Hoe kan Jesus jou lewe verander?
JESUS CHRISTUS was ’n Groot Onderrigter wat byna 2 000 jaar gelede in Palestina gelewe het. Baie min is oor sy kinderdae bekend. Daar is egter oorvloedige bewys dat hy begin het met sy bediening om “van die waarheid te getuig” toe hy ongeveer 30 jaar oud was (Johannes 18:37; Lukas 3:21-23). Die vier dissipels wat verslae oor sy lewe geskryf het, vestig die aandag op die daaropvolgende drie en ’n half jaar.
Gedurende Jesus Christus se bediening het hy sy dissipels ’n gebod gegee wat ’n teenmiddel teen baie van die euwels van die wêreld kan wees. Wat was dit? Jesus het gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê” (Johannes 13:34). Ja, die oplossing van baie van die mensdom se probleme is liefde. Toe Jesus by ’n ander geleentheid gevra is watter gebod die grootste is, het hy geantwoord: “‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.’ Dit is die grootste en eerste gebod. Die tweede, soortgelyk hieraan, is dit: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”—Matteus 22:37-40.
Jesus het ons deur sy woorde en dade gewys hoe om God en ons medemens lief te hê. Kom ons beskou ’n paar voorbeelde en kyk wat ons by hom kan leer.
Sy leringe
In een van die bekendste preke in die geskiedenis het Jesus Christus vir sy volgelinge gesê: “Niemand kan twee here as slaaf dien nie; want hy sal óf die een haat en die ander liefhê, óf die een aankleef en die ander verag. Julle kan nie God en Rykdom as slawe dien nie” (Matteus 6:24). Is Jesus se lering om God eerste te stel in ons lewe vandag nog prakties, wanneer soveel mense glo dat geld alle probleme oplos? Ons het weliswaar geld nodig om die pot aan die kook te hou (Prediker 7:12). Maar as ons slawe van “Rykdom” word, sal “die liefde vir geld” ons beheer en ons hele lewe oorheers (1 Timoteus 6:9, 10). Baie wat in hierdie slagyster getrap het, het op die ou end hulle gesin, hulle gesondheid en selfs hulle lewe verloor.
Daarenteen gee dit ons lewe sin as ons op God vertrou en hom as slawe dien. As die Skepper is hy die Bron van die lewe en dus is hy alleen ons aanbidding waardig (Psalm 36:10; Openbaring 4:11). Diegene wat van sy eienskappe leer en hom leer liefkry, word beweeg om sy gebooie te onderhou (Prediker 12:13; 1 Johannes 5:3). Sodoende bevoordeel ons onsself.—Jesaja 48:17, NW.
In die Bergpredikasie het Jesus ook sy dissipels geleer om liefde teenoor hulle medemens te betoon. Hy het gesê: “Alles wat julle dus wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook net so aan hulle doen” (Matteus 7:12). Die woord “mense” wat Jesus hier gebruik het, sluit selfs ’n mens se vyande in. In dieselfde preek het hy gesê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matteus 5:43, 44). Sal sulke liefde nie baie van die probleme oplos waarvoor ons vandag te staan kom nie? Die Hindoeleier Mohandas Gandhi het so gedink. Hy het volgens berig gesê: “Wanneer [ons] die leerstellings toepas wat deur Christus in die Bergpredikasie gemeld is, sal ons . . . die probleme . . . van die hele wêreld opgelos het.” Indien Jesus se leer oor liefde toegepas word, kan dit ’n einde maak aan baie van die euwels wat die mensdom teister.
Sy dade
Jesus het ander nie net diepgaande waarhede geleer oor hoe om liefde te betoon nie, maar hy het self ook gedoen wat hy ander geleer het. Hy het byvoorbeeld ander se belange voor sy eie gestel. Op ’n dag was Jesus en sy dissipels so besig om mense te help dat hulle nie eers tyd gehad het om iets te eet nie. Jesus het gesien dat sy dissipels ’n bietjie moes rus, en hy het hulle na ’n eensame plek toe geneem. Maar toe hulle daar aankom, het ’n skare op hulle gewag. Hoe sou jy gereageer het as jy ’n skare gesien het wat van jou verwag om te werk wanneer jy voel dat jy ’n ruskansie nodig het? Wel, Jesus “is ontroer deur medelye met hulle” en “het hulle baie dinge begin leer” (Markus 6:34). Hierdie besorgdheid oor ander het Jesus altyd beweeg om hulle te help.
Jesus het meer vir mense gedoen as om hulle net te leer. Hy het ook praktiese hulp verleen. Hy het byvoorbeeld by een geleentheid meer as 5 000 mense gevoed wat tot laat in die dag na hom geluister het. Kort daarna het hy nog ’n groot skare gevoed—hierdie keer meer as 4 000—wat drie dae lank na hom geluister het en niks meer oorgehad het om te eet nie. Die eerste keer het hy vyf brode en twee visse gebruik, en die tweede keer sewe brode en ’n paar vissies (Matteus 14:14-22; 15:32-38). Wonderwerke? Ja, hy het wonderwerke verrig.
Jesus het ook talle siekes genees. Hy het die blindes, die kreupeles, die melaatses en die dowes gesond gemaak. Hy het dan selfs die dooies opgewek! (Lukas 7:22; Johannes 11:30-45). ’n Melaatse het hom op ’n keer gesoebat: “As u net wil, kan u my rein maak.” Hoe het Jesus gereageer? “En deur medelye ontroer, het hy sy hand uitgesteek en hom aangeraak en vir hom gesê: ‘Ek wil. Word gereinig’” (Markus 1:40, 41). Deur sulke wonderwerke het Jesus sy liefde getoon vir dié wat ly.
Is dit vir jou moeilik om aan Jesus se wonderwerke te glo? Vir party is dit moeilik. Maar onthou dat Jesus sy wonderwerke in die openbaar verrig het. Selfs sy teenstanders, wat by elke geleentheid met hom probeer foutvind het, kon nie die feit ontken dat hy wonderwerke verrig het nie (Johannes 9:1-34). Buitendien het sy wonderwerke ’n doel gehad. Dit het mense gehelp om hom te identifiseer as die Een wat deur God gestuur is.—Johannes 6:14.
Jesus het nie die aandag op homself probeer vestig deur wonderwerke te verrig nie. Hy het God, die Bron van sy krag, eerder verheerlik. Hy was eenkeer in Kapernaum in ’n huis vol mense. ’n Verlamde man wou genees word, maar hy kon nie inkom nie. Sy vriende het hom dus op ’n draagbed deur die dak laat sak. Toe Jesus hulle geloof sien, het hy die verlamde genees. Gevolglik het die mense “God verheerlik” en gesê: “So iets het ons nog nooit gesien nie” (Markus 2:1-4, 11, 12). Jesus se wonderwerke het lof aan Jehovah, sy God, gebring en diegene gehelp wat hulp nodig gehad het.
Maar die wonderdadige genesing van die siekes was nie die hoofdoel van Jesus se bediening nie. Iemand wat ’n verslag van Jesus se lewe geskryf het, het verduidelik: “Hierdie dinge is neergeskryf sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle, deur te glo, deur middel van sy naam die lewe kan hê” (Johannes 20:31). Ja, Jesus het aarde toe gekom sodat gelowige mense die lewe kan hê.
Sy offerande
‘Jesus het aarde toe gekom?’ vra jy dalk. ‘Waar het hy vandaan gekom?’ Jesus self het gesê: “Ek het uit die hemel neergedaal, nie om my wil te doen nie, maar die wil van hom wat my gestuur het” (Johannes 6:38). Hy het ’n voormenslike bestaan gehad as die enigverwekte Seun van God. Wat was dan die wil van die Een wat hom aarde toe gestuur het? “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het,” sê Johannes, een van die Evangelieskrywers, “sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). Hoe was dit moontlik?
Die Bybel toon hoe die dood die onvermydelike lot van die mensdom geword het. Die eerste mensepaar het die lewe van God ontvang met die vooruitsig om vir ewig te lewe. Hulle het egter besluit om teen hulle Maker in opstand te kom (Genesis 3:1-19). As gevolg van hierdie optrede, die eerste mensesonde, het die nakomelinge van Adam en Eva die onwelkome nalatenskap van die dood geërf (Romeine 5:12). Sonde en die dood moet uitgewis word sodat die mensdom die werklike lewe kan ontvang.
Geen wetenskaplike kan van die dood ontslae raak deur middel van die een of ander soort genetiese manipulering nie. Maar die Skepper van die mensdom het die middel om gehoorsame mense volmaak te maak sodat hulle vir ewig kan lewe. In die Bybel word hierdie voorsiening die losprys genoem. Die eerste mensepaar het hulleself en hulle nakomelinge in slawerny aan sonde en die dood verkoop. Hulle het die lewe as volmaakte mense wat gehoorsaam is aan God verruil vir ’n lewe van onafhanklikheid van God waarin hulle hulle eie besluite neem oor wat reg en wat verkeerd is. Om volmaakte menselewe terug te koop, moes ’n prys betaal word wat gelyk was aan die volmaakte menselewe wat ons eerste ouers verbeur het. Aangesien mense onvolmaaktheid geërf het, kon hulle nie daardie prys voorsien nie.—Psalm 49:8.
Jehovah God het dus tussenbeide getree om te help. Hy het die volmaakte lewe van sy enigverwekte Seun oorgedra na die baarmoeder van ’n maagd, wat aan Jesus geboorte gegee het. Dekades gelede sou jy dalk die idee van ’n maagdelike geboorte verwerp het. Maar vandag het wetenskaplikes soogdiere gekloon en gene van een dier na ’n ander oorgebring. Wie kan dan met reg die Skepper se vermoë in twyfel trek om nie van die gewone voortplantingsproses gebruik te maak nie?
Met die bestaan van ’n volmaakte menselewe het die prys om die mensdom van sonde en die dood los te koop beskikbaar geword. Maar die baba wat op aarde as Jesus gebore is, moes opgroei en die “geneesheer” word wat die “geneesmiddel” kon voorsien om die mensdom se euwels weg te neem. Hy het dit gedoen deur ’n volmaakte lewe sonder sonde te lei. Jesus het nie net die angs van die sondige mensdom gesien nie, maar het ook die fisiese beperkings van ’n mens ondervind. Dit het hom selfs groter medelye as ’n geneesheer gegee (Hebreërs 4:15). Die wonderdadige genesings wat hy gedurende sy lewe op aarde verrig het, het bewys dat hy die begeerte sowel as die krag het om die siekes te genees.—Matteus 4:23.
Ná ’n bediening van drie en ’n half jaar hier op aarde is Jesus deur sy teenstanders doodgemaak. Hy het getoon dat ’n volmaakte mens selfs onder die grootste beproewinge aan sy Skepper gehoorsaam kan wees (1 Petrus 2:22). Sy volmaakte menselewe wat opgeoffer is, het die losprys geword wat die mensdom van sonde en die dood kan loskoop. Jesus Christus het gesê: “Niemand het groter liefde as dít nie, dat iemand ten behoewe van sy vriende van sy siel afstand doen” (Johannes 15:13). Op die derde dag ná sy dood is Jesus tot geeslewe opgewek, en ’n paar weke later het hy na die hemel opgevaar om die losprys aan Jehovah God aan te bied (1 Korintiërs 15:3, 4; Hebreërs 9:11-14). Sodoende kon Jesus die waarde van sy losprysofferande aanwend ten behoewe van diegene wat hom volg.
Sou jy gewillig wees om baat te vind by hierdie voorsiening om geestelike, emosionele en liggaamlike siektes te genees? Dit vereis geloof in Jesus Christus. Waarom kom jy nie self na die Geneesheer nie? Jy kan dit doen deur te leer van Jesus Christus en van sy rol in die redding van die getroue mensdom. Jehovah se Getuies sal jou met graagte help.
[Prent op bladsy 5]
Jesus het die begeerte sowel as die krag om die siekes te genees
[Prent op bladsy 7]
Hoe raak Jesus se dood jou?