Lewensverhaal
‘Die teenswoordige lewe’—Ons het dit ten volle geniet!
SOOS VERTEL DEUR TED BUCKINGHAM
Ek was ses jaar lank ’n voltydse bedienaar en ses maande getroud toe ek skielik poliomiëlitis opgedoen het. Dit was 1950, en ek was maar net 24 jaar oud. Nege maande in die hospitaal het my baie tyd gegee om oor my lewe na te dink. Wat sou die toekoms vir my en my vrou, Joyce, inhou, noudat ek sekere fisiese beperkings gehad het?
IN 1938 het my pa, wat nooit ’n godsdienstige mens was nie, ’n eksemplaar van die boek Governmenta gekry. Die politieke onrus en moontlikheid van ’n oorlog het hom waarskynlik beweeg om die boek te kry. Sover ek weet, het hy dit nooit gelees nie, maar my ma, wat baie godsdienstig was, het wel. Sy het onmiddellik op die boodskap daarin gereageer. Sy het uit die Anglikaanse Kerk bedank en ten spyte van my pa se teenstand ’n getroue Getuie van Jehovah geword, en sy het tot haar dood in 1990 getrou gebly.
My ma het my na my eerste Christelike vergadering geneem by ’n Koninkryksaal in Epsom, suid van Londen. Die gemeente het in ’n gebou bymekaargekom wat voorheen ’n winkel was, en ons het geluister na ’n opname van ’n toespraak deur J.F. Rutherford, wat op daardie stadium oor die werk van Jehovah se Getuies toesig gehou het. Dit het ’n groot indruk op my gemaak.
Die hewige bombardering gedurende die blitsaanval op Londen het toestande al hoe gevaarliker gemaak. In 1940 het my pa dus besluit om die gesin na ’n veiliger plek te neem—Maidenhead, ’n dorpie 45 kilometer wes van Londen. Dit was voordelig, want die 30 lede van daardie gemeente was ’n uitstekende bron van aanmoediging. Fred Smith, ’n standvastige Christen wat in 1917 gedoop is, het my onder sy vlerke geneem en my opgelei om ’n bekwamer verkondiger te word. Ek is baie aan hom verskuldig vir sy voorbeeld en liefdevolle hulp.
Ek betree die voltydse diens
Ek is op ’n koue dag in Maart 1941, op die ouderdom van 15, in die Teemsrivier gedoop. Teen daardie tyd was my ouer broer Jim al ’n voltydse evangeliedienaar. Vandag woon hy en sy vrou Madge in Birmingham, nadat hulle die grootste deel van hulle lewe in Jehovah se diens deurgebring het in kring- en streekwerk regoor Brittanje. My jonger suster, Robina, en haar man, Frank, dien Jehovah ook nog steeds getrou.
Ek het as ’n rekenmeester vir ’n klerevervaardiger gewerk. Eendag het die besturende direkteur my na sy kantoor geroep om my ’n belowende loopbaan as ’n aankoper vir die maatskappy te bied. Ek het dit egter al ’n tyd lank oorweeg om my broer se voorbeeld na te volg, en daarom het ek my werkgewer se aanbod beleef van die hand gewys en my redes aan hom verduidelik. Tot my verbasing het hy my hartlik geprys vir die feit dat ek so ’n prysenswaardige Christelike bedrywigheid wou nastreef. Ná ’n byeenkoms in Northampton in 1944 het ek dus ’n voltydse evangeliedienaar geword.
My eerste toewysing was in Exeter, in die graafskap Devon. Hierdie stad het teen dié tyd stadig begin herstel van die bomaanvalle tydens die oorlog. Ek het ’n woonstel gedeel met twee pioniers, Frank en Ruth Middleton, en hulle was baie goed vir my. Ek was maar net 18 en het nie veel van wasgoed en koskook geweet nie, maar dinge het verbeter namate ek geleer het.
My pioniermaat was Victor Gurd, ’n 50-jarige Ier wat al sedert die 1920’s getuieniswerk gedoen het. Hy het my geleer om my tyd goed in te deel, om groter belangstelling in Bybellees te ontwikkel en om die waarde van verskillende Bybelvertalings te besef. Gedurende daardie vormingsjare was Victor se voorbeeld presies wat ek nodig gehad het.
Die uitdaging om neutraal te bly
Die oorlog was amper verby, maar die regering het nog steeds jong manne vir militêre diens opgeroep. Ek het reeds in 1943 voor ’n tribunaal in Maidenhead verskyn, waar ek my saak duidelik gestel het om vrystelling as ’n evangeliedienaar te kry. Hoewel my aansoek geweier is, het ek besluit om na Exeter te trek om met my toewysing te begin. Ek is dus uiteindelik in Exeter gedagvaar om in die plaaslike hof te verskyn. Die magistraat het my tot ses maande dwangarbeid in die tronk gevonnis en gesê dat hy jammer was dat hy my nie langer tronk toe kon stuur nie. Nadat ek daardie ses maande uitgedien het, is ek vir nog vier maande teruggestuur tronk toe.
Aangesien ek die enigste Getuie in die tronk was, het die bewaarders my Jehovah genoem. Dit was baie vreemd om gedurende rollesing op daardie naam te antwoord, maar wat ’n voorreg was dit tog om te hoor hoe God se naam dag na dag uitgeroep word! Dit het die ander gevangenes laat verstaan dat dit my gewetensgetroue standpunt as een van Jehovah se Getuies was wat my tussen hulle laat beland het. Norman Castro is later na dieselfde tronk gestuur, en die bynaam is verander. Ons is toe Moses en Aäron genoem.
Ek is van die tronk in Exeter na Bristol en uiteindelik na Winchester verskuif. Toestande was nie altyd aangenaam nie, maar dit het gehelp om ’n humorsin te hê. Ek en Norman was bly dat ons die Gedenkmaal saam kon vier terwyl ons in Winchester was. Francis Cooke, wat ons in die tronk besoek het, het vir ons ’n mooi toespraak gehou.
Veranderinge in die naoorlogse jare
In 1946 het ek by die byeenkoms in Bristol, waar die Bybelstudiehulp “Laat God waaragtig wees” in Engels vrygestel is, ’n mooi meisie met die naam Joyce Moore ontmoet, wat ook in Devon gepionier het. Ons vriendskap het gegroei, en ons is vier jaar later in Tiverton getroud, waar ek sedert 1947 was. ’n Kamer wat ons teen 15 sjielings per week gehuur het, het ons tuiste geword. Dit was ’n wonderlike lewe!
In die eerste jaar van ons huwelik het ons suid getrek na Brixham, ’n pragtige hawedorp waar die tegniek om visse met ’n sleepnet te vang oorspronklik ontwikkel is. Ons was egter nie lank daar nie toe ek op pad na ’n byeenkoms in Londen deur polio platgetrek is. Ek het in ’n koma gegaan. Ek is uiteindelik uit die hospitaal ontslaan—ná nege maande, soos ek vroeër genoem het. My regterhand en albei bene was ernstig aangetas, en is nog steeds, en ek moes ’n kierie gebruik. My dierbare vrou was deurentyd vir my ’n vrolike metgesel en bron van aanmoediging, veral omdat sy dit reggekry het om in die voltydse bediening te bly. Maar wat sou ons nou doen? Ek sou binnekort leer dat Jehovah se hand nooit te kort is nie.
Die volgende jaar het ons ’n byeenkoms in Wimbledon, Londen, bygewoon. Teen daardie tyd het ek sonder my kierie geloop. Daar het ons Pryce Hughes ontmoet, wat destyds oor die werk in Brittanje toesig gehou het. Hy het onmiddellik vir my gesê: “Kom! Ons wil jou in die kringwerk hê!” Niks kon my meer aangemoedig het nie! Was ek gesond genoeg? Ek en Joyce het albei hieroor gewonder, maar ná ’n week se opleiding en met volkome vertroue op Jehovah was ons op pad terug na die suidweste van Engeland, waarheen ek gestuur is om as ’n kringopsiener te dien. Ek was toe maar net 25 jaar oud, maar ek onthou nog steeds met innige waardering die goedhartigheid en geduld van daardie Getuies wat my so gehelp het.
Van al die verskillende teokratiese bedrywighede waaraan ons deelgeneem het, het ek en Joyce gevind dat ons besoeke aan die gemeentes ons die naaste aan ons Christenbroers en -susters gebring het. Ons het nie ’n motor gehad nie, en daarom het ons per trein of bus gereis. Hoewel ek my nog steeds moes aanpas by die beperkings wat my siekte meegebring het, het ons tot 1957 ons voorregte geniet. Dit was ’n sinvolle lewe, maar daardie jaar het ek voor nog ’n uitdaging te staan gekom.
Sendingdiens
Ons was verheug om ’n uitnodiging te ontvang om die 30ste klas van Gilead by te woon. Ek en Joyce het die uitnodiging met graagte aanvaar, aangesien ek ondanks my verlamming goed klaargekom het. Uit ondervinding het ons geweet dat Jehovah altyd die krag voorsien as ons sy wil probeer doen. Die vyf maande van intensiewe opleiding by die Wagtoring-Bybelskool Gilead in South Lansing, New York, VSA, het vinnig verbygegaan. Die studente was hoofsaaklik egpare in die reisende werk. Toe die klas gevra is of enige van ons ons vrywillig vir sendingwerk in ’n ander land wil aanbied, was ons onder dié wat dit geredelik gedoen het. Waarheen sou ons gaan? Na Uganda, Oos-Afrika!
Aangesien daar op daardie stadium ’n verbod op die werk van Jehovah se Getuies in Uganda was, is ek gevra om my in die land te vestig en sekulêre werk te kry. Ná ’n lang reis per boot en trein het ons in Kampala, Uganda, aangekom. Die immigrasiebeamptes was glad nie bly om ons te sien nie en het ons net ’n paar maande daar laat bly. Toe is ons beveel om die land te verlaat. Ons is deur ons hoofkwartier aangesê om na Noord-Rhodesië (nou Zambië) te gaan. Ons was verheug om vier van ons Gilead-klasmaats daar te ontmoet—Frank en Carrie Lewis en Hayes en Harriet Hoskins. Ons is kort daarna na Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) gestuur.
Ons het per trein gereis, en voordat ons in Bulawayo aangekom het, het ons vir die eerste keer ’n kykie gekry van die pragtige Victoria-waterval. Ons het ’n tyd lank by die McLuckie-gesin gebly, wat onder die eerste Getuies was wat hulle daar gevestig het. Dit was ons voorreg om hulle gedurende die volgende 16 jaar goed te leer ken.
Aanpassing by veranderinge
Ná twee weke se opleiding om my te help om met die swart veld vertroud te raak, is ek aangestel om as ’n streekopsiener te dien. Getuieniswerk in die Afrikabos het beteken dat ons water, kos, beddegoed, klere, ’n rolprentprojektor en elektriese kragopwekker, ’n groot skerm en ander benodigdhede moes saamneem. Dit is alles in ’n vragmotor gelaai wat sterk genoeg was om ons oor die ruwe terrein te vervoer.
Ek het saam met die swart kringopsieners gewerk terwyl Joyce hulle vrouens en kinders wat saamgekom het, vreugdevol gehelp het. Dit kan uitputtend wees om in die Afrikaveld te stap, veral op die hitte van die dag, maar ek het gou gevind dat dit makliker was om my fisiese beperkings in hierdie klimaat te verduur, en ek was dankbaar daarvoor.
Oor die algemeen was die mense arm. Baie van hulle is sterk deur tradisie en bygelowigheid beïnvloed en het veelwywery beoefen; maar hulle het ’n diep respek vir die Bybel getoon. In sommige gebiede is gemeentelike vergaderinge onder groot skadubome gehou, en saans is lig deur hangende olielampe voorsien. Ons is altyd met ontsag vervul wanneer ons God se Woord gestudeer het onder die sterrehemel—’n manjifieke deel van sy skepping.
Nog ’n onvergeetlike ondervinding was om die Wagtoringgenootskap se rolprente in Afrikareservate te vertoon. ’n Gemeente het moontlik uit 30 Getuies bestaan, maar by daardie geleenthede het ons geweet dat ons dikwels ’n bywoning van 1 000 mense of meer kon verwag!
In die trope kan swak gesondheid natuurlik ’n probleem wees, maar dit is noodsaaklik om ten alle tye ’n positiewe gesindheid te behou. Ek en Joyce het geleer om redelik goed oor die weg te kom ten spyte van die feit dat ek van tyd tot tyd malaria gekry het en Joyce siek geword het as gevolg van amoebas.
Later is ons na die takkantoor in Salisbury (nou Harare) gestuur, waar ons die voorreg gehad het om saam met ander getroue knegte van Jehovah te werk, onder meer Lester Davey en George en Ruby Bradley. Die regering het my as huweliksbevestiger aangestel, wat my in staat gestel het om die plaaslike broers te trou en sodoende die band van Christenhuwelike in die gemeentes te versterk. ’n Paar jaar later het ek nog ’n voorreg ontvang. Ek moes al die Engelse gemeentes in die land besoek. Meer as ’n dekade lank het ek en Joyce dit geniet om ons broers op hierdie manier te leer ken, en ons het ons verheug in hulle geestelike vooruitgang. Gedurende daardie tyd het ons ook ons broers in Botswana en Mosambiek besoek.
Nog ’n verandering van toewysing
Ná talle gelukkige jare in Suider-Afrika is ons in 1975 na Sierra Leone, Wes-Afrika, gestuur. Ons het ons gou by die takkantoor tuisgemaak, gereed om ons nuwe toewysing te geniet, maar dinge het kort daarna verander. Ek het siek en swak geword weens ’n hewige malaria-aanval en moes uiteindelik in Londen behandel word, waar ek aangeraai is om nie na Afrika terug te keer nie. Ons was hartseer hieroor, maar ek en Joyce is hartlik verwelkom deur die Bethelgesin in Londen. Die talle swart broers in baie van die Londense gemeentes het ons ook tuis laat voel. Terwyl my gesondheid verbeter het, het ons ons weer by ’n ander roetine aangepas, en ek is gevra om na die Aankopeafdeling om te sien. Dit was interessante werk, veral met al die uitbreiding wat ons in die daaropvolgende jare gesien het.
In die vroeë 1990’s het my dierbare Joyce motorneuronsiekte opgedoen, en sy is in 1994 oorlede. Sy was ’n liefdevolle, lojale en getroue vrou en was altyd gewillig om haar aan te pas by die verskillende omstandighede waarvoor ons saam te staan gekom het. Om hierdie verlies te kan verwerk, het ek gevind dat dit belangrik is om ’n helder geestelike uitkyk te behou en om altyd vorentoe te kyk. Die feit dat ek met behulp van gebed ’n goeie teokratiese roetine handhaaf, wat die predikingswerk insluit, help my ook om my verstand altyd besig te hou.—Spreuke 3:5, 6.
Betheldiens is ’n voorreg en ’n uitstekende lewenswyse. Daar is so baie jongmense om mee saam te werk en groot vreugde om in te deel. Een seën is al die besoekers wat ons hier in Londen kry. Soms sien ek dierbare vriende wat ek in Afrika ontmoet het, en dit laat talle gelukkige herinneringe by my opkom. Dit alles help my om aan te hou om ‘die teenswoordige lewe’ ten volle te geniet en om met vertroue en hoop uit te sien na “die toekomstige lewe”.—1 Timoteus 4:8.
[Voetnoot]
a In 1928 uitgegee deur Jehovah se Getuies, maar nou uit druk.
[Prent op bladsy 25]
Met my ma in 1946
[Prent op bladsy 26]
Saam met Joyce op ons troudag in 1950
[Prent op bladsy 26]
By ’n byeenkoms in Bristol in 1953
[Prente op bladsy 27]
Ons dien ’n afgesonderde groep (bo) en ’n gemeente (links) in Suid-Rhodesië, nou Zimbabwe