Werk godsdiens sedelikheid in die hand?
IN ANTWOORD op hierdie vraag sal miljoene saamstem met George Bernard Shaw, wat geskryf het: “Godsdiens is ’n sterk krag—die enigste ware dryfkrag in die wêreld.” Daarteenoor het die 19de-eeuse Engelse skrywer John Ruskin, toe hy oor die grondslag van eerlikheid geskryf het, gespot: “’n Skurk se godsdiens is altyd die slegste ding omtrent hom.” Watter beskouing dink jy is die naaste aan die waarheid?
As bewys van die sedelike invloed wat godsdiens uitoefen, wys iemand miskien na ’n individu wat ’n “ander mens” geword het toe hy ‘sy lewe aan Jesus Christus toegewy het’. Dit is hoe ’n internasionale tydskrif die “bekering” van Charles Colson beskryf, wat by die Watergate-skandaal betrokke was. Iemand anders vestig miskien die aandag op diegene wat beweer dat hulle godsdiens hulle van ’n lewe van prostitusie of dranksug gered het. In nie-Christelike lande is miljoene Bybels versprei, wat baie mense ongetwyfeld gehelp het om hulle lewe sedelik te verbeter. Godsdiens het blykbaar ’n goeie sedelike invloed op sulke persone uitgeoefen.
Die negatiewe kant
Hierteenoor het Hitler se godsdiens hom nie juis gestuit nie. Dit het opregte mense laat wonder waarom daar nooit gehoor gegee is aan ’n beroep wat op pous Pius XII gedoen is om Hitler te ekskommuniseer nie. Die Catholic Telegraph-Register van Cincinnati, Ohio, het onder die opskrif “Grootgemaak as Katoliek maar ontheilig geloof sê kabelgram aan Pous” berig: “’n Beroep is op Pius XII gedoen dat ryksführer Adolf Hitler geëkskommuniseer word.” Sou so ’n stap die uitslag van die oorlog verander het en gehelp het om die mensdom baie lyding te bespaar? Die pous het ongelukkig nooit daarop gereageer nie.
Buite-egtelike saamlewery is baie algemeen in sommige Katolieke lande in Suid-Amerika. En in Noord-Amerika was ’n monseigneur die skrywer van die hoofartikel: “Wettig prostitusie—Dis die vroom oplossing” (Philadelphia Daily News). Kyk ook na die toestande in sommige Protestantse lande waar vroueruilery en voorhuwelikse en buite-egtelike seks doodgewoon is. Ons vind ’n aanduiding van die rede hiervoor in die koerantopskrif: “Pastors swyg oor voorhuwelikse seks.” Die artikel het gesê: “Die pastors van Amerika swyg skandelik oor voorhuwelikse seks . . . Hulle is bang dat hulle van hulle gemeentelede sal verloor” (Telegraph, North Platte, Nebraska). Werk alle godsdiens dus sedelikheid in die hand?
In die Christendom is godsdiens se gebrek aan sedelike motiveringskrag veral opvallend gedurende oorlogstyd. Kyk wat jy van hierdie mooiklinkende bewerings dink. In 1934 het Walter W. van Kirk, ’n destydse afdelingsekretaris van die Federale Raad van die Kerke van Christus in Amerika, geskryf: “Predikers en leke het ’n besliste standpunt teen oorlog ingeneem . . . Hierdie vredeskruistog van die kerke spruit uit die oortuiging dat oorlog heeltemal teenstrydig met Jesus se prediking en optrede is” (Religion Renounces War). Nadat dit verskeie kerke en geestelikes aangehaal het, het die boek ten slotte gesê: “Die kerke het, oor die algemeen, duidelik verklaar dat hulle nie langer as bondgenote beskou moet word in die aangeleentheid van menseslagting en -verminking nie. Die predikers . . . was hulle hande in onskuld wat die bloed van hulle medemens betref, hulle distansieer hulle van die Keiser.”
Maar daardie optimistiese voorspellings is ongelukkig nie bewaarheid nie. Toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek, het nie een van die Christendom se vernaamste godsdienste ’n ferm standpunt ingeneem om ‘oorlog die rug toe te keer nie’. Het die kerk in jou omgewing dit gedoen?
Verbrokkelde sedelike omheinings
Stem jy nie saam, noudat ons ’n paar bewyse aan beide kante beskou het, dat die vernaamste godsdienste van die wêreld in veels te veel gevalle nie daarin geslaag het om sedelikheid in die hand te werk nie? Die tydskrif Look het verklaar: “Die kerke . . . het in gebreke gebly om morele leiding te gee, en omdat hulle verantwoordelikheid die grootste is, is hulle mislukking die ergste.” The Courier-Mail van Brisbane, Australië, het die volgende gesê oor die versuim van die Christendom se godsdienste om geslagsonsedelikheid te probeer stuit: “Wanneer dit daartoe kom dat Biskoppe en Domhere . . . skrywe dat buite-egtelike geslagsgemeenskap ’n liefdediens kan wees ‘wat die Eer van God verkondig’, . . . dat hoerery op sigself nie sleg en owerspel ook nie noodwendig verkeerd is nie; dan raak die gewone man en vrou, en in die besonder die adolessente seun en meisie, in verwarring oor wat reg en verkeerd is. Die gevolg van al hierdie propaganda vir die Nuwe Moraliteit was ’n verbrokkeling van sedelike omheinings.”
Nee, oor die algemeen werk die wêreld se godsdienste sedelikheid nie werklik in die hand nie. Trouens, hulle moet deels verantwoordelik gehou word vir die betreurenswaardige toestand van hedendaagse sedes. Maar behoort godsdiens, aangesien dit veronderstel is om “diens en aanbidding van God of die bonatuurlike” te beteken, dan nie in al die lande waar dit algemeen beoefen word ’n krag ten goede te wees nie? Wat skort? Hoe kan jou godsdiens vandag só ’n krag uitoefen?