Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w89 1/15 bl. 25-29
  • Goddelike geregtigheid—’n Rede om te juig!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Goddelike geregtigheid—’n Rede om te juig!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Gelukkig is hulle wat geregtigheid in ag neem”
  • “Neem die dissipline aan wat insig gee”
  • “Sy oordele is waaragtig en regverdig”
  • “Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag”
  • Jy word genooi na die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkomste
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Opwindende byeenkomste bevorder Goddelike onderrigting
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Volg Jehovah na deur geregtigheid te beoefen
    Ons Koninkryksbediening—1988
  • Jehovah—die bron van ware geregtigheid en regverdigheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
w89 1/15 bl. 25-29

Goddelike geregtigheid—’n Rede om te juig!

“KOM sing die lied . . . ‘Jehovah heers; laat mense juig’.” Hierdie woorde was deel van ’n lied wat ongeveer 9 000 Arabiese, Griekse, Italiaanse, Portugese en Spaanse afgevaardigdes by die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms in Montreal, Kanada, gesing het. Die byeenkomsgangers het kort voor die einde van hierdie vierdaagse byeenkoms op die veld van die Olimpiese Stadion gestroom om saam met 36 900 afgevaardigdes wat reeds in die stadion was te sing.

Die ander taalgroepe was vir dieselfde byeenkomsprogram in nabygeleë amfiteaters en ouditoriums teenwoordig. Hulle het toe by die Franse en Engelse byeenkomsgangers aangesluit in ’n roerende vertoon van broederskap en lojaliteit—iets wat net onder knegte van die God van ware geregtigheid, Jehovah, verwesenlik kon word. Met die oog op wydverspreide ongeregtigheid in die hedendaagse wêreld, was die byeenkomstema—“Goddelike Geregtigheid”—inderdaad tydig. Hierdie tema wat deurgaans in die program beklemtoon is, het ons waardering vir hierdie kardinale eienskap van Jehovah God vergroot.

“Gelukkig is hulle wat geregtigheid in ag neem”

Dit was die tema van die eerste dag van die byeenkoms (Psalm 106:3, NW). Die voorsitter se verwelkomingsrede het dit duidelik gestel dat goddelike geregtigheid nie bloot die koue, wetlike vervulling van ’n regterlike funksie is nie. Dit is eerder ’n onpartydige en regverdige handhawing van wat reg is en volgens God se standaarde. Jehovah stel die hoogste standaarde en is volmaak wat geregtigheid betref, omdat hy hierdie standaarde handhaaf. Gevolglik kan daar gesê word dat “al sy weë geregtigheid is.”—Deuteronomium 32:4, NW.

Dit is verder beklemtoon in die programrede: “Geregtigheid kenmerk al God se weë.” Jehovah het nooit van sy regverdige standaarde afgewyk nie, maar het dieselfde regverdige weë in sy handelinge met alle onvolmaakte mense gevolg (Maleagi 3:6). Hoewel sommige God dalk valslik van onregverdigheid beskuldig omdat hulle ’n groot gebrek aan geregtigheid in die mensegemeenskap sien, is hy nie verantwoordelik vir die eiesinnigheid van die verdorwe mensdom nie.

Aangesien Jehovah ’n liefhebber van geregtigheid is, verwag hy dat ons hierdie eienskap moet beoefen deur te doen wat reg en regverdig is. Ons moet dit teenoor ons naaste en ons gesinne, in die gemeente en in alle aspekte van ons aanbidding toepas. Dit bring ryk seëninge mee, soos gesien kan word uit wat gedurende die oorblywende drie dae van die “Goddelike Geregtigheid”-Streekbyeenkoms op die program aangebied is.

“Neem die dissipline aan wat insig gee”

Die tweede dag van die byeenkoms het die voormelde tema gehad, wat op Spreuke 1:3 (NW) gebaseer was. Ons is aangespoor: “Neem dissipline aan en word wys.” Dit was die titel van ’n vroeë deel op die program. Dissipline van Jehovah kenmerk ’n leefwyse wat onder andere behels dat ons geesvermoëns en morele struktuur verhef word. Dit is ook ’n blyk van God se liefde vir ons (Hebreërs 12:4-11). Sulke dissipline hou ons gevoelig vir die hoogste standaarde van geregtigheid—goddelike geregtigheid.

Hierdie positiewe gedagtes is gevolg deur die toespraak “Wees rein van verstand en liggaam”. Hoe gedagteprikkelend was dit tog! Dit het ons laat besef hoe belangrik dit is om ons as vlekkelose, rein en heilige mense vir God aan te bied. Waarom? Want Jehovah is in die hoogste mate rein en heilig—’n toestand wat hom apart hou van al die vieslike gode van die nasies. Een jong broer wat aan hierdie toespraak teruggedink het, het gesê: “Alles omtrent ons verstandelike, sedelike, liggaamlike en geestelike reinheid is ondersoek. Ons kleredrag, persoonsversorging, huis, motor en persoonlikheid het alles aandag geniet.” ’n Ouere man het opgemerk: “Die toepassing van sulke raad sal ons broers meer as ooit tevore onderskei van die mense rondom hulle, en sal ’n mate van gesondheid meebring wat die wêreld oor die algemeen nie ken nie.”

Die hedendaagse drama “Gemerk vir oorlewing” het ’n gevoel van dringendheid by die program gevoeg, aangesien goddelike geregtigheid binnekort moet geskied. Hierdie roerende aanbieding het duidelik getoon dat dit vir almal dringend is om hulle oë te open vir die belangrikheid van ons tye. Ons moet inderdaad na veiligheid hardloop en duidelik vir oorlewing gemerk word voordat valse godsdiens vernietig word.

In die middag het sprekers deur middel van ’n simposium die belangrikheid van “Dissiplinering in regverdigheid binne die gesinskring” beklemtoon. Eggenote en vaders is gemaan om ’n geestelike program in die huis te hê deur die leiding in gebed, studie en heilige diens te gee. Die manlike eienskappe van die vader en hoe hy sy hoofskap uitoefen, het ’n verreikende invloed op ’n kind se beskouing van gesag, goddelik sowel as menslik. Christenvaders moet derhalwe regverdig en konsekwent in hulle dissipline wees. Hulle moet empatie en hartlikheid betoon en sodoende die kommunikasiekanale met hulle kinders oophou.

Ouers is aangespoor om hulle onderrig by die kinders aan te pas. Dit is belangrik om kinders insig te gee deur te oorweeg hoe en wat hulle die kinders moet leer om hulle harte te bereik. Sodoende kan die waarheid ’n heilsame uitwerking op die hele gesin hê.

Die laaste spreker van hierdie simposium het ’n hartlike beroep op kinders gedoen om te doen wat Jehovah van hulle in die gesinsreëling verwag. Jongmense is aangespoor om die opstandige gees van vandag se permissiewe gemeenskap te vermy en om hulle te verheug in die dissipline wat insig gee.

In ’n toespraak wat op Spreuke 2:1-9 gebaseer was, is byeenkomsgangers aangemoedig: “Hou aan soek na verborge skatte.” Daar is toegelig dat geestelike edelstene deur ywerige studie en navorsing gevind kan word. Die volgende spreker het die onderwerp “Wend jou tot Jehovah vir insig” bespreek en verduidelik dat insig die vermoë is om in ’n situasie in te sien, om verder te kyk as die oënskynlike en ’n begrip van iets te kry (Mattheüs 13:13-15, NW; Romeine 3:11, NW; Efesiërs 5:17, NW). Hierdie opwindende dag het toe ’n klimaks bereik toe die Olimpiese Stadion per telefoon met talle ander stede in Kanada en die Verenigde State verbind is. Die tweedelige simposium het ’n hoogtepunt bereik met die uitreiking van die publikasie Insight on the Scriptures, wat uit twee dele bestaan en meer as 2 500 bladsye leersame artikels en illustrasies bevat wat ons waardering vir geestelike dinge sal vergroot.

“Sy oordele is waaragtig en regverdig”

Op die derde dag, met hierdie tema wat op Openbaring 19:2 gebaseer was, was daar baie waaroor ons kon juig. Die toespraak “Sedelike reinheid is die sieraad van jongmense” het ’n dringende beroep op jongmense gedoen. Hulle is aangemoedig om die sieraad wat gepaard gaan met die handhawing van God se standaarde van liggaamlike, sedelike en geestelike reinheid kosbaar te ag. Christenjeugdiges word voortdurend deur seksueel eksplisiete liedjies, onsedelike TV-programme, pornografiese rolprente en lektuur, en portuurdwang gebombardeer. Volgens een bron is dit slegs ’n uitsonderlike jong persoon wat op die ouderdom van 19 nog nie voorhuwelikse omgang gehad het nie. Maar die gehoor het entoesiasties hande geklap toe die spreker die duisende Getuie-jongmense geprys het wat getoon het dat hul uitsonderlik is deur ’n hoë standaard van regverdigheid te handhaaf. Vroeë huwelike gaan gepaard met probleme, en daar is getoon dat Paulus se woorde oor mense wat trou omdat hulle ‘van begeerte brand’ nie tot tieners gerig word nie, maar tot diegene wat “verby die bloei van die jeug” is.—1 Korinthiërs 7:9, 36, vgl. NW.

“Moenie in dieselfde juk saam met ongelowiges trek nie”, was die volgende onderwerp. Gehoorsaamheid aan God se bevel om “net in die Here” te trou, spaar ons pynlike gevolge (1 Korinthiërs 7:39). Bowenal maak niks die huwelik sterker as gemeenskaplike toegewydheid aan Jehovah en gehoorsaamheid aan sy regverdige standaarde nie. Ons is daarna gehelp om te besef hoe ons ‘met eerbied en godvrugtige vrees moet optree’.

Toe het ’n opwindende hoogtepunt gekom—die toespraak “Doop wat tot ’n gunstige oordeel lei”, gevolg deur die waterdoop van pas toegewyde persone. Daar is beklemtoon dat meer van hulle verwag word as blote aflegging van vuilheid van die vlees. Berou, bekering en lewenslange heilige diens moet met hulle toewyding en doop gepaard gaan as hulle ’n gunstige oordeel van Jehovah wil ontvang.

Die middagprogram was voorwaar onvergeetlik. Lede van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het weer eens deur middel van telefoonverbindings gehore dwarsdeur Noord-Amerika geboei met die aansporende aanbieding van die simposium “Die bestemde tyd is naby”. Jehovah se gesalfde getuies verkondig dekades lank reeds goddelike oordeelsboodskappe teen Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. By hierdie byeenkoms het hierdie boodskappe egter verskerp. Babilon die Grote het haar skuldig gemaak aan die skending van Jehovah se regverdige bevele. Sy verdien vernietiging, want “haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou”. Jehovah se engel verklaar dus: “Haar plae [sal] op een dag kom: dood en droefheid en honger; en met vuur sal sy verbrand word, want sterk is die Here God wat haar oordeel.”—Openbaring 18:5, 8.

Die laaste spreker van hierdie simposium het die onderwerp “Die berugte ‘hoer’—haar val en vernietiging” bespreek en die aandag gevestig op die groot klimaks van Openbaring. Hierdie klimaks word bereik met die huwelik van die Lam wat hom met sy bruid, die heilige stad, verenig om die mensdom met die ewige lewe te seën. Jehovah se naam word geheilig! Die simposium het afgesluit met die roerende stelling dat die bestemde tyd nader is as wat ons dink! Ja, die groot klimaks van Openbaring is ophande!

Terwyl die gehoor nog hande geklap het, is die uitreiking van die nuwe boek met 320 bladsye Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! aangekondig. Wat ’n rede om te juig! Hierdie publikasie sal gewis ’n doeltreffende middel wees om aan te kondig dat Babilon die Grote gedoem is, dat die nasies nou voor Armageddon staan en dat Jehovah sy oordeel spoedig gaan voltrek. Laat alle waarderende persone die uitnodiging van “die Gees en die bruid” aanvaar om na die waters van die lewe te “kom” (Openbaring 21:2, 9; 22:17). Na die uitreiking van hierdie opwindende nuwe boek is ’n ander rede om te juig aangekondig. Byeenkomsgehore het met vreugdevolle oortuiging eenparig ’n baie duidelike en reguit resolusie aanvaar wat ons afsku van Babilon die Grote verklaar.

“Geregtigheid, geregtigheid moet jy najaag”

Dít was die tema van die laaste dag, wat op Deuteronomium 16:20 gebaseer was. Die sprekers in die oggend het die feit beklemtoon dat ons van die wêreld moet verskil as ons by goddelike geregtigheid baat wil vind. Dink aan die toespraak “Bly geestelik gesond in ’n siek wêreld”. Dit het getoon hoe ons besoedeling deur ’n geestelik siek wêreld kan vermy deur te waak teen swakhede van die vlees, wêreldse invloede en “die liste van die duiwel” (Efesiërs 6:11, 12; Romeine 7:21-26, NW; 1 Johannes 2:15-17). Die toespraak “Veroordeel jou geloof die wêreld?” het getoon dat as ons geloof soos Noag s’n het, dit ’n duidelike onderskeid tussen ons en die wêreld sal wees. In Noag se dag was daar ’n duidelike verskil tussen die Vloedoorlewendes en diegene wat vernietig is. Dieselfde geld vandag.

Hierdie belangrike gedagte is beklemtoon in die Bybeldrama “Jehovah se oordele teen wettrotserende mense”. Dit het ’n aanskoulike vergelyking getref met die wettrotserende mense van Noag en Lot se dag en diegene wat in ons tyd leef. Noag en Lot het ’n skerp kontras met die wêreld gevorm, en hulle geloof het hulle tydgenote veroordeel. Is daar ’n duidelike verskil tussen ons en mense vandag wat behep is met materiële dinge en wat die kwaad liefhet?

Die openbare toespraak “Geregtigheid vir almal deur God se aangestelde regter” was ’n boeiende ontleding van die apostel Paulus se toespraak aan Atheners op die Areopagus, of heuwel van Mars. Die apostel se woorde het groot betekenis vir ons wat van growwe ongeregtighede en valse godsdiens omring is. Ons het veral rede om te juig omdat ons in ’n kritieke oordeelstyd lewe wanneer ons kan optree om God se guns te verkry. Ja, soos Paulus gesê het, sal Jehovah “die wêreld in geregtigheid . . . oordeel deur ’n Man [Jesus Christus] wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek”.—Handelinge 17:31.

Ons is aan die einde van die program aangemoedig: “Hou aan om geregtigheid na te jaag terwyl die klimaks nader kom.” Hierdie puik vierdaagse byeenkoms het ons vasbeslote gemaak om dit te doen. Die program het ons ook beïndruk met die omvang van ons internasionale broederskap. Wat ’n vreugde was dit byvoorbeeld om na besoekende sendelinge te luister wat jare lank getrou in hulle toewysings dien!

Ons het van die byeenkoms vertrek met hernieude vasbeslotenheid om afgeskeie van hierdie wêreld te bly en om geestelik, sedelik, verstandelik en liggaamlik rein te bly. Terwyl ons die slotlied harmonieus saamgesing het, was ons bly om Jehovah se lof te besing, dankbaar dat goddelike geregtigheid ons groot rede gee om te juig.

By die meer as 125 byeenkomste in die Verenigde State en Kanada alleen was daar ’n opkoms van 1 440 932 mense, en 19 878 is gedoop

[Prente op bladsy 26]

1, 2. Die publikasies Insight on the Scriptures en Openbaring—Sy groot klimaks is ophande! word by Yankee-stadion, in die stad New York, deur lede van die Bestuursliggaam, J. E. Barr en W. L. Barry, vrygestel

3, 4. Tonele uit die Bybeldrama “Jehovah se oordele teen wettrotserende mense”

5. Duisende is gedoop as simbool van hulle toewyding aan Jehovah God

6. Toneel uit die hedendaagse drama “Gemerk vir oorlewing”

7. Besoekende sendelinge, soos John Cutforth van Papoea Nieu-Guinee, het ondervindinge aan byeenkomsgangers vertel

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel