Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 5/1 bl. 30
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Hoekom word Jesus die Seun van God genoem?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Het enigiemand God al ooit gesien?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • God se voorneme is dat die mens lewe in ’n paradys geniet
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 5/1 bl. 30

Vrae van lesers

◼ Het Jehovah God direk met Adam gepraat, of het hy deur die Woord, die eniggebore Seun van God, gepraat?

Die Bybel gee nie ’n reguit antwoord op hierdie vraag nie. Hoewel God direk met sy volmaakte menseseun in Eden kon praat, het Hy waarskynlik deur die Woord met Adam gekommunikeer.

Die Bybel sê dikwels dat God dinge doen wanneer hy dit in werklikheid deur een of meer engele doen. Genesis 1:1 sê byvoorbeeld: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape.” As dit al was wat die Bybel oor die oorsprong van die heelal gesê het, sou ons die gevolgtrekking maak dat God dit direk geskape het, asof met sy eie hande. Die Christelike Griekse Skrifte gee ons egter ’n beter begrip. Ons lees: “Deur bemiddeling van hom is alle ander dinge in die hemel en op die aarde geskape, die sigbare en die onsigbare . . . Alle ander dinge is deur hom en vir hom geskape” (Kolossense 1:16, 17, NW). Ander tekste bevestig die Seun se rol in die skepping van die heelal (Johannes 1:3, 10; Hebreërs 1:1, 2). Sy rol as ’n werker was nietemin ondergeskik aan Jehovah, wat die bron van die skepping was, die krag daarvoor voorsien en dit gerig het.—Psalm 19:2.

God het vir die eerste mens gesê: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet” (Genesis 2:16, 17). Jehovah het nie ’n meganiese of elektroniese toestel, soos ’n megafoon of kortgolfradio nodig gehad nie. Soos Die Wagtoring van 1 Augustus 1989 gesê het: “Die mens het niemand sien praat nie. Die stem het uit die onsigbare ryk gekom, en dit het met hóm gepraat. Dit was die stem van die mens se Skepper! . . . Die mens het nie ’n hedendaagse wetenskaplike radio-ontvangtoestel nodig gehad om die goddelike stem te hoor nie. God het direk met hom . . . gepraat.”

Het God deur ’n engel gepraat, miskien die Logos, wat Jesus geword het? Dit is baie moontlik. Hoewel hy nie dogmaties was nie, het C. T. Russell geskryf: “Jesus was moontlik die Verteenwoordiger van God in die Tuin van Eden met Adam” (The Watch Tower, 1 Februarie 1915). God se eersgebore Seun het lank in die verhewe hoedanigheid van sy Vader se “Woord”, of Woordvoerder, teenoor mense opgetree (Johannes 1:1, NW; 12:49, 50; Openbaring 1:1, 2). Selfs al wek die Genesisverslag die indruk dat God direk met die eensame Adam gepraat het, skakel dit nie die moontlikheid uit dat Hy deur ’n engel, waaronder die Woord, Jehovah se hemelse Seun, gepraat het nie. Dit sal veral die geval wees aangesien Jehovah die Logos gebruik het om in die eerste plek die mens te skep, en hierdie een se “verlustiginge was met die mensekinders”.—Spreuke 8:22, 31; Johannes 1:3.

Beskou byvoorbeeld die geleentheid toe Moses die berg Sinai bestyg het. Exodus 19:21-24 sê: “En die HERE het vir Moses gesê . . . Toe het Moses die HERE geantwoord . . . daarop sê die HERE vir hom.” Dan word die verslag oor die gee van die Tien Gebooie as volg ingelei: “Toe het God al hierdie woorde gespreek” (Exodus 20:1). Klink dit asof God persoonlik die woorde van die Wet gespreek het? So ’n indruk kan ondersteun word deur die feit dat ons meegedeel word dat God “van aangesig tot aangesig” met Moses gespreek het.—Exodus 33:11.

Ons het nietemin ’n verdere openbaring hieroor. Die apostel Paulus het oor die Wet geskryf: “Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan die volk gegee” (Galasiërs 3:19, NAV). Later het Paulus die instruksies wat God deur die Wet voorsien het spesifiek vergelyk met wat Christene deur Jesus ontvang het: “As die woord deur die engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid . . . vergelding ontvang het, hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here [Jesus] verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het” (Hebreërs 2:2, 3). God het dus nie die woorde van die Wet met sy eie persoonlike stem gespreek nie, en hy het ook nie die Logos gebruik nie. Hy het eerder verkies om ander engele te gebruik.

Wat is egter die fundamentele gedagte? Dikwels wanneer ons lees dat God met mense praat, sien ons dat hy dit deur gehoorsame geesskepsele gedoen het wat namens hom gepraat het. (Vergelyk Genesis 18:2, 3, 33; 19:1; Exodus 3:2-4; Rigters 6:11, 12, 20-22.) Jesus se betiteling as die Woord gee te kenne dat hy die een was wat God dikwels gebruik het om met ander skepsele te kommunikeer. Het dit God se volmaakte seun Adam ingesluit? Heel waarskynlik.—Lukas 3:38.

Toe die Logos later op aarde was, het die Vader weliswaar drie keer hoorbaar gepraat sodat hierdie “laaste Adam” kon hoor (1 Korinthiërs 15:45; Mattheüs 3:16, 17; 17:1-5; Johannes 12:28-30). Waarom sou God by hierdie geleenthede deur ’n bemiddelende engel met of van sy kosbare Seun praat? Dit is logieser dat Jehovah direk sou praat; sy volmaakte Seun, en selfs onvolmaakte mense daar naby, het God se eie stem gehoor. Toe die volmaakte man Adam geskape is, kon sy liefdevolle Vader dus direk met hierdie volmaakte nuwe skepping gepraat het. Maar in die lig van die voorgaande, is dit waarskynlik dat hy die Woord gebruik het.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel