Insig in die nuus
Nie genoeg om ’n Bybel te besit nie
Volgens ’n onlangse studie het die helfte van die mense wat ’n Bybel besit, gesê dat hulle dit nooit lees nie. Onder hulle was talle wat sê dat hulle wedergebore Christene is. Bykans 30 persent van die beweerde Christene wat ondervra is, het nie geweet dat Jesus in Betlehem gebore is nie. Volgens The Detroit News “het agttien persent Jerusalem geantwoord, terwyl 8 persent Nasaret gesê het”. George Barna, hoof van die studiegroep, het gesê: “Hoe kan daar van hulle verwag word om die inhoud van die Skrif op intelligente wyse met ’n ongelowige te bespreek of om Bybelbeginsels na te lewe as hulle oor sulke elementêre dinge oningelig is?”
Die apostel Paulus het in sy dag ’n soortgelyke situasie opgemerk onder party wat “’n ywer vir God het, maar sonder [juiste] kennis”. Hy het ook gepraat van party wat ‘’n selfgemaakte godsdiens en danige nederigheid’ gehad het en het voorspel dat “die laaste dae” gekenmerk sou word deur die teenwoordigheid van mense wat “’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (Romeine 10:2, vgl. NW; Kolossense 2:23, NAV; 2 Timotheüs 3:1-5). Maar ware Christene het groot agting vir die Woord van God. Hulle besef dat dit nie genoeg is om ’n Bybel te besit nie. Hulle gee eerder heelhartig gehoor aan die Bybel se vermaning om ’n verlange te vorm na “die onvervalste melk van die woord”.—1 Petrus 2:2.
Aan wetteloosheid verslaaf
Een van die verskynsels wat Jesus Christus as ’n deel van “die teken” van die laaste dae van hierdie stelsel van dinge genoem het, is ‘die toename in minagting van die wet’ (Mattheüs 24:3, 12, NAV). Dwelmmisbruik het ’n noemenswaardige invloed op die hedendaagse toename in wetteloosheid gehad. Die Australiese koerant The Sydney Morning Herald berig byvoorbeeld dat sewe uit tien misdade wat in Nieu-Suid-Wallis gepleeg word met dwelms verband hou en dat sowat 85 persent van die gewapende rooftogte in die staat deur heroïengebruikers gepleeg word. En die dwelmprobleem neem toe.
U.S.News & World Report sê dat “geen plek in Europa teen die plaag immuun is nie”. In die Sowjetunie is daar volgens skatting miljoene dwelmmisbruikers. Die Sowjetregering het in ’n desperate poging om die vlaag van dwelmmisbruik te stuit dwelmbestrydingsinstansies in 25 lande om hulp genader. Maar in die lig van berigte dat dwelmprofyte gebruik word om polisiemanne, aanklaers en selfs regters om te koop, lyk dit onrealisties om te hoop dat regerings sulke doelwitte sal verwesenlik. Een gefrustreerde regeringsamptenaar het gesê: “Daar is geen polisiemag in die wêreld wat in meer as geringe mate kon verhoed dat die voorraad [dwelms] op die strate kom nie.” Hy het bygevoeg: “Dit is ontmoedigend, want geen oplossings word aan die hand gedoen nie.”
Sulke woorde herinner ons aan Jesus se profesie oor die laaste dae. Hy het voorspel dat mense in dié tyd ‘mat sal word van vrees, omdat hulle geen uitweg weet nie’.—Lukas 21:25, 26, vgl. NW.
Jesus en die politiek
’n Hoofopskrif in The Star van Johannesburg het gelui: “Katolieke Kerk ontsluier pastorale plan vir SA.” Die plan is om “die koninkryk van God” in Suid-Afrika “tot stand te bring [deur] ’n doelgerigte poging deur die kerk om van rassediskriminasie ontslae te raak”. Om in hierdie doel te slaag, sê Jude Pieterse, sekretaris-generaal van die Suid-Afrikaanse Konferensie van Katolieke Biskoppe, verlang die kerk die steun van ander kerke asook “alle fasette van die Suid-Afrikaanse gemeenskap”. Sommige Katolieke meen egter dat dit ’n “set deur die Biskoppe is om van Katolieke politieke aktiviste te maak”, verduidelik Johannesburg se biskop, Reginald Orsmond. Hoewel Pieterse erken het dat die plan politieke implikasies inhou, het Orsmond gesê dat die plan “niks nuuts” is nie, maar “so oud soos Jesus self”.
Eintlik sou Jesus Christus nooit sy dissipels aangemoedig het om politieke aktiviste te word nie. Toe hy deur Pontius Pilatus ondervra is, het Jesus ferm geantwoord: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie” (Johannes 18:36). Daarbenewens geniet meer as driemiljoen Getuies van Jehovah rasseharmonie in hulle geledere omdat hulle gehoor gee aan Jesus se “nuwe gebod . . . dat julle mekaar moet liefhê, soos Ek julle liefgehad het”—nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd!—Johannes 13:34.