Kinders ‘te leen’—Hoe verstandig is die gebruik?
“SOOS jy weet, het ek baie kinders, Daniël”, het Daniël se neef gesê. “Ek het dus besluit om party van hulle onder die familie uit te deel.” Die neef het na ’n jong meisie gewys wat hy saam met hom gebring het en gesê: “Hierdie een is joune.”
“Dankie”, het Daniël gesê. Maar innerlik het hy gesug. Hy het genoeg kinders van sy eie en het nie nog kinders verlang of nodig gehad nie. Maar om te weier sou volgens plaaslike gewoonte as ’n kwaai belediging beskou word—iets ondenkbaars! Daniël het nou nog ’n dogter gehad om voor te sorg.
In talle ontwikkelingslande, veral in Afrika, is dit nie ongewoon dat ouers hulle kinders vir maande, jare—en soms vir ’n onbepaalde tyd—aan familie of vriende uitleen nie. Die gewoonte klink dalk vir Westerlinge vreemd, maar in beginsel kom dit ooreen met die gebruik om kinders na kosskole of langtermynsomerkampe te stuur. Wat is egter die rede vir die gewoonte om kinders uit te leen? Is dit ’n verstandige gebruik?
Waarom hulle hul kinders uitleen
Hoewel tradisionele waardes besig is om te verander, is kinders vir die Afrikane nie die uitsluitlike eiendom van ouers nie. Hulle behoort eerder aan die hele familie. Tantes, ooms, grootouers en ander het volgens hulle almal aanspraak op en gesag oor kinders. Soos een Wes-Afrikaanse spreuk sê: “Een persoon skenk die lewe aan die kind, maar talle sorg vir hom.”
Wanneer noodsituasies opduik, soos wanneer ’n kind se ouers sterf, is familie gevolglik voorberei en bereid om die weeskind in te neem. Maar die hoofrede waarom kinders aan familie uitgeleen word, is gewoonlik ’n finansiële rede. As ’n gesin arm is en baie kinders het, meen die ouers miskien dat een of meer van die kinders daarby sal baat vind om by familie te woon wat beter daaraan toe is. Hulle redeneer dat die familielid skoolgeld, klere, medisyne en voedsel maklik kan bekostig. Dit is dus nie ’n gebrek aan ouerliefde nie, maar eerder ’n begeerte om die beste vir hulle kinders te voorsien wat sommige ouers beweeg om hulle aan ander toe te vertrou.
’n Ander rede is ’n begeerte dat kinders ’n goeie opvoeding kry. Miskien is die naaste skool ver van die gesinshuis. Aangesien dit dalk moeilik of onmoontlik vir die hele gesin is om te trek, redeneer die ouers miskien dat dit die beste sal wees om hulle kind na familie te stuur wat naby ’n skool woon.
Familie is gewoonlik bly om hierdie kinders te aanvaar. Nog ’n mond om te voed beteken onder andere ook nog ’n paar hande wat werk in en om die huis kan doen. En ouers help soms met uitgawes deur geld of kos te stuur.
Faktore om te oorweeg
Hoewel dit waar is dat daar moontlik sekere opvoedkundige en materiële voordele daaraan verbonde is om ’n kind aan ander uit te leen, is daar ander faktore wat sorgvuldig oorweeg moet word. Om maar een ding te noem: Hoe sal die kind hom by sy nuwe voogde aanpas, en hoe sal hulle hul by die kind aanpas? Soms werk sulke reëlings goed, en die nuwe ouers smee hegte, liefdevolle bande met hulle pleegkinders. Een Christen- ouere man in Sierra Leone het byvoorbeeld sy broerskind wie se ouers dood is, ingeneem. Toe iemand jare later na sy pleegseun verneem het, het hy geantwoord: “Ek beskou Desmond nie as ’n pleegkind nie—hy is my seun. Hy is my vlees en bloed.”
Nie almal beskou egter hulle pleegkinders so nie. Ter toeligting: In een stad in Wes-Afrika was daar onluste. Koeëls het gevlieg. “Gou!” het een huisvrou vir haar twee kinders geskreeu: “Arthur, skuil onder die bed! Sorie, kyk by die venster uit en vertel vir ons wat gebeur!” Arthur was haar eie kind, maar Sorie ’n pleegkind.
Dit is algemeen dat ouers hulle eie kinders in die gesin voorkeurbehandeling gee. Gevolglik word die innig verlangde materiële voordele dikwels nie verwesenlik nie. Pleegkinders moet alte dikwels baie hard werk, word opleiding ontsê, en kom laaste in aanmerking om klere sowel as mediese en tandversorging te ontvang. ’n Sendeling wat meer as 23 jaar in Afrika gewerk het, het gesê: “Pleegkinders is feitlik altyd tweederangse kinders.”
’n Ander punt wat oorweeg moet word: Wanneer ’n kind die huis verlaat, is daar gewoonlik emosionele skade. Kinders se verstande en harte is gevoelig en vatbaar vir indrukke. Van kleins of hunker hulle na die troos en sekuriteit van ’n hegte verhouding met hulle ouers. Dit kan vir kinders uiters moeilik wees om van hul huis ontwortel te word en by so te sê vreemdelinge te gaan woon.
In Sierra Leone is ’n vrou genaamd Comfort weggestuur om by haar tante te gaan woon toe sy nege jaar oud was. Sy vertel: “Die jare wat ek van die huis of weg was, was baie moeilik. Ek het my gesin vreeslik gemis—veral my broers en susters. Dit was asof hulle my weggeskeur het van waar ek veronderstel was om te wees en my geplaas het waar ek nie veronderstel was om te wees nie. Hoewel my tante my baie goed behandel het, kon ek nooit met haar so openlik soos met my eie moeder praat nie. . . . Ongeag hoe moeilik ons situasie mag word, ek sal nooit my kinders wegstuur om by iemand anders te gaan woon nie.”
Francis, ’n Wes-Afrikaan wat ook onder pleegsorg grootgeword het, het die volgende gesê: “Ek is spyt dat ek nooit ’n hegte verhouding met my ware moeder kon aankweek nie. Ek voel dat ons albei iets kosbaars gemis het.”
Daardie noodsaaklike geestelike behoeftes
Die deurslaggewendste faktor is egter die kind se geestelike welsyn. En God beveel in sy wysheid dat ouers self na die geestelike behoeftes van hulle kinders omsien. God se raad aan Israelitiese ouers was: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan” (Deuteronomium 6:6, 7). Die apostel Paulus het Christenvaders eweneens raad gegee: “Moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.”—Efesiërs 6:4.
Maar hoe kan ’n kind “in die tug en vermaning van die Here” grootgemaak word as hy weggestuur word om by ongelowige familie te gaan woon? Hoe kortsigtig is dit dus om ’n kind se geestelike belange vir materiële of opvoedkundige voordele op te offer!
Wat as ’n kind weggestuur word om by medegelowiges te gaan woon? Hoewel dit beter is as om hulle aan ongelowiges uit te leen, is dit in baie opsigte ook ongewens. Die kind moet miskien groot sosiale, emosionele en sielkundige aanpassings maak. Sommige kinders het moedeloos of die slagoffers van jeugmisdaad en slegte omgang geword. Party het alle waardering vir geestelike dinge verloor.
Soos ouers goed weet, verg dit vaardigheid, geduld en baie tyd om liefde vir Jehovah by ’n kind in te skerp. As so ’n taak vir ’n kind se eie ouers, wat hom of haar van geboorte of intiem ken, moeilik is, hoe moeilik moet dit dan vir ’n egpaar wees om ’n kind groot te maak wat nie hulle eie is nie! Aangesien die ewige lewe van ’n kind dalk op die spel staan, moet ouers dit ernstig en biddend oorweeg of dit die risiko’s werd is om ’n kind aan iemand anders uit te leen.
Christenouers moet nogtans self besluit hoe hulle die raad van 1 Timotheüs 5:8 sal toepas: “Maar iemand wat vir sy eie mense, en veral sy huisgenote, nie sorg nie, het die geloof verloën en is slegter as ’n ongelowige.” As hulle nie self in die kind se materiële behoeftes kan voorsien nie, moet hulle in die omstandighede toesien dat daar so goed moontlik in hulle kind se geestelike behoeftes voorsien word.
Die psalmis het geskryf: “Kinders is ook iets wat die Here vir ’n mens gee, hulle is ’n gawe wat van Hom af kom” (Psalm 127:3, Die Lewende Bybel). Koester dus julle kinders en hou hulle naby julle. Wees lief vir hulle en laat hulle vir julle lief wees. Help hulle om geestelike manne en vroue te word, want dit sal ’n ewige seën vir hulle tot gevolg hê. Miskien sal julle, soos Johannes van sy geestelike kinders, kan sê: “Ek het geen groter blydskap as dit nie, dat ek hoor dat my kinders in die waarheid wandel.”—3 Johannes 4.