Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 4/1 bl. 4-6
  • Wat is die kans op vrede?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die kans op vrede?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrede deur godsdiens en die wet
  • Verdere vredespogings
  • ’n Onsigbare krag wat vrede teëwerk
  • Ware vrede—Uit watter bron?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Hoe vrede op aarde kan kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • Laat “die vrede van God” jou hart bewaar
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Wie sal die mensdom na vrede lei?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 4/1 bl. 4-6

Wat is die kans op vrede?

ONDANKS die koerantopskrifte is die waarheid, soos die meeste van ons besef, dat die mensdom nog baie ver van ware vrede af is. Die onttrekking van buitelandse leërs aan Afganistan het nie vrede in daardie land gebring nie. En daar is steeds konflikte van die een of ander aard in die Filippyne, Soedan, Israel, Noord-Ierland, Libanon en Sri Lanka, om net ’n paar plekke te noem.

Waarom is vrede so ontwykend, aangesien die meeste mense met gesonde verstand vrede bo oorlog verkies? Politici het deur baie eeue heen op baie maniere vrede probeer bring, maar hulle pogings het altyd misluk. Waarom? Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

Vrede deur godsdiens en die wet

Sommige meen dat die Romeinse Ryk ’n suksesvolle poging aangewend het om vrede te bewerkstellig. Onder die Romeinse Ryk het ’n kombinasie van gevestigde wette, ’n aanpasbare administrasie, formidabele legioene en goeie paaie ’n paar eeue lank internasionale stabiliteit bekend as die Pax Romana (Romeinse Vrede) oor groot dele van Wes-Asië, Afrika en Europa gehandhaaf. Maar op die ou end het die Romeinse Ryk voor interne korrupsie en invalle van buite geswig, en die Romeinse Vrede het in duie gestort.

Dit lig ’n hartseer waarheid in verband met mensepogings toe. Na ’n aanvanklik veelbelowende begin versleg dit gewoonlik. God self het gesê: “Die neiging van die mens se hart is sleg van sy jeug af” en hierdie slegte neiging seëvier gewoonlik op die lange duur (Genesis 8:21, NW). Boonop het die profeet Jeremia gesê: “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Mense is onvoorspelbaar. Die goeie voornemens van een persoon kan deur ander se jaloesie of selfsugtige strewes ondermyn word. Of ’n heerser met hoë beginsels kan self korrup word. Hoe kan mense dan ooit vrede bring?

In die derde eeu v.G.J. was daar ’n merkwaardige vredespoging op die Indiese subkontinent. Daar het ’n magtige heerser genaamd Asjoka ’n reuseryk deur oorlogvoering en bloedvergieting opgebou. Toe is hy, volgens wat bekend is, tot die beginsels van die Boeddhisme bekeer. Hy het oorlog verwerp en monumente in sy domein opgerig met inskripsies daarop om sy onderdane te help om beter lewens te lei. En sy ryk was blykbaar vreedsaam en voorspoedig.

Is Asjoka se weg die weg tot vrede? Nee, ongelukkig nie. Toe die keiser gesterf het, het sy vrede saam met hom verdwyn, en sy ryk het verbrokkel. Dit lig toe dat selfs die strewe van ’n welmenende en bekwame heerser uiteindelik verydel word omdat hy moet sterf. Die skrywer van Prediker het melding gemaak van hierdie probleem toe hy geskryf het: “Ek het gehaat al my arbeid . . . dat ek dit moet oorlaat aan ’n mens wat ná my sal kom. En wie weet of hy ’n wyse sal wees of ’n dwaas? Tog sal hy heers oor al my arbeid wat ek met moeite verrig en met wysheid verwerf het onder die son. Ook dit is dan tevergeefs.”—Prediker 2:18, 19.

Ja, die mens se sterflikheid sal hom altyd verhinder om blywende vrede te bring. Die psalmis gee waarlik wyse raad in hierdie verband: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.”—Psalm 146:3, 4.

Verdere vredespogings

Ander mensepogings lig eweneens toe waarom die mens se strewe om vrede te bring misluk. In die tiende eeu is ’n beweging genaamd die Godsvrede byvoorbeeld in Europa gestig. Die doelstelling daarvan was om kerkeiendom te beskerm, en dit het ontwikkel tot ’n soort nie-aanvalsverdrag wat teen die middel van die 12de eeu na ’n groot deel van Europa uitgebrei het.

’n Ander konsep word die “magsewewig” genoem. ’n Gemeenskap van nasies—soos Europa—wat hierdie beleid volg, ontmoedig oorlog deur ’n min of meer ewewigtige verspreiding van mag onder die state te handhaaf. As ’n sterk nasie ’n swak nasie bedreig, sluit ’n ander sterk nasie tydelik ’n alliansie met die swakker nasie om die potensiële aanvaller af te skrik. Hierdie beleid het Europese betrekkinge van die einde van die Napoleontiese oorloë tot die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 gerig.

Na daardie oorlog is die Volkebond tot stand gebring as ’n forum waarin die nasies oor hulle verskille kon praat pleks van daaroor te veg. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog het die Volkebond opgehou funksioneer, maar na die oorlog is sy gees verlewendig in die Verenigde Volke, wat steeds bestaan.

Nie een van hierdie pogings het egter daarin geslaag om ware of blywende vrede te bring nie. Terwyl die Godsvrede-beweging in Europa bestaan het, het die Europeërs in bloedige Kruistogte teen die Moslems geveg. En terwyl politici in Europa deur die magsewewig vrede probeer handhaaf het, het hulle in lande buite Europa oorlog gevoer en ryke opgebou. Die Volkebond kon nie die Tweede Wêreldoorlog keer nie, en die Verenigde Volke het nie die wrede slagtings in Kampuchea of konflikte in plekke soos Korea, Nigerië, Viëtnam en Zaïre gekeer nie.

Ja, tot nou toe het die politici se beste vredespogings misluk. Heersers weet eenvoudig nie hoe om blywende vrede te maak nie, aangesien hulle eie sterflikheid en menslike tekortkominge, asook dié van ander, hulle belemmer. Maar selfs al was dit nie die geval nie, sou politici steeds nie vrede kon bring nie. Waarom nie? Weens ’n ander, waarlik formidabele, struikelblok.

’n Onsigbare krag wat vrede teëwerk

Die Bybel praat van hierdie struikelblok en sê: ‘Die hele wêreld lê in die mag van die Bose’ (1 Johannes 5:19). Die Bose is Satan die Duiwel, ’n bomenslike geesskepsel wat baie magtiger as ons is. Satan was van die begin af betrokke by rebellie, leuens en moord (Genesis 3:1-6; Johannes 8:44). Sy kragtige, dog verborge, invloed op wêreldaangeleenthede word deur ander geïnspireerde kommentators bevestig. Paulus het hom “die god van hierdie wêreld”, “die owerste van die mag van die lug”, genoem (2 Korinthiërs 4:4; Efesiërs 2:2). Jesus het hom meer as een maal “die owerste van hierdie wêreld” genoem.—Johannes 12:31; 14:30; 16:11.

Aangesien die wêreld in Satan se mag lê, is dit gans onmoontlik dat politici blywende vrede sal bring. Beteken dit dat daar nooit vrede sal kom nie? Kan enigiemand die mensdom na vrede lei?

[Lokteks op bladsy 5]

Hoe verstandig en beginselvas ’n heerser ook al is, hy sterf uiteindelik, en dikwels neem ander wat minder bekwaam en beginselvas is oor

[Lokteks op bladsy 6]

Die grootste enkele struikelblok vir vrede is Satan die Duiwel

[Foto-erkenning op bladsy 5]

U.S. National Archives photo

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel