Wat het met die menslike natuur gebeur?
“Waarom het ons in hierdie eeu kindermishandeling? Waarom het ons dieremishandeling? Waarom het ons gewelddadigheid? . . . Waarom wend mense hulle tot terreurdade? Waarom neem mense hulle toevlug tot dwelms? . . . Waarom wend party mense wat alles het hulle juis tot daardie fundamentele dinge waardeur die hele beskawing ondermyn word?”
DIT is vrae wat die Britse eerste minister in die openbaar geopper het. Miskien het jy self al dikwels sulke vrae gestel. Het jy al enige bevredigende antwoorde gevind?
Die eerste minister het haar vrae in perspektief gestel en gesê: “Toe ek nog jonk was en die politiek met al my verwagtinge en drome en ambisies betree het, het ek en baie van my tydgenote jare lank gedink dat alles goed sou gaan en ons ’n baie rooskleuriger toekoms sou hê as ons net ’n tyd kan bereik waar ons goeie behuising, goeie skoolopleiding en ’n redelike lewenstandaard het. Ons weet nou dat dit nie die geval is nie. Ons het te kampe met die wesenlike probleme van die menslike natuur.”—Ons kursiveer.
Die menslike natuur kan omskryf word as “die fundamentele gesindhede en karaktertrekke van menslike wesens in die geheel”. Botsende gesindhede en karaktertrekke kan vanselfsprekend op ’n persoonlike, nasionale of selfs internasionale vlak probleme veroorsaak. Maar in watter mate kan vandag se gevaarlike neigings tot geweld, terrorisme, dwelmhandel, en dies meer, werklik aan die menslike natuur toegeskryf word?
Dra die menslike natuur uitsluitlik die skuld vir die toestande wat dreig om “die hele beskawing [te] ondermyn”? Of is daar ander faktore wat ons in aanmerking moet neem om te verduidelik waarom mense so maklik tot verlagende, selfsugtige gebruike neig terwyl hulle hoër, edeler dinge kan najaag? Laat ons die saak ’n bietjie ondersoek.