Waarom jy die “Godvrugtige Toegewydheid”—Streekbyeenkoms moet bywoon
Drie dae van lonende Bybelonderrig wag op jou by die “Godvrugtige Toegewydheid”-Streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies wat gedurende hierdie maand gehou gaan word. Deur middel van leersame toesprake en onderhoude en ’n drama sal noodsaaklike Bybelriglyne verskaf word. Wees teenwoordig om 9:50 op die eerste oggend wanneer die byeenkoms met ’n musiekaanbieding begin.
Die eerste dag se program sal die toespraak “Vermy lippe van kwaadwilligheid” en ’n belangrike toespraak oor die oorsprong van die Drie-eenheidsleer bevat. In die middag sal ouers vermaan word om hulle morele verantwoordelikheid te aanvaar om ’n geestelike erfenis vir hulle kinders te voorsien. Daarna sal jongmense aangemoedig word om Christus hulle voorbeeld te maak en om die waarheid ten volle aan te neem. Die dag se program sal afsluit met die bespreking van ’n wonderlike voorsiening om veral jongmense te help.
Die tweede dag sal nog ’n vol dag van onderrig wees met die doopplegtigheid in die oggend en in die middag belangrike toesprake oor die Christelike Bestuursliggaam en hoe ons vandag ons samewerking daaraan kan gee. Die middagsessie sal afsluit met die belangrike toespraak “Die Bybel—God se Woord of die mens s’n?”
Gedurende die laaste oggend sal tydige onderrig ons waarsku teen “die mens van wetteloosheid” en teen dwaling wat voedsel en drank, persoonsversorging en ontspanning betref (2 Thessalonicense 2:3, NW). Dit sal gevolg word deur ’n hedendaagse drama wat beklemtoon hoe belangrik dit is om ons aan God te onderwerp. Dan sal jy beslis die openbare toespraak “Verlossing is naby vir mense van godvrugtige toegewydheid!” wil bywoon. Gedurende Desember sal meer as 16 byeenkomste dwarsdeur Suid-Afrika alleen gehou word, en daar sal dus een nie ver van jou huis wees nie. Vind by Jehovah se Getuies plaaslik uit wanneer en waar die een naaste aan jou gehou sal word.
[Prent op bladsy 32]
Streekbyeenkoms in Verona, Italië