Codex Bezae—’n unieke manuskrip
THÉODORE DE BÈZE, ’n bekende Franse kenner van die Christelike Griekse Skrifte, het noue omgang met die Protestantse hervormer Johannes Calvyn gehad en het hom opgevolg. Beza, soos hy meestal bekend staan, het in 1562 ’n besondere ou manuskrip openbaar gemaak. Hy het beweer dat hy dit van die “Sint” Irenaeus-klooster in Lyon, Frankryk, gekry het nadat die stad deur die Hugenote geplunder is. Dit is nie bekend waar dit oorspronklik vandaan gekom het nie, maar dit was waarskynlik Noord-Afrika of Egipte.
Die kodeks is 25 by 20 sentimeter groot, en daar word oor die algemeen erken dat dit uit die vyfde eeu G.J. dateer, ietwat later as die Sinaïtiese, die Vatikaanse en die Alexandrynse manuskrip. Dit bestaan uit 406 blaaie en bevat net die vier Evangelies en Handelinge van die Apostels, met sommige leemtes. Maar die Codex Bezae het dalk oorspronklik ander briewe ingesluit, want dit bevat ’n fragment van die derde brief van Johannes. Die Evangelies van Mattheüs en Johannes is voor dié van Lukas en Markus.
Die manuskrip is ’n vroeë voorbeeld van ’n tweetalige teks, met Grieks op die linkerkantste bladsy en Latyns aan die regterkant. Dit is waarskynlik ’n afskrif van ’n papirusmanuskrip met ’n vroeë teks, soortgelyk aan sommige ander papirusse van die derde of vierde eeu wat as P29, P38, en P48 bekend staan.
Die Codex Bezae, wat in duidelike, elegante unsiale (hoofletters) geskryf is, is nie deurlopend op die bladsye geskryf nie. Die reëls is nie ewe lank nie sodat die einde van elke reël ’n leespouse voorstel. Die Latyn is, vreemd genoeg, in die styl van Griekse letters geskryf en die teks is aangepas om in baie gevalle Griekse lesings te hê. Die Griekse teks daarenteen is taamlik kenmerkend en is deur baie mense verbeter, waaronder die oorspronklike skrywer.
Die Codex Bezae se amptelike simbool is “D”. Dit is baie verskillend en onafhanklik van alle ander vername manuskripte. Soos die voetnote in die New World Translation of the Holy Scriptures aandui, kom die kodeks soms ooreen met die Sinaïtiese (א), die Vatikaanse (B) en die Alexandrynse (A) kodeks en soms nie. Die groot waarde van hierdie kodeks lê in sy bevestiging van ander belangrike manuskripte eerder as in sy besondere weglatings en byvoegings.—Sien voetnote in die New World Translation of the Holy Scriptures—With References by Mattheüs 23:14; 24:36; 27:49; Markus 7:16; 9:44, 46; 11:26; Lukas 15:21; Johannes 5:4.
Ten spyte van sommige ongewone lesings en variante, is die Codex Bezae nog ’n uitstekende bewys van hoe die Bybel tot op ons dag bewaar gebly het.
[Foto-erkennings op bladsy 24]
Bo: By permission of the Syndics of Cambridge University Library
Links: Courtesy of the Trustees of the British Museum