Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 6/1 bl. 21-25
  • My diens aan Jehovah in gunstige en in moeilike tye

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • My diens aan Jehovah in gunstige en in moeilike tye
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom was ons in Malawi?
  • Ek kry ’n lewensmaat
  • Ons brei ons diens uit
  • Ek laat toe dat Jehovah my pad kies
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
  • God is ons helper
    Ontwaak!—1999
  • Jehovah sorg altyd vir ons
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • ‘Die teenswoordige lewe’—Ons het dit ten volle geniet!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 6/1 bl. 21-25

My diens aan Jehovah in gunstige en in moeilike tye

Soos vertel deur Hal Bentley

AL DIE voorbereidsels was getref vir ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies in ’n klein dorpie in Njassaland (nou Malawi). Die kring- en die streekopsiener het die verhoog van gras en bamboes en die grashutte vir slaapgeriewe vir oulaas nagegaan. Skielik is hulle omring deur ’n bende wat in die bosse daar naby geskuil het. Hulle het die hutte en die verhoog aan die brand gesteek en die twee broers in die rigting van die huise waar hulle tuisgegaan het, gedwing.

Die streekopsiener se vrou, Joyce Bentley, het aangehardloop gekom om te sien wat gebeur. Sy is ook teruggedwing. Die leier van die bende het geskreeu dat die mzungu (Witman) onmiddellik moet weggaan. Die bende wou ons nie toelaat om ons besittings te neem nie en het ons in ons Land-Rover ingedwing. Hulle het om die voertuig saamgedrom—mans, vroue en kinders—en “Pitani mzungu” (Gaan weg, Witman) en “Kwacha” (Vryheid) geskreeu. Ons het gedink dat hulle die Land-Rover gaan omkeer en het dus stilweg tot Jehovah gebid. Maar die groep het uitgedun en ons het na die naaste polisiepos by Mzimba, sowat 50 kilometer daarvandaan, gegaan.

Ons het later saam met ’n enkele polisiebeampte teruggekeer. Omdat daar op ander plekke moeilikheid was, was hy die enigste een wat beskikbaar was. Toe ons by die plek aankom waar ons aangeval is, het ons gevind dat die vlag van die Malawi Congress-party daarbuite gehys is en die letters M.C.P. in die kleimuur uitgekrap is. Maar nadat die polisieman met die plaaslike mense gepraat het, het hulle ons toegelaat om ons besittings in die Land-Rover te laai.

Ons het ook die kringopsiener, Rightwell Moses, en sy vrou gevind. Sy het gedurende die oproerigheid die bosse ingehardloop. Maar Rightwell is amper in ’n nabygeleë rivier verdrink. Die bende het ook al die kos vir die byeenkoms geneem. Toe het hulle die broers etlike kilometers in een rigting laat loop en die susters en die kinders in die ander rigting totdat die bende moeg geword en weggegaan het.

Hierdie insident was een van baie wat uitgeloop het op die verbod op die werk in Malawi, wat tot kwaai vervolging van Jehovah se Getuies gelei het, onder andere moord, wrede aanrandings, verkragting van vroue en tronkstraf.

Waarom was ons in Malawi?

Ek is op 28 Junie 1916 in die stad Leeds, in Yorkshire, Engeland, gebore, die jongste uit ’n gesin met vyf kinders. Ons was nie ’n godsdienstige gesin nie en het nie kerk toe gegaan nie.

Teen 1939, toe die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het albei my ouers reeds gesterf. In Junie 1940, toe ek maar 24 was, was ek in die leër, en ek het die volgende vyf jaar in verskeie pantsereenhede gedien. Ek het dikwels gedurende daardie jare, wanneer ek in masjiengeweerposte aan die noordoostelike kus van Engeland na die sterrehemel gesit en opkyk het, aan God gedink en gewonder waarom die Skepper van hierdie ontsagwekkende skoonheid sulke geweld, bloedvergieting en lyding onder die mensdom toelaat. Dit was eers ná ek uit die leër ontslaan is dat ek die antwoord gekry het op al die vrae waaroor ek so lank gewonder het.

Een koue wintersaand daardie jaar het iemand aan my deur geklop. Toe ek die deur oopmaak, was daar ’n bejaarde man wat oor die Bybel begin praat het. Ek het die Bybel begin studeer en is kort daarna, in April 1946, gedoop. In 1949 het ek uit my werk bedank en ’n pionierbedienaar van Jehovah se Getuies geword.

Daarna het ek meer as drie jaar in die Londense Bethel gedien, en in 1953 is ek genooi om die 23ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, by te woon om as ’n sendeling opgelei te word. Mettertyd het ek ’n sendingtoewysing in wat destyds Njassaland was, aanvaar. Later is ek op die streekwerk uitgestuur. As jong, ongetroude man het ek daardie pragtige land vyf jaar lank deurreis. Ek het die mense leer liefkry wat so vrolik en gasvry was, selfs al het die meeste van hulle materieel maar min gehad behalwe hulle lappies mielies, ’n paar hoenders en bokke of varke. Party was goeie vissermanne. Ek het saam met hulle in hulle nederige huisies van klei en pale gewoon en saam met hulle in die predikingswerk van stat tot stat geloop. Ek het dit ook geniet om met hulle te assosieer tydens hulle buitelugbyeenkomste wanneer hulle en hulle gesinne met onverdeelde aandag na die sprekers gesit en luister het, al was dit soms in die gietende reën!

Wanneer ek in ’n stat gebly het, het almal, jonk en oud, my een-een kom groet, en gesê: “Moni, muli bwanji?” (Hallo, hoe gaan dit?) Selfs wanneer ek van een dorpie na die ander geloop het, het die mense opgehou om in hul lande te skoffel en my gegroet.

Elke gemeente wat ek saam met die kringopsiener besoek het, het spesiaal vir my ’n hut gebou. Soms was dit ’n stewige grasdakhut van pale, wat ek baie waardeer het. Maar ek het agtergekom dat dit ’n rukkie duur voordat ’n nuwe grasdak waterdig word!

Die broers het eenmaal vir my ’n hut heeltemal van olifantsgras gebou. Dit het drie kante gehad, en my Land-Rover was die vierde kant. Dit was in die vallei van die Shirerivier, waar dit dwarsdeur die jaar warm is en die muskiete as ’t ware skofte werk en ’n mens dag en nag geen rus gee nie! Sonder ’n muskietnet en muskietweerder het ’n mens maar swaar gelewe.

Ek kry ’n lewensmaat

In 1960 is ek getroud met Joyce Shaw, wat ’n sendeling in Ecuador was. Ja, nadat ek die gawe van die ongetroude lewe etlike jare lank geniet het, is ek nou met ’n ander gawe—die huwelik—geseën. Na 30 jaar waardeer ek dit steeds. Ek en Joyce is saam met baie opwindende ondervindinge geseën.

Eenmaal het die broers ’n brug van pale en gras oor ’n stroom gebou. Hulle het dit gedoen sodat ek by ’n stat kon kom waar ek die Genootskap se rolprent, “The New World Society in Action”, moes vertoon. Maar die Land-Rover se sleepwa het aan ’n paal op die brug vasgehaak. Die broers was nie ontmoedig nie en het die sleepwa afgehaak, wat my in staat gestel het om van die brug af te ry, en hulle het toe die sleepwa oorgebring. Ons het ’n suksesvolle rolprentvertoning gehad.

Soms was die riviere te breed om brûe oor hulle te bou. Die broers het dan alles van die Land-Rover afgehaal—die vervoerbare kragopwekker, die projektor, die rolprente, die bed—en deur die rivier geloop, terwyl een van die broers my op sy sterk skouers oorgedra het. Joyce is deur twee susters oorgedra. Party riviere was te diep. Ons het hulle oorgesteek met behulp van ’n tydelike pont wat bestaan het uit ’n sterk platform van planke op agt tot tien groot konkas. Twee veermanne het ons dan met toue oorgetrek.

Die Malawiese broers was baie behulpsaam en vriendelik en het ons met groot respek behandel. Op een plek het die plaaslike inwoners gedreig om die huis waarin ons gebly het, af te brand. Gevolglik het die broers heel nag wakker gebly om ons veiligheid te verseker. Selfs voor Jehovah se Getuies in 1967 verbied is, was daar gevaarlike situasies, onder andere die een wat aan die begin van hierdie artikel beskryf is. Baie van die Malawiese broers en susters sou hulle lewe vir ons gegee het.

Een dag het ek van huis tot huis gewerk saam met ’n broer wat ’n geweldige knop op sy voorkop gehad het. Hy is ’n paar dae tevore wreed aangerand. By een huis het hy heel bedaard ’n goeie getuienis vir die huisbewoner gegee. Na ons daar weg is, het die broer gesê: “Dit was die man wat my so geslaan het!” Ek het aan Paulus se woorde gedink: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie . . . Oorwin die kwaad deur die goeie.”—Romeine 12:17-21.

Ons brei ons diens uit

Onderwyl ek en Joyce nog in Malawi was, het ons dikwels nabygeleë Mosambiek besoek. Terwyl sy in Ecuador was, het sy geleer om Spaans te praat en dit het gehelp, want die Portugese kon haar verstaan. Mettertyd kon ons albei ’n gesprek in Portugees voer. Ons het Mosambiek nog vanuit ons volgende toewysing, Zimbabwe, besoek. Die Katolieke Kerk was sterk gekant teen die predikingswerk en het moeilikheid gemaak. Maar gedurende die volgende tien jaar het ons dikwels Jehovah se liefdevolle sorg en beskerming ervaar terwyl ons daar na skaapgeaardes gesoek het.

Een keer toe ons in Mosambiek was, het ons ’n belangstellende vrou noord van die hawestad Beira besoek. Haar suster in Portugal het aan haar geskryf en haar van die wonderlike dinge vertel wat sy in haar studie met Jehovah se Getuies geleer het. Die vrou het hierdie dinge in haar Bybel nagegaan en het selfs begin om haar bure daarvan te vertel. Maar die enigste adres wat ons gehad het, was die naam van die motorhawe waar haar man gewerk het.

Toe ons na die werkswinkel se ingang loop, het ’n man gevra of hy ons kan help. Ons het gevra om met die vrou se man te praat. Hy het na ’n werktuigkundige gewys wat aan ’n motor werk, en skielik weggeloop. Ons het ons aan die werktuigkundige voorgestel en gesê dat ons graag sy vrou wil besoek. Hy was baie senuagtig. Terwyl hy saam met ons na sy huis geloop het, het hy verduidelik dat die man met wie ons eerste gepraat het op pad was om die plaaslike hoof van die P.I.D.E. (geheime polisie) van ons aankoms te vertel. Ons het in ’n lokval ingeloop! Hy het ook verduidelik dat die polisie sy vrou reeds ’n hele ruk lank weens haar predikingswerk dophou en dat hulle die brief onderskep het wat haar van ons besoek in kennis gestel het. Hulle het haar Bybel geneem, maar sy het gelukkig ’n ander Bybel gehad wat sy weggesteek het! Hulle het ook die Katolieke biskop gebring om haar te probeer oorreed om op te hou om oor Jehovah en die Koninkryk te praat!

Toe ons die belangstellende vrou ontmoet, was sy oorstelp van emosie en het haar arms om Joyce gegooi. Sy het haar man gesmeek om ons toe te laat om by hulle te bly, maar hy het geweier en weer gaan werk. Ons het die kort besoekie ten beste probeer benut en haar uit die Bybel bemoedig en haar geprys omdat sy so ’n sterk standpunt ingeneem het. Ons het toe vertrek om nie verdere probleme vir haar te veroorsaak nie, maar het belowe om later terug te keer wanneer die situasie verbeter het. Toe ons die huis verlaat en ook toe ons ons petroltenk by die motorhawe volmaak, het ons opgelet dat ons dopgehou word, maar ons is nie in hegtenis geneem nie. Ons het toe na Beira gegaan en die gemeentetjie daar besoek voor ons na Zimbabwe teruggekeer het. Ons het wel ’n paar maande later teruggekeer en kon saam met die belangstellende vrou, haar man en haar dogter ’n ete geniet. Sy is uiteindelik tydens ’n besoek aan Portugal gedoop en het ’n ywerige Koninkryksverkondiger geword.

Ons het plekke verder noord, soos Quelimane, Nampula en Nacala, ’n klein hawestad, dikwels besoek. In Nacala het ons dikwels die Soares-gesin besoek. Mnr. Soares het oorspronklik in Portugal van die waarheid gehoor. Maar toe hy na Mosambiek geïmmigreer het, het die broers in Lourenço Marques (nou Maputo), die hoofstad van Mosambiek, met hom en sy gesin gestudeer. Hulle het dit werklik waardeer dat ons bereid was om honderde kilometers te ry om ’n afgesonderde gesin te besoek. Hulle het goed gevorder. Hulle het later na Suid-Afrika getrek, waar die dogter, Manuela, as ’n Portugese vertaler by Bethel dien.

Ons het die gemeente in Lourenço Marques dikwels besoek. Dit het ’n reis van meer as 1 100 kilometer van Blantyre af oor rowwe paaie beteken. Ons het twee maal ernstige probleme met ons voertuig gehad en moes na Salisbury (nou Harare) gesleep word. Dit het ons nogtans werklik groot vreugde verskaf om te sien hoe die groepie in Lourenço Marques tot ’n getroue gemeente ontwikkel het, ondanks die feit dat hulle verbied was. Klein kringbyeenkomste is gereeld gehou. Maar hulle moes in die veld gehou word asof die broers net ’n groot groep was wat piekniek hou. ’n Byeenkoms is ’n paar maal oorkant die grens in Nelspruit gehou. Dit het die broers in Maputo gehelp om Jehovah se organisasie te waardeer en geestelik te groei.

Die gemeente in Beira het ook sterk geword. Weens politieke omwentelinge in Mosambiek is broers uit daardie land nou versprei in Portugal, Suid-Afrika, Kanada, Brasilië, die Verenigde State en ander plekke. Alle eer gaan aan Jehovah, wat ‘die saad laat groei het’ (1 Korinthiërs 3:6, 7). Ja, ons het tien jaar lank die voorreg gehad om die broers in Mosambiek onder die Portugese bewind te help. As ons daaraan terugdink, is ons verheug oor die manier waarop Jehovah die deur vir ons geopen het om dit te doen.

Een keer toe ons Nampula in die noorde besoek het, is ons deur ’n lid van die P.I.D.E. in hegtenis geneem. Al ons lektuur, onder andere ons Bybels, is geneem, en ons is meegedeel dat ons nooit weer in Mosambiek toegelaat sou word nie. Ons kon nietemin, met Jehovah se hulp, nog baie keer in die land ingaan. Elke keer as ons by die grens kom, het ons sy hulp en leiding gevra sodat ons sy wil kon doen en die broers in daardie land die aanmoediging en opleiding kon gee wat hulle so nodig gehad het.

Ons is in 1979 na Botswana oorgeplaas. Dit is ’n groot land, ongeveer die helfte so groot soos Suid-Afrika. Aangesien ’n ontsaglike deel daarvan woestyn, die Kalahari, is, is daar minder as ’n miljoen inwoners. Hier het ons voorregte gehad soos om ’n Koninkryksaal en sendinghuis in Gaborone, die hoofstad, te bou. ’n Ander voorreg was om die Portugese vlugtelinge uit Angola te help en die Bybel met hulle te studeer.

Ons kon ook ’n paar jongmense uit Zimbabwe help. In hierdie buurland kon Jehovah se Getuies blykbaar met spesiale toestemming in sommige skole uit die Skrif onderrig. Dit het die belangstelling van hierdie jongmense geprikkel. Toe hulle later na Botswana trek, het ons met hulle in aanraking gekom, en hulle het ’n Bybelstudie gevra. Hulle ouers het hulle egter teengestaan en hulle moes dus na die sendinghuis kom vir hulle studie. Hulle het goed gevorder en gedoopte Getuies geword.

As ek terugkyk op 41 jaar van voltydse diens in agt lande, is ek baie dankbaar teenoor Jehovah vir al die seëninge wat ek kon geniet. Dit was nie maklik nie, maar ek en Joyce het groot vreugde daaruit geput om baie mense te help om ’n standpunt vir die Koninkryk in te neem en om die goeie vordering te sien ondanks al die probleme en kwaai teenstand. Dit was werklik ’n geval van ‘preek die woord, hou julle daarmee besig soos met ’n dringende saak, in gunstige tye en in moeilike tye’. Ja, die voltydse diens is ’n wonderlike ondervinding en ’n groot voorreg wat ons van harte aanbeveel vir almal wat hulle lewe kan aanpas om dit te geniet.—2 Timotheüs 4:2, NW.

[Kaart op bladsy 21]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ANGOLA

ZAMBIË

MALAWI

Mzimba

Blantyre

MOSAMBIEK

Nacala

Beira

Maputo

ZIMBABWE

Harare

NAMIBIË

BOTSWANA

Gaborone

SUID- AFRIKA

INDIESE OSEAAN

600 km

400 m.

[Prent op bladsy 24, 25]

As die riviere te diep was, het twee veermanne ons met toue oorgetrek

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel