n woord oor lewe na die dood gesê nie.
Hierdie verbasende wonderwerke gee ’n voorsmaak van die enigste manier waarop die oorgrote meerderheid van die dode weer kan lewe—deur ’n opstanding tot lewe op die aarde onder God se Koninkryk. Jesus het gesê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, [my] stem sal hoor en sal uitgaan” (Johannes 5:28, 29). Dit sal ’n uiters opwindende ondervinding wees vir diegene wat bevoorreg sal wees om te lewe onder Christus se duisendjarige Koninkryksbewind wat nou so naby is (Openbaring 20:4, 6). Die opstandingshoop op sigself bewys dat die dode nie lewend kan wees nie. As mense opgewek moet word, moet hulle eers leweloos word.
Party vra miskien . . .
Wat van die bewerings van mediums en ander dat hulle boodskappe van die dode ontvang? Bewys dit nie dat die dode lewend is nie? Nee. Satan is baie slim, ’n aartsbedrieër wat hom dikwels ‘voordoen as ’n engel van die lig’ (2 Korinthiërs 11:14, NAV). Hy en sy demone kan hulle voordoen as die geeste van mense wat gesterf het, en hulle doen dit ook dikwels! Daarom het Jehovah se wet aan Israel nadruklik gesê: “[Elkeen] wat ’n gees van ’n afgestorwene vra . . . of wat die dooies raadpleeg . . . is vir die HERE ’n gruwel” (Deuteronomium 18:10-12). Jehovah sê ook dat diegene wat spiritisme beoefen “die koninkryk van God nie sal beërwe nie”, maar vernietig sal word.—Galasiërs 5:19-21; Openbaring 21:8.a
Wat van diegene wat beweer dat hulle skyndoodondervindinge gehad het? Bewys dit nie dat die gees of die siel die liggaam by die dood verlaat nie? George Gallup jr., Amerikaanse meningspeiler, het hierdie onderwerp ondersoek en die resultate in Adventures in Immortality gepubliseer. Dokters en wetenskaplikes wat uitgevra is, was skepties oor die geldigheid van die skyndoodverslae. ’n Biofisikus in Maryland het gesê: “Dit is die ondervindinge van ’n verstand in ’n abnormale fisiologiese toestand . . . Die brein is ’n uiters ingewikkelde orgaan en dit kan jou lelik mislei wanneer jy dit mishandel—kyk na die ondervindinge wat deur hallusinogeniese dwelms veroorsaak word.” ’n Psigiater in Ohio: “Hierdie verslae is fantasieë of waanverskynsels.” ’n Wetenskaplike in Michigan: “Dit is fantasieë wat deur traumas veroorsaak word.”
Gallup het tot die slotsom gekom dat skyndoodverslae “geensins beskou kan word as bewys van onsterflikheid of die hiernamaals” nie. Hy voeg by: “Dit is moontlik bloot dramatiese innerlike tonele wat hulle geheel en al afspeel in die verstande van diegene wat fisieke traumas ondergaan.” Hy doen ook aan die hand dat sommige godsdiensdenkers sulke ondervindinge sou verklaar as “deel van ’n demoniese strategie om mense te bedrieg”. Wat Jehovah God lank gelede gesê het, is nog van krag: “Die dooies weet glad niks nie.”—Prediker 9:5.
Wat moet jy doen?
Pas op vir gedagtes of leerstellings wat gebaseer is op Satan se eerste leuen—“julle sal gewis nie sterwe nie” (Genesis 3:1-5). Aanvaar wat God se Woord leer, naamlik dat wanneer ’n mens sterf “dit met sy planne gedaan” is (Psalm 146:4). Aanvaar ook dat die ontslapenes gedurende die luisterryke heerskappy van God se Koninkryk, waarvoor baie bid, sal opstaan wanneer “daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges”.—Handelinge 24:15; Mattheüs 6:9, 10.
Die sieklike vrou wat in ons eerste artikel gemeld is, was verheug toe sy meegedeel is wat God oor die dode en oor bedrieglike demongeeste sê. Sy het haar amulette en ander spiritistiese artikels vernietig en het binne ’n paar dae baie beter gevoel. Sy help ander nou om van demonaanbidding los te breek.
Die weduwee wat haar dierbares in die vliegtuigongeluk verloor het, is deur hierdie gedagte vertroos: Aangesien die dode niks weet nie, is hulle nie bewus van tyd nie. Uit hulle standpunt word hulle dus die volgende oomblik in ’n aardse paradys onder God se koninkryk wakker! Dit verskaf haar vreugde om ander te vertel dat Jehovah binnekort ‘die trane van alle aangesigte sal afvee’ (Jesaja 25:8). Sy sien uit na die dag wanneer haar afgestorwe dierbares deur middel van die opstanding lewend sal word.
[Voetnote]
a Kyk ook die boekie Onsigbare geeste—Help hulle ons? Of benadeel hulle ons? wat deur die Wagtoring Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee word.