Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 2/1 bl. 10-14
  • Wees gretig om die goeie nuus te verkondig

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wees gretig om die goeie nuus te verkondig
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Tyd vir dringende optrede
  • Hoe toon ’n mens gretigheid?
  • “’n Skuldenaar” teenoor almal
  • ‘Nie skaam oor die goeie nuus nie’
  • Bekwaamheid verbeter die resultate
  • Verkondig die goeie nuus met gretigheid
    Ons Koninkryksbediening—1999
  • Verkondig die goeie nuus met gretigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Daar is goeie nuus wat almal nodig het
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • ‘Nie skaam oor die goeie nuus nie’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 2/1 bl. 10-14

Wees gretig om die goeie nuus te verkondig

“Ek [is] gretig om ook aan julle . . . die goeie nuus te verkondig.”—ROMEINE 1:15, NW.

1, 2. Hoe reageer mense dikwels in tye van nood?

“HULLE het van heinde en verre gekom . . . honderde vrywilligers het na die . . . gebied gestroom met vragte kos en klere. Hulle het tydelike skuilings opgerig, en sommige het 18 tot 20 uur per dag gewerk. Party het glad nie geslaap gedurende die eerste dae na die skrikwekkende oewerwalbreuk nie.”

2 Dit was hoe die mense gereageer het toe daar in die noordelike lente van 1986 ’n skielike oorstroming in ’n Sentraal-Kaliforniese gemeenskap was en sowat 24 000 mense na veiligheid moes vlug. Ja, wanneer daar ’n ramp is—van ’n skielike oorstroming tot ’n aardbewing tot ’n kernongeluk—reageer mense dikwels spontaan deur te help waar hulle kan. Hulle rol as ’t ware hulle moue op, trotseer baie gevare en ongerief en kom ander—selfs wildvreemdelinge—gretig te hulp.

’n Tyd vir dringende optrede

3. Watter groot ramp staar mense vandag in die gesig?

3 Vandag staan die mensdom vlak voor die grootste ramp in die geskiedenis. Dit is nie weens die skade wat die mens aan die omgewing aanrig, die bedreiging van kernoorlog of die toename in misdaad en geweld nie, ofskoon hierdie dinge baie ernstig is. Die mensdom staan eerder voor ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie”, soos Jesus Christus dit gestel het. Om te toon hoe vernietigend die “groot verdrukking” sal wees, het Jesus voorts gesê: “As daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie.”—Mattheüs 24:21, 22.

4. Hoe moet ons reageer met die oog op hierdie ramp?

4 Hoe sal jy reageer as jy geweet het dat baie mense, waaronder sommige wat na aan jou is, binnekort in daardie verdrukking gaan sterf? Sal jy hulle graag wil help? Dink terug aan Esegiël se profetiese gesig van die man met die skrywer se inkpot. Hy is meegedeel dat net dié wat die simboliese teken op hulle voorhoof ontvang het die vernietiging van Jerusalem sou oorleef, en hy was die een wat daardie lewensreddende teken moes aanbring. Hoe het hy gereageer? “Ek het gedoen soos U my beveel het”, het hy berig.—Esegiël 9:1-11.

5. Watter werk is ons beveel om te doen, en hoe dringend is dit?

5 Toon jy dieselfde gewilligheid en gretigheid as die man wat met linne bekleed was? Doen jy net soos Jehovah beveel het? Wat het Jehovah beveel? Deur sy Seun, Jesus Christus, het hy die opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, . . . en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19). Hierdie werk is net so lewensreddend as wat die aanbring van die simboliese teken op mense se voorhoofde in Esegiël se dag was. Enigiemand wat nie gunstig reageer en ’n dissipel van Jesus Christus word nie, sal deur God se Groot Skerpregter verdelg word (2 Thessalonicense 1:6-8). Besef jy hoe dringend die werk is? Toon jy dit deur jou gretigheid om die goeie nuus te verkondig?

Hoe toon ’n mens gretigheid?

6. Wat word met ‘gretigheid’ bedoel?

6 Jehovah se volk in die geheel besef wel die dringendheid van die tyd. Ons wil almal graag sien dat soveel mense moontlik uit die komende “groot verdrukking” gered word. Volgens een woordeboek is gretigheid “’n sterk of vurige begeerte in die strewe na of na die verkryging van iets”. Iemand wat gretig is oor ’n saak, rig sowel sy gedagtes as sy handelinge daarop om dit te bereik. Hy sal alles in sy vermoë doen om enige struikelblok en hindernis te bowe te kom, en hy sal daarmee volhou totdat hy sy doel bereik. Dit is hoe die apostel Paulus oor sy bediening gevoel het, en ons kan hom gerus navolg.—1 Korinthiërs 4:16.

7. Waarom wou Paulus na Rome gaan?

7 Beskou byvoorbeeld Paulus se woorde aan die Christene in Rome, in Romeine 1:13-16. “Ek [het] my dikwels voorgeneem . . . om na julle te kom”, het hy vir hulle gesê. Waarom? “Sodat ek ook onder julle een of ander vrug kan insamel”, het hy verduidelik. Het Paulus hiermee bloot bedoel dat hy die broers in Rome wou besoek en hulle miskien wou aanmoedig om “die vrug van die Gees” in ruimer mate aan te kweek, soos sommige kommentators beweer? (Galasiërs 5:22). Nee, want sy daaropvolgende woorde, naamlik “net soos onder die ander heidene”, maak dit duidelik dat hy Koninkryksvrug onder die nie-Christelike gemeenskap daar in Rome wou insamel. Hy wou die goeie nuus na Rome bring, en van daar moontlik na verder geleë plekke.—Romeine 15:23, 24.

8. Hoe is Paulus “verhinder” om na Rome te gaan?

8 “Ek is tot nog toe verhinder”, het Paulus gesê. Wat het hom verhinder? Was hy te besig met persoonlike sake? Wel, Paulus was ’n besige man, maar nie met persoonlike belange nie. Teen die tyd dat hy aan die Romeine geskryf het (omstreeks 56 G.J.), het hy reeds twee uitgebreide sendingreise voltooi en was hy druk besig met sy derde. Tydens hierdie reise is hy dikwels deur die heilige gees na bepaalde plekke gestuur. (Kyk Handelinge 16:6-9.) Selfs toe hy sy brief geskryf het, was sy planne reeds agtermekaar om na Jerusalem te gaan “in diens van die heiliges” aldaar (Romeine 15:25, 26). En hy het ook talle ander ‘hindernisse’ van hierdie aard ondervind.—Kyk 2 Korinthiërs 11:23-28.

9. Hoe het Paulus getoon dat hy gretig is om die goeie nuus te verkondig?

9 Desnieteenstaande het Paulus nie gevoel dat hy genoeg hooi op sy vurk het nie, en hy het ook nie geredeneer dat hy sy toewysing het en niks meer wou behartig nie. Hy wou meer doen. Trouens, hy het gesê: “Daarom is ek gretig om ook aan julle daar in Rome die goeie nuus te verkondig” (NW). Dít is wat met gretigheid bedoel word! Professor F. F. Bruce het in sy boek The Epistle of Paul to the Romans tereg die volgende oor die apostel gesê: “Die prediking van die evangelie is in sy bloed, en hy kan dit nie nalaat nie; hy is nooit ‘diensvry’ nie, maar moet voortdurend daarmee besig wees, om ’n bietjie meer van sy skuld aan die ganse mensdom te betaal—’n skuld wat hy nooit ten volle sal delg so lank as hy lewe nie.” Is dit hoe jy die bediening beskou?

10. Watter ‘hindernisse’ kan in ons pad staan, maar hoe moet ons hulle hanteer?

10 Vandag is al Jehovah se knegte besig—hulle het talle verantwoordelikhede. Sommige het gesinne waarvoor hulle moet sorg. Sommige het ander verpligtinge. Ander kan min doen omdat hulle bejaard of sieklik is. En nog ander het gewigtige pligte in die Christengemeente. Maar ons besef ook dat die tyd baie min raak vir die teenswoordige stelsel, en die Koninkryksgetuienis moet gelewer word (Markus 13:10). Daarom moet ons, soos Paulus, gretig wees om ons in te span in die predikingswerk ondanks die ‘hindernisse’ wat in ons pad staan. Ons moenie selfvoldaan voel en dink dat ons reeds genoeg het om te doen nie.—1 Korinthiërs 15:58.

“’n Skuldenaar” teenoor almal

11. Wat het Paulus bedoel toe hy gesê het dat hy “’n skuldenaar” is?

11 Daar was nog ’n dryfveer agter Paulus se onvermoeide inspanning om die goeie nuus te verkondig. “Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyse sowel as onverstandige mense is ek ’n skuldenaar”, het Paulus gesê (Romeine 1:14). In watter opsig was Paulus “’n skuldenaar”? Ander vertalings gee hierdie uitdrukking weer met “Ek staan onder ’n verpligting” (NAV), “Ek het ’n verpligting” (Die Lewende Bybel). Het hy hiermee te kenne gegee dat die predikingswerk ’n swaar verpligting was wat hy voor God moes nakom? Ons kan maklik so ’n gesindheid verkry as ons die dringendheid van die tyd uit die oog verloor of toelaat dat wêreldse dinge ons aandag aftrek. Maar dit is nie wat Paulus in gedagte gehad het nie.

12. Teenoor wie was Paulus “’n skuldenaar”, en waarom?

12 As God se “uitverkore werktuig” en as “’n apostel van die heidene” het Paulus inderdaad ’n baie gewigtige verantwoordelikheid voor God gehad (Handelinge 9:15; Romeine 11:13). Maar hy het hom nie net teenoor God verplig gevoel nie. Hy het gesê dat hy “’n skuldenaar” teenoor ‘Grieke, nie-Grieke, wyse en onverstandige mense’ is. Weens die genade en die voorreg wat hy ontvang het, het hy dit sy plig geag om te preek sodat alle mense die goeie nuus kon hoor. Hy het ook besef dat dit God se wil is dat “alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timotheüs 1:12-16; 2:3, 4). Dit is waarom hy onverpoosd gearbei het, nie net om sy verantwoordelikheid teenoor God na te kom nie, maar ook om sy skuld teenoor sy medemens te betaal. Voel jy so ’n persoonlike skuld teenoor die mense in jou gebied? Voel jy dat jy dit aan hulle verskuldig is om jou in te span om aan hulle die goeie nuus te verkondig?

‘Nie skaam oor die goeie nuus nie’

13. Wat was Paulus se estimasie van die goeie nuus?

13 Paulus was voorwaar ’n besondere voorbeeld van iemand wat gretig was om die goeie nuus te verkondig. Hy het God se onverdiende goedheid teenoor hom innig waardeer, en hy wou nie hê dat dit vergeefs moes wees nie (1 Korinthiërs 15:9, 10). Daarom het hy vervolgens gesê: “Want ek skaam my nie oor die evangelie . . . nie” (Romeine 1:16). Uit ’n menslike oogpunt was die Christene nie net ongewild nie, maar ook verag. “Soos uitvaagsels van die wêreld het ons geword, die afskraapsel van almal”, het Paulus gesê (1 Korinthiërs 4:13). Tog het hy hom nie geskaam om die goeie nuus na Rome, die middelpunt van die geleerde wêreld en die setel van die keiserlike Romeinse Ryk, te bring nie. Wanneer ons voor apatie, beledigings of selfs teenstand in ons predikingswerk te staan kom, kan ons Paulus se bemoedigende voorbeeld onthou.

14. Waarom het Paulus ‘hom nie geskaam oor die goeie nuus nie’?

14 ‘Nie skaam oor die goeie nuus nie’ is eintlik ’n ander manier om te sê ‘trots op die goeie nuus’, en dit is hoe ons moet voel. Waarom? “Want dit is ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo”, het Paulus verduidelik. Hy het oorgenoeg persoonlike ondervinding gehad om sy woorde te staaf. Met die goeie nuus, het Paulus gesê, ‘verbreek ons planne en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en neem ons elke gedagte gevange tot die gehoorsaamheid aan Christus’ (2 Korinthiërs 10:5). Hetsy dit teen die oorlewering van die Jode, die filosofie van die Grieke of die mag van die Romeine was, die goeie nuus het geseëvier.

15. Hoe was gretigheid ’n dryfveer in Paulus se lewe?

15 Hoe goed is dit tog dat Paulus nie sy Godgegewe verantwoordelikheid as ’n las beskou het nie, maar eerder “gretig” was om dit na te kom! Soos hy dit self gestel het: “Want die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” (1 Korinthiërs 9:16). Hierdie gretigheid het hom gehelp om baie jare lank onvermoeid te arbei, sodat hy uiteindelik kon sê: “Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou.”—2 Timotheüs 4:7.

Bekwaamheid verbeter die resultate

16. Voor watter moontlike uitdagings dink jy het die man met die skrywer se inkpot in Esegiël se gesig te staan gekom?

16 Die man met die skrywer se inkpot in Esegiël se gesig was ongetwyfeld, net soos Paulus, gretig om sy opdrag uit te voer. Hy het teruggekeer met ’n goeie berig: die taak was volbring! Die verslag deel ons nie mee hoe hy te werk gegaan het om almal te vind wat “sug en steun oor al die gruwels wat . . . gedoen word” nie (Esegiël 9:4). Hoewel niks gesê word oor hoe al hierdie tekens aangebring is nie, was dit beslis geen eenvoudige taak nie.

17. (a) Voor watter uitdagings kom jy te staan in die werk om dissipels te maak, en hoe bied jy dit die hoof? (b) Is al die inspanning die moeite werd?

17 Vandag is ons taak ook nie ’n eenvoudige nie. Die vraag is derhalwe: Hoe bekwaam is ons in hierdie lewensreddende werk? As ons van soveel mense moontlik dissipels wil maak, moet ons gereeld en sistematies aan hierdie werk deelneem en geen geleentheid laat verbygaan om die goeie nuus met ander te deel nie. Soos ons is die mense in ons gemeenskap besig; hulle is miskien selde tuis as ons hulle besoek, en as hulle wel tuis is, is hulle dikwels met ander dinge besig. Wat kan ons doen? Wel, ons moet ’n juiste verslag hou en op verskillende tye, en herhaaldelik, teruggaan in die hoop dat ons iemand sal kry met wie ons kan praat. Is dit die moeite werd? Laat die volgende kort briefies van twee huisbewoners die antwoord verstrek:

“Ek wil graag my waardering teenoor die Jehovahsgetuies uitspreek vir hulle talle besoeke by my huis. Ek weet dat diegene buite julle kerk nie altyd julle sending met die geesdrif beskou wat dit ryklik verdien nie. Daarom het ek dit goedgedink om my ondervindinge met julle te deel en dankie te sê!”

“Daar is so baie van ons wat honger na die waarheid, so baie van ons wat glo dat alle paaie na redding lei. Julle wat die durf het om te bly soek na iemand vir wie julle kan help: moenie tou opgooi met ons nie! Ons is nie vreeslike mense nie, hoewel ons julle beledig, julle in die verleentheid stel en julle verwerp. Moenie tou opgooi nie, want ons is baie leuens geleer, baie aaklige stories vertel en geleer om julle te haat in ’n poging om die boodskap van Jehovah se Koninkryk van ons weg te hou.”

18. (a) Hoe kan jy ander help om die goeie nuus te verstaan? (b) Hoe het een verkondiger oënskynlike apatie te bowe gekom?

18 As ons tot mense se harte wil deurdring en hulle wil help om die goeie nuus te verstaan, moet ons meer doen as om oppervlakkig kontak te maak, ’n voorbereide boodskap op te sê of Bybellektuur te laat. Ons moet probeer om hulle behoeftes en bekommernisse, voorkeur en teësin, vrese en vooroordele te onderskei. Dit alles verg heelwat dinkwerk en inspanning—en gretigheid van ons kant. Kyk na die volgende ondervinding:

’n Verkondiger het met ’n vrou by ’n woonsteldeur gepraat, maar het min reaksie gekry. Die suster het opgemerk dat daar verskeie kinders in die nabyheid is en het gevra hoeveel kinders die vrou het. Sy het geantwoord dat dit nie haar kinders is nie maar haar swaer s’n, en dat hy pas uit ’n ander land geïmmigreer het. Eerlank het hulle oor die behuisingstekort gepraat. Die verkondiger het saamgestem dat dit moeilik is om ordentlike huisvesting in groot stede te vind. Sy het gesê dat sy ook familie het wat binnekort sou kom, en het aangebied om te help. Die vrou was verheug en het haar swaer na die deur geroep. Die gesprek is voortgesit, en hulle het telefoonnommers uitgeruil. Steeds gedagtig aan die doel van die besoek het die verkondiger taktvol die Paradys op aarde-boek op bladsy 157 oopgemaak en verduidelik dat daar in die beloofde nuwe stelsel nie meer probleme met behuising en indiensneming sal wees nie. Die man was baie beïndruk en het die boek geredelik aanvaar. Later het die verkondiger teruggegaan met inligting oor ’n woonstel wat te huur was; sy het ook hulle Bybelbespreking hervat.

19. Wat moet ons nou doen? En wat moet ons verder bespreek?

19 Die tyd vir die verkondiging van die goeie nuus raak baie min. Ons weet nie hoe lank die “vier engele” nog “die vier winde van die aarde” gaan vashou nie (Openbaring 7:1). Hoe dit ook al sy, die “groot verdrukking” lê nog voor, en opregtes van hart word ingesamel. Die “lande” is inderdaad ‘wit vir die oes’ (Mattheüs 24:21, 22; Johannes 4:35). Dit is nou die tyd om ons ywerig in te span in hierdie eenmalige werk. Hoe kan ons die oorblywende tyd ten beste benut? Wat kan ons doen om ’n groter aandeel in hierdie lewensreddende werk te hê? En wat kan ons help om steeds gretig te wees om die goeie nuus te verkondig? Hierdie vrae sal in die volgende artikel behandel word.

Beskou Paulus se voorbeeld aan die hand van Romeine 1:13-16—

◻ Waarom was hy gretig om na Rome te gaan?

◻ Wat het hom verhinder om te gaan? Maar hoe het hy gereageer?

◻ Teenoor wie was hy “’n skuldenaar”, en waarom?

◻ Hoe het hy oor die goeie nuus gevoel? Waarom?

◻ Wat kan ons, net soos Paulus, doen om die goeie nuus bekwaam te verkondig?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel