Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 9/1 bl. 4-6
  • Lewe die siel na die dood voort?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Lewe die siel na die dood voort?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Nie ’n Bybelleerstelling nie
  • Wat gebeur na die dood?
  • Van heidense leringe tot kerkleerstellinge
  • Hoop vir die dode
  • Die siel volgens die Bybel
    Wat gebeur met ons wanneer ons sterf?
  • Het jy ’n onsterflike siel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2007
  • Jou beskouing van die siel raak jou lewe
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Wat is die siel?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 9/1 bl. 4-6

Lewe die siel na die dood voort?

“SIEL: Die geestelike deel van ’n mens wat volgens beskouing na die dood voortleef en wat in ’n toekomstige toestand vir geluk of ellende vatbaar is” (The Compact Edition of the Oxford English Dictionary). Die meeste godsdienste stem min of meer saam met hierdie definisie. Die New Catholic Encyclopedia sê: “Die leerstelling dat die mensesiel onsterflik is en dat dit na ’n mens se dood sal voortleef . . . is een van die hoekstene van die Christelike filosofie en teologie.”

Miskien sal dit jou dan verbaas om uit te vind dat hierdie hoeksteenopvatting van heidense filosofie afkomstig is. Lank voor Jesus se geboorte het mense geglo dat die siel iets ontasbaars is wat apart van die liggaam kan voortbestaan. Dit kon dus na die dood van die liggaam in die vorm van ’n spook of gees voortleef.

Die Grieke het hierdie opvatting in filosofiese terme uitgedruk. Sokrates, die bekende Griekse filosoof, het volgens berig gesê: “As die siel . . . rein weggaan en niks van die liggaam met hom saamsleep nie, . . . gaan dit weg na dít wat soos hyself is, na die onsigbare, goddelike, onsterflike en wyse, en wanneer dit daar kom, is dit gelukkig, verlos van foute en dwaashede en vrees . . . en al die ander menslike euwels, en . . . lewe dit in waarheid tot in ewigheid saam met die gode.”—Phaedo, 80, D, E; 81, A.

Nie ’n Bybelleerstelling nie

Hoe het dit dus gekom dat hierdie heidense opvatting van die onsterflikheid van die siel in die Christendom en Judaïsme geleer is?

Die New Catholic Encyclopedia stel dit sag wanneer dit sê: “Die idee dat die siel na die dood voortleef, kan nie geredelik in die Bybel onderskei word nie.” Dit sou akkurater wees om te sê dat die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel glad nie in die Bybel aangetref word nie! Daardie ensiklopedie erken: “Die konsep van die mensesiel op sigself is nie dieselfde in die O[u] T[estament] as wat dit in die Griekse en die hedendaagse filosofie is nie.”

In die sogenaamde Ou Testament verskyn die Hebreeuse woord neʹfesj, wat gewoonlik met “siel” vertaal word, 754 keer. In die sogenaamde Nuwe Testament verskyn die Griekse woord psu·kheʹ, wat ook algemeen met “siel” vertaal word, 102 keer. Wanneer ons ondersoek hoe hierdie woorde in die Bybel gebruik word, vind ons iets verrassends.

In Genesis 2:7 lees ons dat God die asem van die lewe in Adam se neus geblaas het, en Adam “het . . . ’n lewende siel [Hebreeus, neʹfesj] geword”. Let op: Adam het nie ’n lewende siel gekry nie; hy het een geword. Met ander woorde, die nuutgeskape Adam was ’n siel! Dit is geen wonder nie dat die New Catholic Encyclopedia tot dié slotsom kom: “Volgens die O[u] T[estament] is die siel nie ’n deel van die mens nie, maar die hele mens—die mens as ’n lewende wese.”

