Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w87 7/15 bl. 28-31
  • Lewer die ware Christelike godsdiens fanatici op?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lewer die ware Christelike godsdiens fanatici op?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Deur vrugte geïdentifiseer
  • Is Christelike ywer fanatisme?
  • Handhaaf ons ywer in die bediening
    Ons Koninkryksbediening—1985
  • Wees ywerig vir ware aanbidding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Wees ’n ware volgeling van Christus
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2010
  • Skep God behae in alle godsdienste?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
w87 7/15 bl. 28-31

Lewer die ware Christelike godsdiens fanatici op?

DIE Christendom het al fanatici gehad—van mense wat hulself uit politieke protes aan die brand gesteek het tot individue wat onverdraagsaam was teenoor diegene wat ander godsdiensbeskouings huldig. Die eerste Kruistog is byvoorbeeld deur die Katolieke Kerk aangevoor om Jerusalem te bevry van oorheersing deur mense wat hy as ongelowiges beskou het. Dit het begin met drie ongedissiplineerde hordes wat gewelddadighede gepleeg het, onder meer ’n pogrom op Jode in die Rynland. Toe die krygsmag van hierdie Kruistog daarin geslaag het om Jerusalem te verower, het hierdie sogenaamd Christelike soldate die strate in riviere van bloed verander.

In sy boek The Outline of History het H. G. Wells van die eerste Kruistog gesê: “Die slagting was verskriklik; die bloed van die oorwonnenes het in die strate gevloei, totdat ruiters in bloed geplas het. Met sononder het die kruisvaarders, wat ‘gehuil het van groot vreugde’, na die Heilige Graf gekom nadat hulle die parskuip getrap het en het hulle hul bebloede hande in gebed saamgevou.”

In ’n latere Kruistog wat deur pous Innocentius III uitgeroep is, is die vredeliewende Albigense en Waldense, wat beswaar gemaak het teen die leerstellings van Rome en die gewelddadighede van die geestelikes, uitgedelg. Wells het die volgende geskryf oor die fanatisme teen hulle: “Dit was genoeg vir die Lateraan, en daarom het ons die spektakel van Innocentius III wat ’n kruistog teen hierdie ongelukkige sektariërs verkondig het en toegelaat het dat enige swerwende skurk hom inskryf . . . en van elke denkbare wandaad wat teen die vredeliewendste onderdane van die Koning van Frankryk gepleeg is. Dit is baie erger om die verslae oor die wreedhede en gruwels van hierdie kruistog te lees as enige verslag oor Christene se marteldood in heidene se hande.”

Die geskiedenis van die Christendom wemel van verslae oor fanatici, en hulle het gewoonlik gewelddadige vrugte voortgebring. Ons kan derhalwe die gevolgtrekking maak dat fanatisme nie goeie vrugte voortbring nie. Funk en Wagnalls se New Standard Dictionary of the English Language (uitgawe van 1929) definieer fanatisme soos volg: “Buitensporige of waansinnige ywer.” En dit sê voorts ter toeligting: “Geen tydperk in die geskiedenis bevat meer wreedheid, bandeloosheid en fanatisme as die Kruistogte nie.”

Dit is ook interessant om op te let hoe Webster’s Third New International Dictionary, uitgawe van 1961, die woord “fanatiek” definieer. Dit sê: ‘Fanatiek—Latyn, deur ’n godheid geïnspireer. 1. demonbesete of oënskynlik demonbesete; in die algemeen: gek, waansinnig, mal. 2. beheers, veroorsaak of gekenmerk deur oordrewe ywer: buitensporig, onredelik: uitermate entoesiasties, veral oor godsdiensonderwerpe.’ Kan ’n mens dan, hiermee in gedagte, sê dat ware Christene fanatici is?

Deur vrugte geïdentifiseer

Soos ’n boom se vrugte dit identifiseer, toon die gevolge van mense se dade watter soort mense hulle is. Jesus Christus, die Stigter van die Christelike godsdiens, het die aandag hierop gevestig. Hy het gesê: “’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie. So sal julle [daardie mense] dan aan hul vrugte ken.”—Mattheüs 7:18, 20.

Jesus het die ware Christelike godsdiens as ’n goeie boom gestig. Dit kon gevolglik nie die slegte vrugte van fanatisme voortbring nie. Jesus het nooit sy volgelinge beveel om hulself of ander fisieke leed aan te doen nie. Trouens, hy het een van die twee groot gebooie aangehaal en gesê: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 22:39). Sy volgelinge moet selfs hulle vyande vriendelik behandel. Jesus het gesê: “Julle moet jul vyande liefhê en goed doen aan die wat vir julle haat. Seën die wat vir julle vervloek, en bid vir die wat julle beledig.”—Lukas 6:27, 28.

Jesus se ware volgelinge het na mense van talle verskillende nasies gegaan, nie met vuur en swaard nie, maar met God se geskrewe Woord en vreedsame oorreding. Geen krygsmagte het hulle na ander lande vergesel om diegene wat geweier het om as Christene gedoop te word te vermoor, te martel en te verkrag nie. Inteendeel, Jesus se dissipels het sy vreedsame voorbeeld gevolg deur die goeie nuus van God se Koninkryk aan almal te verkondig en hulle aan te spoor om oor die inligting in die Skrif te redeneer. Die vrugte van hulle werk het die vrug van God se gees ingesluit—“liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing”.—Galasiërs 5:22.

Dieselfde geld vandag. Die ware Christelike godsdiens bring steeds goeie vrugte voort. Die boom, die Christelike organisasie, wat Jesus meer as 1 900 jaar gelede geplant het, was goed, en dit is nog steeds goed. Dit kan derhalwe nie die slegte, onverdraagsame, gewelddadige vrugte van fanatisme voortbring nie. Waarom is fanatisme dan so algemeen in die Christendom?

Die apostel Paulus het aangedui dat die tyd sou aanbreek wanneer naamchristene sou verskyn. Hulle sou as Christene bekend staan, maar sou nie daardie naam gestand doen of die goeie vrugte daarvan voortbring nie. Hy het vir ouere manne in Efese gesê: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde [“verdraaide”, NW] dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29, 30). Uit hierdie afvalliges het die Christendom ontstaan, met sy honderde teenstrydige godsdiensorganisasies wat dinge verkondig wat bloot as Christelik voorgestel word. Dit is in werklikheid “verdraaide dinge”, mense-idees en nie die waarheid van God se Woord nie. Dit is onder hierdie valse Christene dat die slegte vrugte van fanatisme verskyn het.

Is Christelike ywer fanatisme?

Fanatisme is weliswaar ’n vorm van ywer. Maar fanatisme is “buitensporige of waansinnige ywer”, “onredelike” ywer. Dit kan nie van die ware Christelike godsdiens gesê word nie.

Die Bybel vermaan Christene herhaaldelik om redelik te wees. Filippense 4:5 (NW) sê byvoorbeeld: “Laat julle redelikheid bekend word aan alle mense.” En Christene word aangeraai “om niemand te belaster nie, nie strydlustig te wees nie, [redelik] te wees en aan alle mense alle sagmoedigheid te bewys”.—Titus 3:2, vgl. NW.

Omdat Jehovah se Getuies mense in hulle huise besoek om oor die goeie nuus van God se Koninkryk te praat, verskil hulle van die meeste mense wat beweer dat hulle Christene is. Hierdie ywer in die Christelike bediening is geen rede om hulle as fanatici te beskou nie. Dit is redelike ywer vir ’n werk wat Jesus gedoen en aan sy volgelinge opgedra het (Mattheüs 24:14; 28:19). Iemand wat talle tydrowende, persoonlike bedrywighede opsysit om soveel tyd moontlik aan die Koninkryksverkondiging te wy, is nie ’n fanatikus nie. Hy toon eerder dat hy die dringendheid daarvan besef om ander te help om die lewegewende waarhede van God se Woord te leer ken in die kort tyd wat vir hierdie werk oorbly. Dit is redelik en nuttig.

In plaas van ’n fanatieke werk te wees wat ander benadeel, bou hierdie bedrywigheid geloof in God en sy Woord op. Dit gee hoop aan diegene sonder hoop, bevry mense van godsdiensbygelowe en -onkunde en verander tallose onsedelike en gewelddadige mense in sedelik rein en vredeliewende Christene. Hierdie goeie vrugte dui op ’n goeie organisasie.

In meer as 200 lande handhaaf Jehovah se Getuies hulle lojaliteit teenoor God se Koninkryk, hoewel hulle werk op baie plekke amptelik in die ban gedoen is. Hulle lojaliteit teenoor God, die Oppersoewerein, kan nouliks fanatisme genoem word. Hy is die hoogste Gesag, en wanneer die wette van ’n menseregering met sy wette bots, is ’n ware Christen verplig om hom te gehoorsaam. Onder menseregerings word plaaslike wette soms ongeldig verklaar omdat dit met federale wette bots. Vir ware Christene is mensewette eweneens nie meer van krag wanneer dit bots met dié van die Universele Soewerein, Jehovah God, nie. Aangesien ’n ware Christen nie twee teenstrydige wette kan gehoorsaam nie, doen hy wat die apostels gedoen het. Hulle het gesê: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 5:29). Dit is redelik.

Jehovah se Getuies openbaar dieselfde redelikheid ten opsigte van nasionale en godsdiensvieringe wat strydig met God se Woord is. Dit is nie fanatisme wanneer iemand nie deelneem aan iets wat die meeste mense in ’n land vier nie. Die feit dat die Getuies vanweë hulle godsdiensgewete anders is, plaas hulle in dieselfde kategorie as die vroeë Christene, wat nie aan die gewilde vieringe van hulle tyd deelgeneem het nie. En Jehovah se Getuies gee graag ’n Skriftuurlike rede waarom hulle nie daaraan deelneem nie.—1 Petrus 3:15.

Sommige mense beskou die Getuies as fanatici omdat hulle weier om bloedoortappings, ’n gewilde gebruik onder die meeste dokters, te aanvaar. Dit is weer eens ’n geval van gehoorsaamheid aan die wet van God. Ware volgelinge van Jesus Christus word beveel om hulle ‘van bloed te onthou’.—Handelinge 15:28, 29.

Is ’n persoon fanatiek omdat hy, ter wille van sy gewete, ’n mediese gebruik verwerp wat tans gewild is? Sommige mense wat nie Jehovah se Getuies is nie, weier bloedoortappings uit vrees dat hulle Vigs of ander siektes sal opdoen. Is dit dan onredelik dat die Getuies mediese behandeling versoek wat nie hulle gewete skend nie?

Wat moet ’n mens hieruit aflei? Dat Jehovah se Getuies nie fanatiek is omdat hulle van die meerderheid verskil en volhard in gehoorsaamheid aan God nie. Hoewel hulle vol ywer vir God is, het hulle nie “buitensporige of waansinnige ywer” asof hulle demonbesete is nie; en hulle kom ook nie “dol, waansinnig” of “mal” voor nie. Hulle doen ander of hulself nooit uit godsdiensywer kwaad aan nie. In harmonie met wat die Bybel omtrent ware Christene sê, leef hulle eerder “in vrede met alle mense”.—Romeine 12:18.

Die Christelike organisasie wat Jesus Christus in die eerste eeu as ’n goeie boom geplant het, bring dus vandag nog net goeie vrugte voort. Dit is derhalwe onmoontlik dat die ware Christelike geloof fanatici kan oplewer.

[Lokteks op bladsy 30]

Daar is geen rede om Jehovah se Getuies vanweë hulle ywer in die Christelike bediening as fanatici te beskou nie

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel