Die Arabiese kameel—Afrika se meerdoelige vervoermiddel
Deur Ontwaak!-medewerker in Tsjad
’NMENS verwonder jou werklik wanneer jy vir die eerste keer ’n kameel sien wat lang hale met sy lomp bene gee terwyl hy sy neus in die lug hou en sy rugbult heen en weer swaai. Party kry selfs die indruk dat die kameel gemaak is uit onderdele wat ná die skepping oorgebly het!
Waarom die eienaardige rugbult, die lang nek, die speekbene en die groot, ronde voete, om nie te praat van daardie lang, gekrulde ooghare nie? Al lyk hy so lomp is daar deur die eeue heen baie waarde aan die Arabiese kameel geheg.
’n Nuttige dier destyds . . .
Die dromedaris, of Arabiese kameel (een bult), is blykbaar al in Abraham se tyd op groot skaal gebruik. Abraham self het tydens sy verblyf in Egipte ’n klompie aangeskaf (Genesis 12:16). Trouens, hy het moontlik op ’n kameel gery tydens sy beroemde reis van Ur van die Chaldeërs af na die land Kanaän.
Job het kamele besit. Sy kudde was sowat 3000 sterk en het daartoe bygedra dat hy een van die rykste manne in sy deel van die wêreld was (Job 1:3). Mense in Egipte en op ander plekke heg dus ten minste 4000 jaar al waarde aan kamele.
Hulle is teen die tweede eeu G.J. aan die res van Noord-Afrika bekend gestel. Dit het hulle eienaars in staat gestel om ’n nomadiese lewenswyse in die Sahara-woestyn te begin, wat sonder die kameel onmoontlik sou gewees het.
Hierdie nomades het eindelik roetes deur die woestyn ontwikkel en ’n slawehandel begin. Hulle het slawe in Afrikalande onderkant die Sahara bekom en hulle in afgeleë oases laat werk waarvandaan hulle nooit te voet kon ontsnap nie.
Lang karavane kamele het sout deur die woestyn gedra na plekke waar hierdie produk skaars en gevolglik in groot aanvraag was. Hoewel sy rol in die slawehandel geëindig het en sy rol in die southandel baie kleiner is, is die Arabiese kameel nog lank nie uitgedien nie.
. . . en nou
Karavane kamele is nog iets alledaags in Afrika se Sahel-Saharastreek—’n vervoerwyse wat sedert Abraham se tyd onveranderd gebly het. Die nomadiese stamme maak grootliks staat op hulle kamele, wat nog net so onontbeerlik vir hulle lewenswyse is as tydens die vorige millenniums.
As nomades is hulle belangrikste vereiste vervoer—van hulleself, van water, van voedsel en van watter huisraad ook al nodig is. Hulle melk ook die kameel en bewaar sorgsaam sy hare sodat hulle materiaal, komberse en tente kan maak. Die huid word vir leerwerk gebruik en sy vleis vir voedsel.
Karavane reis gemiddeld 40 kilometer per dag. Maar sommige kamele kan tydens ’n noodgeval 160 kilometer in een dag aflê. Dit is ’n belangrike oorweging as waterbronne baie kilometers uitmekaar lê.
Hulle word ook nie net in die wydgestrekte woestyngebiede gebruik nie. Die kameel is steeds ’n alledaagse gesig, en sy kreun-, steun- en gorrelgeluide word nog gereeld op baie markte hier in die Sahel gehoor. Kamele word gebruik om mense en handelsware van die platteland af na die mark toe te vervoer, en hulle vragte weeg dikwels 200 kilogram of meer.
Aangesien beesteelt moeiliker word vanweë die uitbreiding van woestyne word die teel van kamele vir vleis aangemoedig as ’n praktiese alternatief vir beesvleis. Gedurende 1990 is daar in Tsjad se hoofstad, Ndjamena, 1300 kamele geëet, en ’n onbekende aantal is op die platteland geëet. Meer as een onervare Westerling was al verbaas om te verneem dat die goedkoop “beesvleis” wat hy op die mark gekry het eintlik kameelvleis was.
In hierdie selfde stad is dit nie ongewoon om een of meer van die diere raak te loop wat gereeld deur die strate ry en groot sakke graan en ’n ruiter dra nie. Die ruiter doen dalk aflewerings by huise of soek miskien net na voornemende kopers.
Party dorpe in die droër gebiede van die land gebruik kamele om water uit baie diep putte op te trek. ’n Yslike emmer of leerwatersak word aan die een punt van ’n lang tou vasgemaak en in die put laat sak. Die ander punt van die tou word omtrent ’n meter bokant die mond van die put oor ’n katrol geplaas en dan aan die kameel vasgemaak. ’n Seun op die kameel se rug gee die bevel om te trek en die emmer met sy kosbare vloeistof kom uit die put te voorskyn.
Oorskietonderdele?
’n Vlugtige studie van die kameel toon dat sy verskillende dele klaarblyklik so ontwerp is dat dit hom in staat stel om by ’n warm, droë klimaat aan te pas. Hierdie dele is nie blote natuurgrille nie. Hulle gee die kameel beslis ’n voorsprong in hierdie moeilike deel van die wêreld.
Waarom so ’n lang nek? Dit gee die kameel ’n soortgelyke voorsprong as die kameelperd aangesien dit hom in staat stel om van bome af te eet. Soos die kameelperd leef hy dikwels van die doringrige tipes akasiabome wat algemeen in die Sahel voorkom. Daar val die grootste gedeelte van die jaar geen reën nie en daar is dus nie veel plantegroei op die grond beskikbaar nie; die bome bly aan die lewe omdat hulle lang wortels het en dien dan vanselfsprekend as kos vir kamele.
Hoekom die lang bene en die eienaardige voete? Die kameel se lang bene dra by tot sy voordelige hoogte om te kan eet en dit gee ook die bykomende voordeel van spoed. Uit die verte lyk dit of die Arabiese kameel teen ’n gemaklike pas voortdrentel, maar voetgangers wat by een probeer bybly, besef gou dat die kameel met elke tree ’n groot afstand dek.
Die groot, ronderige voete is taamlik sag en sprei blykbaar uit wanneer die kameel trap. Dit gee hom die voordeel dat hy maklik op sand kan loop. Die smal, harde beeskloutjie of perdehoef is geneig om in die sand weg te sak, maar die kameel bly bo. Van geboorte af bedek ’n dik eeltkussing die onderkant van die voet en dit voorkom dat dit as gevolg van die warm woestynsand brand.
Tog is dit vir kamele moeilik om in modder te loop; daarom verdwyn hulle gedurende die reënseisoen uit die suidelike Sahel. Die kamele se eienaars neem hulle in die woestyn in sodat hulle nie gly en dalk ’n been breek of hulle andersins beseer nie.
En die beroemde rugbult? Party sal vir jou sê dat water daarin opgegaar word, maar in werklikheid bestaan dit hoofsaaklik uit vet en word voedsel daarin opgegaar. ’n Ondervoede kameel het dikwels ’n kleiner rugbult wat partykeer selfs pap hang of omval, maar ná ’n paar weke se goeie voeding herstel die rugbult eindelik.
Terloops, die Baktriese, of tweebultkameel, wat geskikter is vir die kouer woestyne van Sentraal-Asië, word redelik maklik met die eenbultkameel gekruis. Dit toon dat die twee spesies bloot variasies van dieselfde “soort” is.—Genesis 1:24; sien ook die Ontwaak! van 8 Desember 1988, bladsy 25.
En daardie lang, gekrulde ooghare? Lank voordat dit die mode geword het om lang, vals ooghare te dra, het kamele die ware Jakob gehad, en nie net vir die mooiheid nie. Hulle beskerm die oë teen die waaiende sand en stel die kameel dus in staat om aan te hou beweeg wanneer ander diere verblind sal wees en moet stop. Die lang, spleetagtige neusgate vul die oë aan deur sand uit te filtreer wanneer die kameel inasem en waterverlies te beperk deur vog terug te hou wanneer hy uitasem.
Dít, en ander eienskappe, gee die kameel sy welbekende vermoë om etlike dae te gaan sonder om water te drink. Hy kan maklik ’n vogverlies van tot ’n derde van sy liggaamsgewig verdra. Maar wees voorberei wanneer hy wel drink. Dit is bekend dat kamele al tot 135 liter water binne tien minute gedrink het om die water wat hulle verloor het te vervang. Rebekka het dus ’n aansienlike taak onderneem toe sy aangebied het om tien kamele water te gee!—Genesis 24:10, 19.
Al lyk die kameel dus vreemd vir dié wat hom nie ken nie, is hy nie ’n ongeluk of nagedagte van die skepping nie. Hy is nie ’n snaakse mengsel van oorskietonderdele wat ander diere nie kon gebruik nie. Hy is dalk nie so glansend soos ’n perd of so kleurryk soos ’n pou nie, maar die inwoners van Noord-Afrika waardeer die Arabiese kameel ten volle as ’n seën van God, bewys van ’n intelligente Skepper.—Openbaring 4:11.
[Prente op bladsy 23]
Met sy lang nek, bultrug, opgestopte voete en lang ooghare is die kameel ontwerp om by woestyne aan te pas