Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 6/15 bl. 24-27
  • Die versorging van familielede—Hoe ver strek dit?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die versorging van familielede—Hoe ver strek dit?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ouers en kinders
  • “Passende vergoeding”
  • Wat moet voorsien word en wanneer?
  • Vermy Fariseïese redenasie
  • Doen goed aan almal
  • Beoefen godvrugtige toegewydheid teenoor bejaarde ouers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Hoe ons ons bejaarde ouers moet eer
    Die geheim van gesinsgeluk
  • Waarom het ons grootouers by ons ingetrek?
    Ontwaak!—1992
  • Ouers, voorsien in die behoeftes van julle gesin
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 6/15 bl. 24-27

Die versorging van familielede—Hoe ver strek dit?

“VOLGENS die kultuur van Afrika is ek my broer se oppasser”, het Nigeriese skrywer S. A. Jegede gesê. “Die kultuur van Afrika vereis dat ’n mens jou ouers respekteer en vir hulle sorg.” Ja, in Afrika en ander wêrelddele is hulp aan familielede ’n lewenswyse.

Maar dikwels word daar gemeen dat “familie” tantes, ooms, neefs, niggies, broers- en susterskinders insluit—selfs mense wat bloot uit dieselfde dorpie kom! Namate gesinne in Afrika die platteland verlaat om in die stad te gaan werk, word sulke familielede wat ver langs aan hulle verwant is egter ’n potensiële bron van probleme. Gesinne wat verhuis het, word dikwels oorlaai met familielede wat geld of huisvesting vra. Maar weens die unieke vereistes van die stadslewe is dit dikwels vir sulke gesinne moeilik, indien nie onmoontlik nie, om familielede wat ver langs aan hulle verwant is of mense wat uit dieselfde dorpie kom te help.

Die Bybel sê: “Iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige” (1 Timotheüs 5:8). Hoe ver strek die beginsel van die versorging van familielede egter? Is ’n Christen verplig om in alle omstandighede vir familielede wat ver langs aan hom verwant is te sorg? Of is die bogenoemde Nigeriese skrywer se bewering waar: “Die skending van die uitgebreide familiestelsel druis in teen die kultuur van Afrika en teen die Bybel”?

Ouers en kinders

Die uitgebreide familiestelsel het in Bybelse tye bestaan. Maar wanneer die Bybel ’n Christen verplig om ‘vir sy eie mense te sorg’, gee dit glad nie te kenne dat dit noodwendig al die familielede en ander in die uitgebreide familiestelsel insluit nie.

Die Bybel lê in die besonder klem op ouers se verpligtinge teenoor kinders. In verband met ’n gemeente se hulp aan hom het die apostel Paulus geskryf: “Want dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders” (2 Korinthiërs 12:14). H. B. Clark, ’n beroemde regskenner, het gesê: “’n Natuurlike en morele verpligting rus op ’n vader om sy kind te onderhou.” Die vader het die vernaamste verantwoordelikheid om die broodwinner te wees, aangesien God hom as die hoof van die gesin aangestel het. Dikwels help die vrou hom deur goed na die huis om te sien, geld verstandig te bestee en selfs sekulêre werk te doen wanneer omstandighede dit vereis.—Vergelyk Spreuke 31:10-31.

Let egter op dat ouers aangespoor word om meer te doen as om bloot geld te verdien. Hulle word aangespoor om inkomste ten behoewe van hulle kinders ‘op te gaar’. Ouers wat hierdie wyse raad volg, kan dikwels hulle kinders bystaan selfs nadat hulle grootgeword en die huis verlaat het. Dit is veral gepas wanneer kinders in die voltydse Christelike bediening is en van tyd tot tyd geldelike hulp nodig het om daardie diens voort te sit. Daar word nooit gesê dat ouers moet “opgaar” vir tallose familielede wat ver langs aan hulle verwant is nie.

“Passende vergoeding”

Ouers sal vir hierdie liefdevolle sorg beloon word. Die apostel Paulus sê in 1 Timotheüs 5:4, (NW): “Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet hulle eers leer om in hulle eie huisgesinne godvrugtige toegewydheid te beoefen en ’n passende vergoeding aan hulle ouers en grootouers te bly betaal, want dit is aangenaam in God se oë.” Sulke hulp aan ’n bejaarde ouer of grootouer strook beslis met die Bybel se bevel om jou ouers te eer.—Efesiërs 6:2; Exodus 20:12.

Let weer eens op dat Paulus familielede wat ver langs verwant is klaarblyklik nie verplig het om vir sulke weduwees te sorg nie. As daar destyds geen naasbestaandes byderhand was om vir ’n Christenweduwee wat getrou gedien het te sorg nie, moes die gemeente die las op hulle neem om haar te onderhou.—1 Timotheüs 5:3, 9, 10.

Die Christelike verpligting om “vir sy eie mense” te sorg, sluit dus beslis ’n mens se huweliksmaat en kinders, ouers en grootouers in. Hierdie verantwoordelikheid bestaan selfs wanneer sulke afhanklikes ongelowiges of op die een of ander manier fisies ongeskik is. Dit duur voort solank sulke persone lewe. En as ’n mens getroud is, kan dit selfs beteken dat jy jou huweliksmaat moet help om sy of haar ouers te eer. Ernstige huweliksprobleme ontstaan soms wanneer hierdie beginsel oor die hoof gesien of veronagsaam word.

Wat moet voorsien word en wanneer?

Ouers moet nietemin nie die gevolgtrekking maak dat hulle hul geld kan verkwis omdat hulle meen dat hulle te eniger tyd materiële hulp van hulle kinders kan eis nie. Dit beteken ook nie dat hulle onredelike eise vir aandag aan hulle kinders moet stel nie, want hulle het dikwels hul eie gesin teenoor wie hulle die vernaamste verpligting het. Hierdie beskouing strook met Paulus se woorde: “Dit is nie die kinders wat vir die ouers moet opgaar nie, maar die ouers vir die kinders.”—2 Korinthiërs 12:14.

In die normale verloop van gebeurtenisse sal ouers dalk hulle eie huis, eiendom en bron van inkomste (waaronder ’n maatskappy- of regeringspensioen) kan bekom om hulle in hul bejaardheid te onderhou. “Geld is ’n beskutting”, en deur verstandig vir hulself ‘op te gaar’, kan ouers dikwels voorkom dat hulle later ’n groot geldelike of emosionele las op hulle kinders plaas.—Prediker 7:12.

Salomo se woorde in Prediker 9:11 herinner ons egter daaraan dat selfs die bes beraamde planne aan “tyd en lotgeval” onderhewig is. Maar sê nou ’n egpaar het ondanks sorgvuldige beplanning gebrek aan bestaansmiddele. Hulle godvresende kinders sal natuurlik beweeg word om hulle op die een of ander redelike manier te help. Dit kan beteken dat hulle geldelike bystand verleen, die ouers nooi om by of naby hulle te woon, of, indien nodig, reël vir versorging in ’n inrigting. Bejaarde ouers of grootouers moet natuurlik redelik wees en nie verwag dat hulle kinders ’n rojale lewenswyse moet voorsien nie, want die Bybel se raad is: “As ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees.”—1 Timotheüs 6:8.

In baie gevalle kan die regering se bestaansbeveiligingsprogramme, pensioene, voorsienings vir bejaardes en hul eie spaargeld bejaarde ouers of grootouers op genoegsame, hoewel beskeie, wyse onderhou. Dit is verstandig om uit te vind watter voorsienings beskikbaar is vir diegene wat aan die vereistes voldoen.—Romeine 13:6.

Vermy Fariseïese redenasie

Jesus het die skrifgeleerdes en die Fariseërs berispe omdat hulle vir behoeftige ouers gesê het: “Alles wat ek het waarmee ek u van diens sou kon wees, is ’n gawe wat aan God opgedra is” (Mattheüs 15:5, NW). In Jesus se tyd kon vroom Jode geld of eiendom opsysit om dit later aan die tempel te skenk. Die Fariseërs het die beskouing bevorder dat sulke toegewyde goedere onder geen omstandighede vir enige ander doel—ook nie vir die versorging van bejaarde ouers—gebruik kon word nie.

Christus het hierdie Fariseïese denke afgekeur omdat dit in stryd is met die gees van God se Wet. Syns insiens het die verering van jou ouers die voorkeur gehad bo ’n mensgemaakte reël. Vandag het party Christene eweneens hulle lewe aan die bediening gewy, en hulle dien dalk as sendelinge, pioniers of reisende opsieners. Toe hulle gehoor het dat hulle ouers gebrek ly, het hulle hard probeer om vir hulle ouers te sorg terwyl hulle in hulle vorm van die bediening voortgegaan het. Maar toe hulle hoegenaamd geen reëlings kon tref nie, het hulle nie geredeneer dat hulle voorregte in die bediening belangriker as die verering van hulle ouers is nie. Sulke persone moet hartlik geprys word omdat hulle hul lewe gewysig het—dikwels met groot persoonlike opoffering—om hulle familieverpligtinge na te kom.

Doen goed aan almal

Hoewel die Bybel Christene verplig om vir behoeftige naasbestaandes te sorg, beteken dit nie dat hulle nie op ’n redelike wyse liefde moet betoon aan familielede wat ver langs aan hulle verwant is nie. Soms is ’n mens net so geheg aan sekere tantes, neefs, niggies of broers- en susterskinders as aan naasbestaandes! Die Bybel moedig ons aan om “aan almal goed [te] doen” (Galasiërs 6:10). As ’n Christen die middele het om so iemand te help, hoef hy beslis nie ‘sy hart vir hom toe te sluit’ nie. Trouens, hy sal dalk moreel verplig voel om te help.—1 Johannes 3:17.

’n Christen se vernaamste verpligting is nietemin teenoor sy naasbestaandes—huweliksmaat, kinders, ouers en grootouers. Hy sal derhalwe ernstig daaroor nadink voordat hy ’n verantwoordelikheid op hom neem wat hulle finansieel, emosioneel of geestelik kan benadeel.

Die Bybel se raad oor die versorging van die familie is dus liefdevol en redelik. Die toepassing daarvan kan ’n Christen van baie onnodige kommer bevry, en dit kan hom help om die regte sake voorkeur te gee. Dit alles strek Jehovah tot lof, “die Vader, aan wie elke familie in hemel en op aarde sy naam te danke het”.—Efesiërs 3:14, 15, NW.

[Prent op bladsy 25]

Christenouers het die vernamste verpligting teenoor hul eie kinders

[Prent op bladsy 26]

Christelike verantwoordelikhede kan bejaarde ouers sowel as ’n mens se kinders insluit

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel