’n Kykie na die Chester Beatty-skatte
“RYK aan die skatte van soveel verlore beskawings, . . . skitterend in die prag van sy miniature en skilderye.” Dit is hoe die voormalige kurator R. J. Hayes die Chester Beatty-biblioteek in Dublin, Ierland, beskryf het. ’n Ontsaglike versameling kosbare oudhede, uitsonderlike kunswerke en seldsame boeke en manuskripte van byna onskatbare waarde kan hier gevind word. Maar wie was Chester Beatty? En watter skatte het hy versamel?
Alfred Chester Beatty, gebore in 1875 in New York, VSA, was van Skotse, Ierse en Engelse afkoms. Teen die tyd dat hy 32 was, het hy ’n groot fortuin as ’n myningenieur en -konsultant gemaak. Hy het sy lewe lank sy aansienlike middele gebruik om mooi en besonderse items te versamel. Toe hy in 1968 op die ouderdom van 92 oorlede is, het Beatty sy hele versameling aan die mense van Ierland nagelaat.
Wat het hy versamel?
Beatty se versamelings is omvattend en uiteenlopend. Slegs sowat 1 persent daarvan word op ’n slag uitgestal. Hy het seldsame en kosbare items versamel uit talle verskillende tydperke en kulture wat oor duisende jare gestrek het—uit Europa van die Middeleeue en die Renaissance sowel as uit baie lande in Asië en Afrika. Sy versameling van besonderse Japannese houtsneeafdrukke word byvoorbeeld beskou as een van die beste ter wêreld.
In skerp teenstelling met die kunswerke is die fassinerende versameling van meer as honderd Babiloniese en Sumeriese kleitablette met antieke spykerskrif daarop. Mense wat meer as 4 000 jaar gelede in Mesopotamië gelewe het, het hulle lewe in die fynste besonderhede beskryf op nat kleitablette, wat daarna gebak is. Baie van hierdie tablette het tot in ons dag behoue gebly—’n duidelike bewys van hoe oud die skryfkuns werklik is.
’n Liefde vir boeke
Chester Beatty was blykbaar beïndruk deur die kuns om goeie boeke te maak. Hy het duisende sekulêre en godsdienstige boeke versamel, onder andere ’n paar ryklik versierde kopieë van die Koran. Hy was, volgens een skrywer, “in vervoering oor die wiskundige verhoudings van die Arabiese skrif, . . . en sy kleursin is gestreel deur die kalligrafie wat met bladgoud en -silwer en ander helderkleurige minerale versier is”.
Chester Beatty is gefassineer deur jade, net soos party Chinese keisers in vroeër eeue. Hulle het jade van goeie gehalte as die kosbaarste van al die minerale beskou, baie kosbaarder as goud. Hierdie heersers het vaardige ambagsmanne die opdrag gegee om jadeblokke tot gladde, dun blaaie te verwerk. Begaafde kunstenaars het dan hierdie jadeblaaie gevul met sierlike kalligrafie en illustrasies wat met goud geëts is, en sodoende van die uitsonderlikste boeke vervaardig wat nog gemaak is. Beatty se versameling van hierdie boeke is wêreldbekend.
Kosbare Bybelmanuskripte
Vir liefhebbers van die Bybel is Chester Beatty se grootste skat sy ontsaglike versameling antieke en Middeleeuse Bybelmanuskripte. Pragtig versierde manuskripte weerspieël die geduld en kunssinnigheid van die skrifgeleerdes wat dit met die hand oorgeskryf het. Die gedrukte boeke weerspieël die vaardigheid en vakmanskap van vroeë boekbinders en drukkers. Die Biblia Latina is byvoorbeeld in 1479 in Neurenberg gedruk deur Anton Koberger, wat omstreeks dieselfde tyd as Johannes Gutenberg gelewe het en beskryf word as “een van die vernaamste en aktiefste vroeë drukkers”.
Een uitsonderlike uitstalling in die Chester Beatty-biblioteek is ’n velynmanuskrip uit die vroeë vierde eeu deur Efraem, ’n Siriese geleerde. Efraem haal dikwels aan uit ’n tweede-eeuse werk wat die Diatessaron genoem word. Daarin het die skrywer Tatianus die vier Evangelieverslae van Jesus Christus se lewe in ’n enkele harmoniese vertelling saamgevat. Latere skrywers het na die Diatessaron verwys, maar geen afskrifte daarvan het behoue gebly nie. Party 19de-eeuse geleerdes het selfs die bestaan daarvan betwyfel. In 1956 het Beatty egter Efraem se kommentaar op Tatianus se Diatessaron ontdek—’n ontdekking wat die bestaande getuienis van die Bybel se egtheid en waaragtigheid versterk het.
’n Skatkamer van papirusmanuskripte
Beatty het ook ’n groot aantal papirusmanuskripte versamel, van godsdienstige sowel as sekulêre aard. Meer as 50 papiruskodekse word teruggedateer tot vroeër as die vierde eeu G.J. Party hiervan is gevind tussen groot hope papirus—in werklikheid hope afvalpapier—wat eeue lank onontdek in die Egiptiese woestyn gelê het. Baie papirusdokumente was net brokstukke toe dit te koop aangebied is. Handelaars het met kartonne vol papirusstukke opgedaag. “Diegene wat daarin belanggestel het om dit te koop, het eenvoudig hulle hande in die kartonne gesteek en die grootste stukke met die meeste skrif daarop uitgesoek”, sê Charles Horton, kurator van die Westerse Versamelings van die Chester Beatty-biblioteek.
Beatty se “opspraakwekkendste ontdekking”, sê Horton, was kosbare Bybelkodekse wat “van die oudste bekende afskrifte van die Christelike Ou en Nuwe Testament bevat het”. Handelaars wat geweet het hoe waardevol die kodekse was, sou dit moontlik in stukke geskeur het en die afsonderlike dele aan verskillende kopers verkoop het. Maar Beatty het dit reggekry om die grootste deel van die vonds te koop. Hoe betekenisvol is hierdie kodekse nou eintlik? Sir Frederic Kenyon beskryf dié ontdekking as “verreweg die belangrikste” sedert Tischendorf in 1844 die Codex Sinaiticus ontdek het.
Hierdie kodekse dateer uit die tweede tot die vierde eeu G.J. Onder die boeke van die Hebreeuse Geskrifte in die Griekse Septuagint-vertaling is twee afskrifte van Genesis. Dit is van spesiale waarde, sê Kenyon, “omdat die boek [Genesis] byna in sy geheel ontbreek in die Vaticanus en Sinaiticus”, vierde-eeuse velynmanuskripte. Drie kodekse bevat boeke uit die Christelike Griekse Geskrifte. Een bevat die grootste deel van die vier Evangelies en heelwat van die boek Handelinge. Die tweede kodeks, met bykomende blaaie wat Beatty later bekom het, bevat ’n bykans volledige afskrif van die apostel Paulus se briewe, onder andere sy brief aan die Hebreërs. Die derde kodeks bevat omtrent een derde van die boek Openbaring. Volgens Kenyon het hierdie papirusse “die reeds vaste grondslag van ons vertroue in die teks van die Nuwe Testament soos dit aan ons oorgedra is, wesenlik versterk”.
Chester Beatty se Bybelpapirusse toon dat Christene reeds baie vroeg, waarskynlik voor die einde van die eerste eeu G.J., die kodeks, of boek met blaaie, begin gebruik het in die plek van die boekrol, wat moeilik was om te hanteer. Die papirusse toon ook dat kopiïste ou papirusblaaie dikwels weer gebruik het weens die tekort aan skryfmateriaal. ’n Koptiese manuskrip van ’n deel van Johannes se Evangelie is byvoorbeeld geskryf “in iets wat lyk of dit ’n skoolskryfboek kon wees wat Griekse somme bevat het”.
Hierdie papirusdokumente is nie pragstukke nie, maar dit is baie kosbaar. Dit is ’n sigbare, tasbare skakel met die begin van die Christelike godsdiens. “Hier, reg voor jou oë”, sê Charles Horton, “kan jy die soort boeke sien wat deur party van die vroegste Christengemeenskappe gebruik is—boeke wat hulle as kosbaar beskou het” (Spreuke 2:4, 5). As jy die geleentheid kry om van hierdie skatte in die Chester Beatty-biblioteek te sien, sal jy nie teleurgesteld wees nie.
[Prente op bladsy 31]
Japannese houtsneeafdruk deur Katsoesjika Hokoesai
[Prent op bladsy 31]
Die “Biblia Latina” was onder die vroegste gedrukte afskrifte van die Bybel
[Prent op bladsy 31]
Efraem se kommentaar op Tatianus se “Diatessaron” bevestig die egtheid van die Bybel
[Prent op bladsy 31]
Chester Beatty P45, die oudste kodeks in die wêreld, bevat die grootste deel van die vier Evangelies en heelwat van die boek Handelinge in ’n enkele boekdeel
[Foto-erkenning op bladsy 29]
Reproduced by kind permission of The Trustees of the Chester Beatty Library, Dublin
[Foto-erkenning op bladsy 31]
Al die prente: Reproduced by kind permission of The Trustees of the Chester Beatty Library, Dublin