Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w90 12/15 bl. 4-7
  • Wat is die waarheid oor Betlehem en Kersfees?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat is die waarheid oor Betlehem en Kersfees?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wanneer is hy gebore?
  • Op watter plek?
  • Blote tradisie
  • Betlehem—Simbool van Christelike eenheid en liefde?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • Jesus se geboorte—Waar en wanneer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Jesus se geboorte—die ware verhaal
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Jesus se geboorte—Waar en wanneer?
    Die grootste mens wat nog geleef het
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
w90 12/15 bl. 4-7

Wat is die waarheid oor Betlehem en Kersfees?

“WANNEER ons aan die Raaisel van Betlehem dink, is dit onvermydelik dat vrae en twyfelgedagtes by ons opkom.”—Bethlehem deur Maria Teresa Petrozzi.

‘Waarom vrae en twyfelgedagtes?’ vra jy dalk. Die verskillende opvattinge oor Kersfees en die plekke wat met hierdie opvattinge verbind word, is per slot van rekening op feite gebaseer. Of is hulle?

Wanneer is hy gebore?

Maria Teresa Petrozzi vra aangaande Jesus se geboortedatum: “Presies wanneer is die Verlosser gebore? Ons sou graag nie net die jaar nie, maar ook die maand, dag en uur wou weet. Wiskundige juistheid word ons nie gegun nie.” Die New Catholic Encyclopedia ondersteun dit: “Die datum van Jesus Christus se geboorte kan slegs by benadering bereken word.” Dit sê aangaande die datum wat aan Christus se geboorte toegeskryf word: “Die datum 25 Desember kom nie met Christus se geboorte ooreen nie, maar met die fees van die Natalis Solis Invicti, die Romeinse sonfees tydens die sonstilstand.”

Jy vra dalk: ‘As Jesus nie op 25 Desember gebore is nie, wanneer is hy gebore?’ Uit Mattheüs hoofstukke 26 en 27 leer ons dat Jesus tydens die Joodse Paasfees gesterf het, wat met 1 April 33 G.J. begin het. Bowendien vertel Lukas 3:21-23 ons dat Jesus omtrent 30 jaar oud was toe hy met sy bediening begin het. Aangesien sy aardse bediening drie en ’n half jaar geduur het, was hy omtrent 33 1/2 jaar oud toe hy dood is. Christus sou ses maande later ’n volle 34 jaar oud wees, wat dus omtrent 1 Oktober sou wees. As ons terugtel om te sien wanneer Jesus gebore is, kom ons nie by 25 Desember of 6 Januarie uit nie, maar by omstreeks 1 Oktober van die jaar 2 v.G.J.

Dit is ook noemenswaardig dat Betlehem en sy omgewing gedurende Desember koue weer het met ysige reëns en soms selfs sneeu. Gedurende hierdie tyd kry ’n mens nie snags herders met hulle kuddes buite nie. Dit is nie ’n onlangse weerverskynsel nie. Die Skrif sê dat Judese koning Jojakim ‘in die winterpaleis gesit het, in die negende maand [Kislew, wat ooreenkom met November-Desember], met ’n brandende vuurpan voor hom’ (Jeremia 36:22). Hy het die hitte nodig gehad om warm te bly. Dan vind ons in Esra 10:9, 13 duidelike bewys dat die maand Kislew ‘die reëntyd was—dit was onmoontlik om buite te staan’. Al hierdie feite toon dat die weerstoestande gedurende Desember in Betlehem nie pas by die Bybel se beskrywing van die gebeure wat verband hou met die geboorte van Jesus Christus nie.—Lukas 2:8-11.

Op watter plek?

Wat is die regte beskouing van die terrein wat deels die oorsaak was van die Krim-oorlog (1853-56), daardie bloedige struweling wat die lewens van meer as honderdduisend Franse soldate geëis het? Is daardie plek werklik die geboorteplek van Jesus?

In die eerste plek maak die Bybel self nie melding van die presiese terrein van Jesus se geboorte nie. Mattheüs en Lukas bevestig dat Jesus se geboorte die vervulling was van die Messiaanse profesie in Miga 5:1, wat voorspel het dat ‘die een wat ’n Heerser in Israel sal wees, en wie se uitgange uit die voortyd is’, uit Betlehem sou kom (Mattheüs 2:1, 5; Lukas 2:4). Albei die Evangelieverslae noem net die hooftrekke, naamlik dat Jesus in Betlehem gebore is en, volgens Lukas, dat die baba in doeke toegedraai en in ’n krip neergelê is.—Lukas 2:7.

Waarom het die Evangelieskrywers nie meer besonderhede gegee nie? Maria Teresa Petrozzi merk op: “Die Evangeliste het nie hierdie besonderhede genoem nie omdat hulle dit blykbaar as niksbeduidend beskou het.” Trouens, dit is duidelik dat Jesus self nie die besonderhede van sy geboorte as baie belangrik beskou het nie, want hy word nooit aangehaal waar hy sy geboortedatum of die presiese plek van sy geboorte noem nie. Selfs al is Jesus in Betlehem gebore, het hy nie daardie plek as sy tuiste beskou nie, maar daar is na die Galilea-streek verwys as sy “vaderland”.—Markus 6:1, 3, 4; Mattheüs 2:4, 5; 13:54.

As ’n mens Johannes 7:40-42 lees, toon dit dat mense onkundig was omtrent sy geboorteplek en gedink het dat hy in Galilea gebore is: “Ander het gesê: Kom die Christus dan uit Galilea?” Op grond van wat in Johannes 7:41 opgeteken is, kom The Church of the Nativity, Bethlehem tot die slotsom: “Die feit dat sulke besprekings ontstaan het, weerlê nie op sigself die feit dat Christus in Betlehem gebore is nie; maar dit toon ten minste dat baie van Sy metgeselle nie daarvan bewus was nie.”

Dit is duidelik dat Jesus nie die besonderhede van sy geboorte gedurende sy aardse lewe algemeen bekend gemaak het nie. Daar is nie klem gelê op die plek van sy geboorte nie. Wat is dan die grondslag vir die oortuiging dat die Grot van die Geboorte die plek is waarheen Josef Maria gebring het om geboorte te gee?

Petrozzi erken openlik: “Dit is onmoontlik om met sekerheid te weet of die grot een van die tallose natuurlike grotte in die omgewing van Betlehem was en of dit ’n grot was wat as ’n stal in ’n herberg gebruik is. Maar die tradisie wat tot die eerste helfte van die 2de eeu teruggevoer kan word, is baie beslis hieroor; dit is ’n grot-stal.”—Ons kursiveer.

Blote tradisie

Maria Teresa Petrozzi sowel as R. W. Hamilton en verskeie ander persone wat die geskiedenis van Betlehem bestudeer het, sê dat Justinus Martyr, van die tweede eeu G.J., die eerste persoon was wat beweer het dat Jesus in ’n grot gebore is, sonder om aan te dui watter een dit was. Hamilton sê van Justinus Martyr se bewering: “Dit is ’n terloopse verwysing, en om aan te neem dat Sint Justinus ’n bepaalde grot in gedagte gehad het, en dat hy selfs na die huidige Grot van die Geboorte verwys het, sou daar te veel op die betekenis van ’n enkele woord gesteun moet word.”

Hamilton skryf in ’n voetnoot: “’n Verslag van die Geboorte wat in die apokriewe ‘Boek van Jakobus’ of ‘Proto-Evangelie’ voorkom, en wat omstreeks dieselfde tyd geskryf is, praat ook van ’n grot, maar sê dat dit halfpad na Betlehem geleë is. Wat die historiese waarde van die verhaal betref, blyk dit dat die tradisie nie toe al met enige enkele plek verbind is nie, en beslis nie met die Grot van die Geboorte nie.”

Godsdiensskrywers van die derde eeu, Origenes en Eusebius, koppel die tradisie soos dit destyds bekend was met ’n spesifieke plek. Hamilton redeneer: “Toe die verhaal eers met ’n spesifieke grot gekoppel is, sou dit heel moontlik nie verander het nie; en dit is veilig om die gevolgtrekking te maak dat die grot wat kort na 200 n.C. aan besoekers gewys is dieselfde was as die huidige Grot van die Geboorte.”

W. H. Bartlett lug sy vermoede oor hierdie grot in sy boek Walks About the City and Environs of Jerusalem (1842): “Hoewel dit ’n gerespekteerde tradisie van die ou tyd is dat hierdie plek ons Verlosser se geboorteplek is, aangesien Sint Hieronymus, wat in ’n nabygeleë sel gelewe en gesterf het, daarvan melding maak, pas die ligging van die plek nie by die gebeure nie, want, hoewel grotte soms in Palestina as stalle gebruik word, is hierdie grot te diep ondergronds om vir so ’n doel geskik te kon wees; en wanneer ons boonop in ag neem dat monnike geneig was om die toneel van buitengewone skriftuurlike gebeure in grotte te laat afspeel, moontlik omdat hierdie plekke so indrukwekkend is, kan ons feitlik seker wees dat dit nie die plek is nie.”

Wat kan ons aflei uit die beskikbare geskiedkundige bewys en, belangriker nog, uit die skriftuurlike feit dat nòg Jesus nòg sy dissipels sy geboorteplek as belangrik beskou het? Dit is duidelik dat toe koningin Helena, die moeder van Konstantyn die Grote, die ligging van die Kerk van die Geboorte in die jaar 326 G.J. bepaal het, sy dit gedoen het op grond van wat Hamilton ‘assosiasie deur lang tradisie’ noem. Dit was nie op grond van historiese of Bybelse bewys nie.

Dit gee aanleiding tot die verdere gevolgtrekking dat die presiese plek van Christus se geboorte onbekend is. Is dit derhalwe logies dat die gelowiges op pelgrimstogte na plekke soos die Grot van die Geboorte moet gaan en hulle vereer? Trouens, as so iets van Christene verwag is, sou Jesus dan nie self sy dissipels ingelig het van die verpligting, of selfs die wens uitgespreek het dat hy dit wou hê nie? Sou dit nie in God se Woord, die Bybel, vir die mensdom opgeteken wees om te lees nie? Aangesien dit duidelik is dat sulke bewyse nie in die Heilige Skrif is nie, sal dit vir ons raadsaam wees om vas te stel wat Jesus wel wou hê dat mense moet herdenk.

Ons kan soek soveel as wat ons wil, maar die enigste geleentheid wat Jesus se dissipels dwarsdeur die eeue moes herdenk, is sy offerdood. Hy het in die lente gesterf, kort nadat hy sy laaste Pasgamaal saam met sy dissipels gevier het. By daardie geleentheid het hy sy getroue dissipels opdrag gegee om ’n simboliese maaltyd te hê met ongesuurde brood, soos matzo, en rooi wyn. Aangaande hierdie eenvoudige seremonie, wat vir die eerste keer op 1 April 33 G.J. plaasgevind het, het hy beveel: “Doen dit tot my gedagtenis.”—Lukas 22:19, 20.

In gehoorsaamheid aan hierdie skriftuurlike bevel van Jesus herdenk Jehovah se Getuies jaarliks Christus se offerdood. Hulle hou nie hierdie Christelike vergadering op ’n spesiale plek in ’n bokamer in Jerusalem nie, want Jesus het dit nie as ’n vereiste gemeld nie. Maar dwarsdeur die wêreld kom hulle in hulle Koninkryksale en ander geskikte vergaderplekke in hulle omgewing bymekaar. Die volgende herdenking sal op 30 Maart 1991 na sononder plaasvind. Jy word uitgenooi om dit by te woon by enige Koninkryksaal van Jehovah se Getuies wat naby jou is.

Jy hoef nie na Jerusalem of Betlehem te reis om deel te neem aan hierdie belangrike herdenking in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag nie. Nie Jesus of sy dissipels het plekke as middelpunte van Christelike aanbidding beskou nie. Inteendeel, Jesus het aan die Samaritaanse vrou, wie se aanbidding op Gerisim, ’n berg in Samaria, noord van Jerusalem, toegespits was, gesê: “Vrou, glo My, daar kom ’n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid.”—Johannes 4:21, 23.

Diegene wat die Vader in gees en waarheid aanbid, maak nie staat op spesiale plekke, soos Betlehem, of op voorwerpe, soos beelde, in hulle aanbidding nie. Die apostel Paulus het gesê: “Weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon. Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.”—2 Korinthiërs 5:6, 7.

Maar jy wonder miskien nog steeds hoe ’n mens God op ’n manier kan aanbid wat vir hom aanvaarbaar is? Vra gerus een van Jehovah se Getuies daaroor wanneer hy of sy volgende keer aan jou deur klop.

[Prent op bladsy 5]

In die winter oordek sneeu soms die grond naby Betlehem. Sou herders met hulle skape buite slaap?

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prente op bladsy 7]

Kerk van die Geboorte en sy ondergrondse grot in Betlehem

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Erkenning]

Garo Nalbandian

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel