Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g92 7/8 bl. 18-20
  • Waarom het ons grootouers by ons ingetrek?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom het ons grootouers by ons ingetrek?
  • Ontwaak!—1992
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Christelike verpligting
  • ‘Ek het nie gedink dit sal so moeilik wees nie’
  • Die druk op jou ouers
  • Die grootouers se situasie
  • Hoe kan ek nader aan my grootouers kom?
    Ontwaak!—2001
  • Hoe kan ek my aanpas by die feit dat my grootouers nou by ons woon?
    Ontwaak!—1992
  • Waarom moet ek my grootouers beter leer ken?
    Ontwaak!—2001
  • Wat is party van die probleme?
    Ontwaak!—1995
Sien nog
Ontwaak!—1992
g92 7/8 bl. 18-20

Jongmense vra . . .

Waarom het ons grootouers by ons ingetrek?

JY HET vroeër die privaatheid van jou eie slaapkamer geniet. Nou deel jy dit met ’n broer of ’n suster. Jy kon altyd vriende oornooi. Nou kan jy nie, want hulle ‘lawaai te veel’. Jy het altyd tyd vir pret en ontspanning gehad. Nou neem werkies by die huis baie van daardie tyd in beslag. Jou ouers was vroeër ontspanne en dit was maklik om met hulle te gesels. Nou is hulle liggeraak, ongeduldig. Ja, jou grootouers het by julle ingetrek en dinge is net nie meer soos hulle vroeër was nie.

Nie dat jy jou grootouers nie liefhet nie. Maar dit is dalk nie altyd maklik om met hulle oor die weg te kom nie. Jy vind dat jy ongeduldig raak en jou oor kleinighede vererg. ’n Jong meisie, Victoria, het dit so gestel: “Bejaardes doen dinge op hulle eie manier. My ouma sal my vra om vir haar ’n voetbankie te bring al is daar een aan haar rystoel vas. Of ek sal moeg by die huis kom en ’n rukkie wil lê, en dan sal sy met my wil gesels. My ouma sal gesels terwyl ons probeer televisie kyk. As sy wel kyk, raak sy deurmekaar met die besonderhede en moet ons dit aan haar verduidelik.”

Indien een of albei jou grootouers by julle ingetrek het, ervaar jy waarskynlik ook ’n bietjie spanning en verwarring. Jy kan egter ontspan—jou gesin is nie besig om te verbrokkel nie. Hulle is net besig om hulle by ’n moeilike situasie aan te pas. En jy kan baie doen om jou eie geluk en gemoedsrus te verseker deur (1) te verstaan wat jou gesinsverpligtinge is en dit te aanvaar en (2) te leer om waarlik “medelydend” teenoor jou ouers en grootouers te wees.—1 Petrus 3:8.

’n Christelike verpligting

Dit is nie net jóú gesin wat in hierdie situasie verkeer nie. In die Verenigde State ontvang die meeste bejaardes byvoorbeeld ’n sekere mate van hulp en bystand van hulle volwasse kinders; betreklik min bejaardes word in inrigtings soos ouetehuise gesit.a The Intimate Environment, deur Arlene S. Skolnick, sê: “Die oorgrote meerderheid bejaardes kom gereeld met hulle kinders in aanraking, sien hulle dikwels en wend hulle in moeilike tye tot hulle kinders.”

Hoewel dit net natuurlik is om ’n pligsbesef teenoor ’n mens se ouers te hê, is Christene se pligsbesef teenoor God selfs groter. Die apostel Paulus het gesê: “As ’n weduwee kinders of kleinkinders het, laat hulle eers leer om teenoor hulle eie huis eerbied te betoon en vergelding te doen aan hulle ouers; want dit is goed en aangenaam voor God. Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.” (1 Timotheüs 5:4, 8; vergelyk Markus 7:10-13.) Let daarop dat kinders en kleinkinders beveel word om ’n aandeel aan die versorging van ‘hulle eie’ te hê.

Jesus Christus het self die voorbeeld in hierdie opsig gestel. Hoewel Jesus ’n pynlike dood aan die folterpaal gesterf het, het hy sy eie sorge opsy geskuif en voorsiening gemaak vir die versorging van sy bejaarde moeder deur sy neef Johannes te versoek om vir haar te sorg. Ten spyte van Johannes se belangrike verpligtinge as ’n apostel het hy Jesus se moeder “van daardie uur af” na sy eie huis toe geneem.—Johannes 19:26, 27.

Dit is dus ’n Christelike verantwoordelikheid en ’n voorreg om jou ouers te eer (Efesiërs 6:2). ’n Ouer word nie verstoot omdat hy of sy oud geword het of spesiale sorg nodig het nie (Spreuke 23:22). Die Bybel sê voorts dat ons bejaardes met respek moet behandel vanweë hulle wysheid en ondervinding (Levitikus 19:32; Spreuke 16:31). Jehovah is immers self goedhartig teenoor bejaardes en hou aan om hulle in sy diens te gebruik!—Vergelyk Joël 2:28; Handelinge 2:17.

‘Ek het nie gedink dit sal so moeilik wees nie’

Met die oog op al hierdie dinge verstaan jy dalk beter waarom jou ouers jou grootouers gevra het om by julle te kom woon. Jy het ongetwyfeld eers optimisties, of ten minste onbevooroordeeld, oor alles probeer wees. Jy het geweet dat jy sekere veranderinge—selfs opofferinge—sou moes maak. Maar jy het nog altyd goed met jou grootouers oor die weg gekom en het gedink dat hierdie goeie verhouding sal voortduur. Maar noudat hulle ingetrek het, vind jy die situasie baie moeiliker as wat jy jou dit ooit voorgestel het.

Dit is baie algemeen. In baie lande woon drie geslagte—grootouers, ouers en kinders—gewoonlik in dieselfde woning. Die versorging van siek of invalide ouers is ’n deel van hulle kultuur en word nie as ’n ernstige struikelblok beskou nie. Maar in Westerse lande waar gesinne oor die algemeen daaraan gewoond is om almal in hulle eie huis te woon, word bejaardes se intrek dikwels as ’n groot ontwrigting beskou. Jy kan egter seker wees dat jy nie al een is wie se lewe ontwrig is nie. Dit is inderdaad baie waarskynlik dat die situasie moeiliker vir jou ouers en grootouers is as vir jou.

Die druk op jou ouers

Dink in die eerste plek aan jou ouers. Hoe dink jy sou jy voel as jy moes sien hoe hulle oud word en hoe hulle liggaamlik, verstandelik en emosioneel agteruitgaan? Hoe sou dit jou raak as diegene waarop jy altyd staatgemaak het geleidelik nie meer vir hulleself kan sorg nie? Sou dit nie ’n pynlike, hartverskeurende ervaring wees nie? Jy kan jou dus goed voorstel hoe jou ouers voel wanneer hulle dit met hulle ouers sien gebeur. Dit is dus begryplik dat hulle soms hartseer of ongeduldig voorkom.

Jou ouers vind dalk ook dat dit nie altyd maklik is om met jou grootouers oor die weg te kom nie. Bejaardes begin dikwels om hulle volwasse kinders weer soos kindertjies te behandel. (Met ander woorde, jy is dalk nie al een in die huis wat beveel word om ‘op te hou raas!’ nie.) Party bejaardes is geneig om oor hulle versorging te kla—om soms uiters pligsgetroue kinders van verwaarlosing te beskuldig. Party maak ook ’n gewoonte daarvan om hulle menings oor kinderopvoeding uit te spreek en hulle volwasse kinders daarvan te beskuldig dat hulle te toegewend of te streng is. Jou ouers weet waarskynlik goed dat jou grootouers nie kwaadwillig of wreed probeer wees nie. Maar omdat jou ouers reeds baie ter wille van jou grootouers opgeoffer het, grief enige kritiek van jou grootouers hulle dalk baie. En as hulle dan nie baie liefdevol of geduldig teenoor jou grootouers optree nie, voel jou ouers moontlik skuldig en kwaad vir hulleself.

Jou ouers is dalk ook ongelukkig oor die veranderinge wat hulle in hulle lewenswyse moes aanbring. Daar is miskien skaars genoeg geld om in die gesin se behoeftes te voorsien. As albei ouers werk, maak die bykomende eise van jou grootouers se versorging hulle dalk moeg, afgemat. Hulle moet moontlik ook noodgedwonge klaarkom sonder ontspanning en rus wat hulle vroeër kon geniet. En dan is daar die spanning wat al hierdie dinge in die huwelik veroorsaak, veral as een ouer meen dat hy of sy met ’n onregverdige deel van jou grootouers se versorging belas is.

Die grootouers se situasie

Die situasie veroorsaak moontlik net soveel spanning vir jou grootouers. Die Bybel noem bejaardheid “die ongelukkige dae” (Prediker 12:1-7). Dit maak ’n mens beslis ongelukkig om jou eie gesondheid te sien agteruitgaan. Dan is daar boonop die spanning om jou skielik in ’n nuwe omgewing te bevind. Die meeste bejaardes verkies privaatheid en onafhanklikheid. Die boek The Intimate Environment haal twee deskundiges aan wat sê: “Die meeste bejaardes wil liefde en aandag van hulle kinders hê, maar nie noodwendig hulle hulp met geld, verblyf of ander liefdadigheidsgebare nie. Trouens, party verkies eerder om dinge vir hulle kinders en kleinkinders te doen as dat dinge vir húlle gedoen word.”

Dit is dus vir jou grootouers moeilik om hulle onafhanklikheid te verloor—om noodgedwonge afhanklik te raak van dié wat voorheen van húlle afhanklik was. Moet dus nie verbaas wees as dit soms ’n bietjie moeilik is om met hulle oor die weg te kom nie. En omdat hulle jare lank hulle eie huis—en rus en vrede—geniet het, vind hulle dit dalk moeilik om tussen uitgelate tieners te wees. Harde musiek en geselsery krap hulle dalk om.

Een ding is duidelik: Dit is vir elkeen ’n uitdaging om hom by die situasie aan te pas. Daar is egter ander Christengesinne wat voor soortgelyke probleme staan en hulle met welslae oorkom. (Vergelyk 1 Petrus 5:9.) Die sleutel is dat jy daarna moet strewe om “die vrug van die Gees” en “die nuwe persoonlikheid” in ’n groter mate te openbaar! (Galasiërs 5:22; Efesiërs 4:24, NW; Kolossense 3:13, 14). Werk eerder saam as ’n gesin as om verdeeld te raak. Ons volgende nommer sal ’n paar maniere bespreek waarop dit gedoen kan word.

[Voetnoot]

a Soms is versorging in ’n inrigting nodig. Kinders behoort nogtans hulle ouers gereeld te besoek en hulle soveel as moontlik by te staan. Sien Die Wagtoring van 1 Junie 1987.

[Prent op bladsy 20]

Die intrek van jou grootouers beteken dalk dat jy jou privaatheid

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel