Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w09 10/1 bl. 18-20
  • Die Vatikaanse Kodeks—Waarom so kosbaar?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die Vatikaanse Kodeks—Waarom so kosbaar?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n Verborge skat
  • ‘Sorgvuldig bewaar’
  • Nuttig vir vertalers
  • “Dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan”
  • Die raaisel van die Vatikaanse Kodeks
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Codex Bezae—’n unieke manuskrip
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Herwinning van ’n Bybelse skat
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Antieke manuskripte—Hoe word hulle ouderdom vasgestel?
    Ontwaak!—2008
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
w09 10/1 bl. 18-20

Die Vatikaanse Kodeks—Waarom so kosbaar?

DIE Vatikaan is vol kosbare items. Sy muurskilderye, beeldhouwerk en argitektuur word bewonder vir die prag en luisterrykheid daarvan. Maar dit was honderde jare lank bykans onmoontlik om toegang tot een van sy grootste skatte te verkry. In die Vatikaanse Biblioteek is daar ’n kosbare manuskrip wat lig werp op dele van God se Woord wat duisende jare gelede geskryf is. Dit staan bekend as die Vatikaanse Kodeks.a

Die Aleksandrynse en Sinaïtiese kodeks, twee ander vroeë Bybelmanuskripte wat hoog aangeskryf word deur geleerdes, het ’n baie interessante geskiedenis van hoe dit ontdek is en van vernietiging gered is. Maar wat die oorsprong van die Vatikaanse Kodeks betref, is daar nie baie duidelikheid nie.

’n Verborge skat

Waar het die Vatikaanse Kodeks vandaan gekom? Die vroegste verwysing daarna is ’n 15de-eeuse inskrywing in die Vatikaanse Biblioteekkatalogus. Geleerdes meen dat dit moontlik in Egipte, Sesarea of selfs Rome geskryf is. Maar nadat professor J. Neville Birdsall van die Universiteit van Birmingham, Engeland, hierdie teorieë ondersoek het, het hy tot die slotsom gekom: “Kortom, ons kan nie die presiese datum of die plek van oorsprong van die Codex Vaticanus met sekerheid vasstel nie, en ook kan daar, ten spyte van geleerdes se pogings, nie vasgestel word wat die geskiedenis daarvan voor die vyftiende eeu is nie.” Die Vatikaanse Kodeks is nietemin al een van die belangrikste Bybelmanuskripte genoem. Waarom?

Deur die eeue heen het sommige kopiïste foute in die Bybelteks laat insluip. Die uitdaging vir vertalers wat na tekstuele akkuraatheid soek, is dus om betroubare manuskripte te vind wat oordra wat in die oorspronklike geskrifte voorgekom het. Stel jou dus voor hoe gretig geleerdes was om die Vatikaanse Kodeks te ondersoek, ’n Griekse manuskrip wat uit die vierde eeu HJ dateer, minder as 300 jaar nadat die Bybel voltooi is! Hierdie kodeks bevat ’n volledige teks van die Hebreeuse en die Christelike Griekse Geskrifte, buiten ’n paar gedeeltes wat met verloop van tyd verlore geraak het.

Die Vatikaanse owerheid was baie lank teësinnig om die kodeks aan Bybelgeleerdes beskikbaar te stel. Die hoogaangeskrewe teksgeleerde sir Frederic Kenyon het gesê: “In 1843 is [die Bybelgeleerde Konstantin von] Tischendorf, nadat hy etlike maande gewag het, toegelaat om ses uur lank daarna te kyk. . . . In 1845 is die beroemde Engelse geleerde Tregelles wel toegelaat om daarna te kyk, maar nie om ’n woord daarvan af te skryf nie.” Tischendorf het aansoek gedoen om die kodeks weer te sien, maar nadat hy 20 bladsye gekopieer het, is die toestemming herroep. Maar soos Kenyon berig het, kon Tischendorf “nadat hy weer ’n versoek gerig het, die kodeks nog ses dae lank bestudeer, wat altesaam op veertien dae van drie uur elk te staan gekom het; en deur sy tyd ten beste te benut, kon Tischendorf in 1867 die akkuraatste uitgawe van die manuskrip wat nog verskyn het, publiseer”. Die Vatikaan het later ’n beter kopie van die kodeks beskikbaar gestel.

‘Sorgvuldig bewaar’

Watter soort teks is in die Vatikaanse Kodeks gevind? The Oxford Illustrated History of the Bible sê dat dit “getuig van konsekwente spelling sowel as akkurate kopiëring en goeie gehalte in die teks wat noukeurig op hierdie manier gekopieer is”. Dieselfde naslaanwerk sê verder: “Die gevolgtrekking kan dus gemaak word dat hierdie teks die produk is van ’n tradisie van kundige kopiëring.”

Twee noemenswaardige geleerdes wat beïndruk was deur die voortreflikhede van die Vatikaanse Kodeks was B.F. Westcott en F.J.A. Hort. Hulle New Testament in the Original Greek, wat in 1881 vrygestel is en op die Vatikaanse en Sinaïtiese manuskripte gebaseer is, is nog steeds die hoofteks vir verskeie moderne vertalings van die Christelike Griekse Geskrifte, waaronder The Emphasised Bible, deur J.B. Rotherham, en die New World Translation.

Party kritici het egter gedink dat Westcott en Hort se vertroue in die Vatikaanse Kodeks misplaas was. Was die kodeks ’n akkurate weergawe van die oorspronklike teks? Die publisering van die Bodmer-papirusse, tussen 1956 en 1961, het geleerdes gaande gehad, omdat die papirusse gedeeltes van Lukas en Johannes ingesluit het wat uit die vroeë derde eeu HJ dateer. Sou hierdie papirusse bevestig wat later in die Vatikaanse Kodeks voorgekom het?

“Daar is ’n merkwaardige ooreenkoms tussen die teks van die Vaticanus en die teks wat van die Bodmer-papirusse behoue gebly het”, het Philip B. Payne en Paul Canart in Novum Testamentum geskryf. “In die lig van hierdie ooreenkoms is dit redelik om tot die slotsom te kom dat die oorspronklike kopiïs van die Vaticanus ’n manuskrip gekopieer het wat ’n noue verband gehad het met die Bodmer-papirusse. Die kopiïs moes derhalwe ’n baie ou manuskrip gekopieer het of een wat op ’n baie ou manuskrip gebaseer was.” Professor Birdsall het gesê: “Daar is ’n noue verband tussen die twee manuskripte. . . . [Die Kodeks] is ’n noukeurige teks: die redigering daaragter getuig van ’n tradisie om dit wat ontvang is, sorgvuldig te bewaar.”

Nuttig vir vertalers

Die oudste manuskrip is natuurlik nie altyd die naaste aan die oorspronklike teks nie. Maar ’n vergelyking van die Vatikaanse Kodeks met ander manuskripte is van groot nut vir geleerdes omdat hulle daardeur kan bepaal wat in die oorspronklike teks voorgekom het. Byvoorbeeld, die meeste van die geskiedkundige boeke vanaf Genesis tot 1 Kronieke ontbreek in die deel wat behoue gebly het van die Sinaïtiese Manuskrip, wat ook uit die vierde eeu HJ dateer. Maar die feit dat hulle in die Vatikaanse Kodeks verskyn, help om hulle regmatige plek in die Bybelkanon te bevestig.

Volgens The Oxford Illustrated History of the Bible was “gedeeltes oor die identiteit van Christus en oor die heilige Drie-eenheid” besonder omstrede onder geleerdes. Hoe het die Vatikaanse Kodeks hierdie gedeeltes help opklaar?

Beskou ’n voorbeeld. Soos opgeteken in Johannes 3:13, het Jesus gesê: “Geen mens het in die hemel opgevaar nie, behalwe hy wat uit die hemel neergedaal het, die Seun van die mens.” Party vertalers het die woorde “wat in die hemel is”, bygevoeg. Hierdie bygevoegde woorde gee te kenne dat Jesus terselfdertyd in die hemel en op die aarde was—’n gedagte wat die idee van die Drie-eenheid steun. Hierdie bygevoegde frase verskyn in ’n paar manuskripte uit die vyfde en tiende eeu HJ. Maar omdat dit nie in die vroeëre Vatikaanse en Sinaïtiese manuskripte verskyn nie, het talle hedendaagse vertalers die sinsdeel uitgehaal. Dit ruim verwarring oor die identiteit van Christus uit die weg en stem ooreen met die res van die Skrif. Jesus was nie terselfdertyd op twee plekke nie, maar het eerder uit die hemel gekom en sou kort daarna na die hemel terugkeer, na sy Vader ‘opvaar’.—Johannes 20:17.

Die Vatikaanse Kodeks werp ook lig op verse oor God se voorneme met die aarde. Beskou ’n voorbeeld. Volgens die King James Version het die apostel Petrus voorspel dat “ook die aarde en die werke daarin verbrand sal word” (2 Petrus 3:10). Ander vertalings sê iets soortgelyks en baseer hierdie vertaling op die vyfde-eeuse Aleksandrynse Kodeks en latere manuskripte. Talle opregte Bybellesers het gevolglik tot die slotsom gekom dat God die aarde sal vernietig.

Maar ongeveer ’n eeu voordat die Aleksandrynse Kodeks verskyn het, het die Vatikaanse Kodeks (en die Sinaïtiese Manuskrip van dieselfde tydperk) Petrus se profesie weergegee as “die aarde en die werke daarin sal ontdek word”. Stem dit ooreen met die res van die Bybel? Beslis! Niks sal die letterlike aarde “tot onbepaalde tyd of tot in ewigheid . .  laat wankel nie” (Psalm 104:5). Hoe sal die aarde dan “ontdek” word? Ander tekste toon dat die uitdrukking “aarde” figuurlik gebruik kan word. “Die aarde” kan ’n taal praat en liedere sing (Genesis 11:1; Psalm 96:1). Die “aarde” kan dus na die mensdom, of mensegemeenskap, verwys. Is dit nie vertroostend om te weet dat God nie ons planeet sal vernietig nie, maar goddeloosheid en diegene wat dit bevorder, sal blootlê en vernietig?

“Dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan”

Ongelukkig was toegang tot die Vatikaanse Kodeks eeue lank uiters beperk, en Bybellesers is dikwels mislei oor die ware betekenis van sekere Bybeltekste. Maar die Vatikaanse Kodeks en moderne, betroubare Bybelvertalings het sedert hulle vrystelling waarheidsoekers gehelp om uit te vind wat die Bybel werklik leer.

Vroeë kopiïste het dikwels die volgende aantekening in hulle manuskripte ingesluit: “Die hand wat [dit] geskryf het, sal in ’n graf vergaan, maar wat geskryf is, bly deur die jare heen staan.” Vandag waardeer ons die onvermoeide pogings van daardie anonieme kopiïste. Maar die eer vir die feit dat die Bybel behoue gebly het, gaan uiteindelik aan die Outeur daarvan wat sy profeet lank gelede geïnspireer het om te skryf: “Die groen gras het verdroog, die bloeisel het verwelk; maar wat die woord van ons God betref, dit sal tot onbepaalde tyd bly bestaan.”—Jesaja 40:8.

[Voetnoot]

a Die Vatikaanse Kodeks word ook die Vatikaanse Manuskrip 1209 of Codex Vaticanus genoem en word deur die meeste geleerdes as “B” aangedui. Die kodeks was die voorloper van die hedendaagse boek. Sien “Van boekrol tot kodeks—Hoe die Bybel ’n boek geword het”, in hierdie tydskrif se nommer van 1 Junie 2007.

[Venster op bladsy 20]

Datering van eertydse manuskripte

Hoewel party kopiïste die datum neergeskryf het waarop hulle hulle werk voltooi het, bevat die meeste Griekse manuskripte nie hierdie spesifieke inligting nie. Hoe bepaal geleerdes dus wanneer ’n Bybelmanuskrip geskryf is? Net soos taal en kuns van een geslag na die volgende verskil, verskil handskrif ook. Byvoorbeeld, unsiale letters, wat gekenmerk word deur geronde hoofletters en gelyke teksreëls, is teen die vierde eeu gebruik en het honderde jare lank in gebruik gebly. Noulettende geleerdes wat ongedateerde unsiale manuskripte met soortgelyke gedateerde dokumente vergelyk, kan met groter akkuraatheid vasstel wanneer vroeë manuskripte geskryf is.

Hierdie metode het natuurlik sy beperkings. Professor Bruce Metzger van die Princeton-Kweekskool het gesê: “Aangesien die styl van ’n persoon se handskrif moontlik dwarsdeur sy lewe min of meer dieselfde bly, is dit onrealisties om ’n datum te probeer vasstel sonder om ’n speling van vyftig jaar toe te laat.” Op grond van hierdie sorgvuldige ontleding stem geleerdes oor die algemeen saam dat die Vatikaanse Kodeks uit die vierde eeu HJ dateer.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel