Vrae van lesers
◼ Moet ons uit Mattheüs 7:13, 14 en Lukas 13:24 aflei dat die meeste mense, selfs in die opstanding, ware aanbidding sal verwerp?
Nee, hierdie verse steun nie daardie gevolgtrekking nie. Dit hou eerder verband met die verkryging van lewe in die hemelse Koninkryk.
Jesus se woorde in Mattheüs 7:13, 14 maak deel uit van die Bergpredikasie. Hy het gesê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind.”
Heelwat van die dinge wat Jesus by daardie geleentheid gesê het, hou spesifiek met die hemelse Koninkryk verband. Hy het byvoorbeeld met die woorde begin: “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” Hy het gesê dat die reines van hart ‘God sal sien’ en dat “die koninkryk van die hemele” aan diegene behoort wat “vervolg word ter wille van die geregtigheid” (Mattheüs 5:3, 8, 10). Later in daardie selfde toespraak, het Jesus gepraat van die wye pad wat na die verderf lei en die smal pad wat na die lewe lei. Hy het onder andere bygevoeg: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.”—Mattheüs 7:13, 14, 21.
Die konteks van Lukas 13:24 toon dat dit ’n soortgelyke betekenis het. Jesus het twee gelykenisse oor “die koninkryk van God” vertel. Later is hy gevra: “Here, is die wat gered word, min?” Jesus het geantwoord: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort, want baie, sê Ek vir julle, sal probeer om in te gaan en sal nie in staat wees nie.” “Baie” dui op mense wat gesmeek het om ingelaat te word nadat ’n deur toegemaak en gesluit is. Hulle was “werkers van die ongeregtigheid” wat nie aan die vereistes voldoen het om saam met “Abraham en Isak en Jakob en al die profete in die koninkryk van God” te wees nie. Die “baie” het gedink dat hulle eerste sou wees “in die koninkryk van God”, maar hulle sou in werklikheid laaste wees, wat klaarblyklik beteken dat hulle glad nie daarin sal wees nie.—Lukas 13:18-30.
Die konteks toon dat Jesus gepraat het oor toelating tot God se hemelse Koninkryk. Joodse leiers van daardie dag het lank reeds ’n bevoorregte posisie gehad, met vry toegang tot God se Woord. Hulle het gedink dat hulle geestelik ryk en in God se oë regverdig was, in teenstelling met die gewone mense, van wie hulle min gedink het (Johannes 9:24-34). Maar Jesus het gesê dat tollenaars en hoere wat sy boodskap aanvaar het en berou gehad het God se goedkeuring kon kry.—Vergelyk Mattheüs 21:23-32; Lukas 16:14-31.
Gewone mense wat Jesus se dissipels geword het, is die geleentheid gegun om as geestelike seuns aanvaar te word toe die hemelse roeping met Pinkster 33 G.J. oopgegaan het (Hebreërs 10:19, 20). Hoewel groot skares Jesus gehoor het, het min hom aanvaar en later die hemelse hoop gekry. Maar die klein kuddetjie geesverwekte mense wat daardie beloning ontvang, kan vergelyk word met Jakob wat in die hemel aan tafel is saam met Jehovah (die Grotere Abraham) en sy Seun (wat deur Isak afgebeeld word). Dit was beslis die moeite werd om ’n mens se kragte daarvoor in te span, maar die meeste wat Jesus gehoor het, het dit nie gedoen nie.
Ons kan gevolglik uit die konteks van albei gevalle sien dat Jesus se woorde (oor die feit dat daar min is op die smal pad wat na die lewe lei en wat gered word) hoofsaaklik betrekking gehad het op die verkryging van God se goedkeuring in daardie tyd toe Hy die hoop op hemelse lewe uitgehou het. Betreklik min wat die waarheidsboodskap gehoor het en geleer het wat vereis word, het daarop ag gegee en getrou gebly.—Mattheüs 22:14; 24:13; Johannes 6:60-66.
Dit is interessant dat daar selfs vandag, terwyl die hele Bybel beskikbaar is en daar ’n oorvloed van goddelike profesieë oor die laaste dae is wat vervul word, betreklik min is wat op die Christelike boodskap reageer en in Jehovah se diens volhard. Dit strook met Jesus se gelykenis oor die verskillende soorte grond. Hy het gesê dat party “die woord van die koninkryk” sal hoor, maar dat Satan dit wat gesaai is, sal wegruk. Ander sal die woord met blydskap aanvaar, maar sal mettertyd weens verdrukking of vervolging swig. Nog ander sal onvrugbaar wees weens “die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom”.—Mattheüs 13:18-23.
Dit sal beslis baie anders wees wanneer miljoene der miljoene gedurende die Oordeelsdag opgewek word. Dan sal Satan nie vry wees sodat hy die sade van waarheid wat in hulle hart gesaai word, kan wegruk nie. Hulle sal nie vervolging of die sorge van die huidige bose stelsel hoef te verduur nie. Hulle sal in ’n regverdige milieu onderrig word, omring deur God se wonderdade, onder andere die opstanding van die dode en die genesing van die nasies. Party sal weliswaar nie eers dan reageer nie. (Vergelyk Johannes 11:45-53.) Maar daar is goeie rede om te dink dat die meerderheid die woord sal verstaan, daarop sal reageer en gered sal word.