Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w86 10/1 bl. 22-24
  • “Jy moet jou naaste liefhê”—Wat is die praktiesste manier?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Jy moet jou naaste liefhê”—Wat is die praktiesste manier?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe word jou geld bestee?
  • Volg Jesus se voorbeeld
  • Waarom prediking so prakties is
  • Toon gebalanseerde naasteliefde
  • Word jy soos Jesus tot optrede beweeg?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Gawes wat God behaag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Volg Jesus se voorbeeld en toon besorgdheid oor die armes
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Hoe kan Jesus jou lewe verander?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
w86 10/1 bl. 22-24

“Jy moet jou naaste liefhê”​—Wat is die praktiesste manier?

HOE voel jy wanneer jy sien dat jou medemens in groot nood verkeer? Watter reaksie lok ’n foto van verhongerde kinders byvoorbeeld by jou uit? ‘Ek kry hulle jammer’, sê jy, ‘en ek wil hulle help.’ Die enorme bedrae wat jaarliks aan liefdadigheidsorganisasies en noodlenigingsinstansies geskenk word, dui aan dat baie mense so voel.

Sulke goeie werke ten behoewe van mense wat gebrek ly, is prysenswaardig, veral met die oog op Jesus se instruksie om ons naaste lief te hê soos onsself (Mattheüs 19:19). Talle opregte mense meen dat die bou en finansiering van hospitale en skole, bydraes aan verdienstelike sake en deelname aan allerhande maatskaplike werk die praktiesste manier is om hulle naasteliefde te toon. ‘Dit is tog die kern van Christelikheid’, sê hulle dalk. En as hulle met Jehovah se Getuies praat, voeg hulle miskien by: ‘Dit is beslis praktieser as om jou tyd en krag te gebruik om van huis tot huis oor godsdiens te praat soos julle doen.’

Maar is dit? Hoe kan ons ons naaste op die praktiesste manier en tot sy grootste en blywendste voordeel liefhê?

Hoe word jou geld bestee?

Voornemende skenkers aan verdienstelike sake het rede om te vra: ‘Hoeveel van my bydrae sal regstreeks gebruik word tot voordeel van die mense vir wie dit bedoel is?’ ’n Ondersoek in 1978 van 15 vooraanstaande liefdadigheidsorganisasies in die Bondsrepubliek van Duitsland het byvoorbeeld getoon dat administrasie- en verspreidingskoste destyds sowat 42 persent van die organisasies se totale inkomste verswelg het.

Toe televisiebeamptes die spaarrekeninge van ses “aangenome kinders” in Bolivia nagegaan het, het hulle ontdek dat net 6 tot 15 persent van die totale bydraes van die kinders se “pleegouers” in die Bondsrepubliek van Duitsland in die kinders se bankrekeninge gedeponeer is. ’n Woordvoerster van die organisasie het egter beskuldigings van bedrog ontken en verduidelik dat voornemende skenkers uitdruklik meegedeel word dat die kinders net sowat een derde van hulle “ouers” se bydraes sal ontvang. Die res, nadat administrasiekoste betaal is, word glo vir onderwys en gesondheidsdienste aangewend.

Daar is natuurlik gevalle waar liefdadigheidskenkings misbruik is. ’n Voorbeeld hiervan is die noodleniging tydens onlangse hongersnode in Afrika. In Ethiopië het politieke probleme veroorsaak dat min van die voedsel die verhongerdes bereik, en in sommige gevalle is geskenkte voedsel glo teen hoë pryse verkoop in plaas van kosteloos versprei.

Carl Bakal se publikasie Charity U.S.A. maan: “As dit vir ’n edel saak is, word daar nooit vrae gevra oor hoe die geld bestee word nie. Ek wil nie hê mense moet ophou gee nie. Ek dink net dat vrae beantwoord moet word omdat hulle so blindelings gee.” Dit is beslis onverstandig en nouliks prakties om blindelings te gee.

Volg Jesus se voorbeeld

Hierdie feite is natuurlik betreurenswaardig, maar beteken dit dat ’n mens liewer nie sulke verdienstelike sake moet ondersteun nie? Buitendien, het Jesus nie siekes genees en hongeriges wonderdadig gevoed en sodoende ’n voorbeeld vir hedendaagse Christene gestel nie?

Dit is waar dat Jesus jammer gevoel het vir hulpbehoewendes. Agt Bybeltekste maak daarvan melding. Twee het betrekking op die mense se behoefte aan kos (Mattheüs 15:32; Markus 8:2), drie op hulle behoefte aan liggaamlike genesing (Mattheüs 14:14; 20:34; Markus 1:41), en een op hulle behoefte aan vertroosting ná die dood van ’n dierbare (Lukas 7:13). Maar die ander twee tekste het betrekking op ’n selfs groter behoefte. Mattheüs 9:36 sê: “Toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.” En Markus 6:34 berig: “Toe . . . sien Hy ’n groot menigte, en Hy het vir hulle innig jammer gevoel, omdat hulle soos skape sonder herder was; en Hy het hulle baie dinge begin leer.”

Trouens, hoewel Jesus se jammerte vir die mense hom beweeg het om in hulle liggaamlike behoeftes te voorsien, het hy bowenal daarin belanggestel om hulle die geestelike hulp te gee wat hulle godsdiensleiers nagelaat het om hulle te gee. (Kyk Mattheüs, hoofstuk 23.) Jesus was “die goeie herder”, een wat bereid was ‘om sy lewe vir die skape af te lê’ (Johannes 10:11). Omdat hy hierdie predikingswerk​—nie maatskaplike werk, die bou van hospitale of die organisering van noodleniging nie—​die hoogste voorkeur in sy lewe gegee het, kon hy later vir Pilatus sê: “Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom, om vir die waarheid te getuig.”​—Johannes 18:37.

