Die hoer en “die konings van die aarde”
DIE Christendom se geskiedenis is vol voorbeelde van invloedsmousery en van inmenging op magsgebied. Kom ons beskou ’n paar daarvan. Karel die Grote (742-814 G.J.) was ’n heerser wat besef het hoe nuttig dit is om hom met godsdiens te verbind en die seën van die geestelikes van die Katolieke Kerk te hê.
The New Encyclopædia Britannica verduidelik dat die Pous Karel die Grote, sy vader en sy broer gesalf en sodoende ’n nuwe dinastie gestig het nadat die vorige vorstelike gesin ‘uit die pad gestoot’ is. Dan voeg dit by: “Die politieke alliansie tussen die Franke [Karel die Grote se volk] en die Pous teen die Lombarde is by dieselfde geleentheid bevestig. . . . Karel [wat Karel die Grote geword het] het vroeg reeds die noue verband tussen wêreldlike mag en die kerk erken.”
In 800 G.J. het pous Leo III, “vasbeslote om Karel keiser” van die Wes-Romeinse Ryk te maak, hom by die Kersfeesmis in die Sint Pieterskerk, Rome, gekroon.
’n Inhalige hoer
Maar ’n hoer vereis betaling. Wat kon Karel die Grote Babilon se verteenwoordiger, Rome, betaal? “Karel . . . het sy vader se belofte om groot dele van Italië aan pouslike heerskappy oor te dra in die Sint Pietersbasiliek herhaal.” Dieselfde bron voeg by: “Weens sy polities geïnspireerde godsdienstigheid het die ryk en die kerk ’n institusionele en godsdienstige eenheid geword.”
Nog ’n voorbeeld van godsdiens se eertydse kragtige invloed op heerskappy is kardinaal Wolsey van Engeland (1475-1530). Die Britannica sê hy was ’n “kardinaal en staatsman wat die bewind van Engeland se koning Hendrik VIII oorheers het. . . . In Desember 1515 het Wolsey grootkanselier van Engeland geword. . . . Wolsey het sy geweldige wêreldlike en kerklike mag gebruik om rykdom, wat slegs deur die van die koning oortref is, te vergaar.” Deur die simboliese taal van Openbaring toe te pas, kan ons se dat topklasprostitusie topklasbetaling vereis.
’n Ander bekende voorbeeld van godsdiens se invloed in staatsaangeleenthede is die kardinaal en hertog van Richelieu (1585-1642), wat groot mag in Frankryk uitgeoefen het en groot rykdom versamel het wat “selfs volgens die standaarde van die tyd buitensporig was”, sê die Britannica.
Richelieu is deur nog ’n kardinaal, Jules Mazarin (1602-1661), opgevolg, wat gedurende die heerskappy van koning Lodewyk XIV eerste minister van Frankryk was. Hoewel hy nie ’n geordende priester was nie, het pous Urbanus VIII hom in 1641 ’n kardinaal gemaak. Kardinaal Mazarin was ook begerig na rykdom. Die ensiklopedie sê: “Mazarin se vyande het hom vir sy hebsug veroordeel. Hy het posisies en benefisies bymekaargemaak en soms koninklike inkomste met sy eie verwar.”
In ons tyd vergaar valse godsdiens steeds rykdom en probeer dit steeds om die politieke elemente te beïnvloed en, waar moontlik, te beheer. Een goeie voorbeeld is die geheime Katolieke organisasie Opus Dei (Latyn, God se werk), wat tans die pous se guns geniet en, volgens skrywer Lawrence Lader, “heeltemal gebonde is aan anti-kommunisme en regsgesinde politiek”. Die organisasie se beleid is om die intellektuele room van die Katolieke jeug aan sy hoërskole en universiteite op te lei en sy manne dan in hoë posisies van invloed en beheer in die regering, die sakewêreld en die media te plaas. In Spanje het hulle ’n bloeityd beleef onder Katolieke Fascistiese diktator Franco toe 10 van sy 19 kabinetslede op een stadium lede van die elitêre Opus Dei was.a
In die Verenigde State is TV-evangeliste bekend vir hulle vertoon van rykdom en weelderige lewenstyle. Sommige Protestantse geestelikes het trots die politieke arena betree en selfs na die presidentskap gestreef. Dis nie altemit nie, hoewel sy in ’n gevalle toestand is, geniet die ou hoer steeds onder die een of ander masker die verlokkinge en weelde van mag en probeer sy steeds baasspeel.—Openbaring 17:4.
Maar wat van die hoer se naam, Babilon die Grote? Hoe help dit om die identifikasie van die vrou wat in Openbaring afgebeeld word te bevestig?
[Voetnoot]
a Kyk die boeke Hot Money and the Politics of Debt, deur R. T. Naylor en Politics, Power, and the Church, deur L. Lader vir meer inligting oor Opus Dei en die kerk se betrokkenheid by die politiek.
[Prente op bladsy 6]
Kardinale Wolsey, Mazarin en Richelieu het fortuine gemaak terwyl hulle die Staat gedien het
[Erkenning]
Foto’s Culver Pictures