Godsdiens en bygeloof—Vriende of vyande?
OP SATERDAG, 11 Junie 1983, het dorpsbewoners op die Indonesiese eiland Java na hulle huise gehardloop en vreesbevange al die splete in die plafonne, vensters en deure verseël. Waarom die paniek? ’n Sonsverduistering het begin, en die dorpsbewoners was bang dat die skaduwee van die verduistering hulle huise sou binnedring en onheil sou veroorsaak.
Bewoners van die sogenaamde ontwikkelingswêreld volg dikwels sulke gebruike met godsdiensywer na. In sommige dele van Afrika vermy mense dit dus om op die middag in die son te loop, want hulle “kan kranksinnig word”. Kinders word verbied om eiers te eet uit vrees dat “hulle diewe sal word”. Ouers sal nie sê presies hoeveel kinders hulle het nie, want “dalk sal hekse hoor dat jy spog en een van hulle neem”.—African Primal Religions.
Westerlinge is geneig om sulke gebruike as ’n vertoon van bygelowige vrees, die produk van ‘heidense onkunde’, te bespot. Maar sulke gebruike is nie tot nie-Christene beperk nie. Hulle “word onder mense dwarsdeur die wêreld aangetref” sê dr. Wayland Hand, professor in die volkskunde en Germaanse tale. Hy en sy kollega, dr. Tally, het reeds in die Verenigde State alleen nagenoeg ’n miljoen voorbeelde van bygelowe versamel.
Omdat talle sogenaamde Christene smag om te weet wat hulle lot is, wend hulle hulle derhalwe tot sterrewiggelary—een van die oudste bygeloofsvorme. En vreemd genoeg, bygelowe ontvang soms die openlike steun van godsdiensleiers. Op ’n koue dag in New York, 10 Januarie 1982, het Oosterse Grieks-Ortodokse patriarg Vasilios byvoorbeeld ’n opelugmis gelei om die Driekoningefees te vier. Daarna, berig die New York Post, het hy ’n goue kruis in die Oosrivier geslinger en vir die bystanders gesê dat die eerste persoon wat die kruis terugbring vir die res van sy lewe voorspoedig sal wees.
Maar is die Christelike geloof en bygelowigheid verenigbaar? ’n Skrywer het eenmaal opgemerk: “Die blom van bygeloof bloei op die graf van geloof.” Sou jy nie gevolglik verwag dat die Christelike godsdiens bygelowige vrees sal teenwerk en verdryf nie?
Godsdiens—Verdryf dit bygelowige vrees?
Ware godsdiens behoort dit te doen, en dit het wel in die eerste eeu. Ofskoon die vroeë Christene te midde van die bygelowige Romeinse wêreld gelewe het, het hulle bygelowe verwerp. Maar na die dood van Christus se apostels het valse godsdiensleringe, waaronder bygelowe, in die gemeente begin insypel (1 Timotheüs 4:1, 7; Handelinge 20:30). ’n Geestelikeklas het te voorskyn begin kom wat, volgens die boek A History of the Christian Church, die gebruik van horoskope en navolging van ander bygelowe goedgekeur het. Sulke gewilde gebruike is mettertyd as “Christelik” bestempel.
En vandag? Godsdiens duld steeds bygelowige gebruike. Beskou Suriname, waar sogenaamde Christene wat Afrikane-voorouers gehad het dikwels amulette vir vermeende beskerming teen bose geeste dra. Een waarnemer het opgemerk: “Hierdie mense leef, eet, werk en slaap elke dag in vrees.” Miljoene mense dwarsdeur die wêreld het ’n soortgelyke vrees vir die “geeste” van die dooies. Godsdiens het, ironies genoeg, dikwels sulke bygelowe bevorder.
’n Voorbeeld hiervan is wat op die Afrika-eiland Madagaskar gebeur het. Toe die Christendom se sendelinge hulle opvattings begin versprei het, was die Madagasse ontvanklik, maar onwillig om hulle tradisionele oortuigings te laat vaar. Die reaksie van die kerke? Die Daily Nation, ’n koerant van Kenia, sê: “Die vroeë sendelinge was verdraagsaam en toegewend en het die situasie naderhand aanvaar.” Die gevolg? Die helfte van Madagskar se mense is vandag gelyste Christene. Maar hulle vrees ook die “geeste” van afgestorwe voorouers! Daarom vra hulle gewoonlik die priester of pastor om ’n voorouer se beendere te seën voordat dit in die familiegraf teruggeplaas word. Ja, godsdiensleiers het die leuen laat voortbestaan dat God, die Duiwel en afgestorwe voorouers omgehaal, gevlei en omgekoop kan word deur bygelowige gebruike te onderhou.
Dieselfde geld in Suid-Afrika, waar 77 persent van die bevolking beweer dat hulle Christene is en waar die kerkbywoningsyfer hoog is. Tradisionele Afrika-godsdiens met sy bygelowige vrees vir afgestorwe voorouers duur nietemin voort onder miljoene van daardie kerkgangers. In talle sogenaamd Christelike lande is godsdiens dus bloot ’n vernis. Krap die oppervlak, en dit is duidelik dat die ou bygelowe behoue gebly en gefloreer het.
Maar ware godsdiens verdryf bygelowige vrees. Hoe? Die sleutel is kennis. Kennis waarvan? En hoe kan jy dit verkry?