Ander tekste bevestig dit. Levitikus 7:20 praat byvoorbeeld van “die een [neʹfesj] wat vleis eet van die dankoffer”. Levitikus 23:30 sê: “Ook elkeen [neʹfesj] wat . . . enige werk doen.” Spreuke 25:25 sê: “Koue water op ’n vermoeide siel, so is ’n goeie tyding uit ’n ver land.” En Psalm 105:18 deel ons mee: “Hulle het sy voete in boeie geknel; hyself [neʹfesj] het in die ysters gekom.” Wat is dit dus wat vleis kan eet, kan werk, met water verkwik kan word en in ysters gesit kan word? Is dit ’n aparte, geestelike deel van die mens, of is dit die mens self? Die antwoord is duidelik.

Interessant genoeg, nie net die mens is ’n siel nie. Genesis 1:20 deel ons mee dat God in een skeppingsepog gesê het: “Laat die waters wemel met ’n gewemel van lewende wesens [neʹfesj].” Ja, selfs visse is siele! In ’n ander skeppingsepog het God aangedui dat die “vee, kruipende diere en wilde diere” siele is!—Genesis 1:24; vergelyk Levitikus 11:10, 46; 24:18; Numeri 31:28; Job 41:21; Esegiël 47:9 met ooreenstemmende tekste in NW.

In die Bybel verwys “siel” dus nie na die een of ander skimagtige geeswese wat die liggaam na die dood verlaat nie. Dit beteken ’n mens of ’n dier, of die lewe wat ’n mens of ’n dier geniet.

Wat gebeur na die dood?

Dit is dus duidelik dat die heidense idee dat die mens ’n onsterflike siel het in stryd met die Bybel is. Wie het na jou mening in hierdie opsig die waarheid geleer? Heidense Griekse filosowe of God se eie verbondsvolk? Dit was beslis God se volk, aan wie hy sy geïnspireerde Woord gegee het.

Daar is steeds die vraag: Wat gebeur met die siel na die dood? Aangesien die siel die mens is, is dit duidelik dat die siel sterf wanneer die mens sterf. Met ander woorde, ’n dooie mens is ’n dooie siel. Talle tekste bevestig dit. “Die siel wat sondig, dié moet sterwe”, sê Esegiël 18:4. In Rigters 16:30 lees ons: “En Simson sê: Laat my [neʹfesj] sterwe saam met die Filistyne!” Ander tekste toon dat siele uitgeroei (Genesis 17:14), met die swaard verslaan (Josua 10:37), versmoor (Job 7:15, NW) en verdrink (Jona 2:5) kan word. ’n Afgestorwe siel, of ’n dooie siel, is ’n dooie mens.—Levitikus 19:28, NW; 21:1, 11, NW.

Wat is die toestand van dooie siele dus? Die dood is kortom die teenoorgestelde van die lewe. Al ons sintuie is aan ons fisiese liggaam gekoppel. Ons vermoë om te sien, te hoor en te dink, hang af van die behoorlike werking van ons oë, ore en brein. Sonder oë kan ons nie sien nie. Sonder ore kan ons nie hoor nie. Sonder ’n brein kan ons niks doen nie. Wanneer iemand sterf, hou al hierdie fisiese organe op met werk. Ons hou op om te bestaan.

In ooreenstemming hiermee sê Prediker 9:5, 10: “Maar die dooies weet glad niks nie . . . Daar is geen werk of oorleg of kennis of wysheid in die doderyk [graf] waar jy heengaan nie.” Psalm 146:3, 4 sê eweneens: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees [lewenskrag] gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan.” Wanneer mense (siele) dus sterf, hou hulle net op om te bestaan.

Van heidense leringe tot kerkleerstellinge

‘Maar leer die Nuwe Testament nie dat die siel onsterflik is nie?’ vra sommige dalk. Glad nie. Die New Catholic Encyclopedia erken: “Die N[uwe] T[estament] bly getrou aan hierdie [Ou Testamentiese] begrip van die dood.” Met ander woorde, die “Nuwe Testament” leer dat die siel sterf. Jesus Christus het getoon dat hy nie geglo het dat die siel onsterflik is nie. Hy het gevra: “Is dit geoorloof om op die sabbat ’n goeie daad te doen of ’n slegte daad te doen om ’n siel te red of dood te maak?” (Markus 3:4, NW). Die Christenapostel Paulus het insgelyks die “Ou Testamentiese” beskouing van die siel bevestig deur Genesis 2:7 aan te haal: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.”—1 Korinthiërs 15:45.

Hoe het Platoniese denke dan kerkleerstelling geword? Die Encyclopœdia of Religion and Ethics, deur James Hastings, verduidelik: “Toe die Christelike evangelie uit die poort van die Joodse sinagoge in die arena van die Romeinse Ryk ingegaan het, is ’n hoofsaaklik Hebreeuse idee van die siel in ’n milieu van Griekse denke oorgeplaas, en die gevolge tydens die proses van wysiging was nie gering nie.” Kerkleraars het probeer om hulle boodskap “vir ’n Grieksdenkende wêreld verstaanbaar” te maak deur “die gevestigde terme en opvattings van Griekse psigologie” te gebruik. Joodse teoloë het eweneens “sterk invloede van Platonisme” in hulle geskrifte begin toon.—Encyclopœdia Judaica.

Die Bybelse leer oor die siel is dus verwerp en vervang deur ’n leerstelling wat onmiskenbaar heidens was. Dit kan hoegenaamd nie geregverdig word op grond dat dit die Christelike godsdiens aanlokliker vir die massas gemaak het nie. Toe die apostel Paulus in Athene, die hartjie van die Griekse kultuur, gepreek het, het hy nie die Platoniese leerstelling oor die siel geleer nie. Hy het eerder die Christelike leerstelling oor die opstanding verkondig, hoewel baie van sy Griekse luisteraars dit moeilik gevind het om te aanvaar wat hy gesê het.—Handelinge 17:22-32.

Die apostel Paulus het inderdaad teen enige vermenging van Bybelse waarhede en die heidendom gewaarsku toe hy gesê het: “Watter gemeenskap het die lig met die duisternis? En watter ooreenstemming het Christus met Belial?” (2 Korinthiërs 6:14, 15). Daar kan geen twyfel bestaan nie dat die Christendom God self oneer aangedoen het deur toe te laat dat ’n heidense lering een van die hoekstene van sy filosofie en teologie word!

Hoop vir die dode

Mense is vry om te glo wat hulle wil. Nogtans kan ’n mens dit nie ontken dat die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel onskriftuurlik is nie. Het mense dus geen hoop op lewe na die dood nie?

Nadat Job gevra het, “Sal [’n mens] weer lewe?” het hy die geïnspireerde antwoord daarop gegee. Hy het gesê: “U [Jehovah] sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:14, 15). Ja, die Bybel stel die hoop op ’n opstanding in die vooruitsig vir almal wat in God se geheue is. Dit is sy begeerte om sy getroue knegte, soos Job, tot die lewe op te wek! Christus Jesus het bevestig hoe wesenlik hierdie hoop is deur te sê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.”—Johannes 5:28, 29.

Jesaja 25:8 beloof dat God “die dood vir ewig [sal] vernietig” wanneer die tyd vir die vervulling van daardie profesie aanbreek. Dit beteken ’n wêreld waarin, soos Openbaring 21:4 dit stel, ‘daar geen dood meer sal wees nie’. Sal jy graag in ’n wêreld wil woon waar daar geen begrafnisse of roukamers, geen grafstene of begraafplase en glad nie meer trane van verdriet is nie, maar slegs trane van vreugde is?

Jy is weliswaar dalk grootgemaak om aan die leerstelling oor die onsterflike siel te glo. Maar as jy die Bybel studeer, kan jy geloof in die Bybel se bevrydende beloftes opbou.a Jy kan ook leer wat jy moet doen om die Bybel se belofte van “ewige lewe” op ’n paradysaarde, nie lewe as ’n onsterflike siel nie, te ontvang!—Johannes 17:3; Lukas 23:43, NW.

[Voetnote]

a Skryf gerus aan die uitgewers van hierdie tydskrif of gaan na die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies as jy graag ’n Bybelstudie wil hê.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel