Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 5/1 bl. 18-23
  • Jou beskouing van die siel raak jou lewe

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jou beskouing van die siel raak jou lewe
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Met ’n onsterflike siel geskep?
  • Die Bybel se gebruik van “siel”
  • Baie geleerdes stem saam
  • Nie die Bybel nie, maar filosofie
  • Lewe die siel na die dood voort?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Wat is die siel?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die siel volgens die Bybel
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
  • Mite 1: Die siel is onsterflik
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 5/1 bl. 18-23

Jou beskouing van die siel raak jou lewe

“Die mens [het] ’n lewende siel geword.”—GENESIS 2:7.

1, 2. Wat glo die meeste godsdienste aangaande die mens en die siel?

FEITLIK alle godsdienste leer dat die mens ’n onsterflike siel het. Die New Catholic Encyclopedia sê dat die siel “deur God geskep en met bevrugting in die liggaam ingeplant word”. Dit sê ook dat die leerstelling oor die onsterflike siel “een van die hoekstene” van die Christendom se kerke is. The New Encyclopœdia Britannica sê dat “die Moslem-konsep” eweneens “die beskouing behels dat die siel saam met die liggaam tot stand kom; daarna het dit sy eie lewe, aangesien sy eenwording met die liggaam ’n tydelike toestand is”.

2 Sulke godsdienste glo dat wanneer die liggaam sterf die siel dit verlaat en vir ewig voortleef, met hemelse saligheid, ’n tydelike verblyf in die vaevuur of ewige pyniging in ’n brandende hel as sy lotsbestemming. Die dood word beskou as die deur tot ewige lewe in die geesteryk. Soos een skrywer gesê het in die boek We Believe in Immortality: “Ek beskou die Dood as ’n groot en glorieryke avontuur. Ek beskou die Dood as goddelike bevordering.”

3. Wat is die opvatting van verskeie Oosterse godsdienste?

3 Hindoes, Boeddhiste en ander glo in transmigrasie. Dit sluit die opvatting in dat die siel by die dood gereïnkarneer word, weer gebore word as ’n ander mens of ’n ander lewende ding. As iemand goed was, word sy siel glo weer gebore as iemand van ’n hoër stand. Maar as hy sleg was, sal hy weer gebore word as iemand van ’n laer stand of selfs as ’n dier of ’n insek.

4, 5. Waarom is dit belangrik om die waarheid oor die siel te weet?

4 Maar sê nou ’n mens het nie ’n onsterflike siel nie? Sê nou die dood is nie “goddelike bevordering” nie, nie die onmiddellike deur tot ewige geeslewe of tot reïnkarnasie vir almal wat sterwe nie? Dan sal die opvatting dat die siel onsterflik is ’n mens in die verkeerde rigting lei. Die boek Official Catholic Teachings sê dat die kerk by hierdie opvatting volhard omdat “sy gebede, sy begrafnisritusse en die godsdiensofferdade vir die dooies sinloos en onverstaanbaar sal wees” as hulle nie daaraan glo nie. ’n Mens se lewenswandel, aanbidding en ewige toekoms is dus hierby betrokke.—Spreuke 14:12; Mattheüs 15:9.

5 Dit is belangrik om die waarheid oor hierdie opvatting te weet. Jesus het gesê: “Die wat [God] aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:24). Die waarheid oor die mensesiel word in God se Woord, die Bybel, gevind. Die geïnspireerde Skrif bevat God se openbaring van sy voornemens en ons kan dus vol vertroue wees dat dit ons die waarheid vertel (1 Thessalonicense 2:13; 2 Timotheüs 3:16, 17). Jesus het in gebed tot God gesê: “U woord is die waarheid.”—Johannes 17:17.

Met ’n onsterflike siel geskep?

6. Wat deel die Genesisverslag ons uitdruklik mee oor die skepping van die mens?

6 Genesis 2:7 deel ons mee: “Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” Die verslag sê nie dat God ’n onsterflike siel in die mens ingeplant het nie. Dit sê dat Adam “’n lewende siel geword” het toe sy liggaam met God se krag gevul is. Die mens is dus ’n siel. Hy het nie ’n siel nie.

7. Waarom is mense op die aarde geplaas?

7 God het Adam geskep om op die aarde te lewe, nie in die hemel nie. Die aarde sou nie bloot ’n toetsterrein wees om te sien of Adam geskik is vir die hemel nie. God het die aarde geformeer “om bewoon te word”, en Adam was die aarde se eerste menslike bewoner (Jesaja 45:18; 1 Korinthiërs 15:45). Toe God Eva later as vrou vir Adam geskep het, was sy voorneme met hulle dat hulle die aarde met mense moes vul en dit in ’n paradys omskep as ewige tuiste vir die mensdom.—Genesis 1:26-31; Psalm 37:29.

8. (a) Waarvan het Adam se bestaan afgehang? (b) Waar sou Adam bly leef het as hy nie gesondig het nie?

8 Nêrens sê die Bybel dat ’n deel van Adam onsterflik was nie. Inteendeel, sy bestaan het afgehang van sy gehoorsaamheid aan God se wet. Wat sou gebeur as hy daardie wet verbreek? Ewige lewe in die geesteryk? Glad nie. In plaas daarvan sou hy “sekerlik sterwe” (Genesis 2:17). Hy sou terugkeer na waar hy vandaan gekom het: “Stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 2:7; 3:19). Adam het geen bestaan gehad voordat hy geskep is nie, en hy sou geen bestaan hê nadat hy gesterf het nie. Hy het dus net twee keuses gehad: (1) gehoorsaamheid en die lewe of (2) ongehoorsaamheid en die dood. As Adam nie gesondig het nie, sou hy vir ewig op die aarde bly lewe het. Hy sou nooit hemel toe gegaan het nie.

9. Wat noem die Bybel die dood tereg, en waarom?

9 Adam was ongehoorsaam, en hy het gesterf (Genesis 5:5). Die dood was sy straf. Dit was nie ’n deur tot ’n “glorieryke avontuur” nie, maar ’n deur tot nie-bestaan. Die dood is derhalwe nie ’n vriend nie, maar is wat die Bybel dit noem, ’n “vyand” (1 Korinthiërs 15:26). As Adam ’n onsterflike siel gehad het wat hemel toe sou gaan as hy gehoorsaam is, sou die dood ’n seën gewees het. Maar dit was nie. Dit was ’n vloek. En met Adam se sonde het die vloek van die dood na alle mense uitgebrei omdat almal sy nageslag is.—Romeine 5:12.

10. Watter ernstige probleem ontstaan as ’n mens glo dat Adam ’n onsterflike siel gehad het?

10 Buitendien, as Adam geskep is met ’n onsterflike siel wat vir ewig in ’n brandende hel gepynig sou word as hy sou sondig, waarom is hy nie hieroor gewaarsku nie? Waarom is daar net aan hom gesê dat hy sou sterf en tot stof sou terugkeer? Hoe onregverdig sou dit tog wees om Adam vir ongehoorsaamheid tot ewige pyniging te veroordeel en hom nie daaroor te waarsku nie! God is egter “sonder onreg” (Deuteronomium 32:4). Dit was glad nie nodig om Adam te waarsku teen ’n brandende hel vir die onsterflike siele van die goddelose nie. So ’n hel het nie bestaan nie, en onsterflike siele het ook nie bestaan nie (Jeremia 19:5; 32:35). Daar is geen ewige pyniging in die stof van die aarde nie.

Die Bybel se gebruik van “siel”

11. (a) Van watter Hebreeuse en Griekse woorde kom die Afrikaanse woord “siel” in die Bybel? (b) Hoe gee die Afrikaanse Bybel die Hebreeuse en Griekse woorde vir “siel” weer?

11 In die Hebreeuse Skrifte kom die Afrikaanse woord “siel” van die Hebreeuse woord nêfêsj, wat meer as 750 keer verskyn. Sy ekwivalent in die Griekse Skrifte is psuchè, wat meer as 100 keer verskyn. Die New World Translation of the Holy Scriptures is konsekwent en vertaal hierdie woorde oral met “siel”. Ander Bybels gebruik verskillende woorde. Van die maniere waarop die Afrikaanse Bybel (hersiene uitgawe van 1953) nêfêsj vertaal, is: asem, begeerte, dooie, eetlus, elkeen, lewe, lyk, mens, persoon, siel, stuk vee, wese. En dit vertaal psuchè met: hart, lewe, siel.

12. Hoe gebruik die Bybel die Hebreeuse en Griekse woorde vir “siel”?

12 Die Bybel noem seediere nêfêsj: “Al die lewende wesens [nêfêsj] wat in die water is” (Levitikus 11:10). Die woord kan ook op landdiere betrekking hê: “Laat die aarde lewende wesens [nêfêsj] voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere” (Genesis 1:24). Nêfêsj beteken honderde kere mense. “Al die siele wat uit Jakob se lende voortgekom het, was sewentig siele” (Exodus 1:5). ’n Voorbeeld waar psuchè so gebruik word, is 1 Petrus 3:20. Dit praat van Noag se ark “waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is”.

13. Op watter maniere gebruik die Bybel die woord “siel”?

13 Die Bybel gebruik die woord “siel” op talle ander maniere. Genesis 9:5 (NW) sê: “Ek [sal] julle bloed van julle siele terugeis.” Hier sê dit dat die siel bloed het. Exodus 12:16 sê: “Net wat deur elkeen [“elke siel”, NW] geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word.” In hierdie geval sê dit dat die siel eet. Deuteronomium 24:7 (NW) praat van ’n man wat ‘’n siel van sy broers ontvoer’. Dit was beslis nie ’n onsterflike siel wat ontvoer is nie. Psalm 119:28 (NW) sê: “My siel was slapeloos van droefheid.” Dus kan die siel selfs slaap verloor. Die Bybel toon ook dat die siel sterflik is. “Dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word” (Levitikus 7:20). ‘Hy mag nie by ’n dooie [“dooie siel”, NW] kom nie’ (Numeri 6:6). “Mag ons siel . . . sterwe” (Josua 2:14). “Elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word” (Handelinge 3:23). “Elke lewende siel het gesterf.”—Openbaring 16:3, NW.

14. Wat is die siel volgens die Bybel?

14 Dit blyk duidelik uit die Bybel se gebruik van nêfêsj en psuchè dat die siel die mens of, in die geval van diere, die dier is. Dit is nie die een of ander onsterflike deel van ’n persoon nie. Trouens, nêfêsj word selfs vir God gebruik: “Sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet.”—Psalm 11:5.

Baie geleerdes stem saam

15. Watter kommentaar lewer etlike vakbronne oor die leer oor die onsterflike siel?

15 Baie geleerdes stem saam dat die Bybel nie van ’n onsterflike siel praat nie. The Concise Jewish Encyclopedia sê: “Die Bybel meld nie ’n leerstelling oor die onsterflikheid van die siel nie en dit kom ook nie duidelik voor in vroeë rabbynse literatuur nie.” The Jewish Encyclopedia sê: “Die opvatting dat die siel ná die dood van die liggaam voortbestaan, is ’n saak van filosofiese of teologiese bespiegeling eerder as van eenvoudige geloof, en word dienooreenkomstig nêrens uitdruklik in die Heilige Skrif geleer nie.” The Interpreter’s Dictionary of the Bible sê: “Die nêfêsj . . . bestaan nie onafhanklik van die liggaam voort nie, maar sterf saam met die liggaam. . . . Geen teks in die Bybel gee ’n mens die reg om te sê dat die ‘siel’ van die liggaam skei wanneer iemand sterf nie.”

16. Wat sê sommige geleerdes oor die siel?

16 Die Expository Dictionary of Bible Words sê ook: “‘Siel’ in die O[u] T[estament] dui dus nie op die een of ander onstoflike deel van menslike wesens wat na die dood voortleef nie. [Nêfêsj] beteken hoofsaaklik lewe soos dit deur net persoonlike wesens ervaar word. . . . Die grondbetekenis van [psuchè] word bepaal deur sy ekwivalent in die O[u] T[estament] eerder as deur sy betekenis in die Griekse kultuur.” En The Eerdmans Bible Dictionary sê dat die woord siel in die Bybel “nie ’n deel van ’n mens aandui nie, maar eerder die hele persoon. . . . In hierdie sin het mense nie siele nie—hulle is siele.”—Ons kursiveer.

17. Wat erken twee Katolieke bronne oor die “siel”?

17 Selfs die New Catholic Encyclopedia erken: “Die Bybelse woord vir siel beteken gewoonlik die hele persoon.” Dit voeg by: “Daar is geen digotomie [tweeledigheid] van die liggaam en siel in die O[u] T[estament] nie. . . . Hoewel die woord [nêfêsj] met ons woord siel vertaal word, beteken dit nooit siel onderskeie van die liggaam of die individuele persoon nie. . . . Die term [psuchè] is die woord in die N[uwe] T[estament] wat met [nêfêsj] ooreenkom. . . . Die idee dat die siel na die dood voortleef, kan nie geredelik in die Bybel onderskei word nie.” En Georges Auzou, Franse Katolieke professor in die Heilige Skrif, skryf in sy boek La Parole de Dieu (Die Woord van God): “Die begrip ‘siel’, met verwysing na ’n suiwer geestelike, onstoflike werklikheid, apart van die ‘liggaam’, . . . bestaan nie in die Bybel nie.”

18. (a) Hoe lewer ’n ensiklopedie kommentaar oor die Bybel se gebruik van die woord “siel”? (b) Waar het teoloë die idee gekry van iets wat voortleef wanneer die liggaam sterf?

18 The Encyclopedia Americana sê dus: “Die konsep van die mens in die Ou Testament is dié van ’n eenheid, nie ’n eenwording van siel en liggaam nie. Hoewel die Hebreeuse woord [nêfêsj] dikwels met ‘siel’ vertaal word, sou dit verkeerd wees om ’n Griekse betekenis daaraan te heg. . . . [Nêfêsj] word nooit voorgestel as iets wat apart van die liggaam funksioneer nie. In die Nuwe Testament word die Griekse woord [psuchè] dikwels met ‘siel’ vertaal, maar daar moet weer eens nie geredelik aangeneem word dat dit die betekenis het wat die woord vir die Griekse filosowe gehad het nie. . . . Die Bybel gee nie ’n duidelike beskrywing van hoe ’n mens na die dood voortlewe nie.” Dit voeg by: “Teoloë moes hulle wend tot die besprekings van filosowe om ’n geskikte manier te vind om die oorlewing van die individu na die dood te beskryf.”

Nie die Bybel nie, maar filosofie

19. Hoe hou Griekse filosofie verband met die opvatting dat die siel onsterflik is?

19 Dit is waar dat teoloë die idees van heidense filosowe aanvaar het om die leerstelling oor die onsterflike siel te formuleer. Die Franse Dictionnaire Encyclopédique de la Bible (Ensiklopediese Woordeboek van die Bybel) sê: “Die begrip van onsterflikheid is ’n produk van Griekse denke.” The Jewish Encyclopedia bevestig dit: “Die opvatting dat die siel onsterflik is, is aan die Jode oorgedra weens kontak met die Griekse denke en hoofsaaklik deur die filosofie van Plato, die vernaamste eksponent daarvan”, wat in die vierde eeu voor Christus geleef het. Plato het geglo: “Die siel is onsterflik en onverganklik, en ons siele sal werklik in ’n ander wêreld bestaan!”—The Dialogues of Plato.

20. Wanneer en hoe het heidense filosofie in die Christelike godsdiens ingesypel?

20 Wanneer het hierdie heidense filosofie in die Christelike godsdiens ingesypel? The New Encyclopœdia Britannica sê: “Van die middel van die tweede eeu n.C. af het Christene wat ’n bietjie onderrig in die Griekse filosofie gehad het die behoefte begin voel om hulle geloof in terme daarvan uit te druk, enersyds vir hulle eie intellektuele bevrediging en andersyds om opgevoede heidene te bekeer. Die filosofie wat hulle die beste gepas het, was Platonisme.” Soos die Britannica dus sê, “het die vroeë Christenfilosowe die Griekse konsep van die siel se onsterflikheid aanvaar”. Selfs pous Johannes Paulus II het erken dat die leerstelling oor die onsterflike siel “teorieë van sekere skole van Griekse filosofie” saamvat. Maar die aanvaarding van teorieë van Griekse filosofie het beteken dat die Christendom die eenvoudige waarheid in Genesis 2:7 verwerp het: “Die mens [het] ’n lewende siel geword.”

21. Hoe ver kan die opvatting dat die siel onsterflik is, teruggevoer word?

21 Die leer oor die onsterflike siel gaan egter baie verder terug as Plato. In die boek The Religion of Babylonia and Assyria, deur Morris Jastrow, lees ons: “Die probleem rakende onsterflikheid . . . [het] die ernstige aandag van die Babiloniese teoloë geniet. . . . Die dood was ’n oorgang na ’n ander soort lewe.” Die boek Egyptian Religion, deur Siegfried Morenz, sê ook: “Die vroeë Egiptenaars het lewe na die dood beskou as bloot ’n voortsetting van lewe op aarde.” The Jewish Encyclopedia meld die verband tussen hierdie antieke godsdienste en Plato wanneer dit sê dat Plato na die idee van die onsterflike siel gelei is “deur Orphiese en Eleusiniese misterieë wat eienaardig vermeng was met Babiloniese en Egiptiese opvattings”.

22. Waarom kan daar gesê word dat die sade van die leerstelling oor die onsterflike siel werklik aan die begin van die mensegeskiedenis gesaai is?

22 Die idee van die onsterflike siel is dus oeroud. Trouens, sy oorsprong kan teruggevoer word tot by die begin van die mensegeskiedenis! Nadat Adam meegedeel is dat hy sou sterf as hy aan God ongehoorsaam is, is ’n teenstrydige gedagte teenoor Adam se vrou, Eva, uitgespreek. Sy is meegedeel: “Julle sal gewis nie sterwe nie.” Hier is die sade van die leerstelling oor die onsterflike siel gesaai. En sedertdien het een kultuur na die ander die heidense beskouing aanvaar dat ‘’n mens nie werklik sal sterf nie, maar sal voortlewe’. Dit sluit die Christendom in, wat sy volgelinge in stryd met God se voornemens en wil in afvalligheid ingelei het.—Genesis 3:1-5; Mattheüs 7:15-23; 13:36-43; Handelinge 20:29, 30; 2 Thessalonicense 2:3, 7.

23. Wie het die leer oor die onsterflike siel ontwikkel, en waarom?

23 Wie het mense daardie leuen laat glo? Jesus het hom geïdentifiseer toe hy aan die godsdiensleiers van sy dag gesê het: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. . . . Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy ’n leuenaar is en die vader daarvan” (Johannes 8:44). Ja, dit is Satan wat die idee van die onsterflike siel ontwikkel het om mense van ware aanbidding af te keer. ’n Mens se lewenswandel en hoop op die toekoms word dus op die verkeerde weg geplaas as jy leerstellinge glo wat ontstaan het uit die eerste leuen wat in die Bybel opgeteken is, hoewel Eva destyds ongetwyfeld verstaan het dat die slang bloot bedoel dat sy as vleeslike persoon glad nie sou sterf nie.

24. Watter vrae kan tereg gestel word aangaande die ewige lewe en onsterflikheid?

24 Die Bybel leer nie dat ’n mens ’n onsterflike siel het nie. Waarom praat dit dan van die hoop op die ewige lewe? Sê die Bybel nie ook in 1 Korinthiërs 15:53 nie: “Hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word”? En het Jesus nie ná sy opstanding hemel toe gegaan, en het hy nie geleer dat ander ook hemel toe kon gaan nie? Hierdie en ander vrae sal in ons volgende artikel ondersoek word.

Vrae ter hersiening

◻ Wat glo die meeste godsdienste ten opsigte van die siel?

◻ Hoe toon die Bybel dat die mens nie met ’n onsterflike siel geskep is nie?

◻ Wat is duidelik uit die Bybel se gebruik van die Hebreeuse en Griekse woorde vir “siel”?

◻ Wat sê talle geleerdes oor die Bybel se beskouing van die siel?

◻ Hoe ver in die geskiedenis kan die leerstelling oor die onsterflike siel teruggevoer word?

[Prent op bladsy 20]

Hulle is almal siele

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel