Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g 2/08 bl. 19-22
  • Antieke manuskripte—Hoe word hulle ouderdom vasgestel?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Antieke manuskripte—Hoe word hulle ouderdom vasgestel?
  • Ontwaak!—2008
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Die ontwikkeling van Griekse paleografie
  • Hoe die ouderdom van manuskripte vasgestel word
  • Leidrade uit die handskrif
  • Die datering van belangrike Griekse Bybelmanuskripte
  • ’n Skat uit ’n vullishoop
  • Antiek maar akkuraat!
  • Die Vatikaanse Kodeks—Waarom so kosbaar?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Bewys van goddelike bewaring
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Studie nommer 6—Die Christelike Griekse teks van die Heilige Skrif
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Herwinning van ’n Bybelse skat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Ontwaak!—2008
g 2/08 bl. 19-22

Antieke manuskripte—Hoe word hulle ouderdom vasgestel?

IN 1844 het die Bybelgeleerde Konstantin von Tischendorf die St. Catharina-klooster aan die voet van die berg Sinai in Egipte besoek. Terwyl hy die biblioteke van die klooster gefynkam het, het hy op ’n paar merkwaardige perkamente afgekom. Aangesien Tischendorf ’n kenner op die gebied van paleografiea was, het hy die perkamente herken as blaaie uit die Septuagint, ’n Griekse vertaling van die Hebreeuse Geskrifte, of “Ou Testament”. “Ek het nog nooit iets gesien wat as ouer gereken kon word as hierdie Sinaïtiese blaaie nie”, het hy geskryf.

Daar is vasgestel dat die perkamente, wat deel uitmaak van wat later as die Sinaïtiese Manuskrip (Codex Sinaiticus) bekend geword het, uit die vierde eeu G.J. dateer. Die Sinaïtiese Manuskrip is net een van duisende antieke manuskripte van die Hebreeuse en Griekse Geskrifte, ’n waarlik ontsaglike versameling wat geleerdes kan bestudeer.

Die ontwikkeling van Griekse paleografie

’n Benediktynse monnik, Bernard de Montfaucon (1655-1741), het die grondslag gelê vir die stelselmatige studie van Griekse manuskripte. Ander geleerdes het later hulle bydraes gelewer. Tischendorf het die enorme taak aangepak om ’n lys op te stel van die oudste Griekse Bybelmanuskripte in die biblioteke van Europa. Hy het ook verskeie kere na die Midde-Ooste gereis, honderde dokumente bestudeer en sy bevindinge gepubliseer.

In die 20ste eeu het bykomende hulpmiddele vir paleograwe beskikbaar geword. Een hiervan is die Marcel Richard-lys van sowat 900 katalogusse met beskrywings van 55 000 Griekse manuskripte, Bybels sowel as nie-Bybels, wat aan 820 biblioteke of private eienaars behoort. Hierdie ontsaglike hoeveelheid inligting is nuttig vir vertalers en help ook paleograwe om die ouderdom van manuskripte akkurater vas te stel.

Hoe die ouderdom van manuskripte vasgestel word

Stel jou voor dat jy die solder van ’n ou huis skoonmaak en ’n handgeskrewe, ongedateerde brief vind wat geel is van die ouderdom. ‘Hoe oud is dit?’ wonder jy. Dan sien jy ’n ander ou brief. Die algemene styl, handskrif, leestekens en ander kenmerke is soortgelyk aan dié van die eerste brief. Maar jy is bly om te sien dat die tweede brief wel ’n datum op het. Hoewel jy nie kan vasstel in watter jaar die eerste brief geskryf is nie, het jy nou moontlik ’n nuttige leidraad om te skat wanneer die ongedateerde brief min of meer geskryf is.

Die meeste eertydse kopiïste het nie die datum van voltooiing op hulle kopieë van Bybelmanuskripte geskryf nie. Om ’n benaderde datum vas te stel, vergelyk geleerdes die tekste met ander werke, insluitende antieke nie-Bybelse dokumente waarvan die datums bekend is, en dan maak hulle afleidings op grond van die handskrif, leestekens, afkortings, ensovoorts. Etlike honderde gedateerde manuskripte is egter al gevind. Die manuskripte is van omstreeks 510 G.J. tot 1593 G.J. in Grieks geskryf.

Leidrade uit die handskrif

Paleograwe verdeel antieke Griekse handskrif in twee basiese kategorieë—boekskrif, wat elegant en formeel is, en kursief, ’n lopende, of vloeiende, skrif wat in nie-literêre dokumente gebruik is. Griekse kopiïste het ook verskeie lettertipes gebruik, wat geklassifiseer kan word as kapitale, unsiale (’n soort hoofletter), kursiewe en minuskels. Een soort boekskrif, unsiaalskrif, is van die vierde eeu v.G.J. tot die agtste of negende eeu G.J. gebruik. Minuskelskrif, ’n soort boekskrif in kleinletters, is van die 8ste of 9de eeu G.J. tot die middel van die 15de eeu gebruik, toe drukwerk met los letters in Europa begin het. Minuskelskrif kon vinniger geskryf word en het minder plek opgeneem, wat tyd sowel as perkament bespaar het.

Paleograwe het hulle voorkeure wanneer dit kom by metodes om manuskripte se ouderdom vas te stel. Oor die algemeen kry hulle eers ’n geheelbeeld van die skrif, en dan ondersoek hulle dit van naderby en ontleed hulle die individuele letters. Omdat dit gewoonlik lank geneem het vir groot veranderinge om in die algemene skrifstyl plaas te vind, gee ’n nadere ondersoek van die skrif, hoewel dit van nut is, net ’n breë aanduiding van wanneer dit geskryf is.

Gelukkig is daar ander maniere om ’n presieser datum vas te stel. Dit sluit in dat sekere skrifkonvensies geïdentifiseer word en daar vasgestel word wanneer dit in gebruik gekom het. Byvoorbeeld, in Griekse tekste ná 900 G.J. het kopiïste meer ligature (waar twee of meer karakters aanmekaargeskryf word) begin gebruik. Kopiïste het ook infralineêre skrif begin gebruik (waar sekere Griekse letters onder die reël geskryf is) sowel as asemtekens, wat die leser gehelp het om die woorde reg uit te spreek.

’n Persoon se handskrif bly gewoonlik sy hele lewe lank min of meer dieselfde. Die ouderdom van tekste kan dus dikwels net tot op die naaste 50 jaar vasgestel word. Wat meer is, kopiïste het soms vroeëre manuskripte as voorbeelde gebruik, wat die kopie ouer laat lyk as wat dit is. Maar ten spyte van al die uitdagings is die ouderdom van ’n aantal belangrike Bybelmanuskripte vasgestel.

Die datering van belangrike Griekse Bybelmanuskripte

Die Aleksandrynse Manuskrip (Codex Alexandrinus), wat nou in die Britse Biblioteek gehou word, was die eerste van die belangrike Bybelmanuskripte wat aan geleerdes beskikbaar gestel is. Dit sluit die meeste van die Bybel in en is in Griekse unsiale op velyn, ’n fyn soort perkament, geskryf. Daar is vasgestel dat hierdie kodeks uit die vroeë vyfde eeu G.J. dateer, hoofsaaklik na aanleiding van veranderinge wat tussen die vyfde en sesde eeu in unsiaalskrif plaasgevind het en waarvan voorbeelde gevind kan word in ’n gedateerde dokument wat die Dioscorides van Wene genoem word.b

’n Tweede belangrike manuskrip wat aan geleerdes beskikbaar gestel is, is die Sinaïtiese Manuskrip (Codex Sinaiticus), wat Tischendorf by die St. Catharina-klooster ontdek het. Dit is in Griekse unsiale op perkament geskryf en bevat ’n deel van die Hebreeuse Geskrifte uit die Griekse Septuagint sowel as die hele Christelike Griekse Geskrifte. Dele van hierdie kodeks word op verskillende plekke gehou: 43 blaaie in Leipzig, Duitsland; 347 in die Britse Biblioteek in Londen; en gedeeltes van 3 blaaie in St. Petersburg, Rusland. Daar is vasgestel dat die manuskrip uit die tweede helfte van die vierde eeu G.J. dateer. Hierdie datum word gestaaf deur tabelle in die kantruimte van die Evangelies wat deur die vierde-eeuse geskiedkundige Eusebius van Sesarea saamgestel is.c

’n Derde belangrike werk is die Vatikaanse Manuskrip nr. 1209 (Codex Vaticanus), wat oorspronklik die hele Bybel in Grieks ingesluit het. Hierdie kodeks het in 1475 vir die eerste keer in die katalogus van die Vatikaanse Biblioteek verskyn. Die kodeks is in Griekse unsiale op 759 blaaie van fyn perkament, of velyn, geskryf en bevat ’n groot deel van die Bybel, met die uitsondering van die meeste van Genesis, ’n deel van die Psalms en dele van die Christelike Griekse Geskrifte. Volgens geleerdes dateer hierdie manuskrip uit die vroeë vierde eeu G.J. Hoe het hulle op hierdie datum besluit? Die skrif is soortgelyk aan dié van die Sinaïtiese Manuskrip, wat ook uit die vierde eeu dateer. Oor die algemeen word die Vaticanus egter as ’n bietjie ouer beskou, onder andere omdat dit nie die kruisverwysings van die Eusebiese kanons het nie.

’n Skat uit ’n vullishoop

In 1920 het die John Rylands-biblioteek van Manchester, Engeland, ’n stapel papirusse in die hande gekry wat kort tevore by ’n antieke Egiptiese vullishoop opgegrawe is. Terwyl die geleerde Colin Roberts die items ondersoek het, wat briewe, kwitansies en sensusdokumente ingesluit het, het hy ’n fragment gesien waarop daar teks was wat hy herken het—’n paar verse uit Johannes hoofstuk 18. Dit was die vroegste Christelike Griekse teks wat tot op daardie stadium geïdentifiseer is.

Die fragment het as die John Rylands-papirus 457 bekend geword, met die internasionale benaming P52. Daar is vasgestel dat die fragment, wat in Griekse unsiale geskryf is, uit die vroeë tweede eeu dateer—net ’n paar dekades ná die oorspronklike opskrifstelling van die Evangelie van Johannes! Dit is betekenisvol dat die teks byna presies ooreenkom met dié van veel latere manuskripte.

Antiek maar akkuraat!

In sy boek The Bible and Archæology het die Britse tekskritikus sir Frederic Kenyon aangaande die Christelike Griekse Geskrifte geskryf: “Die egtheid sowel as die algemene getrouheid van die boeke van die Nuwe Testament kan as ’n finaal bevestigde saak beskou word.” Net so het die geleerde William H. Green die volgende oor die getrouheid van die Hebreeuse Geskrifte gesê: “Daar kan met sekerheid gesê word dat geen ander werk van die ou tyd so akkuraat oorgedra is nie.”

Hierdie opmerkings laat ’n mens dink aan die woorde van die apostel Petrus: “Alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid daarvan is soos ’n grasbloeisel; die gras verdor en die blom val af, maar die woord van Jehovah bly vir ewig.”—1 Petrus 1:24, 25.

[Voetnote]

a “Paleografie . . . is die studie van antieke en Middeleeuse handskrif. Dit behels hoofsaaklik die studie van skrif op bederfbare materiale, soos papirus, perkament of papier.”—The World Book Encyclopedia.

b Die Dioscorides van Wene is vir ’n sekere Juliana Anicia geskryf, wat óf in 527 óf in 528 G.J. oorlede is. Die dokument “is die vroegste voorbeeld van unsiaalskrif op velyn waaraan ’n benaderde datum geheg kan word”.—An Introduction to Greek and Latin Palaeography, deur E. M. Thompson.

c Die sogenaamde Eusebiese kanons is ’n stel tabelle, of ’n kruisverwysingstelsel, “om te toon watter gedeeltes in elke Evangelie ooreenkom met gedeeltes in ander Evangelies”.—Manuscripts of the Greek Bible, deur Bruce M. Metzger.

[Lokteks op bladsy 21]

Deur gedateerde manuskripte noukeurig te bestudeer, kan paleograwe vasstel hoe oud ongedateerde manuskripte is

[Venster op bladsy 20]

Die datering van die Dooie See-rol van Jesaja

Die eerste Dooie See-rol van die Bybelboek Jesaja, wat in 1947 ontdek is, is op leer geskryf in ’n pre-Masoretiese Hebreeuse skrif. Daar is vasgestel dat dit aan die einde van die tweede eeu v.G.J. geskryf is. Hoe het geleerdes op hierdie datum besluit? Hulle het die skrif vergelyk met ouer Hebreeuse tekste en inskripsies en dit ’n paleografiese datum van tussen 125 v.G.J. en 100 v.G.J. gegee. Koolstof-14-datering van die boekrol het bykomende bewyse voorsien.

Dit is merkwaardig dat ’n vergelyking van die Dooie See-rolle met die Masoretiese teks, wat eeue later voorberei is deur kopiïste wat die Masorete genoem word, geen verandering in die leerstellings toon nie.d Baie van die verskille is bloot in spelling en grammatika. Wat ook noemenswaardig is, is die feit dat die Tetragrammaton—die vier Hebreeuse konsonante waaruit die goddelike naam, Jehovah, bestaan—deurgaans in die Jesaja-rol voorkom.

[Voetnoot]

d Die Masorete, wat besonder pligsgetroue Joodse kopiïste was, het gedurende die tweede helfte van die eerste millennium G.J. gelewe.

[Tabel/Prente op bladsy 20, 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Griekse handskrif

Boekskrif (unsiaal)

Van die 4de eeu v.G.J. tot die 8ste of 9de eeu G.J.

Minuskel

Van die 8ste of 9de eeu G.J. tot die 15de eeu G.J.

Belangrike manuskripte

400

200

Dooie See-rol

Tweede helfte van die 2de eeu v.G.J.

v.G.J.

G.J.

100

John Rylands- papirus 457

125 G.J. 300

Vatikaanse Manuskrip nr. 1209

Vroeë 4de eeu

Sinaïtiese Manuskrip

Die 4de eeu

400

Aleksandrynse Manuskrip

Vroeë 5de eeu

500

700

800

[Prente op bladsy 19]

Bo: Konstantin von Tischendorf

Regs: Bernard de Montfaucon

[Erkenning]

© Réunion des Musées Nationaux/Art Resource, NY

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Dooie See-rol: Shrine of the Book, Israel Museum, Jerusalem

[Foto-erkennings op bladsy 21]

Tipografiese faksimilee van die Vatikaanse Manuskrip nr. 1209: From the book Bibliorum Sacrorum Graecus Codex Vaticanus, 1868; Reproduksie van die Sinaïtiese Manuskrip: 1 Timothy 3:16, as it appears in the Codex Sinaiticus, 4th century C.E.; Aleksandrynse Manuskrip: From The Codex Alexandrinus in Reduced Photographic Facsimile, 1909, by permission of the British Library

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel