Sal jy in die waarheid bly wandel?
“EK HET geen groter blydskap as dit nie, . . . dat my kinders in die waarheid wandel” (3 Johannes 4). Die apostel Johannes het aan die einde van sy lang lewe hierdie woorde gespreek. Die voortgesette volharding van ‘sy kinders’, diegene aan wie hy “die waarheid” geleer het, het hom groot vreugde verskaf. Jehovah verheug hom ook wanneer sy aanbidders in die waarheid bly. Hoe bly moet hy tog nie vandag wees om te sien dat ’n groot organisasie, wat in die miljoene tel, daardie wyse weg volg nie!—Spreuke 27:11.
Maar hoewel God se volk as ’n geheel die waarheid onwrikbaar aanhang, raak sommige individuele Christene traag of versaak hulle selfs ware aanbidding. Dit is nie onverwags nie, aangesien dieselfde in die eerste eeu gebeur het (2 Timotheüs 4:10; Hebreërs 2:1). Maar die feit dat sommige wel traag word, beklemtoon hoe belangrik dit is dat almal op hulle eie geestelikheid let. Paulus het alle Christene aangemoedig: “Stel julself op die proef” (2 Korinthiërs 13:5). Elke Christen moet hom die vraag afvra: ‘Hoe kan ek seker wees dat ek in die waarheid sal bly wandel?’
Sommige het traag geword of selfs opgehou om in die waarheid te wandel omdat hulle ontmoedig is—miskien weens gesondheidsprobleme of persoonlikheidsgeskille. Ander het traag geword omdat hulle aandag afgelei is. Hulle wil van die vrugte van hierdie stelsel van dinge geniet terwyl dit nog bestaan. Hoe kan ons dit vermy om traag te word? Kom ons beskou in antwoord hierop die voorbeeld wat Jesus ons nagelaat het.
Volg Jesus se voorbeeld na
Jesus het voor talle moeilike situasies te staan gekom. Hy moes persoonlikheidsgeskille onder sy volgelinge besleg sowel as die haat en bespotting van sy vyande verduur. Hy moes ook die versoekinge van hierdie wêreld weerstaan. Trouens, hy is rykdom en prominensie aangebied op ’n skaal wat min mense ooit geken het (Mattheüs 4:8-11; Johannes 6:14, 15). Nogtans het Jesus aangehou om in die waarheid te wandel. Wat het hom gehelp om dit te doen?
Die apostel Paulus gee ons die antwoord wanneer hy skryf: “Laat ons . . . met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het” (Hebreërs 12:1, 2). Jesus is gehelp om in die waarheid te bly wandel deur “die vreugde wat Hom voorgehou is”, die groot belonings wat op hom gewag het, voor oë te hou. Hierdie “vreugde wat Hom voorgehou is”, het ruim vergoed vir die tydelike ontmoedigings of afleidings waarvoor hy te staan gekom het.
As ons die beloning voor oë hou, kan dit ons help om te volhard, net soos dit Jesus gehelp het (Openbaring 22:12). Ter toeligting, dink aan ’n reisiger wat met ’n moeilike bergpaadjie langs loop. Hy raak moeg en moedeloos. Elke tree is moeite en die paadjie lyk eindeloos lank. Dan kom hy bo-aan ’n bultjie en sien hy in die verte die dorp waarheen hy op pad is. Skielik is die pad vir hom ’n bietjie makliker. ’n Duidelike uitsig op sy bestemming help hom om sy moegheid te vergeet. ’n Christen sal dit eweneens makliker vind om in die waarheid te bly wandel as hy sy bestemming duidelik voor oë hou.
Volg die apostel Paulus na
Nog iemand wat baie dinge verduur het wat hom mismoedig kon maak, was die apostel Paulus. Hy moes verdeeldhede en persoonlikheidsgeskille onder die broers uit die weg ruim en moes ook ’n ernstige gesondheidsprobleem, vervolging, fisiese beproewinge en probleme en selfs teenstand in die gemeentes verduur (1 Korinthiërs 1:10; 2 Korinthiërs 10:7-12; 11:21-29; 12:7-10). Waarom het Paulus nie so mismoedig geword dat hy tou opgegooi het nie? Hy verduidelik: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Filippense 4:13). Hy het nie sy laste alleen probeer dra nie. Paulus het hom eerder tot Jehovah gewend vir onderskraging.—Psalm 55:23.
Die goddelike bron van krag waarop Paulus hom beroep het om hom te help volhard, is ook vandag beskikbaar. Die Bybel sê: “[Jehovah] gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie” (Jesaja 40:29-31). As ons op Jehovah vertrou om ons krag te gee deur middel van persoonlike studie, vergaderingbywoning, ywerige Christenbedrywighede, en—in die besonder—gebed, sal ons versoekings en ontmoedigings wat van tyd tot tyd dalk opduik, kan verduur.—Psalm 1:1-3; Romeine 10:10; 1 Thessalonicense 5:16, 17; Hebreërs 10:23-25.
Miljoene berei hulle voor om in die Paradys te lewe
Satan is die god van hierdie stelsel van dinge, waar Christene in werklikheid net vreemdelinge is (2 Korinthiërs 4:4). Daarom moet ons nie verbaas wees as ons soms mismoedig word of as ons aandag afgelei word nie. Paulus het in Hebreërs geskryf: “Ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige” (Hebreërs 13:14). As ons ook onthou dat ons ons hoop nie in hierdie ou wêreld stel nie, maar in dit wat nog moet kom, help dit ons ook om nie traag te word nie.
In sekere sin is Christene soos emigrante wat hulle geboorteland verlaat om ’n beter lewe elders te soek. Dit is oor die algemeen ’n moeilike stap om te doen. Dit behels dat hy alles inpak of van al sy besittings ontslae raak en van ’n bekende tuiste, asook van vriende en familie afskeid neem. Dit behels ook dat hy na ’n vreemde land gaan en onder mense gaan woon wat hom dalk nie verwelkom nie, en dat hy ’n nuwe taal en ’n leefwyse aanleer waaraan hy nie gewoond is nie. Nogtans doen baie so ’n stap bloot in die hoop dat hulle hul materiële situasie in hierdie wêreld sal verbeter.
Diegene wat as ’t ware uit hierdie stelsel van dinge emigreer en deel van God se volk word, kom voor soortgelyke uitdagings te staan. Hulle maak kulturele aanpassings om volgens die rein standaarde van God se Woord te lewe, en hulle leer die “suiwer taal” van waarheid aan (Sefanja 3:9, NW; 1 Korinthiërs 6:9-11). Hulle werk ook hard om die groot Koning van God se Koninkryk, Jesus Christus, te dien. Daarbenewens verstoot hulle familie en voormalige vriende hulle in baie gevalle, sodat hulle as ’t ware van hulle afskeid moet neem.
Maar Christene kan baie meer daarby baat vind as diegene wat om ekonomiese redes emigreer. Om maar een ding te noem, hulle kom in ’n gemeenskap in wat hulle liefhet en vir hulle omgee (Lukas 18:29, 30). Nog belangriker, hulle ontwikkel ’n hegte verhouding met Jehovah, die God van die heelal. Hulle verkry gemoedsrus en vertroue in die toekoms terwyl hulle uitsien na die vervulling van God se wonderlike beloftes (Filippense 4:8, 9). Diegene wat die gepaste waardering vir hierdie feite het, sal nie toelaat dat afleidings of ontmoedigings hulle permanent laat traag word nie. Hulle sal nie van die smal pad wat na die lewe lei, afgekeer word nie.—Mattheüs 7:13, 14; 1 Johannes 2:15-17.
Sien om na jou geestelike welsyn
As ons gereeld na ons fisiese welsyn omsien, het ons ’n beter kans om teen siektes bestand te wees. En as ons wel siek word, herstel ons gouer. As ons eweneens na ons geestelike welsyn omsien en die seëninge wat ons nou geniet en dié wat op ons wag duidelik voor oë hou, en as ons leer om op Jehovah se krag pleks van ons eie krag te vertrou, sal ons die probleme wat opduik beter die hoof kan bied. Ons kan omstandighede wat ons aandag aflei of ons ontmoedig nie heeltemal vermy nie. Maar as ons vooraf behoorlik na ons geestelike welsyn omsien, sal sulke dinge ons nie oorweldig nie.
Onthou, Jehovah is bly wanneer sy aanbidders volhard. Laat ons dus sy hart verbly deur in die waarheid te bly wandel.