“Deurgrond my, o God”
“Deurgrond my, o God, en ken my hart; . . . Lei my op die ewige weg!”—PSALM 139:23, 24.
1. Hoe behandel Jehovah sy knegte?
ONS almal hou daarvan wanneer iemand ons met begrip behandel, ons omstandighede in ag neem, ons help wanneer ons ’n fout begaan, nie meer van ons vereis as wat ons kan doen nie. Jehovah God behandel sy knegte so. Psalm 103:14 sê: “Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” En Jesus Christus, wat ’n volmaakte weerspieëling van sy Vader is, rig hierdie hartlike uitnodiging aan ons: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle [of, “Kom saam met my onder my juk”, voetnoot in NW] en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”—Mattheüs 11:28-30.
2. Vergelyk Jehovah se beskouing met mense se beskouing van (a) Jesus Christus en (b) volgelinge van Christus.
2 Jehovah se beskouing van sy knegte is dikwels baie anders as dié van mense. Hy beskou sake vanuit ’n ander oogpunt en neem aspekte in ag waarvan ander dalk niks weet nie. Toe Jesus Christus op die aarde was, is hy “verag en deur die mense verlaat”. Diegene wat nie geloof in hom as die Messias gestel het nie, “het Hom nie geag nie” (Jesaja 53:3; Lukas 23:18-21). Tog was hy in God se oë “[God se] geliefde Seun” vir wie die Vader gesê het: “In U het Ek ’n welbehae” (Lukas 3:22; 1 Petrus 2:4). Onder Jesus Christus se volgelinge is mense op wie daar neergesien word omdat hulle materieel arm is en baie swaar kry. Tog kan sulke mense in die oë van Jehovah en sy Seun ryk wees (Romeine 8:35-39; Openbaring 2:9). Waarom die verskil in beskouing?
3. (a) Waarom is Jehovah se beskouing van mense dikwels baie anders as mense se beskouing? (b) Waarom is dit uiters belangrik dat ons ondersoek instel na watter soort mens ons binne-in is?
3 Jeremia 11:20 antwoord: ‘Jehovah toets die niere en hart.’ Hy sien wat ons binne-in is, selfs daardie aspekte van ons persoonlikheid wat vir ander se oë verborge is. In sy ondersoek lê hy hoofsaaklik klem op eienskappe en toestande wat noodsaaklik is vir ’n goeie verhouding met hom, dié wat vir ons die blywendste voordele inhou. Hierdie kennis is gerusstellend; dit stem ons ook tot nugtere denke. Aangesien Jehovah aandag skenk aan wat ons binne-in is, is dit belangrik dat óns ondersoek instel na wat ons binne-in is as ons die soort mense wil wees wat hy in sy nuwe wêreld wil hê. Sy Woord help ons om so ’n ondersoek te doen.—Hebreërs 4:12, 13.
Hoe kosbaar is God se gedagtes tog!
4. (a) Wat het die psalmis beweeg om te sê dat God se gedagtes vir hom kosbaar is? (b) Waarom moet dit vir ons kosbaar wees?
4 Nadat die psalmis Dawid oor die wydte en diepte van God se kennis van sy knegte gepeins het, asook oor God se buitengewone vermoë om enige hulp wat hulle nodig het te voorsien, het hy geskryf: “Hoe kosbaar is dan vir my u gedagtes, o God!” (Psalm 139:17a). Daardie gedagtes, wat in sy geskrewe Woord geopenbaar word, is baie hoër as enigiets wat van mense af kom, ongeag hoe briljant hulle idees dalk lyk (Jesaja 55:8, 9). God se gedagtes help ons om ons aandag toe te spits op die waarlik belangrike dinge in die lewe en om ywerig in sy diens te wees (Filippense 1:9-11). Dit toon vir ons hoe ons sake uit God se oogpunt kan beskou. Dit help ons om eerlik met onsself te wees, om eerlik te erken watter soort mens ons waarlik in ons hart is. Is jy bereid om dit te doen?
5. (a) Wat spoor God se Woord ons aan om “meer as alles” te bewaak? (b) Hoe kan ons by die Bybelverslag oor Kain baat vind? (c) Hoe help die Mosaïese Wet ons om te verstaan wat Jehovah behaag, al is ons nie meer onder die Wet nie?
5 Mense is geneig om te veel klem op die uiterlike te lê, maar die Skrif gee ons hierdie raad: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word” (Spreuke 4:23). Die Bybel leer ons deur middel van bevele sowel as voorbeelde om dit te doen. Dit sê vir ons dat Kain se offers aan God net vormdiens was, terwyl sy hart met woede en later met haat teenoor sy broer Abel vervul was. En dit spoor ons aan om nie soos hy te wees nie (Genesis 4:3-5; 1 Johannes 3:11, 12). Dit toon dat die Mosaïese Wet gehoorsaamheid vereis het. Maar dit beklemtoon ook dat die belangrikste vereiste van die Wet was dat diegene wat Jehovah aanbid het hom met hulle hele hart, verstand, siel en krag moes liefhê; en dit sê die tweede belangrikste gebod was dat hulle hulle naaste soos hulleself moes liefhê.—Deuteronomium 5:32, 33; Markus 12:28-31.
6. Watter vrae moet ons ons in die toepassing van Spreuke 3:1 afvra?
6 In Spreuke 3:1 word ons nie net aangespoor om na God se bevele te luister nie, maar ook om seker te maak dat gehoorsaamheid daaraan waarlik uit ons hart kom. Ons elkeen moet ons afvra: ‘Is dit waar van my gehoorsaamheid aan God se vereistes?’ As ons besef dat ons beweegrede of denke in sommige sake te kort skiet—en nie een van ons kan sê ons is sonder foute nie—moet ons vra: ‘Wat doen ek om die situasie te verbeter?’—Spreuke 20:9; 1 Johannes 1:8.
7. (a) Hoe kan Jesus se veroordeling van die Fariseërs in Mattheüs 15:3-9 ons help om ons hart te bewaak? (b) Watter situasies kan vereis dat ons drastiese stappe doen om ons verstand en hart te dissiplineer?
7 Toe Joodse Fariseërs voorgegee het dat hulle God eer terwyl hulle op ’n listige wyse ’n gebruik tot voordeel van hulleself bevorder het, het Jesus hulle as geveinsdes veroordeel en getoon dat hulle aanbidding tevergeefs was (Mattheüs 15:3-9). Jesus het ook gewaarsku dat dit nie genoeg is om God, wat die hart sien, te behaag as ons uiterlik ’n sedelike lewe lei en terselfdertyd, ter wille van sinlike genot, gedurig onsedelike gedagtes koester nie. Ons sal moontlik drastiese stappe moet doen om ons verstand en hart te dissiplineer (Spreuke 23:12; Mattheüs 5:27-29). Sulke dissipline is ook nodig as ons vanweë ons sekulêre werk, ons doelwitte ten opsigte van geleerdheid of ons keuse van vermaak navolgers van die wêreld word en toelaat dat ons volgens sy standaarde gevorm word. Ons moet nooit vergeet dat die dissipel Jakobus diegene wat voorgee dat hulle aan God behoort maar wat vriende van die wêreld wil wees “egbreeksters” noem nie. Waarom? Omdat “die hele wêreld in die mag van die Bose lê”.—Jakobus 4:4, NW; 1 Johannes 2:15-17; 5:19.
8. Wat moet ons doen as ons ten volle by God se kosbare gedagtes wil baat vind?
8 As ons ten volle by God se gedagtes oor hierdie en ander sake wil baat vind, moet ons tyd opsysit om daaroor te lees of dit te hoor. Nog belangriker is dat ons dit moet bestudeer, daaroor moet praat en daaroor moet peins. Baie lesers van Die Wagtoring woon gereeld gemeentelike vergaderinge van Jehovah se Getuies by, waar die Bybel bespreek word. Hulle koop die tyd uit van ander strewes om dit te kan doen (Efesiërs 5:15–17). En wat hulle as beloning ontvang, is baie meer werd as materiële rykdom. Is dit hoe jy voel?
9. Waarom maak sommige wat Christelike vergaderinge bywoon vinniger vooruitgang as ander?
9 Maar sommige wat hierdie vergaderinge bywoon, maak vinniger geestelike vooruitgang as ander. Hulle pas die waarheid in ’n groter mate in hulle lewe toe. Waarom is dit so? ’n Groot faktor is dikwels hulle ywer in persoonlike studie. Hulle besef dat ons nie van brood alleen lewe nie; geestelike voedsel op ’n daaglikse grondslag is net so belangrik as om gereeld fisiese voedsel te eet (Mattheüs 4:4; Hebreërs 5:14). Hulle probeer dus om elke dag ten minste ’n bietjie tyd daaraan te bestee om die Bybel of publikasies ter verduideliking daarvan te lees. Hulle berei voor vir gemeentelike vergaderinge deur lesse vooruit te bestudeer en die tekste na te slaan. Hulle doen meer as om die materiaal te lees; hulle peins daaroor. Hulle studiepatroon behels ook dat hulle ernstig nadink oor die invloed wat dít wat hulle leer op hulle eie lewe behoort te hê. Namate hulle geestelikheid toeneem, begin hulle soos die psalmis voel wat geskryf het: “Hoe lief het ek U wet . . . U getuienisse is wonderbaar.”—Psalm 1:1-3; 119:97, 129.
10. (a) Hoe lank kan ’n mens met nut aanhou om God se Woord te bestudeer? (b) Hoe toon die Skrif dit?
10 Of ons nou God se Woord ’n jaar, 5 jaar of 50 jaar bestudeer, dit word nooit net ’n herhaling nie—nie as God se gedagtes vir ons kosbaar is nie. Ongeag hoeveel enigeen van ons uit die Skrif geleer het, daar is nog dinge wat ons nie weet nie. “Hoe geweldig is hulle volle som nie!” het Dawid gesê. “Wil ek hulle tel, hulle is meer as die sand.” Dit is hoegenaamd nie vir ons moontlik om God se gedagtes te tel nie. As ons die hele dag lank God se gedagtes sou opnoem en aan die slaap sou raak terwyl ons dit doen, sal daar die volgende oggend wanneer ons wakker word nog baie meer wees om oor te dink. Daarom het Dawid geskryf: “Word ek wakker, dan is ek nog by U” (Psalm 139:17, 18). Daar sal tot in alle ewigheid nog dinge wees wat ons oor Jehovah en sy weë kan leer. Ons sal nooit die stadium bereik waar ons alles weet nie.—Romeine 11:33.
Haat wat Jehovah haat
11. Waarom is dit belangrik om nie net God se gedagtes te ken nie, maar om sy gevoelens te deel?
11 Ons bestudeer nie God se Woord net om ons kop met feite te vul nie. Terwyl ons dit in ons hart laat ingang vind, begin ons ook om God se gevoelens te deel. Hoe belangrik is dit tog! Wat kan die gevolg wees as ons nie sulke gevoelens ontwikkel nie? Hoewel ons moontlik sal kan herhaal wat die Bybel sê, kan ons nogtans wat verbode is as begeerlik beskou of voel asof dit wat van ons verwag word ’n las is. Selfs al haat ons wat verkeerd is, kan ons weliswaar steeds vanweë ons menslike onvolmaaktheid ’n stryd hê (Romeine 7:15). Maar kan ons verwag om Jehovah, ‘wat harte toets’, te behaag as ons nie in alle erns probeer om wat ons binne-in is in ooreenstemming te bring met wat reg is nie?—Spreuke 17:3.
12. Hoe belangrik is goddelike liefde en goddelike haat?
12 Goddelike haat is ’n kragtige beskerming teen sonde, net soos goddelike liefde dit ’n plesier maak om te doen wat reg is (1 Johannes 5:3). Die Skrif spoor ons herhaaldelik aan om liefde en haat aan te kweek. “o Liefhebbers van die HERE, haat die kwaad!” (Psalm 97:10). “Verafsku wat sleg is; hang die goeie aan” (Romeine 12:9). Doen ons dit?
13. (a) Met watter gebed van Dawid oor die vernietiging van die goddeloses stem ons heelhartig saam? (b) Wie was volgens Dawid se gebed die goddeloses wat hy gevra het God moet vernietig?
13 Jehovah het dit duidelik gestel dat hy voornemens is om die goddeloses op die aarde uit te roei en ’n nuwe aarde waarin daar geregtigheid woon tot stand te bring (Psalm 37:10, 11; 2 Petrus 3:13). Liefhebbers van geregtigheid sien daarna uit dat daardie tyd moet aanbreek. Hulle stem heelhartig saam met die psalmis Dawid wat gebid het: “o God, as U tog maar die goddelose wou ombring! En julle manne van bloed, gaan van my af weg! Hulle wat arglistig teen U spreek, u Naam ydellik verhef—u teëstanders!” (Psalm 139:19, 20). Dawid het nie die begeerte gehad om sulke goddeloses self om te bring nie. Hy het gebid dat Jehovah hulle moes vergeld (Deuteronomium 32:35; Hebreërs 10:30). Hierdie mense het Dawid nie bloot op die een of ander manier te na gekom nie. Hulle het God vals voorgestel en sy naam ydellik gebruik (Exodus 20:7). Hulle het op ’n oneerlike manier voorgegee dat hulle hom dien, maar hulle het sy naam gebruik om hulle eie planne te bevorder. Dawid het glad nie dié liefgehad wat God se teenstanders wou wees nie.
14. Is daar goddelose mense wat gehelp kan word? Indien wel, hoe?
14 Daar is miljarde mense wat Jehovah nie ken nie. Baie van hulle doen in onkunde dinge wat volgens God se Woord goddeloos is. As hulle hiermee volhou, sal hulle onder diegene wees wat gedurende die groot verdrukking omkom. Maar Jehovah het geen behae in die dood van die goddeloses nie, en ons moet ook nie behae daarin hê nie (Esegiël 33:11). Solank die tyd dit toelaat, probeer ons sulke mense help om Jehovah se weë te leer ken en toe te pas. Maar gestel party mense toon intense haat teenoor Jehovah?
15. (a) Wie het die psalmis as geswore “vyande” beskou? (b) Hoe kan ons vandag toon dat ons diegene “haat” wat teen Jehovah in verset kom?
15 Die psalmis het oor hulle gesê: “HERE, sou ek dié nie haat wat vir U haat, en ’n afsku hê van die wat teen U opstaan nie? Ek haat hulle met ’n volkome haat; vyande is hulle vir my” (Psalm 139:21, 22). Dawid het hulle verafsku omdat hulle Jehovah intens gehaat het. Die afvalliges tel onder diegene wat hulle haat teenoor Jehovah toon deur teen hom in verset te kom. Afvalligheid is in werklikheid ’n opstand teen Jehovah. Party afvalliges gee voor dat hulle God ken en dien, maar hulle verwerp leringe of vereistes wat in sy Woord uiteengesit is. Ander beweer dat hulle die Bybel glo, maar hulle verwerp Jehovah se organisasie en probeer die werk daarvan daadwerklik belemmer. Wanneer hulle opsetlik sulke boosheid kies nadat hulle geweet het wat reg is, wanneer die bose so ingewortel geraak het dat dit ’n onlosmaaklike deel van hulle geword het, dan moet ’n Christen diegene haat (in ’n Bybelse sin) wat hulle onlosmaaklik tot die bose verbind het. Ware Christene voel net soos Jehovah oor sulke afvalliges; hulle is nie nuuskierig oor afvallige idees nie. Inteendeel, hulle ‘het ’n afsku aan’ diegene wat hulleself God se vyande gemaak het, maar hulle laat dit aan Jehovah oor om wraak te neem.—Job 13:16, NW; Romeine 12:19; 2 Johannes 9, 10.
Wanneer God ons deurgrond
16. (a) Waarom wou Dawid hê dat Jehovah hom moes deurgrond? (b) Wat omtrent ons eie hart moet ons God vra om ons te help vasstel?
16 Dawid wou in geen opsig soos die goddeloses wees nie. Baie mense probeer verberg wat hulle binne-in is, maar Dawid het nederig gebid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Psalm 139:23, 24). Toe Dawid van sy hart gepraat het, het hy nie die fisiese orgaan bedoel nie. In ooreenstemming met die figuurlike betekenis van daardie uitdrukking het hy gepraat van wat hy binne-in was, die innerlike mens. Ons moet ook wil hê dat God ons hart deurgrond en vasstel of ons enige verkeerde begeertes, neigings, emosies, doelwitte, gedagtes of beweegredes het (Psalm 26:2). Jehovah nooi ons: “My seun, gee my jou hart, en laat jou oë welgevalle hê in my weë.”—Spreuke 23:26.
17. (a) Wat moet ons doen pleks van verontrustende gedagtes te verberg? (b) Moet dit ons verbaas as daar verkeerde neigings in ons hart is, en wat moet ons daaromtrent doen?
17 As daar enige pynlike, verontrustende gedagtes in ons verskuil lê vanweë verkeerde begeertes of verkeerde beweegredes of omdat ons iets verkeerds gedoen het, wil ons tog sekerlik hê dat Jehovah ons help om die saak reg te stel. Pleks van die bewoording ‘’n weg van smart’ gebruik Moffatt se vertaling die uitdrukking “’n verkeerde weg”; The New English Bible sê: “Enige weg wat u [dit wil sê God] bedroef.” Ons verstaan moontlik self nie ons verontrustende gedagtes goed nie en weet dus nie hoe om ons probleem aan God te stel nie, maar hy verstaan ons situasie (Romeine 8:26, 27). Dit behoort ons nie te verbaas as daar slegte neigings in ons hart is nie; maar ons moet dit nie vergoelik nie (Genesis 8:21). Ons moet God se hulp vra om dit uit te roei. As ons Jehovah en sy weë waarlik liefhet, kan ons hom om sulke hulp nader met die vertroue dat “God . . . meer as ons hart [is], en Hy weet alles”.—1 Johannes 3:19-21.
18. (a) Hoe lei Jehovah ons op die ewige weg? (b) Watter hartlike woorde kan ons verwag om te hoor as ons aanhou om Jehovah se leiding te volg?
18 In ooreenstemming met die psalmis se gebed dat Jehovah hom op die ewige weg moet lei, lei Jehovah inderdaad sy nederige, gehoorsame knegte. Hy lei hulle nie net op die weg wat ’n lang lewe kan beteken omdat hulle lewe nie weens goddeloosheid kortgeknip word nie, maar op die weg wat tot die ewige lewe lei. Hy druk ons op die hart hoe noodsaaklik die versoeningswaarde van Jesus se losprysoffer vir ons is. Deur sy Woord en sy organisasie voorsien hy ons van lewensbelangrike onderrig sodat ons sy wil kan doen. Hy beklemtoon hoe belangrik dit is dat ons sy hulp aanvaar sodat ons binne-in die soort persoon kan word wat ons uiterlik voorgee ons is (Psalm 86:11). En hy moedig ons aan met die vooruitsig op volmaakte gesondheid in ’n regverdige nuwe wêreld, asook ’n ewige lewe wat ons kan gebruik om hom, die enigste ware God, te dien. As ons aanhou om lojaal op sy leiding te reageer, sal hy in werklikheid vir ons, soos vir sy Seun, sê: “In U het Ek ’n welbehae.”—Lukas 3:22; Johannes 6:27; Jakobus 1:12.
Wat is jou kommentaar?
◻ Waarom is Jehovah se beskouing van sy knegte dikwels anders as mense se beskouing?
◻ Wat kan ons help om te onderskei wat God sien wanneer hy ons hart ondersoek?
◻ Watter soort studie help ons om feite te leer en ons hart te bewaak?
◻ Waarom is dit nie net belangrik om te weet wat God sê nie, maar ook om sy gevoelens te deel?
◻ Waarom moet ons persoonlik bid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart”?
[Prent op bladsy 16]
Wanneer jy studeer, moet jy probeer om God se gedagtes en gevoelens jou eie te maak
[Prent op bladsy 18]
Jehovah se gedagtes is “meer as die sand”
[Erkenning]
Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.