Nog ’n mylpaal in Bybelonderrig
DONDERDAG, I Oktober 1987, was nog ’n mylpaal in Bybelonderrig soos aangebied deur die wêreldwye Genootskap van Jehovah se Getuies. Toe is die inwyding van die nuwe Bedieningsopleidingskool gehou. Die eerste klas van 24 ongetroude broers het vir spesiale opleiding by die ruim Pittsburgh-Byeenkomssaal in Coraopolis, Pennsilvanië, aangemeld. Goedhartige huisbewoners onder die Getuies in die gebied het hulle huise oopgestel om hierdie studente vir hulle opleidingstydperk van agt weke te huisves.
Die studente is in die oggend ingeskryf en het hulle studieboeke asook aanvangsinstruksies ontvang. Om 7:30 daardie aand het 1 518 opgewonde Getuies wat gretig was om die amptelike opening van hierdie nuwe skool by te woon die Byeenkomssaal gevul.
Albert Schroeder, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het as voorsitter gedien. Na lied en gebed het hy Robert Dawson, stadsopsiener van Pittsburgh, aan die woord gestel. Broer Dawson het die 24 studente hartlik in Pittsburgh verwelkom en die 13 huisgesinne geprys wat aangebied het om hulle te huisves. Hy het die gashere daaraan herinner dat dit hulle voorreg sou wees om die liefde te betoon wat alles verdra, glo, hoop en verduur (1 Korinthiërs 13:7, vgl. NW). Hy het die studente daaraan herinner dat hulle as gaste dankbaarheid, nederigheid en hulpvaardigheid moet openbaar. Op hierdie manier kan vriendskappe gesmee word wat ’n leeftyd kan duur.
Die studente is toe voorgestel, en elkeen het sy naam gemeld en vertel waarvandaan hy kom en wat sy geskiedenis in Jehovah se diens is. Party het van Porto Rico, Argentinië, Kanada en Hongkong gekom en die res was van die oostelike deel van die Verenigde State. Behalwe Engels praat sommige van hulle Spaans, Frans, Italiaans of Chinees.
Die voorsitter het toe James Hinderer as een van die instrukteurs aan die woord gestel. Broer Hinderer wat sy toespraak op Mattheüs 7:24, 25 gebaseer het, het beklemtoon hoe belangrik dit is om daadwerklik op te tree deur toe te pas wat geleer is. Die studente sal sodoende hulle “huis” op ’n rots pleks van dryfsand bou.
Randall Davis, die ander instrukteur, het die studente daarna toegespreek. Hy het sy toespraak op Jesaja 54:13 gebaseer en het gesê dat hulle deur Jehovah geleer sou word sodat hulle op hulle beurt ander kan onderrig. Hulle sal swaar moet steun op die ware “helper”, Jehovah God se heilige gees.—Johannes 14:26, NW.
Albert Schroeder het toe vertel hoe die aand hom aan ’n ander mylpaal in Bybelonderrig herinner het. Hy het gepraat oor 1 Februarie 1943 toe honderd studente, vier instrukteurs (waaronder hyself) en gaste vanuit Brooklyn by South Lansing, New York, byeengekom het vir die opening van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Gileadskool het deur die 44 jaar sedertdien Jehovah se seën geniet soos blyk uit die verspreiding van meer as 6 000 Bybel-opgeleide sendelinge wat orals in die wêreld gestuur is. Broer Schroeder het toe die verskillende onderwerpe gemeld wat in die Bedieningsopleidingskool onderrig gaan word. Daaronder is Bybelleerstellinge, Teokratiese Organisasie (wat baie aandag vestig op die verantwoordelikhede van opsieners en bedieningsknegte), God se Administrasie en die Spreekkuns. Hy het ook die aandag gevestig op die verskillende studieboeke, waaronder Redenering uit die Skrif. Ten slotte het broer Schroeder gepraat oor die vervulling van Jesaja 45:23 en gesê dat godsdiensteenstanders in werklikheid hulle knieë voor God neerbuig omdat hulle moes erken dat Jehovah se Getuies gelyk het op die gebied van die geneeskunde, die reg en Bybelchronologie.
“Word navolgers van Paulus” was die tema wat die volgende spreker, Karl Klein van die Bestuursliggaam, gekies het. Hy het getoon hoe die apostel Paulus ander herhaaldelik gevra het om hom na te volg. Hy kon dit doen omdat hy Christus nagevolg het (1 Korinthiërs 11:1). Die studente is aangeraai om Paulus na te volg ten opsigte van sy kennis en vaardige gebruik van die Skrif, sy vrymoedige en ywerige predikingswerk, sy onselfsugtigheid, sy beskeidenheid en nederigheid en sy geduldige volharding.
Theodore Jaracz, ook ’n lid van die Bestuursliggaam, het daarna die inwydingstoespraak, “’n Nuwe skool—Waarom?” gehou. Hy het begin deur te sê dat diegene wat aansoek gedoen het om hierdie skool by te woon, ingestem het om te dien waar hulle ook al in die wêreldwye veld nodig is. Omdat daar meer as drie en ’n kwartmiljoen Getuies in meer as 54 000 gemeentes is, bestaan daar ’n groot behoefte aan bekwame manne om herderswerk te doen, onderrig te gee en die leiding in die groot evangelisasiewerk te gee. Jehovah het lank gelede voorspel dat hy “gawes . . . in die vorm van mense” sou voorsien (Psalm 68:18, NW). Hy het dit in apostoliese tye gedoen, net soos die apostel Paulus in Efesiërs 4:8-11 (vgl. NW) gesê het. Vandag voorsien Jehovah ook ‘gawes in mense’ en lei hy sommige van hulle op deur middel van hierdie nuwe skool.
Broer Jaracz het voorts gesê dat hoewel al die studente natuurlike vermoëns het, Christus dit kan uitbou. Maar dit verg inspanning en die spreker het vertroue uitgespreek dat die 24 studente hulle sou inspan. Hy het daarop gewys dat daar geensins van Jehovah se regverdige standaarde afgewyk kan word nie en het gesê dat diegene wat die leiding gee deur hulle persoonlike voorbeeld en invloed kan help. In talle dele van die aarde is daar ’n groot behoefte aan bekwame manne wat bereid is om organisatoriese verantwoordelikheid te aanvaar. Hierdie behoefte bestaan selfs in groot gemeentes wat moontlik net een of twee ouere manne en ’n beperkte aantal bedieningsknegte het. Dit is dus duidelik waarom ’n Bedieningsopleidingskool gestig moes word—om ongetroude ouere manne en bedieningsknegte op te lei om enige plek in die wêreldveld te dien. As gevolg van hulle opleiding sal hulle beter toegerus wees om as herders na die vermeerdering om te sien.
Al Jehovah se Getuies kan God dank dat die Bedieningsopleidingskool moontlik gemaak is. Ten slotte het broer Jaracz gesê: “Ek is seker dat ons dit almal eens is met die gedagtes en gevoelens jeens Jehovah soos uitgedruk in Psalm 79:13: ‘En ons, u volk en die skape van u weide, ons sal U vir ewig loof, van geslag tot geslag sal ons u lof vertel.’” Toe is hierdie gedenkwaardige en gelukkige geleentheid met lied en gebed afgesluit.