Die unieke Matterhorn
DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SWITSERLAND
“DAAR is net EEN Matterhorn op die hele aarde; net EEN berg met sulke gebalanseerde proporsies. ’n Pragtige gesig!” Dit is wat Guido Rey, ’n Italiaanse Alpinis, gesê het.
Die Matterhorn is inderdaad ’n uitsonderlike piek, een van die bekendste berge in die wêreld. Die foto op hierdie bladsye is waarskynlik nie die eerste prent wat jy al van hierdie merkwaardige berg gesien het nie.
Die piramidale Matterhorn is op die grens van Italië en Switserland geleë, tien kilometer suidwes van die dorpie Zermatt, Switserland, die dorp waarna die piek vernoem is. Dit reik 4478 meter die lug in en het twee pieke wat ongeveer 100 meter uitmekaar is.
Hoewel dit ’n deel van die sentrale Alpe is, staan die Matterhorn alleen, sonder enige onmiddellike bure. Dít verklaar die uitstekende uitsig wat ’n mens van alle kante op die berg het en maak dit baie fotogenies.
Party het die vorm van die Matterhorn al gepas as dié van ’n gedenknaald beskryf. Hy stel sy vier kante bloot aan die vier hoofwindstreke, en elke kant word duidelik deur ’n rif geskei.
Ten spyte van sy hoogte is die Matterhorn nie altyd met sneeu bedek nie. Laat in die lente verloor die steil rotswande aan die bodeel van die berg hulle sneeu- en ysmantel in die hitte van die son. Laer af is daar aan die ooste- en noordwestekant gletsers wat die hele jaar deur soos ’n wit gordel om die berg se middellyf sit.
Menige bewonderaar het al gewonder hoe hierdie unieke berg ontstaan het. Geen kliphope is aan sy voet te vinde as oorblyfsels van die materiaal waaruit hy gevorm is nie. Enige oorblyfsels van so ’n aard moes gedurende die tallose millenniums van sy bestaan weggespoel het. Watter geweldige natuurkragte moes tot hierdie pragtige gesig bygedra het!
Vroeë nedersettings
Die Alpe-vallei wat aan die voet van die Matterhorn lê, is reeds ten tye van die Romeinse Ryk bewoon. Die geskiedenis deel ons mee dat die Romeinse generaal Marius in die jaar 100 v.G.J. die Theodul-pas, oos van die Matterhorn, teen ’n hoogte van 3322 meter oorgesteek het. Hierdie bergpad is ook gedurende die Middeleeue gebruik om goedere van die suide na die noorde te vervoer.
Gedurende daardie tye het die inwoners die Matterhorn met groot eerbied bejeën, selfs met bygelowige vrees. Hulle sou nooit die berg, wat hulle gedink het deur die Duiwel self bewoon word, probeer klim het nie! Wie anders sou ys- en sneeustortings asook rotse so groot soos huise daar afgooi?
Toenemende belangstelling in die natuurwetenskap
Dit waarvan daardie eenvoudige mense weggeskram het, was later hoog in die mode onder Engeland se hoëlui. Wetenskaplike belangstelling het begin toeneem en daartoe gelei dat navorsers berge geklim het om studies op die gebied van die geologie, topografie en plantkunde te maak.
Trouens, in 1857 is die Alpine Club in Londen gestig, en talle welgestelde Engelse het na Frankryk, Italië of Switserland gereis om deel te neem aan die verowering van die Alpe. Die avonturiers het die een piek na die ander geklim, met inbegrip van Mont Blanc. Hoewel hierdie berg teen 4807 meter die hoogste in Europa is, is dit nie vir bergklimmers so moeilik soos die Matterhorn nie.
Nie al hierdie pogings is uitsluitlik in die naam van die natuurwetenskap gedoen nie. Ambisie het ingesluip. Die roem wat verwerf kon word deur die eerste, die dapperste, die taaiste te wees, was ’n groot faktor. Gedurende daardie tyd het die woord “sport” in Engeland niks anders as bergklim beteken nie.
Die somer van 1865 was een van die besigste tye wat bergklim betref, veral ten opsigte van die Matterhorn. Hierdie betowerende piramide was een van die laaste onoorwonne pieke. Dit is as onbeklimbaar beskou, en plaaslike gidse het geweier om selfs te probeer. Hulle beskouing was: ‘Enige ander piek—maar nie die Matterhorn nie.’
Maar die verowering van die Matterhorn was onvermydelik. In die vroeë 1860’s is ’n aantal Alpynse pieke verower. Die bergklimmers het uit ervaring geleer en nuwe tegnieke ontwikkel. Edward Whymper van Engeland is op 20-jarige ouderdom deur ’n Londense redakteur na Switserland gestuur om prente van Alpynse tonele te teken om ’n boek oor die onderwerp te illustreer. Whymper is deur die berge betower, en hy het ’n geesdriftige bergklimmer geword. Hy het menige piek in beide Frankryk en Switserland verower en het die Matterhorn verskeie kere probeer klim. Maar die Matterhorn het hom nie laat verower nie.
Die Matterhorn word verower!
Uiteindelik het drie verskillende klimgeselskappe mekaar in Julie 1865 toevallig in Zermatt ontmoet—al drie was vasbeslote om die Matterhorn te klim. Hulle tyd was beperk omdat ’n Italiaanse geselskap hulle kon voorspring; daarom het die drie groepe besluit om een cordée, of ’n groep bergklimmers wat met ’n tou aan mekaar gekoppel is, te vorm. Die groep het uit sewe mans bestaan—Edward Whymper en lord Francis Douglas, Charles Hudson en sy jong vriend Hadow—almal Engelse—plus twee Switserse gidse en een Franse gids wat hulle gehuur het.
Hulle het Zermatt die oggend van 13 Julie verlaat, die berg langsaam uit die ooste genader en gevind dat die laer dele betreklik maklik was om te klim. Hulle het hulle tent op ’n hoogte van ongeveer 3300 meter opgeslaan en die res van daardie sonnige dag rustig geniet.
Die volgende oggend, 14 Julie, het hulle voor dagbreek begin klim. Die tou was net af en toe nodig. Sommige dele was moeiliker as ander, maar hulle het dikwels ’n weg om die gevaarliker hindernisse gevind. Ná twee ruspouses het hulle die gevaarlikste deel bereik. Die laaste 70 meter het uit ’n sneeuveld bestaan, en teen 1:45 nm. het hulle die spits bereik. Die Matterhorn is verower!
Die spits het geen teken van mensebesoekers getoon nie; dus was hulle blykbaar die eerstes. Wat ’n gevoel! Die seëvierende geselskap het hulle ongeveer ’n uur lank verlustig in die asemrowende gesig oral om hulle heen, en toe het hulle gereedgemaak vir die terugtog ondertoe. Die Italiaanse klimmers wat die klimtog daardie selfde dag aangepak het, het ver agtergebly en teruggekeer toe hulle besef dat hulle die wedloop verloor het.
’n Dure oorwinning
Die klimmers moes egter baie duur betaal vir hulle oorwinning. Toe hulle ’n moeilike skuinste met die terugtog bereik, het hulle hulle met die tou aan mekaar gekoppel, en die gids met die meeste ondervinding het die leiding geneem. Ten spyte van hulle omsigtigheid het die jongste klimmer gegly, op die man onder hom geval en dié bo hom saamgesleep. Die laaste drie mans is deur ’n kreet gewaarsku en was in staat om aan rotse vas te klou. Maar die tou het gebreek, en in ’n oogwink het die eerste vier mans oor die krans verdwyn.
Lamgeslaan het Edward Whymper en die twee Switserse gidse in ’n gevaarlike posisie agtergebly. Hulle moes die nag daar in ’n tent deurbring en het die volgende dag na Zermatt teruggekeer. Die dag se glorie het dus spoedig in ’n ramp verander wat blywende letsels op die oorlewendes gelaat het.
Drie van die vier lyke is later op ’n gletser 1200 meter onderkant die ongelukstoneel gevind. Die vierde, lord Douglas, is nooit gevind nie.
Dit was nie die laaste slagoffers teen die hange van die Matterhorn nie. Ten spyte van die feit dat baie toue stewig in die rotse op die verskillende opwaartse of sywaartse roetes teen die rotswande en in skeure vasgemaak is en ten spyte van bergklimmers se groter ervaring en hoogs verbeterde toerusting, was daar al ongeveer 600 sterftes op hierdie berg alleen.
Gevare
Iets wat grootliks tot die gevaar bydra, is die weer. Dit kan baie vinnig verander. ’n Dag begin miskien met pragtige weer, maar voordat ’n mens daarvan bewus is, kan digte mis of swaar donker wolke die piramide omhul en kan ’n ontsettende storm losbars. Dit kan gepaardgaan met vreeswekkende blitse en donderslae tesame met rukwinde en uiteindelik ’n swaar sneeuval. En dit alles op ’n pragtige somersdag!
As klimmers deur sulke omstandighede oorval word, moet hulle dalk die nag onder die blote hemel deurbring, moontlik op ’n smal rotslys waarop hulle skaars kan staan. Temperature kan ver benede vriespunt daal. Onder is die afgrond. Dan wens ’n mens dalk dat jy die Matterhorn net van ver af begroet het!
Nog ’n gevaar is vallende klippe. Soms veroorsaak onnadenkende klimmers self dat klippe val. In die meeste gevalle het dit egter natuurlike oorsake. Temperatuurveranderinge, ys en sneeu, stortreën en ’n warm son sowel as sterk winde wat om die Matterhorn warrel, het alles ’n uitwerking op die rotse en veroorsaak dat groot stukke losbreek. Hulle bly somtyds jare lank in posisie, soos ’n groot stapel borde, maar sneeustortings kan hulle uiteindelik laat beweeg en val.
Talle klimmers verwonder hulle oor die feit dat hierdie proses al duisende jare lank plaasvind maar dat die berg nietemin sy dun gedenknaaldvorm behou en geen teken van verandering in vorm toon nie. Maar in vergelyking met die geraamde 2,5 miljard kubieke meter rots waaruit dit bestaan, is die vallende klippe te onbeduidend om sy vorm te verander. Hulle veroorsaak egter wel beserings en lewensverlies.
Die klim van die Matterhorn het intussen baie gewild geword. Party gidse was al honderde kere op die piek. Baie manne en vroue herhaal ook die prestasie deur elke keer ’n ander roete te kies.
Daar is egter ook diegene wat probeer maar tot die besef kom dat die omstandighede ongunstig is of dat hulle eie vermoë, fisiese toestand of opleiding ontoereikend is. Hulle gaan dus nie voort met die klim nie, maar laat rede seëvier oor die roem wat die verowering van die Matterhorn sou meebring.
Of jy hierdie merkwaardige berg nou al op foto’s of in rolprente gesien het of met ontsag die pragtige skakerings daarvan met sonsopkoms of sonsondergang van naby aanskou het, dit het jou waarskynlik aan die Groot Beeldhouer laat dink. Met diepe eerbied vir sy handewerk het die woorde in Psalm 104:24 heel moontlik in jou hart weerklank gevind: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”