Die Word van God—bewyse van egtheid
Waar of onwaar?—Die Bybel het deur die eeue heen bewaar gebly sonder dat dit enigsins verander is.
Waar of onwaar?—Die duisende variasies in Bybelmanuskripte doen afbreuk aan die Bybel se bewering dat dit die Woord van God is.
VOORDAT jy daardie vrae beantwoord, sal dit goed wees as jy eers van die informasie ondersoek wat onlangs aangebied is by “Die Woord van God”-uitstalling, wat in die Chester Beatty-biblioteek in Dublin, Ierland, gehou is.
Die geskeurde, fragmentariese papirusbladsye is verweer deur die ouderdom. Nogtans is die Chester Beatty-papirusse die waardevolste manuskripte in die biblioteek. Hulle is omstreeks 1930 in ’n Koptiese (Egiptiese) begraafplaas opgegrawe. “[Dit was] ’n ontdekking”, het sir Frederic Kenyon gesê, “wat net so belangrik was soos dié van die Codex Sinaiticus.”
Hierdie papirusbladsye in kodeksvorm is in die tweede, derde en vierde eeu van ons Gewone Jaartelling met die hand afgeskryf. “Party”, het Wilfrid Lockwood, die bibliotekaris, gesê, “is heel moontlik binne honderd jaar na die voltooiing van die oorspronklike afgeskryf.” (Ons kursiveer.) Een kodeks bevat die vier Evangelies en die boek Handelinge. ’n Ander bevat die meeste van die apostel Paulus se briewe, onder andere sy brief aan die Hebreërs.
Dit was vervelend en vermoeiend om sulke manuskripte of te skryf, en foute kon insluip. Al was die kopiis ook hoe noukeurig, was dit maklik om ’n letter verkeerd te lees of ’n reël oor te slaan. Partymaal wou die kopiis die hoofinhoud en betekenis van die oorspronklike pleks van die presiese woorde oordra. Foute is herhaal wanneer kopieë van kopieë gemaak is. Tekskenners het manuskripte met soortgelyke variasies in kategorieë gegroepeer. Hierdie Chester Beatty-papirusse, die oudste belangrike manuskripte van die Griekse Bybel wat daar is, het die kenners ’n onverwags nuwe kyk op die saak gegee, aangesien hulle in geeneen van die bestaande kategorieë gepas het nie.
Voor Jesus se tyd, en veral na die vernietiging van Jerusalem (607 v.G.J.) en die daaropvolgende verstrooiing van die Jode, is talle handgeskrewe kopieë van die heilige Hebreeuse Skrifte gemaak. Omstreeks 100 G.J. het Joodse gesaghebbendes sulke kopieë gebruik om ’n Hebreeuse teks op te stel wat deur ortodokse Jode aanvaar is.
Hulle het ook breedvoerige reëls opgestel om akkurate kopiëring van die teks te probeer verseker. Hulle het die materiale wat gebruik kon word en selfs die grootte en spasiëring van letters, woorde, reëls en kolomme gespesifiseer. “Geen woord of letter, nie eens ’n jod [die kleinste letter in die Hebreeuse alfabet], moet uit die hoof geskryf word nie”, het hulle gesê. Dit is hoe kopiiste rolle soos die Tora (onderwysing) geproduseer het, wat uit die eerste vyf boeke van die Bybel en die boek Ester bestaan. Die katalogus oor die uitstalling het gesê dat sulke manuskripte van die Hebreeuse teks “’n indrukwekkende mate van eenvormigheid toon”.
Hoe ernstig was die foute wat in beide Hebreeuse en Christelike Griekse manuskripte ingesluip het? “Daar moet beklemtoon word”, het mnr. Lockwood gesê, “dat die verskille tussen Bybelmanuskripte oppervlakkig is vergeleke met die wat in die manuskripte van die heidense literatuur aangetref word . . . In nie een geval word enige leerstelling van die Christelike leer deur kopiiste se afwykings beïnvloed nie.”—Ons kursiveer.
Die Bybelboeke van voor en na Jesus se dag is in ander tale vertaal. Een van die oudste van hierdie vertalings is die Samaritaanse Pentateug. Die Samaritane was mense wat in die gebied van die tienstammeryk van Israel gaan woon het nadat die koning van Assirië die Israeliete in ballingskap weggevoer het (740 v.G.J.). Hulle het party aspekte van Joodse aanbidding oorgeneem en het net die eerste vyf Bybelboeke, die Pentateug, aanvaar. Die Samaritaanse teks van hierdie boeke, wat in ’n ou Hebreeuse skrifvorm geskryf is, bevat 6 000 afwykings van die Hebreeuse teks. “Die meeste”, het die katalogus oor die uitstalling gesê, “is nie juis belangrik vir die teks nie, maar dit is van belang wat die moontlike bewaring van kenmerke van eertydse uitspraak of grammatika betref.”
In die derde eeu v.G.J. het Joodse geleerdes in Alexandrië, Egipte, die Griekse Septuaginta-vertaling van die Hebreeuse Skrifte geproduseer, en Griekssprekende Jode in alle wêrelddele het dit begin gebruik. Mettertyd het dit in onbruik geraak onder die Jode, maar dit het die Bybel van die vroeë Christengemeente geword. Wanneer Christelike Bybelskrywers uit die heilige Hebreeuse Skrifte aangehaal het, het hulle die Septuaginta gebruik. Die Chester Beatty-papirusse van die Hebreeuse Skrifte bevat 13 bladsye van die boek Daniël in die Septuaginta.
Latere vertalings van die Bybel is in tale soos Latyn, Kopties, Siries en Armeens geproduseer. Een voorbeeld in die uitstalling was ’n velynkodeks van ’n Koptiese vertaling van ’n deel van die Bybel wat uit die sesde of sewende eeu G.J. dateer. Hoe help vertalings soos hierdie Bybelkenners en tekskritici? Sulke vertalings is gewoonlik baie letterlike vertalings van die Griekse manuskripte wat deur die vertalers gebruik is. “As die Griekse teks wat die vertaler gebruik het goed was”, het mnr. Lockwood verduidelik, “sal die vertaling uiteraard baie nuttig wees om die oorspronklike woorde van die Grieks op te spoor.”
’n Baie waardevolle, unieke uitstalling in die biblioteek is ’n kommentaar deur ’n vierde-eeuse Siriese skrywer, Efraem, op die Diatessaron deur Tatianus. Omstreeks 170 G.J. het Tatianus ’n geharmonieerde verslag van Jesus se lewe en bediening saamgestel deur uittreksels uit die vier Evangelies te gebruik (Diatessaron beteken “deur [die] vier”). Omdat geen kopieë behoue gebly het nie, het party kritici in die vorige eeu ontken dat daar ooit so ’n harmonie tussen die vier Evangelies was. Hierdie kritici het beweer dat die vier Evangelies self eers teen die middel van die tweede eeu geskryf is.
Maar gedurende die afgelope honderd jaar het ontdekkings van Armeense en Arabiese vertalings van die Diatessaron die hoër kritici gedwing om hulle bewerings terug te trek. Toe, in 1956, het sir Chester Beatty hierdie unieke vyfde-/sesde-eeuse kommentaar ontdek wat lang uittreksels uit Tatianus se oorspronklike werk bevat. “Dit het die idee dat die vier Evangelies nie in daardie tydperk in omloop was nie beslis ’n nekslag toegedien”, het mnr. Lockwood gesê.
“Die Woord van God”-uitstalling was ’n herinnering aan die oorvloed materiaal wat beskikbaar is vir Bybelkenners en tekskritici. Laat een van hierdie kenners, sir Frederic Kenyon, die belang verduidelik van al hierdie Bybelmanuskripte wat ontdek is en terselfdertyd die vrae beantwoord wat aan die begin gevra is:
“Dit verontrus sommige dalk om die konsep van ’n Bybel wat sonder verandering deur die eeue heen behoue gebly het te laat vaar . . . Dit is gerusstellend om op die ou end te vind dat die algemene gevolg van al hierdie ontdekkings en al hierdie studie is dat dit die bewys van die egtheid van die Skrif versterk, asook ons oortuiging dat ons, wesenlik ongeskonde, die ware Woord van God in ons hande vashou” (The Story of the Bible, bladsy 113).—Psalm 119:105; 1 Petrus 1:25.
[Prent op bladsy 27]
Derde-eeuse papirus—2 Korinthiërs 4:13–5:4
[Erkenning]
Gereproduseer met vergunning van die Chester Beatty-biblioteek
[Prent op bladsy 28]
18de-eeuse leer- en velynrolle van Ester
[Erkenning]
Gereproduseer met vergunning van die Chester Beatty-biblioteek
[Prent op bladsy 29]
Sesde- of sewende-eeuse velynkodeks—Johannes 1:1-9, Koptiese vertaling
[Erkenning]
Gereproduseer met vergunning van die Chester Beatty-biblioteek
[Prent op bladsy 30]
Vyfde- of sesde-eeuse velynkodeks—kommentaar in Siries deur Efraem wat uittreksels uit Tatianus se Diatessaron bevat
[Erkenning]
Gereproduseer met vergunning van die Chester Beatty-biblioteek