“Skatte van die Heilige Land”
WOELIGE Manhattan is ’n ongewone agtergrond vir ’n kunsversameling wat Bybelgeskiedenis staaf. Maar die Metropolitaanse Kunsmuseum is in Central Park in die stad New York geleë. Die uitstalling “Skatte van die Heilige Land: Antieke kuns uit die Israelmuseum” het onlangs daar plaasgevind. Hierdie uitstalling het bestaan uit byna 200 voorwerpe wat van die Israelmuseum in Jerusalem geleen is.
Die eertydse bewoners van die land van die Bybel vertel hulle verhaal deur middel van hierdie kunswerke. Kom, laat ons kyk, luister en leer. Maar jy moet eers die 28 trappe na die Metropolitaanse Museum se suile-ingang klim. Wanneer jy binnekom, kan jy etlike duisende jare se Bybelgeskiedenis te voet begin besigtig. Jy sal die volgende sien:
Die Kommentaar op Habakuk—’n perkamentrol wat byna 1,5 meter lank is en waarop die goddelike naam etlike kere voorkom. Hierdie rol is een van die vroegs ontdekte en bes bewaarde van die Dooie See-rolle, wat as “die grootste argeologiese vondse van hierdie eeu” bestempel is. (Die rolle bevat dele van elke boek van die Hebreeuse Skrifte, behalwe Ester, en dateer uit die tweede eeu v.G.J. Buiten manuskripfragmente is hulle dus duisend jaar ouer as die ouds bekende Bybelkopieë.) Die Kommentaar op Habakuk bevat byna twee derdes van die boek Habakuk (1:4–2:20), is aan die einde van die eerste eeu v.G.J. in Aramese blokskrif gekopieer en is met kommentaar deurvleg. “Maar die vierletter—naam van Jehovah, [die] tetragrammaton, is oral in argaïese Hebreeuse skrif geskryf”, sê die museum se inligtingskaart. Ja, jy kan die Tetragrammaton duidelik sien!
“Huis van God”-ostrakon—’n potskerf waarop die goddelike naam twee keer in die vorm van die Tetragrammaton voorkom. Hierdie potskerf wat in suidelike Israel gevind is, was ’n brief aan ’n man met die naam Eljasib en dateer uit die tweede helfte van die sewende eeu v.G.J. Die brief begin: “Aan my heer Eljasib, mag Jahweh om u vrede vra.” Dit eindig: “Hy woon in die huis van Jahweh.”—Kyk bladsy 13 van die brosjure Laat u Naam geheilig word—Watter naam?, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van New York.
Pontius Pilatus-inskripsie—’n unieke geskiedkundige dokument uit die eerste eeu, wat in Cesarea ontdek is. Voor 1961 was die enigste melding van Pontius Pilatus in die bladsye van die Bybel en in die eerste-eeuse geskrifte van Romeinse en Joodse geskiedkundiges. Nou kan jy egter die woorde “Pontius Pilatus prefek van Judea” in onvolledige Latyn op ’n kalksteenblok geskryf sien. Dit staaf die bestaan van die man wat die teregstelling van Jesus Christus gemagtig het.
“Plek van trompetgeskal”-inskripsie—vroeër ’n deel van die suidwestelike borswering van die tempelomheining in Jerusalem. Toe die tempel in 70 G.J. vernietig is, het hierdie stuk klip na onder geval en in die straat beland. Die woorde “aan die plek van trompetgeskal” is in Hebreeus op hierdie nagenoeg reghoekige, meterlange klip gegraveer en slaan op die plek waar ’n trompetblaser gestaan het, moontlik wanneer hy die begin en die einde van die Sabbat met sy trompetstote aangedui het. Hierdie inskripsie is die enigste noemenswaardige deel wat oorgebly het van die geboue wat in die tempelgrond geleë was, en bevestig dus die vervulling van Jesus se profesie in Mattheüs 24:1, 2.
Grafinskripsie van Ussia, koning van Juda—’n vierkantige klip waarvan die sye ongeveer 30 sentimeter lank is, met hierdie Aramese inskripsie daarop: “Hierheen is die beendere van Ussia koning van Juda gebring. Moet nie oopmaak nie.” Die waarskuwing sinspeel moontlik op sy melaatsheid of het dalk betrekking op ’n algemene verbod op die oopmaak van grafte (2 Kronieke 26:16-23). Hierdie klip, wat uit omstreeks die eerste eeu v.G.J. dateer, is naby Jerusalem gevind en was ’n teken van die herbegrafnis van die koning se beendere eeue na sy dood, aangesien hy nie oorspronklik in die koninklike begraafplaas van daardie stad begrawe is nie.
Kultusstander met musikante—’n ongewone erdestander wat ongeveer 30 sentimeter hoog is en Filistynse kultiese seremonies treffend uitbeeld. Die voetstuk het vyf musikante, wat elkeen ’n musiekinstrument bespeel—simbale, dubbele rietfluite, ’n snaarinstrument en ’n tamboeryn. Hierdie stander is in Asdod gevind en dateer uit die laat 11de tot vroeë 10de eeu v.G.J.
Kanaänitiese kultusstander—’n hol, vierkantige kleistander wat met afbeeldings van mense en diere versier is, waaronder die belangrike Kanaänitiese gode Asjera, wat in die gedaante van ’n heilige boom verpersoonlik is, en Baäl, in die gedaante van ’n kalf wat met ’n bevleuelde sonskyf bekroon is (Exodus 34:12-14; 2 Konings 23:4, 5). Die byna 60 sentimeter hoë stander, wat waarskynlik vir offers of dankoffers gebruik is, is naby Megiddo gevind en dateer uit die laat 10de eeu v.G.J.—Vergelyk 2 Kronieke 34:4.
Ivoor uit Samaria—snywerke uit Samaria wat uit die 9de tot 8ste eeu v.G.J. dateer. Hulle herinner ’n mens aan “die ivoorhuis” wat Agab in Samaria gebou het of aan die versierings van die “bedde van ivoor”—kenmerke van die gemaksugtige lewenswyse waarteen die profeet Amos hom uitgespreek het (1 Konings 22:39; Amos 3:15; 6:4). Aangesien Feniciese vakmanne in ivoor gespesialiseer het, gee party van hierdie kunsminiature die heidense kultus van Baäl weer, wat moontlik deur Agab se Feniciese vrou, Isébel, ingevoer is.
Baie van die voorwerpe wat uitgestal is, het ’n pragtige vorm en kleur. Maar sommige van hulle, soos die vrugbaarheidsgodinbeelde, getuig van die land se verdorwe godsdiensgebruike. Ander toon hoe vreemde invloede die karakter daarvan gevorm het. Die uitstalling “Skatte van die Heilige Land” en ander soortgelyke uitstallings verbreed ’n mens se begrip van die mense, politiek, godsdiens en kuns van die land van die Bybel.
[Prente op bladsy 24, 25]
Die Kommentaar op Habakuk
[Erkenning]
Heiligdom van die Boek. Israelmuseum, Jerusalem
“Huis van God”-ostrakon
[Erkenning]
Israelmuseum, Jerusalem
Pontius Pilatus-inskripsie
[Erkenning]
Israelmuseum, Jerusalem
“Plek van trompetgeskal”-inskripsie
[Erkenning]
Israelmuseum, Jerusalem
Grafinskripsie van Ussia
[Erkenning]
Israelmuseum, Jerusalem
Kultusstander met musikante
[Erkenning]
Israelmuseum, Jerusalem