Vrae van lesers
▪ Ek was van mening dat God se handelinge met mense sedert die mens se sondeval slegs deur sy Seun geskied. Hoe kon Jehovah dan regstreeks met Satan gepraat het, soos die boek Job toon?
God se handelinge met mense het deur sy Seun geskied vóór sowel as ná Adam gesondig en ’n onvolmaakte ras voortgebring het.—Romeine 5:12.
Kolossense 1:16, 17 sê oor God se eersgebore Seun: “In Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op die aarde is, wat sienlik en onsienlik is . . . alle dinge is deur Hom en tot Hom geskape. En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.” Johannes 1:1-3 stel ’n soortgelyke punt, maar ons leer ook dat hierdie Seun die Woord, of Logos, was. Selfs toe alle mense volmaak was, voor Adam en Eva gesondig het, het God se handelinge en kommunikasie met hulle deur Sy woordvoerder, die Woord, geskied. Ons moet derhalwe nie dink dat God se handelinge met die mensdom deur sy Seun geskied as gevolg van die mens se sondeval en onvolmaaktheid nie.
Die Bybel verstrek nie breedvoerige besonderhede oor hoe Jehovah God met geesskepsele kommunikeer nie. Job hoofstukke 1 en 2 vertel dat Satan eenkeer gedurende ’n vergadering van engele in die hemel “voor die HERE” verskyn het. “Toe vra die HERE vir die Satan: Waar kom jy vandaan?” (Job 1:6, 7). In hierdie geval sê die boek Job nie dat Satan deur middel van ’n tussenpersoon met Jehovah gekommunikeer het nie. Die profeet Miga het ook ’n gesig gesien van Jehovah wat op Sy troon sit. Die profeet het ’n engel met Jehovah sien praat, en geen tussenpersoon is gemeld nie (1 Konings 22:19-23). Die Logos word nie in hierdie twee gevalle gemeld nie. Daar word nie spesifiek gemeld of hy daarby betrokke was of nie.
Hoewel dit nie vir Jehovah God nodig was om sy manier van kommunikasie met Adam te verander toe die eerste man gesondig het nie, was Adam se situasie beslis anders. Voor hy gesondig het, was Adam ’n menslike “seun van God” (Lukas 3:38). Daarna was hy nie. Adam se nakomelinge was ook onvolmaak, met sonde besmet. Jehovah kon dus nie eens lojale en getroue manne en vroue as sy ‘seuns’, of menslike kinders, beskou nie. Maar hy het ’n verandering beoog. Jesus het gekom en ’n losprysoffer voorsien, en aldus ’n grondslag gelê waarvolgens Jehovah die sondes kon vergewe van diegene wat geloof in daardie offer stel. Die apostel Paulus het aan Christene verduidelik: “Ons [is], terwyl ons nog vyande was, met God versoen . . . deur die dood van sy Seun.”—Romeine 5:10; Efesiërs 1:7.
Ja, daarna kon Jehovah, sonder dat hy onregverdig of onrein geword het, die sonde van geloofsmanne vergewe en hulle as rein, sondelose menslike seuns beskou, wat as geestelike seuns aangeneem kon word (Romeine 3: 25, 26; 8:15-17). Maar selfs hierin het God sy Seun gebruik, soos blyk uit die verslag oor hoe Jesus die heilige gees op Pinksterdag uitgestort het.—Handelinge 2:33.
God se handelinge met mense deur die Woord was derhalwe nie weens menslike sonde nie, en ons hoef ook nie te meen dat dit in stryd is met wat ons in die boek Job lees nie.