Hoewel Jesus sy apostels die vermoë gegee het om wonderdadige genesings te verrig, het hy geen melding daarvan gemaak toe hy hulle sy laaste instruksies voor sy hemelvaart gegee het nie. Hy het hulle eerder beveel: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Die belangriker werk was klaarblyklik om ‘dissipels te maak, hulle te doop en hulle te leer’.​—Mattheüs 28:19.

Waarom prediking so prakties is

Prediking is prakties omdat dit mense help om Bybelbeginsels toe te pas. Dit help hulle weer om probleme te vermy wat hulle in die nood kan dompel. Die toepassing van Bybelbeginsels in verband met werk en ons beskouing van materiële dinge kan byvoorbeeld help om armoede te voorkom (Spreuke 10:4; Efesiërs 4:28; 1 Timotheüs 6:6-8). Of as ons gehoor gee aan die Bybel se raad oor dwelmgebruik en ons skik na die Bybel se morele standaard, kan dit ons gesondheid verbeter en ’n gelukkiger gesinslewe verseker.

Beskou die voorbeeld van ’n 35-jarige Joego-Slaaf wat in die Bondsrepubliek van Duitsland woon. Hy erken: “Op die ouderdom van 18 of 19 was ek reeds besig om ’n alkoholis te word. Op 20 het ek ’n liter brandewyn en minstens ’n kis bier [20 bottels] per dag uitgedrink. Drie keer is ek in die hospitaal opgeneem in ’n poging om my van my gewoonte te genees, maar die dokters kon my nie help nie. Hoewel ek DM1 300 [Rl 566] per maand verdien het, het ek amper niks daarvan huis toe gebring vir my gesin nie.” Wat Jehovah se Getuies hom egter tydens hulle predikingswerk vertel het, het by hom die begeerte gewek om ’n beter verhouding met sy Skepper te geniet. “Deur middel van gebed”, vertel hy voorts, “het ek reggekry wat die dokters nie kon regkry nie.” Ons kan ons voorstel watter positiewe uitwerking dit op sy gesinslewe gehad het.

Die prediking sal weliswaar nie alle probleme oplos nie. Maar dit is prakties omdat dit hoop bied. Onder God se Koninkryk sal alle probleme opgelos word. Jesus sal dan liggaamlike genesings verrig vir almal wat leef, nie net vir ’n paar nie. Pleks van tydelike verligting sal die voordele blywend, trouens, ewig wees. (Kyk Johannes 17:3.) Op die lange duur word die grootste nut dus gestig deur mense te leer om geloof te beoefen in Jesus se losprysoffer en wat daardeur moontlik gemaak word.

Talle godsdiensorganisasies in die Christendom wys met trots op hulle “goeie werke” om vir siekes, armes en minder bevoorregtes te sorg. Maar hulle sal beter vaar as hulle meer klem lê op geestelike hulp, soos Jesus gedoen het. Soos die godsdiensleiers van die eerste eeu het hulle nagelaat om die belangriker opdrag uit te voer. Hulle het moontlik die mae van sommige armes met letterlike voedsel gevul, maar hulle verstande en harte smag steeds na woorde van waarheid. (Kyk Amos 8:11.) Hulle het miskien geld geskenk om die armes van die nasies te help, maar hulle het nie aan die nasies “die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus” of God se Koninkryksregering verkondig nie (Efesiërs 3:8). Hulle sendelinge het moontlik onderontwikkelde nasies gehelp om bedrewener te word in die gebruik van die ploeg, maar hulle het hulle nie oorreed om ‘van hulle swaarde pikke te smee en van hulle spiese snoeimesse nie’.​—Jesaja 2:4.

Toon gebalanseerde naasteliefde

Die feit dat ons tereg die grootste klem op geestelike hulp laat val, stel ons natuurlik nie daarvan vry om fisiese hulp te verleen​—hetsy aan individue of aan groepe—​wanneer dit nodig is en wanneer ons daartoe in staat is nie. Ons moet die voorbeeld volg wat deur vroeë Christene gestel is. (Kyk Handelinge 11:27-30.) Wanneer mense in groot nood verkeer of as daar ’n ramp was, moet ons sonder versuim Paulus se advies volg om ‘aan almal goed te doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof’ (Galasiërs 6:10). Om te verseker dat die grootste nut gestig word, doen Jehovah se Getuies dit gewoonlik op ’n persoonlike vlak. En aangesien Getuies wat by sulke noodleniging betrokke is sonder vergoeding werk, word administrasiekoste uitgeskakel.

Maar terwyl hulle ander op ’n fisiese manier help, wil Christene nooit hulle vernaamste verantwoordelikheid vergeet nie, naamlik om die goeie nuus van God se opgerigte Koninkryk te verkondig. Daardie Koninkryk sal die wêreld eerlank van alle siekte, armoede en gebrek verlos. Hoe verblydend tog om mense te kan help om die lewe te verwerf in ’n wêreld waar mense nie meer die woord “jammerte” sal nodig hê nie. Kan jy jou naaste liefhê op ’n manier wat praktieser is as dit?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel