Ek het die allerbeste berg geklim
EK IS in ’n klein dorpie in die berge van Oos-Europa gebore en het daar grootgeword. My ouers was Rooms-Katolieke, maar hulle het my nie gedwing om kerk toe te gaan nie, en ons het tuis ook nie saam gebid of oor godsdiens gepraat nie. Soos baie ander jongmense het ek dus my tyd en energie aan sport, geleerdheid en reise gewy.
In ons dorp was daar ’n baie bedrywige groep bergklimmers wat aangevoer is deur ’n gawe, ervare man wat die berge goed geken het. Dit is aan hom te danke dat ek ’n baie bedrewe bergklimmer geword het. Ek was destyds 18 jaar oud en was kort voor lank dol oor die pragtige uitsig van hoë bergtoppe af, die opwinding om gevaarlike situasies aan te durf en dit te oorleef en die vriendskap van ander wat sulke gevare met my gedeel het.
Ek onthou iets wat gebeur het nadat ek vyf jaar lank in die groep was. Ek het ’n maklike berg geklim, maar net toe ek die kruin bereik, het ek my konsentrasie laat verslap. Toe ek naby die bokant van ’n rotsformasie gekom het, het dit begin loskom. Al wat ek kon doen, was om uit die pad te spring en ’n waarskuwing vir my medeklimmer te skreeu. ’n Vallende rots het die tou gesny wat ons aanmekaargebind het, en ek het geval. Gelukkig het ek net tot op ’n grasgelyktetjie net vier meter laer af geval. Maar in hierdie sport loop dinge nie altyd so goed af nie!
Toe ek 24 was, het ek my universiteitsopleiding voltooi en die leier van die groepie bergklimmers in my tuisdorp geword. Naderhand het ons geld bymekaargemaak om ’n minibus te koop sodat ons onsself en ons toerusting na berge wat verder daarvandaan geleë was, kon vervoer. Maar die voertuig was in ’n swak toestand, en ek het drie maande lank dag en nag gewerk om dit reg te maak. Toe dit gereed was, het ons almal na gevaarlike werke gesoek wat goed betaal het, soos hoë konstruksiewerk, en op hierdie manier het ons uiteindelik genoeg geld bymekaargemaak om na Iran te reis. Daar het ons in 1974 ’n vulkaan van 5 800 meter met die naam Damavand geklim. Hoewel die klim aan die begin heel maklik was, het ons naby die bergtop te kampe gehad met diep sneeu, kortasemigheid weens die hoogte en giftige dampe uit kraterpype.
Op pad huis toe in die minibus het ons beplan om die berg Ararat te klim, maar ons moes ons planne weens politieke spanning kanselleer. In 1975 het ons in die Oostenrykse Alpe gaan ski en terselfdertyd ’n landwye fotografiekompetisie uitgeskryf wat ons “Mense en berge” genoem het. Hierdie kompetisie word nog steeds jaarliks gehou. Ons het almal gevoel dat ons lewe vol en bevredigend was.
Ontnugtering
Maar toe ek omtrent 30 was, het ek begin verveeld raak met bergklim en gewonder: ‘Is dit werklik al wat die lewe bied?’ Party het my aangeraai om te trou, maar ek het vriende gehad wat getroud was, en hulle het nie baie gelukkig gelyk nie. Selfs egpare wie se verhouding deur die gevaar en opwinding van bergklim gesmee was, het skynbaar hulle geluk verloor in die werklikheid van die alledaagse lewe. Ek het nie geweet waarom hulle huwelike nie gelukkig was nie, maar al wou ek baie graag getroud wees, wou ek nie so ongelukkig soos hulle wees nie.
Buitendien het ek ’n verandering in die jongmense opgemerk wat gaan bergklim het. Daar was voorheen altyd ’n gees van dissipline, samewerking en vriendskap in Alpynse bergklimkampe. Nou was jong en onervare seuns ongedissiplineerd en nie tevrede om geleidelik te vorder nie. Hulle wou aandag trek en klimme aandurf wat veels te moeilik en gevaarlik vir hulle was. Ek het al hoe meer ontnugter begin voel en het lang, diep gesprekke met my vriend Bonjo gevoer. Hy het eindelik voorgestel dat ek met ’n medebergklimmer, Henry, praat.
Henry het my ’n boek geleen, Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, en terwyl ek dit gelees het, was ek verbaas om te sien dat dit vrae bespreek waaroor ek in my hart gewonder het. Dit het geblyk dat Henry die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer het, en ek het gevra of ek saam met hulle kon studeer. Hy het ingestem, en twee jaar lank het ek ’n intensiewe studie gemaak van die Bybel en enige Bybellektuur wat ek in die hande kon kry.
Bybelstudie
Namate my kennis toegeneem het, het ek al hoe meer vreugde begin ervaar. Ek het net ’n oppervlakkige kennis van die Rooms-Katolieke godsdiens gehad, maar ek was verbaas om te sien dat die Christelike godsdiens van die Bybel nie op seremonies, tradisies en onberedeneerde emosies berus nie. Dit behels eerder verhewe sedelike beginsels wat ’n uitwerking op elke aspek van die Christen se lewe het. Daarbenewens was ek verstom toe ek sien dat die Bybel baie logies is en nie wetenskaplike teorieë wat onteenseglik bewys is, weerspreek nie.
Die Getuie wat die besprekings met my en Henry gehou het, het ons nie gedwing om ons menings en lewenswyse te verander nie. Al wat hy gedoen het, was om te verduidelik wat die Bybel sê. Ek het dus gedurende daardie eerste twee jaar van studie aangehou bergklim. Maar toe ek meer kennis opgedoen het, het ek besef dat ek aan bergklim verslaaf was. Die ongeluk met die vallende rots het my ook herinner aan wat Jesus vir Satan gesê het toe Satan hom uitgedaag het om hom van die dak van die tempel af te werp: “Jy mag die Here jou God nie versoek nie” (Mattheüs 4:5-7). Ek het besef dat hierdie aktiwiteit nie respek toon vir die lewe wat Jehovah my gegee het nie.
Daarom het ek die verantwoordelikheid vir ons groep bergklimmers aan ’n ander ervare klimmer oorhandig en gevind dat dit nie moeilik was om die lewe van ’n bergklimmer vir dié van ’n Christen te verruil nie. Terwyl ek al my toerusting—ski’s, klimysters, karabynhake, hamers, staalpenne en my ysbyl—weggegee of verkoop het, kon ek eerlikwaar, soos die apostel Paulus, sê dat dit vir my nou net “drek” was (Filippense 3:8). ’n Gevoel van groot tevredenheid het oor my gekom toe ek aan die groot werk om God se naam in die openbaar te loof kon begin deelneem. In 1977 het ek en Henry ons toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.
Ek getuig vir ander
Destyds was daar bykans 15 lede van die bergklimgroep in ons dorp, en ek en Henry het geleidelik vir hulle almal getuig. Hoe bly was ek tog toe my broer, wat ook ’n lid was, en sy vrou die Bybel begin bestudeer het en in 1981 gedoop is. ’n Ruk later het Bonjo ook begin, sowel as iemand anders, die vyfde lid van die bergklimmersklub. Dit was nie meer vir ons nodig om hoë berge te klim nie. Ons grootste genot was om mense wat Bybelwaarheid waardeer in die vallei te besoek. Hierdie verandering was ook ’n groot verligting vir my ma, wat baie bekommerd was oor my en my broer se bergklimmery. Sy het uiteindelik ook by ons aangesluit in die rein aanbidding van Jehovah.
Teen hierdie tyd was my begeerte om te trou nie meer so sterk nie. Danksy God se Woord het ek die beginsels geken wat my sou help om ’n huwelik te laat slaag, maar nou was ek tevrede om ongetroud te wees en Jehovah onverdeeld te dien. Salomo het gesê: “’n Verstandige vrou is van die HERE” (Spreuke 18:22; 19:14). Gevolglik het ek besluit om geduldig op Jehovah te wag om my hierdie gawe te gee en om intussen só te lewe dat ek ’n goeie eggenoot sou wees wanneer dit gebeur. Dit was in 1982 dat Jehovah my met ’n goeie vrou geseën het.
Ek en my vrou bly nog steeds in die berge, en ek is nog altyd lief vir hulle. Maar nou is ons hoofbelangstelling om mense te help om ’n ander berg te klim. Watter berg is dit? Die een wat in die profesie van Jesaja gemeld word: “Aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem” (Jesaja 2:2, 3). Watter vreugde was dit tog om hierdie berg, die allerbeste berg, te klim!—Bygedra.