Ek het gesien hoe “die geringste ’n magtige nasie” word
SOOS VERTEL DEUR WILLIAM DINGMAN
Die jaar was 1936; die plek, Salem, Oregon, VSA. Ek was by ’n vergadering van Jehovah se Getuies. Die vraag is gestel: “Waar is die groot menigte?” (Openbaring 7:9, AB). Ek was die enigste nuweling, en daarom het hulle almal na my gewys en gesê: “Daar is hy!”
IN DIE middel-dertigerjare was daar betreklik min onder Jehovah se Getuies wat die Bybelse hoop gehad het om vir ewig in die Paradys op aarde te lewe (Psalm 37:29; Lukas 23:43). Dinge het sedertdien drasties verander. Maar kom ek vertel van die gebeure wat my daardie vergadering in Salem, Oregon, laat bywoon het.
My pa het op The Golden Age, vroeër die naam van die Ontwaak!, ingeteken. Toe ek ’n tiener was, het ek dit graag gelees, en ek het oortuig geraak dat dit belangrike Bybelwaarhede bevat het. Daarom het ek eendag ’n koepon wat agter op ’n Golden Age verskyn het, ingestuur. Dit het vir die leser 20 boekies, ’n boek en die naam van die naaste gemeente van Jehovah se Getuies aangebied. Toe ek die lektuur ontvang het, het ek van huis tot huis gegaan en al die boekies sowel as die boek versprei.
Tot op daardie tyd het niemand nog die Bybel saam met my gestudeer nie. Trouens, ek het nog nooit met een van Jehovah se Getuies gepraat nie. Maar nou, met die adres van die naaste Koninkryksaal in my hand, het ek sowat 40 kilometer na Salem, Oregon, gery om ’n vergadering by te woon. Dit was daar, toe ek maar 18 jaar oud was, dat ek uitgesonder is as “die groot menigte”.
Hoewel ek feitlik geen voorbereiding vir die bediening gehad het nie, het ek saam met die Salem-gemeente begin getuig. Ek is aangemoedig om drie basiese gedagtes in my getuienis in te sluit. Eerstens, dat Jehovah God is; tweedens, dat Jesus Christus sy aangestelde Koning is en derdens, dat die Koninkryk die enigste hoop vir die mensdom is. Ek het daardie boodskap by elke deur probeer oordra.
Nadat ek twee jaar lank met Jehovah se Getuies in Salem omgegaan het, is ek op 3 April 1938 gedoop. Die broers in Salem was verheug om te sien dat ’n paar van ons van “die groot menigte” gedoop is. In Februarie 1939 het ek ’n pionier, of voltydse bedienaar, geword. In Desember van daardie jaar het ek ’n uitnodiging aanvaar om na Arizona te verhuis, waar meer Koninkryksverkondigers nodig was.
Pionierdiens in Arizona
Die werk van Jehovah se Getuies was iets nuuts in Arizona, en daar was baie misverstande oor ons, en gevolglik het ons heelwat vervolging verduur toe die Verenigde State tot die Tweede Wêreldoorlog toegetree het. Terwyl ek byvoorbeeld in 1942 in Stafford, Arizona, gedien het, was daar sprake dat ’n groep Mormone van plan was om by ons te kom moeilikheid maak. Ek en my pioniermaats het toevallig naby die huis van ’n Mormoonse biskop gewoon wat ons gerespekteer het en gesê het: “As Mormoonse sendelinge so bedrywig soos die Getuies was, sou die Mormoonse Kerk iewers gekom het.” Daarom het hy in die kerk gesê: “Ek hoor daar is party wat by die Getuies wil kom moeilikheid maak. Wel, ek woon naby daardie jong mans, en as julle daar gaan moeilikheid maak, gaan daar ’n haelgeweer oor die heining kom. Daardie haelgeweer sal gebruik word—maar nie teen die Getuies nie. Dit sal teen die molesmakers gebruik word. As julle wil moeilikheid maak, weet julle nou wat julle kan verwag.” Daar was nooit enige moeilikheid nie.
Gedurende my drie jaar in Arizona is ons ’n hele paar keer in hegtenis geneem en in die tronk gestop. Een keer is ek 30 dae lank aangehou. Om te keer dat die polisie ons in ons bediening teister, het ons ’n so genoemde blitsspan gevorm. Die Getuie wat die leiding geneem het, het vir ons gesê: “Ons is presies wat ons naam sê. Ons begin om vyf- of sesuur in die oggend, laat ’n traktaat of boekie by elke deur en dan is ons soos blits weer weg.” Ons “blitsspan” het ’n taamlike groot deel van die staat Arizona gedek. Dit is egter later ontbind omdat daardie metode van predikingswerk ons nie toegelaat het om belangstellendes te help nie.
Gileadskool en spesiale diens
In Desember 1942 was ek onder etlike pioniers in Arizona wat ’n uitnodigingsbrief gekry het om ’n nuwe sendelingskool by te woon wat deur Jehovah se Getuies gestig is. Die skool is aanvanklik die Wagtoring-Bybelkollege Gilead genoem. Later is die naam na die Wagtoring-Bybelskool Gilead verander. Die kampus was byna 4800 kilometer van waar ons was, naby die stad Ithaca noord van New York.
Ná ’n kort besoek aan Oregon in Januarie 1943 het ’n paar van ons pioniers die hitte van die Arizona-woestyn in ’n Greyhound-bus agtergelaat. Etlike dae later het ons by ons bestemming aangekom en die sneeu van ’n New Yorkse winter daar aangetref. Die skool het op 1 Februarie 1943 geopen toe die president daarvan, Nathan H. Knorr, in sy inwydingsrede aan die honderd studente gesê het: “Dit is NIE die doel van hierdie kollege om julle toe te rus om geordende bedienaars te wees nie. Julle is reeds bedienaars en is al jare lank bedrywig in die bediening. . . . Die studiekursus by die kollege het die uitsluitlike doel om julle voor te berei om bekwamer bedienaars te wees in die gebiede waarheen julle sal gaan.”
Aangesien ek nie veel skoolopleiding ontvang het nie, het ek aanvanklik ontuis gevoel in Gilead. Maar die instrukteurs was baie goed vir my, en ek het my studies baie geniet. Ons klas het ná vyf maande van intensiewe opleiding gegradueer. Daarna is ’n paar van ons na die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, gestuur, waar ons verdere opleiding ontvang het om ons voor te berei om as kringopsieners aan die reisende werk deel te neem. My eerste toewysing was in Noord- en Suid-Carolina.
In daardie vroeë dae was die kringopsiener omtrent die hele tyd op die pad. Ons het een dag by ’n klein gemeente gebly of twee dae as dit ’n groot gemeente was. Die meeste gemeentes was destyds klein. Nadat ek dus ’n besige dag gehad het, en dikwels tot amper middernag besig gehou is om besoeke te doen en vrae te beantwoord, was ek omtrent vyfuur die volgende oggend al wakker om na die volgende gemeente te reis. Ek het omtrent ’n jaar lank kringwerk gedoen, en daarna het ek ’n ruk lank pionierdiens in Tennessee en New York gedoen.
Na Kuba en daarna Puerto Rico
In Mei 1945 is ek saam met ’n paar ander na my eerste buitelandse sendingtoewysing gestuur: Kuba! Die aand toe ons in Havana, die hoofstad van Kuba, aangekom het, het ons tydskrifwerk gaan doen. Ons het in Havana gebly totdat ons ’n huis in Santa Clara kon kry. Ons maandelikse toelaag was net R110 elk vir alle benodigdhede, met inbegrip van kos en huur. Ons het beddens en meubels gemaak van materiaal wat beskikbaar was en het appelkratte gebruik as laaikaste.
Die volgende jaar is ek as kringopsiener aangestel. Destyds was die hele Kuba een kring. Omdat die kringopsiener voor my lang bene gehad het en lief was vir loop, moes die broers en susters letterlik hardloop om by te bly. Hulle het klaarblyklik gedink dat ek dieselfde sou wees, en hulle het alles vir my besoek daarvolgens gereël. Hulle het nie almal dieselfde dag in die bediening uitgegaan nie, maar het in groepe verdeel en beurte gemaak om saam met my te werk. Die eerste dag het een groep my na ’n afgeleë gebied geneem; die volgende dag het ’n ander groep my na nog so ’n gebied geneem, ensovoorts. Teen die einde van die besoek was ek uitgeput, maar ek het dit geniet. Ek het goeie herinneringe aan daardie gemeente.
Teen 1950 was daar meer as 7000 Koninkryksverkondigers in Kuba, amper net soveel as in Mexiko. In Julie van daardie jaar het ek die Teokrasie se Vermeerdering- internasionale byeenkoms by Yankee-stadion in die stad New York bygewoon. Daarna het ek ’n nuwe sendingtoewysing gekry, na Puerto Rico. Onder die nuwe sendelinge uit die 12de klas van Gilead was Estelle en Thelma Weakley, wat saam met my gereis het op die vlug na Puerto Rico.
Agt jaar later is ek en Estelle in Bayamón, Puerto Rico, getroud tydens ’n eenvoudige plegtigheid op die verhoog gedurende die pouse by ons kringbyeenkoms. Voor en ná ons troue het ek as kringopsiener gedien. Gedurende die meer as tien jaar wat ons in Puerto Rico was, het ek en Estelle groot vermeerderings gesien—van minder as 500 verkondigers tot meer as 2000. Ons kon baie help tot hulle hulle toegewy en laat doop het, en ons het gehelp om verskeie nuwe gemeentes te stig.
In Desember 1960 het Milton Henschel van die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, Puerto Rico besoek en met die sendelinge gepraat. Hy het gevra of party hulle beskikbaar sou stel om in ’n ander toewysing te dien. Ek en Estelle was onder dié wat hulle daarvoor beskikbaar gestel het.
Ons tuiste in die Dominikaanse Republiek
Ons nuwe toewysing was die Dominikaanse Republiek, en ons het op 1 Junie 1961 besluit as ons oorplasingsdatum. Op 30 Mei is die Dominikaanse diktator, Rafael Trujillo, vermoor, en vlugte na die land is gekanselleer. Vlugte is egter gou weer hervat, en ons kon soos ons besluit het op 1 Junie na die Dominikaanse Republiek vlieg.
Toe ons daar aangekom het, was die land in beroering, en daar was heelwat militêre bedrywighede. Hulle was bang dat ’n revolusie sou uitbreek, en soldate het almal op die hoofweg deursoek. Ons is by etlike kontrolepunte gestop, en by elkeen is ons bagasie deursoek. Alles, selfs die kleinste goedjies, is uit ons reistasse gehaal. Dit was ons eerste kennismaking met die Dominikaanse Republiek.
Ons het ’n paar weke in die hoofstad, Santo Domingo, gebly voordat ons na ons eerste toewysing in La Romana gegaan het. Gedurende Trujillo se diktatorskap is die publiek vertel dat Jehovah se Getuies Kommuniste en die slegste soort mense is. Gevolglik is die Getuies kwaai vervolg. Ons kon die vooroordeel egter geleidelik uit die weg ruim.
Nadat ons ’n kort rukkie in La Romana gewerk het, het ons weer kringwerk begin doen. Toe, in 1964, is ons as sendelinge na die stad Santiago gestuur. Die volgende jaar was daar ’n revolusie in die Dominikaanse Republiek, en daar was weer onrus in die land. Gedurende daardie konflik is ons na San Francisco de Macoris gestuur, ’n dorp wat bekend was vir sy politieke aktivisme. Ons kon nietemin vryelik preek sonder dat ons lastig geval is. Ondanks die politieke onrus het ons selfs ’n nuwe gemeente gestig. Deur die jare daarna was daar verdere veranderinge in ons toewysing voor ons na ons huidige tuiste in Santiago teruggestuur is.
Ons het beslis gesien hoe Jehovah die werk hier in die Dominikaanse Republiek seën. Toe ons in 1961 hier aangekom het, was daar omtrent 600 Getuies en 20 gemeentes. Nou is daar byna 20 000 verkondigers wat die goeie nuus van God se Koninkryk in meer as 300 gemeentes verkondig. Die potensiaal vir verdere groei is uitstekend, soos getoon word deur die opkoms van 69 908 by die herdenking van Christus se dood in 1996. Dit is ongeveer drie en ’n half keer die aantal verkondigers!
Nou ’n magtige nasie
Al is die toneel van hierdie wêreld steeds aan die verander, bly die Bybelse boodskap wat Jehovah se Getuies verkondig dieselfde (1 Korintiërs 7:31). Jehovah is nog steeds God, Christus is nog steeds die Koning en dit is duideliker as ooit dat die Koninkryk die enigste hoop vir die wêreld is.
Terselfdertyd het ’n wonderlike verandering onder Jehovah se volk plaasgevind sedert ek sowat 60 jaar gelede daardie vergadering in Salem, Oregon, bygewoon het. Die groot menigte, of groot skare, het inderdaad groot geword, met meer as vyfmiljoen lede. Dit is net soos Jehovah van sy volk voorspel het: “Die kleinste sal ’n geslag word en die geringste ’n magtige nasie. Ek, die HERE, sal dit op die regte tyd gou laat kom.”—Jesaja 60:22.
Ná byna 60 jaar in die voltydse bediening is ek bly dat ek die vreugde het om nog steeds in my sendingtoewysing te getuig en te onderrig. Wat ’n wonderlike voorreg is dit tog om ’n aandeel te hê aan daardie werk en om te sien hoe “die geringste ’n magtige nasie” word!
[Prent op bladsy 21]
Saam met my vrou in die Dominikaanse Republiek