Koninkryksverkondigers berig
Guinee verwelkom “Goddelike vrede”-byeenkomsgangers
DIE eerste vier dae van 1987 het die eerste streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies gesien wat ooit in die Republiek Guinee, Wes-Afrika, gehou is. Ofskoon Guinee hoofsaaklik ’n Islamitiese land is waar die werk van Jehovah se Getuies nog nie amptelik erken word nie, het die Getuies aldaar ’n reputasie as goeie, vriendelike, vreedsame mense verwerf. Dit is weens hierdie reputasie dat die regering die “Goddelike vrede”-byeenkomsgangers met ope arms ontvang het.
Nege sendelinge wat met ’n minibus en twee motorfietse van Freetown, Sierra Leone, gereis het, was onder die afgevaardigdes. By die grens moes hulle ’n rivier met behulp van ’n pont oorsteek wat bestaan het uit drie boomkano’s waarop dwarsplanke gepak is. Toe hulle en die voertuie veilig aan die ander kant was, het die sendelinge gevra: “Hoeveel skuld ons?” “Julle is Jehovah se Getuies”, was die antwoord. “Dit is gratis.”
Wat van doeane- en immigrasieformaliteite? “Moenie daaroor bekommer nie”, is hulle meegedeel. “Voorsienings is reeds daarvoor gemaak. Dra net julle lapelkaarte.” Honderde ander afgevaardigdes het soortgelyke ondervindings gehad. Die regering van Guinee het nie net gratis vervoer oor die rivier wat Guinee van Sierra Leone en Liberië skei, toegelaat nie, maar ook doeane- en immigrasieformaliteite vir enigiemand met ’n “Goddelike vrede”-lapelkaart laat vaar! Een kringopsiener, wat van Liberië gekom het, het gesê: “Die lapelkaart was baie beter as ’n paspoort.”
Die Guinese regering was op ander maniere behulpsaam. Hulle het ’n voertuig voorsien om Getuies van die hoofstad, Conakry, na die byeenkomsstad, Guékedou, meer as 640 kilometer daarvandaan, te vervoer. Hulle het toestemming gegee dat petrol gekoop kan word vir die voertuie wat van Freetown gekom het. Hulle het die hotel naaste aan die byeenkomsterrein gelas om al sy kamers vir die Getuies oop te hou. Hulle het ook die gebruik van die stadsaal vir die byeenkoms goedgekeur en dit gratis beskikbaar gestel.
Die distriksgoewerneur, die hoogste amptenaar in daardie deel van die land, het 11 afgevaardigdes in sy eie huis laat tuisgaan. Hy was ook onder die 1 132 wat Sondag na die openbare toespraak geluister het.
Jehovah God sal sulke goedhartigheid wat aan sy knegte betoon is nie vergeet nie.—Mattheüs 10:42; 25:40.