Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g05 3/22 bl. 3-5
  • Berge—Waarom ons hulle nodig het

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Berge—Waarom ons hulle nodig het
  • Ontwaak!—2005
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom die berge belangrik is
  • Kennis wat in die berge bewaar is
  • Berge word bedreig
    Ontwaak!—2005
  • Berge—Wie sal hulle red?
    Ontwaak!—2005
  • ‘U is majestueuser as die berge’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2004
  • Berge—meesterstukke in die skepping
    Ontwaak!—1994
Sien nog
Ontwaak!—2005
g05 3/22 bl. 3-5

Berge—Waarom ons hulle nodig het

“Klim die berge en ontvang hulle goeie tydings. Die vrede van die natuur sal deur jou spoel soos sonlig deur die lower. Die winde sal jou vul met hulle frisheid en die storms met hulle energie, terwyl sorge soos herfsblare van jou sal afval.”—JOHN MUIR, AMERIKAANSE SKRYWER EN NATUURKENNER.

SOOS John Muir meer as ’n eeu gelede ontdek het, het berge die vermoë om ons te inspireer. Hulle majesteit betower ons, hulle natuurlewe fassineer ons en hulle rustigheid laat ons ontspan. Miljoene mense besoek jaarliks die berge om die natuurskoon te geniet en met nuwe lewenslus besiel te word. “Berge is al van vervloë tye af ’n bron van betowering en inspirasie vir mensegemeenskappe en kulture”, sê Klaus Toepfer, uitvoerende direkteur van die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram.

Maar alles is nie in orde wat die berge betref nie. Deur die geslagte heen is hulle grotendeels teen menslike oorbenutting beskerm omdat hulle so afgeleë is. Nou word hulle egter bedreig. “Party van hierdie laaste ongerepte gebiede is vinnig besig om te verdwyn as gevolg van landboubedrywighede, die ontwikkeling van die infrastruktuur en ander faktore wat dit stadig maar seker aftakel”, verduidelik ’n onlangse persverklaring deur die Verenigde Nasies.

Bergomgewings beslaan ’n groot deel van die wêreld se landoppervlak. Die helfte van die wêreldbevolking is afhanklik van hulle hulpbronne. En die berge is ook die tuiste van miljoene mense. Berge is veel meer as net die asemrowende agtergrond van ’n vreedsame landelike natuurtoneel. Kom ons kyk na party van die bydraes wat hulle tot die welsyn van die mensdom lewer.

Waarom die berge belangrik is

◼ OPVANGSGEBIEDE. Ons grootste riviere het hulle oorsprong in die berge, en berge voorsien ook die water vir die meeste van ons opgaardamme. In Noord-Amerika is feitlik al die water in die magtige Colorado-rivier en die Rio Grande afkomstig van die Rotsgebergte. Omtrent die helfte van die wêreldbevolking woon in die suidelike en oostelike deel van Asië. En die meeste van hierdie mense is afhanklik van die neerslag wat op die ontsaglike bergreeks in die Himalaja-Karakoram-Pamirs-Tibet-streek val.

“Berge, die watertorings van die wêreld, is noodsaaklik vir alle lewe op aarde en vir die welsyn van mense in alle wêrelddele”, verduidelik Toepfer, en hy voeg by: “Wat op die hoogste bergpiek gebeur, beïnvloed die lewe in die laaglande, in varswaterbronne en selfs in die see.” In baie lande bewaar berge die wintersneeu en stel dit geleidelik daardie noodsaaklike vog gedurende die lente en somer vry. In droë gebiede van die wêreld is besproeiing dikwels afhanklik van water wat deur gesmelte sneeu in verafgeleë berge voorsien word. Baie berge het woudbedekte hange wat die reën soos ’n spons absorbeer en dit geleidelik na die riviere laat afvloei, eerder as om verwoestende oorstromings te veroorsaak.

◼ NATUURLIKE HABITATS EN BIODIVERSITEIT. Die feit dat bergagtige streke so afgeleë en hulle landboukundige potensiaal so beperk is, het beteken dat daar minder indringing deur mense was. Gevolglik het berge ’n veilige hawe geword vir fauna en flora wat dalk reeds in die laaglande verdwyn het. Byvoorbeeld, Kinabalu- Nasionale Park in Maleisië, ’n bergagtige gebied kleiner as die stad New York, is die tuiste van 4 500 plantsoorte—meer as ’n kwart van die aantal plantsoorte wat in die hele Verenigde State gevind word. Die reusepanda van China, die kondor van die Andes en die sneeuluiperd van Sentraal-Asië is almal afhanklik van berghabitats, soos ook die geval met tallose ander spesies wat deur uitwissing bedreig word.

Volgens die tydskrif National Geographic het party ekoloë bereken dat “meer as ’n derde van bekende plant- en gewerwelde diersoorte op land beperk is tot minder as 2 persent van die planeet”. Groot getalle spesies is gekonsentreer in vrugbare, ongerepte gebiede wat wetenskaplikes biologiese “hot spots” noem. Hierdie “hot spots”—waarvan baie berggebiede is—bevat biodiversiteit waarby ons almal al baat gevind het. Van die belangrikste voedselgewasse ter wêreld is afkomstig van wilde plante wat nog in die berge groei—mielies in die hooglande van Mexiko, aartappels en tamaties in die Peruaanse Alpe en koring in die Kaukasus, om maar net ’n paar te noem.

◼ ONTSPANNING EN NATUURSKOON. Berge bewaar ook die natuurskoon. Indrukwekkende watervalle, pragtige mere en baie van die wêreld se mees asemrowende natuurtonele word in berge gevind. Dit is geen wonder dat ’n derde van al die wêreld se beskermde gebiede in bergagtige streke gevind word nie. En hulle het ’n gunstelingbestemming vir toeriste geword.

Selfs afgeleë nasionale parke kry miljoene besoekers van regoor die wêreld. Mense kom van heinde en verre om die McKinley-berg, Noord-Amerika se hoogste berg, in die Denali- Nasionale Park in Alaska te sien. Baie besoek die Groot Skeurvallei om die betowerende Kilimandjaro- en Meruberg te bewonder of om die ontsaglike groot troppe wilde diere te sien wat tussen hierdie twee majestueuse pieke woon. Baie berggemeenskappe vind baat by hierdie instroming van toeriste, hoewel onbeheerde toerisme die delikate ekosisteme kan bedreig.

Kennis wat in die berge bewaar is

Deur die eeue heen het die mense wat in die berge woon, geleer hoe om in ’n onherbergsame omgewing te floreer. Bergbewoners het terrasse uitgekap waar mense ná tweeduisend jaar nog steeds suksesvol kan boer. Hulle het plaaslike diere mak gemaak, soos die llama en die jak, wat die strawwe toestande van hoë liggings kan verduur. En die tradisionele kennis wat bergbewoners opgebou het, kan van onskatbare waarde wees vir die beskerming van die berge waarvan ons almal afhanklik is.

“Bergbewoners is die enigste beskermers van uitgestrekte, feitlik ongeskonde habitats in afgeleë dele van elke vasteland”, verduidelik Alan Thein Durning van die Worldwatch-instituut. “Hulle besit ’n versameling van ekologiese kennis . . . wat vergelyk kan word met die biblioteke van die moderne wetenskap.” Hierdie skatkamer van kennis het net soveel beskerming nodig as ander skatte van die berge.

Die Verenigde Nasies se Omgewingsprogram het die Internasionale Jaar van Berge 2002 geborg. Om die aandag te vestig op die mensdom se afhanklikheid van die berge, het die organiseerders die uitdrukking geskep “Ons is almal bergmense”. Hulle doel was om mense meer bewus te maak van die probleme wat die wêreld se berge in die gesig staar en om oplossings te probeer vind wat die berge kan beskerm.

Daar is beslis rede vir hierdie besorgdheid. “Al te dikwels word berge beskou as voorsieners van oorvloedige natuurlike hulpbronne, terwyl daar nie genoeg aandag geskenk word aan die dilemma van hulle bewoners sowel as die volhoubaarheid van hulle ekosisteme nie”, het ’n hoofspreker gesê by die Bisjkek- Aardwye Bergberaad 2002, wat in Kirgistan gehou is.

Wat is party van die probleme wat die berge van die wêreld en die bewoners daarvan in die gesig staar? Hoe raak hierdie probleme ons almal?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel