Cesarea en die vroeë Christene
DIE eertydse seekusstad Cesarea, wat kort voor die geboorte van Jesus Christus deur Herodes die Grote gestig is, was die terrein van ’n paar onlangse argeologiese ontdekkings. “Koning Herodes se droom”, ’n tentoonstelling van hierdie vondste, toer nou deur Noord-Amerika.a
Herodes wou Romeinse keiser Caesar Augustus se guns probeer win. Hy het die stad dus Cesarea (wat “Behoort aan Caesar” beteken) en sy hawe Sebastos (Grieks vir “Augustus”) genoem. Herodes se werksmense het ’n verstommende hawe vir sowat honderd skepe gebou, en hulle het ’n luisterryke tempel met ’n reusebeeld vir die aanbidding van die keiser gebou.
Romeinse administrasie
Cesarea het die amptelike woonplek geword van die Romeinse prokurators—die manne wat Judea bestuur het. Cesarea was die sentrum van Rome se politieke en militêre bedrywigheid. Daar het die leëroffisier Cornelius en “sy familie en besondere vriende” die eerste onbesnede nie-Jode geword wat die Christelike godsdiens aanvaar het (Handelinge, hoofstuk 10). Die evangelis Filippus het na Cesarea gegaan; so ook die apostel Petrus. Sommige van die skepe wat die apostel Paulus op sy sendingreise gebruik het, het Cesarea se hawe aangedoen. En Paulus en Lukas het, om en by die jaar 56 G.J., in die huis van Filippus gebly, wat hom waarskynlik daar gevestig het en wie se vier dogters God ook gedien het.—Handelinge 8:40; 12:18, 19; 18:21, 22; 21:8, 9.
Paulus is na Cesarea gebring om voor die Romeinse goewerneur Felix te verskyn. Daar het Paulus ook sy bekende woorde aan Festus geuiter: “Ek beroep my op die keiser!”—Handelinge, hoofstukke 23-26.
Die tentoonstelling
Wanneer ’n mens by hierdie tentoonstelling ingaan, sien jy ’n beeld van Tuge, die godin van Cesarea. Haar naam beteken “Geluk”. Christene aldaar het egter nie op ’n geluksgodin nie, maar op die ware God, Jehovah, vertrou. Hulle het ook geloof in Jesus Christus gehad, die een wat koning Herodes probeer het om dood te maak.
In die volgende twee vertrekke sien jy hoe argeoloë die dinge wat in Cesarea ontdek is, opgegrawe het en hoe die hawe gebou is. Dan, in die vierde vertrek, sien jy ’n reproduksie van een van die vernaamste vondste in Cesarea. Dit is die enigste bekende inskripsie van die Romeinse goewerneur voor wie Jesus Christus verskyn het. Die inskripsie lui: “Pontius Pilatus, prefek van Judea.”
In hierdie vertrek is daar ook twee bronsmuntstukkies wat uiters interessant is. Op die eerste een (aan die regterkant) is die inskripsie: “Die tweede jaar van die vryheid van Sion.” Op die tweede is die woorde: “Die vierde jaar tot die verlossing van Sion.” Volgens kenners dateer hierdie muntstukke uit 67 G.J. en 69 G.J. Die “vryheid” het betrekking op die tydperk toe die Jode Jerusalem beset het, nadat Cestius Gallus sy aanvallende Romeinse leërs in die jaar 66 G.J. onttrek het.
Daardie onttrekking het dit moontlik gemaak dat mense uit Jerusalem kon vlug. Mense wat in Jesus geglo het, het gevlug, want hy het uitdruklik gesê: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is. Dan moet die wat in Judea is, na die berge vlug; en die wat in die stad is, moet uitgaan; en die wat in die buitewyke is, moet nie daar inkom nie” (Lukas 21:20, 21). Die makers van hierdie “oorwinningsmuntstukke” het blykbaar geen idee gehad van die vernietiging wat vir hulle voorgelê het nie!
In 70 G.J. het die Romeinse leër teruggekeer, Jerusalem verower en die tempel vernietig. Volgens Josephus het hulle meer as ’n miljoen mense doodgemaak wat vir die Pasga in die stad ingestroom het. Die Romeinse generaal Titus het hierdie oorwinning—en sy broer Domitianus se verjaardag—gevier met spele in Cesarea se amfiteater. Daar is 2 500 gevangenes vir wilde diere gegooi, verbrand of in gladiatorspele doodgemaak.
In die volgende vertrek van die tentoonstelling is ’n beeld van die vrugbaarheidsgodin met die baie borste, Artemis van Efese. Dit is dieselfde godin wie se aanbidders in Efese oproerig geraak het toe Paulus se prediking veroorsaak het dat talle mense verfoeilike afgodediens verwerp en Jesus Christus gevolg het.—Handelinge 19:23-40.
’n Uitstalling van stukke gebreekte erdewerk demonstreer in watter mate daar in die eerste eeu gereis is, soos die Skrif toon. In net een eertydse pakhuis is erdewerkfragmente gevind wat van wydverspreide plekke soos Joego-Slawië, Italië, Spanje en moontlik Noord-Afrika kom. Met die oog op sulke omvattende reise is dit maklik om te begryp dat besoekers van verafgeleë plekke in die Romeinse Ryk op Pinkster 33 G.J. in Jerusalem kon wees. Daar het talle die goeie nuus in hulle eie taal gehoor, gelowiges geword en is hulle gedoop. Sommige het waarskynlik die goeie nuus aan boord van skepe van Cesarea of op pad terug na hulle eie lande verkondig.—Handelinge, hoofstuk 2.
In die volgende vertrek lê fragmente van ’n derde- of vierde-eeuse marmerblok op ’n groot, wit reghoekige plaat. Dit het oorspronklik die 24 afdelings van priesterlike gesinne aangegee in die volgorde waarin hulle in Jerusalem se tempel gedien het. Daardie tempel het honderde jare in puin gelê, maar die Jode was vol vertroue dat dit spoedig herbou sou word. Eeue later het hulle steeds gebid dat God die priesterafdelings in hulle dag sou herstel. Maar die tempel is nie herbou nie. Jesus het die vernietiging daarvan voorspel. En voordat dit vernietig is, het die apostel Paulus, ’n Jood en voormalige Fariseër, daarop gewys dat God daardie tempel deur iets beters vervang het—deur ’n veel grootser tempel, ’n geestelike tempel, wat net deur die mensgemaakte gebou in Jerusalem toegelig, voorafgeskadu of afgebeeld is.—Mattheüs 23:37–24:2; Hebreërs, hoofstukke 8, 9.
Eeue het verloop en oorwinnaars het gekom en gegaan. Cesarea se ruïnes het uiteindelik onder sand en see weggesink. Daar het hulle gewag op hedendaagse argeoloë, wie se ontdekkings ons gehelp het om meer te verstaan oor die lewe in die ou tyd en oor sommige van die dinge wat ons in God se Woord, die Bybel, lees.
[Voetnoot]
a Dit is reeds aangebied by die Nasionale Natuurhistoriese Museum in Washington, die Natuurhistoriese Museum van die Los Angeles-distrik en die Natuurhistoriese Museum in Denver, Colorado. Ander plekke op die toerrooster is onder andere die Wetenskapmuseum van Minnesota in Saint Paul en die Bostonse Wetenskapmuseum, asook die Kanadese Museum van die Beskawing in Ottawa.
[Prent op bladsy 24]
Tuge, Cesarea se godin van “geluk”
[Foto-erkennings op bladsy 23]
Prenteargief (Nabye Oosterse geskiedenis)
Met vriendelike vergunning van die Natuurhistoriese Museum van die Los Angeles-distrik
[Foto-erkennings op bladsy 24]
Aaron Levin
Israel se Departement van Oudhede en Museums; foto’s van die Israel-museum, Jerusalem
Met vriendelike vergunning van die Natuurhistoriese Museum van die Los Angeles-distrik