Ek het gesien dat Jehovah goed is
Soos vertel deur Lennart Johnson
OP SONDAG, 26 Julie 1931, het die tweede president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, J. F. Rutherford, die toespraak “Die Koninkryk, die hoop van die wêreld” in die stadion in Columbus, Ohio, gehou. Ons gesin in Rockford, Illinois, het oor die radio daarna geluister. Ek was net 14 jaar oud, maar hierdie program het, as ’t ware, ’n dik sluier voor my oë weggelig.
Ofskoon my vader, en later ook my broer, in die Koninkryksboodskap belanggestel het, was my moeder altyd onbelangstellend. Vader is die volgende jaar, in 1932, oorlede. Ander Wagtoring-uitsendings het my geestelik verder gevoed, maar dit was eers in April 1933 dat ek uitgevind het waar Jehovah se Getuies vergader, kilometers daarvandaan, aan die oorkant van die rivier.
Wat ’n verrassing was dit vir daardie groepie om ’n tingerige tienderjarige per fiets by hulle vergadering te sien aankom vir ’n studie uit die tweede band van die boek Regverdiging! By elke vergadering het ek meer geleer, en ek was verheug toe ek twee maande later met die Koninkryksboodskap van huis tot huis begin gaan het. Daardie selfde jaar is ek by ’n gebiedsbyeenkoms (nou kringbyeenkoms) gedoop.
Ek het elke dag na skool omtrent ’n uur lank die Koninkryksboodskap met die bure in ons omgewing gaan deel. Ek het ook die geleentheid gehad om by die skool te getuig. Een leergang het byvoorbeeld die helvuur- en pynigingteorie onderskryf. Dit het my beweeg om Skriftuurlike bewys te lewer dat die dode nie ly nie, maar eerder onbewus en in hulle grafte is, met die vooruitsig van die opstanding. Die onderwyser het my toegelaat om my omvattende opstel aan die hele klas voor te lees.
Die voltydse bediening
In Mei 1935 het ek die byeenkoms in Washington, D.C., bygewoon waar pionierdiens (die voltydse bediening) beklemtoon is. Met my tuiskoms het ek aan die Wagtoringgenootskap geskryf, en hulle het nie net ’n lys beskikbare gebiede teruggestuur nie, maar tot my verbasing ook verskeie planne vir die bou van ’n woonwa ingesluit. Die pionierdiens het destyds dikwels verhuising na nuwe streke geverg, en ’n woonwa het ’n mens ’n plekkie gegee om in te woon. Ek het dus besluit om ’n motor en woonwa te probeer aanskaf sodat ek die voltydse bediening kon nastreef.
Intussen het ek begin om ’n klankmotor te gebruik wat deur die gemeente vir die bekendmaking van die Koninkryksboodskap aangeskaf is. Toe ek en nog ’n broer na Monroe, Wisconsin, genooi is om dit te gebruik, het ek Virginia Ellis ontmoet en is ek kort daarna met haar getroud. Nou kon ons saamspan om die motor en woonwa vir gebruik in die pionierdiens te bekom!
My moeder is in die noordelike herfs van 1938 oorlede, en ongeveer daardie tyd het Harold Woodworth uit Nieu-Mexiko aan ons geskryf: “Kom hierheen; baie hulp is nodig.” Ons het dus na Nieu-Mexiko vertrek, ’n landreis van ongeveer 1 600 kilometer. ’n Telegram het ons by een adres op pad daarheen bereik. “Kom terug huis toe”, het dit gepleit. Ek is ’n lonende betrekking met uitstekende kanse op bevordering aangebied. Ek het die telegram opgeskeur. Aangesien Jehovah ons gehelp het om ons vir die pionierdiens gereed te maak, sou ek nie toelaat dat enigiets inbreuk daarop maak nie!
In Maart 1939 het ons ons pionierdiens in die omgewing van Hobbs, Nieu-Mexiko, begin. Dit was beeswêreld; daar was ook talle nuwe olieveldnedersettings in hierdie omgewing wat besoek moes word. Die gemeentetjie se vergaderinge het op ’n Vrydag en Sondag geval, en ons het dus lektuur, water, voedsel, ’n stofie en ’n opvoubed saamgeneem en Maandag tot Vrydagmiddag aan die predikingswerk in die buitedistrikte gewy. Wanneer dit nag geword het, het ons in die veld geslaap met die hemel as ’n dak en ’n olieveld-“fakkel” byderhand om die ratelslange te verwilder. Ons het die naweke in die dorp deurgebring en saam met die gemeente gewerk.
Na etlike maande van hierdie diensreëling het die Genootskap ons eers na Roswell en daarna na Albuquerque, Nieu-Mexiko, gestuur. Hier het ons weer die klankmotor gebruik, wat besonder doeltreffend was om in die Indiane-dorpies in die omgewing te getuig. Toe ’n nuwe werk, straatgetuienis met ons tydskrifte, vroeg in 1940 ingestel is, was ons verheug om saam met ons broers in Albuquerque daaraan deel te neem.
Teenkanting tydens oorlogshisterie
Die Tweede Wêreldoorlog het die vorige September in Europa uitgebreek, en ’n tydperk van venynige teenkanting het gevolg omrede ons neutraal gebly het ten opsigte van deelname aan die oorlog. My hemp is eenkeer letterlik van my rug afgeskeur terwyl ek aan die predikingswerk deelgeneem het.
In die noordelike somer van 1940 het broers tydskrifwerk naby El Paso, Texas, gedoen, en ’n klomp van hulle is in hegtenis geneem. Die volgende Maandag het ek en Harold Woodworth gegaan om hulle gedurende hulle verhoor by te staan. Ek kon pertinente punte in die broers se verdediging na vore bring deur hulle in die hof te ondervra. Nadat hulle almal onskuldig verklaar is, het die koerantberig my ’n “belowende jong prokureur van Albuquerque” genoem. Maar dit was in werklikheid Jehovah wat daardie dag die oorwinning aan sy knegte gegee het!
In ’n ander stad is ons broers eweneens opgesluit omrede hulle gepreek het. Nadat ek hulle in die hof verdedig het, het ek en broer David Gray ’n brief na elke stadsamptenaar geneem. Die brief het die wetlike reg van Jehovah se Getuies om hulle werk te verrig uiteengesit en gewaarsku dat die amptenare vir enige gevolglike skades verantwoordelik gehou sal word as die vervolging van die Getuies voortduur.
Die burgemeester het die brief ontvang en sonder kommentaar gelees, maar die polisiehoof het vir ons gesê: ‘Hier ver in die Weste gaan mense vir ’n uitstappie, en . . . wel . . . ander soek hulle later, maar hulle word nooit gevind nie.’ Die dreigement is egter nie uitgevoer nie; dinge het eerder bedaar, en die hofsaak teen die broers is teruggetrek.
Omstreeks hierdie tyd het die Wagtoringgenootskap my as ’n sonekneg (wat nou ’n kringopsiener genoem word) aangestel. My toewysing het ’n groot deel van Nieu-Mexiko en ’n gedeelte van Texas gedek.
Gilead en ’n buitelandse toewysing
In 1943 het ek en Virginia ’n uitnodiging ontvang om die tweede klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead by te woon. Nadat ons in Januarie 1944 gegradueer het, is ons aanvanklik toegewys om saam met die Flatbush-gemeente in Brooklyn, New York, te werk. Ons het agter die Genootskap se fabriek in ’n ou gebou gewoon wat later afgebreek is om die fabrieksfasiliteite in Adamsstraat te vergroot.
Mettertyd het ons egter ons toewysing na die Dominikaanse Republiek ontvang, waar Rafael Leónidas Trujillo Molina die alleenheerser was. Toe ek en Virginia op 1 April 1945 daar aangekom het, was ons die enigste Getuies in die land. Ons het na die Victoria-hotel gegaan en losies verkry—R10 per dag vir ons albei, maaltye ingesluit. Daardie selfde middag het ons ons eerste tuisbybelstudie begin.
Dit het so gebeur: Twee Dominikaanse vroue met wie ons in Brooklyn die Bybel bestudeer het, het aan ons die name van familielede en kennisse gegee, onder andere ’n dr. Green. Toe ons hom besoek het, het ons ook sy buurman, Moses Rollins, ontmoet. Nadat ons hulle vertel het hoe ons hulle name en adresse gekry het, het hulle aandagtig na die Koninkryksboodskap geluister en tot ’n Bybelstudie ingestem. Moses het kort daarna die eerste plaaslike Koninkryksverkondiger geword.
Daardie selfde aand het dr. Green ons geneem om vanaf die boonste vlak van ’n dubbeldekkerbus na ’n huis te soek. Oplaas het ons ’n betonhuisie daar in die hoofstad, Ciudad Trujillo (nou Santo Domingo) gehuur. In Junie het nog vier sendelinge by ons aangesluit. ’n Tweede sendinghuis is geopen, en toe het meer sendelinge gearriveer. Teen Augustus 1946 het ons ’n hoogtepunt van 28 verkondigers gehad. Weldra het baie meer sendelinge gearriveer, en huise is ook vir hulle geopen. Die vermeerdering het begin!
Diens tydens ’n verbod
Teen 1950 het ons tot ver oor die 200 verkondigers vermeerder. Omdat Jehovah se Getuies egter ’n streng neutrale standpunt handhaaf, het Trujillo se regering begin om ons jong broers tronk toe te stuur. Toe, om die kroon op te sit, is daar op 21 Junie 1950 ’n algehele verbod op die werk van Jehovah se Getuies geplaas.
Omdat hulle nie in Koninkryksale bymekaar kon kom nie, het die broers begin om stilletjies in klein groepies in privaat wonings te vergader. Daar het ons Wagtoring-artikels bestudeer wat met behulp van die mimeograaf gereproduseer is. Al die getroues het die geestelike krag wat Jehovah hulle deurentyd in hierdie studiegroepies gegee het innig waardeer.
Sondag was ons dag om die talle Dominikaanse broers in Trujillo se tronke te besoek. Ons is gevisenteer wanneer ons ingegaan het, en ons volledige identifikasie is sorgvuldig aangeteken. Wanneer ons by hierdie broers was, het soldate ons soms omring en noukeurig dopgehou. By een geleentheid het Stanley Aniol van Chicago, wat sy sendelingdogter Mary (nou Mary Adams wat in die Brooklyn-Bethel dien) besoek het, saam met ons gegaan. Broer Aniol, wat ontroer was deur die onkreukbaarheid van die jong Dominikaanse broers, het hulle almal liefdevol gesoen voor al die soldate wat toegekyk het.
Toe ons na die besoek met die sakegebied se hoofstraat afgeloop het, het ’n motor waarin ’n klomp van Trujillo se manne was ons teen ’n slakkegang gevolg. Dit was een van Trujillo se welbekende metodes om vrees by mense te probeer inboesem. Toe ons broer Aniol vertel het wat hulle in die mou voer, het dit hom nie in die minste ontstel nie. Dit was inderdaad nodig om Trujillo se pogings tot intimidasie te ignoreer en ons volle vertroue in Jehovah te stel.
Met tye het bedrieërs, spioene van Trujillo, na ons deur gekom en beweer dat hulle broers is. Ons moes derhalwe “versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” wees (Mattheüs 10:16). Ons het sulke persone deur middel van deurdringende vrae getoets om vas te stel of hulle werklik ons broers is of nie.
Tydens die verbod het verskeie sprekers ’n Gedenkmaaltoespraak by drie verskillende studiegroepe gehou en so onopsigtelik moontlik van die een plek na die ander gegaan. Op Gedenkmaalaande het ons dikwels stortreëns gehad, en aangesien Trujillo se spioeneleër net so bang vir swaar reën was as wat mense op ander plekke vir ’n kwaai sneeustorm is, was dit vir ons ’n seën.
Die meeste sendelinge het nie die internasionale byeenkomste in 1950 en 1953 in die stad New York bygewoon nie, omdat Trujillo se regering sou weier om hulle weer in die land toe te laat. Ons moes tevrede wees met The New York Times se dekking van die byeenkomste, wat pragtige foto’s van die byeenkomste sowel as ’n breedvoerige beskrywing van elke dag se program ingesluit het. ’n Plaaslike bioskoop het ook ’n lang opname van die groot doopplegtigheid by die 1953-byeenkoms vertoon.
In 1956 is ek en Roy Brandt ingeroep vir amptelike ondervraging. Amptenare van die Trujillo-regering het vroeër broer Manuel Hierrezuelo genooi om hulle te kom sien. Maar Manuel is later as ’n lyk aan sy gesin teruggegee. Hoe sou dinge dus nou vir ons verloop?
Na ons aankoms is ons elkeen afsonderlik ondervra, en ons antwoorde is blykbaar opgeteken. Niks verders het toe gebeur nie, maar twee maande later het die koerante afgekondig dat die Trujillo-regering die verbod op Jehovah se Getuies ophef en dat ons ons bedrywighede in die openbaar kon hervat. Koninkryksale is weer eens gevind, en Jehovah se werk het aangehou om vooruit te gaan.
Maar in Junie 1957 het ’n nuwe vlaag van hewige vervolging uitgebreek en is al die sendelinge uit die land verban. Ons vertrek was waarlik vir ons ’n droewige dag. Ek en Virginia het 12 jaar in die Dominikaanse Republiek gedien en het die aantal Getuies van slegs die twee van ons tot meer as 600 sien groei. In 1960 is die tweede verbod opgehef, en die aantal verkondigers het aangehou groei totdat daar nou ongeveer 10 000 is!
Ons dien in Porto Rico
Toe ons in Augustus 1957 in Porto Rico aankom, was ons Christenbroers sowel as koerantverslaggewers daar om ons te ontvang. Die persverslae wat daaruit gespruit het, het ’n uitgebreide getuienis gegee. Daar was destyds minder as 1 200 Koninkryksverkondigers in Porto Rico; nou is daar nagenoeg 22 000!
In 1958 het die Genootskap my genooi om ’n reisende opsiener te word. Sodoende het ons deur die jare heen baie getroue broers uit alle dele van Porto Rico en die Maagde-eilande leer ken en saam met hulle gewerk. Ek en my vrou het mettertyd lede van die plaaslike Bethelgesin geword. En sedert die samestelling van die plaaslike Takkomitee het Jehovah my begunstig om ’n lid daarvan te wees.
Dit vul my met vreugde dat ek nou die voorspelde “honderd maal soveel . . . broers en susters en moeders en kinders” persoonlik van Jehovah ontvang het (Markus 10:30). Dit was nooit my begeerte om my lewe op ’n ander manier as in sy diens deur te bring nie. As ek terugkyk op die ongeveer 48 jaar sedert ek die pionierdiens betree het, verheug ek my dus om te sê dat ek inderdaad gesien het dat Jehovah goed is!—Psalm 34:9.
Onderwyl voorgaande lewensverhaal van Lennart Johnson in finale voorbereiding was, het Virginia Johnson op 31 Januarie 1987 rustig in haar slaap gesterf
[Lokteks op bladsy 27]
Dit is Jehovah wat sy knegte die oorwinning gegee het!
[Lokteks op bladsy 28]
Al die getroues het die geestelike krag wat Jehovah hulle deurentyd gegee het innig waardeer
[Prent op bladsy 29]
Ek en Virginia het saam met talle getroue broers uit alle dele van Porto Rico gewerk