Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w98 12/15 bl. 5-9
  • Jesus se geboorte—die ware verhaal

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesus se geboorte—die ware verhaal
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom dit geskryf is
  • Jesus se geboorte in Betlehem
  • Jehovah begunstig nederige waarheidsoekers
  • ’n Kind in gevaar
  • Die geboorte van Christus—Wat dit vir jou beteken
  • Lesse uit die verslag van Jesus se geboorte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Jesus se geboorte—Waar en wanneer?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Het drie wyse manne werklik die baba Jesus besoek?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
  • Jesus se geboorte – Waar en wanneer?
    Jesus – Die weg, die waarheid, die lewe
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
w98 12/15 bl. 5-9

Jesus se geboorte—die ware verhaal

DINK aan ’n welbekende gebeurtenis in jou land se geskiedenis. Dit is goed gedokumenteer en deur meer as een geskiedskrywer opgeteken. Gestel nou iemand sê vir jou dat hierdie gebeurtenis nooit plaasgevind het nie, dat dit net ’n mite is. Of, om die saak ’n bietjie persoonliker te maak, gestel iemand beweer dat baie van wat jou familie jou oor jou eie oupa se geboorte en vroeë lewe vertel het onwaar is. In beide gevalle sal die blote feit dat iemand selfs so iets kan dink jou dalk verontwaardig laat voel. Jy sal beslis nie sulke bewerings sonder meer aanvaar nie!

En tog verwerp baie kritici vandag die Evangelieverslae van Jesus se geboorte deur Matteus en Lukas. Hulle sê dat hierdie verslae heeltemal teenstrydig en onversoenlik is en dat albei skreiende onwaarhede en geskiedkundige foute bevat. Kan dit waar wees? Kom ons ondersoek eerder self die Evangelieverslae as wat ons hierdie bewerings aanvaar. Laat ons terselfdertyd sien wat ons vandag daaruit kan leer.

Waarom dit geskryf is

Eerstens is dit nuttig om te onthou wat die doel van hierdie Bybelverslae is. Hulle is nie biografieë nie; hulle is Evangelies. Die onderskeid is belangrik. In ’n biografie sal die skrywer dalk honderde bladsye vol skryf om te probeer toon hoe die persoon waaroor hy skryf so bekend geword het. Party biografieë bevat dus bladsye en bladsye vol besonderhede van die persone se afkoms, geboorte en kinderjare. In die geval van die Evangelies is dit anders. Van die vier Evangelies is Matteus en Lukas s’n die enigste twee wat vertel van Jesus se geboorte en kinderjare. Maar hulle doelwit is nie om te toon hoe Jesus die soort man geword het wat hy was nie. Onthou dat Jesus se volgelinge besef het dat hy as ’n geesskepsel bestaan het voordat hy ooit aarde toe gekom het (Johannes 8:23, 58). Matteus en Lukas het dus nie op grond van Jesus se kinderjare verduidelik watter soort man hy geword het nie. Hulle het eerder van gebeurtenisse vertel wat by die doel van hulle Evangelies gepas het.

En wat was die doel waarmee hulle dit geskryf het? Die woord “evangelie” beteken “goeie nuus”. Albei mans het dieselfde boodskap gehad—dat Jesus die beloofde Messias, of Christus, is; dat hy vir die mensdom se sondes gesterf het en dat hy tot hemelse lewe opgewek is. Maar die twee skrywers se agtergronde het opvallend verskil en hulle het vir verskillende groepe geskryf. Matteus, ’n belastinggaarder, het hoofsaaklik vir die Jode geskryf. Lukas, ’n geneesheer, het aan die “hoogedele Teofilus”—wat moontlik die een of ander hoë posisie beklee het—en, by uitbreiding, aan Jode sowel as nie-Jode geskryf (Lukas 1:1-3). Elke skrywer het gebeurtenisse gekies wat vir die groep vir wie hy geskryf het die meeste sou beteken en wat hulle heel waarskynlik sou oortuig. Matteus se verslag beklemtoon derhalwe die profesieë in die Hebreeuse Geskrifte wat met betrekking tot Jesus vervul is. Lukas volg weer die meer klassieke geskiedkundige benadering wat moontlik vir sy nie-Joodse lesers bekend sou wees.

Dit is dan nie verbasend dat hulle verslae verskil nie. Maar in teenstelling met wat kritici beweer, weerspreek die twee mekaar nie. Hulle vul mekaar aan en pas soos ’n legkaart inmekaar om ’n beter geheelbeeld te vorm.

Jesus se geboorte in Betlehem

Matteus en Lukas teken albei ’n uitsonderlike wonderwerk in verband met die geboorte van Jesus op—hy is uit ’n maagd gebore. Matteus toon dat hierdie wonderwerk ’n profesie vervul het wat eeue tevore deur Jesaja uitgespreek is (Jesaja 7:14; Matteus 1:22, 23). Lukas verduidelik dat Jesus in Betlehem gebore is omdat Caesar vereis het dat mense hulle moes registreer en dit het Josef en Maria verplig om soontoe te reis. (Sien die venster op bladsy 7.) Die feit dat Jesus in Betlehem gebore is, is betekenisvol. Eeue tevore het die profeet Miga voorspel dat die Messias uit hierdie oënskynlik onbeduidende dorpie naby Jerusalem sou kom.—Miga 5:1.

Die nag van Jesus se geboorte het welbekend geraak as die grondslag vir Kerstonele. Maar die ware verhaal is heel anders as die verhaal wat so dikwels uitgebeeld word. Die geskiedskrywer Lukas, wat ons van die sensus vertel wat Josef en Maria na Betlehem gebring het, vertel ons ook van die herders wat daardie belangrike nag buite saam met hulle kuddes deurgebring het. Hierdie twee situasies het talle Bybelnavorsers tot die slotsom laat kom dat Jesus nie gedurende Desember gebore kon gewees het nie. Hulle wys daarop dat dit onwaarskynlik is dat Caesar die Jode, wat so maklik oproerig geword het, sou dwing om gedurende die koue en reënerige seisoen na hulle tuisstede te reis, wat ’n reeds opstandige volk net vyandiger sou maak. Geleerdes sê dat dit net so onwaarskynlik is dat herders in sulke gure weer buite sou wees met hulle kuddes.—Lukas 2:8-14.

Let daarop dat Jehovah besluit het om die geboorte van sy Seun aan geharde arbeiders wat in die oop veld gewoon het aan te kondig, nie aan die geleerde en invloedryke godsdiensleiers van daardie tyd nie. Die skrifgeleerdes en Fariseërs het waarskynlik min te doen gehad met herders, wat vanweë hulle ongewone werktye party besonderhede van die mondelinge wet nie kon onderhou nie. Maar God het hierdie nederige, getroue manne ’n groot eer bewys—’n groep engele het hulle in kennis gestel dat die Messias, op wie God se volk al duisende jare lank gewag het, pas in Betlehem gebore is. Dit was hierdie manne, en nie die “drie konings” wat so dikwels in Kerstonele voorgestel word nie, wat Maria en Josef besoek het en hierdie onskuldige baba in ’n krip sien lê het.—Lukas 2:15-20.

Jehovah begunstig nederige waarheidsoekers

God begunstig nederige mense wat hom liefhet en baie graag die vervulling van sy voornemens wil sien. Dit is ’n tema wat herhaaldelik in die gebeure rondom die geboorte van Jesus voorkom. Wanneer Josef en Maria die kind ongeveer ’n maand ná sy geboorte in gehoorsaamheid aan die Mosaïese Wet na die tempel toe neem, bring hulle daar “’n paar tortelduiwe of twee jong duiwe” as offerande (Lukas 2:22-24). Die Wet het eintlik ’n lam vereis, maar dit het hierdie goedkoper opsie in gevalle van armoede toegelaat (Levitikus 12:1-8). Dink daaraan. Jehovah God, die Soewerein van die heelal, het nie ’n welgestelde nie, maar ’n arm gesin gekies as die gesin waarin sy geliefde, enigverwekte Seun grootgemaak sou word. As jy ’n ouer is, behoort hierdie voorbeeld dit by jou tuis te bring dat ’n huislike atmosfeer waarin geestelike waardes eerste gestel word die beste geskenk is wat jy jou kinders kan gee—veel beter as materiële rykdom of om hooggeleerd te wees.

By die tempel word twee ander getroue, nederige aanbidders deur Jehovah begunstig. Een is Anna, ’n 84-jarige weduwee wat “nooit van die tempel afwesig” is nie (Lukas 2:36, 37). Die ander is ’n getroue bejaarde man met die naam Simeon. Albei is verheug oor die voorreg wat God hulle gegee het—om voordat hulle sterf die een te sien wat die beloofde Messias sou wees. Simeon spreek ’n profesie oor die kind uit. Dit is ’n profesie vol hoop, maar met ’n tikkie droefheid. Hy voorspel dat hierdie jong moeder, Maria, eendag baie bedroef gaan wees oor haar geliefde seun.—Lukas 2:25-35.

’n Kind in gevaar

Simeon se profesie is ’n sombere herinnering dat hierdie onskuldige kind ’n voorwerp van haat sal word. Selfs terwyl hy nog ’n baba is, is hierdie haat reeds aan die werk. Matteus se verslag toon hoe dit gebeur. ’n Paar maande het al verbygegaan, en Josef, Maria en Jesus woon nou in ’n huis in Betlehem. Hulle ontvang ’n onverwagse besoek van ’n aantal buitelanders. Ten spyte van wat in tallose Kerstonele uitgebeeld word, sê Matteus nie presies hoeveel van hierdie manne gekom het nie, en hy noem hulle ook nie “wyse manne” en beslis nie “drie konings” nie. Hy gebruik die Griekse woord maʹgoi, wat “sterrewiggelaars” beteken. Dit alleen behoort die leser ’n leidraad te gee dat iets boos hier aan die werk is, want sterrewiggelary is ’n gebruik wat deur God se Woord veroordeel word en wat nougeset deur getroue Jode vermy is.—Deuteronomium 18:10-12; Jesaja 47:13, 14.

Hierdie sterrewiggelaars het ’n ster uit die ooste gevolg en bring geskenke vir “die een wat as koning van die Jode gebore is” (Matteus 2:2). Maar die ster lei hulle nie na Betlehem toe nie. Dit neem hulle na Jerusalem en na Herodes die Grote. Geen mens op aarde wou die jong Jesus so graag leed aandoen en het ook die vermoë gehad om dit te doen nie. Hierdie ambisieuse, moorddadige man het ’n paar van sy naaste familielede wat hy as bedreigings beskou het, vermoor.a Hy was ontsteld toe hy hoor van die geboorte van ’n toekomstige “koning van die Jode” en stuur die sterrewiggelaars om Hom in Betlehem te vind. Op pad soontoe gebeur iets vreemds. Dit lyk of die “ster” wat hulle na Jerusalem gelei het, beweeg!—Matteus 2:1-9.

Ons weet natuurlik nie of dit ’n werklike lig in die hemel of bloot ’n visioen was nie. Maar ons weet wel dat hierdie “ster” nie van God gekom het nie. Met onheilspellende akkuraatheid lei dit hierdie heidense aanbidders direk na Jesus—’n kwesbare en hulpelose kindjie wat slegs deur ’n arm timmerman en sy vrou beskerm word. Die sterrewiggelaars, wat onwetend deur Herodes gebruik is, sou waarskynlik aan die wraaksugtige heerser gerapporteer het, wat tot die kindjie se dood sou lei. Maar God tree deur middel van ’n droom tussenbeide en stuur hulle langs ’n ander roete huis toe. Die “ster” moes dus van God se vyand Satan af gekom het, wat niks sou ontsien om die Messias leed aan te doen nie. Hoe ironies is dit tog dat Kerstonele dit laat lyk asof die “ster” en sterrewiggelaars deur God gestuur is!—Matteus 2:9-12.

Maar Satan gee nie op nie. Sy pion in die saak, koning Herodes, beveel dat alle babas in Betlehem wat jonger as twee jaar is, doodgemaak moet word. Satan kan egter nie die stryd teen Jehovah wen nie. Matteus wys daarop dat God lank gelede reeds hierdie wreedaardige slagting van onskuldige kinders vooruitgesien het. Jehovah het Satan se planne weer gefnuik en Josef deur middel van ’n engel gewaarsku om na Egipte te vlug vir veiligheid. Matteus sê dat Josef sy gesinnetjie ’n ruk later weer verskuif het, en hulle het hulle eindelik in Nasaret gevestig, waar Jesus saam met sy jonger broers en susters grootgeword het.—Matteus 2:13-23; 13:55, 56.

Die geboorte van Christus—Wat dit vir jou beteken

Is jy ietwat verbaas oor hierdie opsomming van die gebeure rondom Jesus se geboorte en vroeë kinderjare? Baie is. Hulle is verbaas om te vind dat die verslae eintlik ooreenstem en akkuraat is, ten spyte van die feit dat party mense sonder enige grond die teendeel beweer. Hulle is verbaas om te leer dat party gebeure honderde jare vooruit voorspel is. En hulle is verbaas dat sommige sleutelelemente in die Evangelies opvallend verskil van uitbeeldings in tradisionele Kersverhale en -tonele.

Maar wat dalk die verbasendste is, is die feit dat soveel van die tradisionele Kersvieringe die belangrikste lesse van die Evangelievertellings oor die hoof sien. Daar word byvoorbeeld selde gedink aan Jesus se Vader—nie Josef nie, maar Jehovah God. Stel jou sy gevoelens voor toe hy sy geliefde Seun aan Josef en Maria toevertrou het sodat hulle hom kon grootmaak en na hom kon omsien. Stel jou die pyn voor wat die hemelse Vader verduur het terwyl hy sy Seun in ’n wêreld laat grootword het waarin ’n haatgevulde koning sy moord sou beplan selfs terwyl hy net ’n kindjie was! Dit was Jehovah se innige liefde vir die mensdom wat hom beweeg het om hierdie opoffering te maak.—Johannes 3:16.

Die werklike Jesus word dikwels in Kersvieringe buite rekening gelaat. Daar is geen verslag dat hy ooit selfs vir sy dissipels gesê het wat die datum van sy geboorte was nie; daar is ook geen aanduiding dat sy volgelinge sy verjaarsdag gevier het nie.

Dit was nie Jesus se geboorte nie, maar sy dood—en die geskiedkundige betekenis daarvan—wat hy sy volgelinge beveel het om te herdenk (Lukas 22:19, 20). Nee, Jesus wou nie as ’n hulpelose baba in ’n krip onthou word nie, want dit is beslis nie wat hy nou meer is nie. Meer as 60 jaar ná sy teregstelling het Jesus homself in ’n visioen aan die apostel Johannes geopenbaar as ’n magtige Stryderkoning (Openbaring 19:11-16). Dit is in daardie rol, as Heerser van God se hemelse Koninkryk, wat ons Jesus vandag moet leer ken, want hy is ’n Koning wat die wêreld gaan verander.

[Voetnoot]

a Trouens, Caesar Augustus het gesê dat dit veiliger was om Herodes se vark as Herodes se seun te wees.

[Venster/Prente op bladsy 7]

Was Lukas Verkeerd?

HOE kon Jesus, wat in Nasaret grootgeword het en algemeen bekend gestaan het as die Nasarener, in Betlehem, ongeveer 150 kilometer daarvandaan, gebore gewees het? Lukas verduidelik: “En in daardie dae [voor Jesus se geboorte] het ’n verordening van Caesar Augustus uitgegaan dat die hele bewoonde aarde geregistreer moet word (hierdie eerste registrasie het plaasgevind toe Quirinius goewerneur van Sirië was); en al die mense het op reis gegaan om geregistreer te word, elkeen na sy eie stad.”—Lukas 1:1; 2:1-3.

Baie kritici sê dat dit ’n fout, of selfs erger, ’n versinsel is. Hulle dring daarop aan dat hierdie sensus gedurende 6 of 7 G.J. plaasgevind het en dat Quirinius toe goewerneur was. As hulle reg is, sal daar ernstige twyfel oor Lukas se verslag ontstaan, want die getuienis dui daarop dat Jesus in 2 v.G.J. gebore is. Maar hierdie kritici ignoreer twee belangrike feite. Eerstens erken Lukas dat daar meer as een sensus was—let daarop dat hy na “hierdie eerste registrasie” verwys. Hy was beslis bewus van ’n ander, latere registrasie (Handelinge 5:37). Hierdie latere sensus is dieselfde een wat die geskiedskrywer Josefus beskryf het, wat in 6 G.J. plaasgevind het. Tweedens dwing die goewerneurskap van Quirinius ons nie om te aanvaar dat Jesus gedurende daardie amp klaarblyklik twee keer beklee het. Baie geleerdes erken dat sy eerste termyn omstreeks 2 v.G.J. was.

Party kritici sê dat Lukas die sensus versin het sodat daar ’n rede sou wees waarom Jesus in Betlehem gebore moes word, wat sodoende die profesie in Miga 5:1 kon vervul. Hierdie teorie maak Lukas ’n moedswillige leuenaar, en geen kritikus kan so ’n bewering versoen met die sorgvuldige geskiedskrywer wat die Evangelie en die boek Handelinge geskryf het nie.

Iets anders was geen kritikus kan verduidelik nie, is die feit dat die sensus self ’n profesie vervul het! Ind die sesde eeu v.G.J. het Daniël oor ’n heerser geprofeteer wat ”’n geldinsamelaar deur die pragtigste deel van die koninkryk sal laat deurtrek”. Was dit van toepassing op Augustus en sy bevel om ’n sensus in Israel te hou? Wel, die profesie voorspel verder dat die Messias, of “vors van die verbond”, gedurende die heerskappy van dierdie heerser se opvolger “verbreek” sou word. Jesus is inderdaad “verbreek”, oftewel tereggestel, gedurende die heerskappy van Augustus se opvolger, Tiberius.—Daniël 11:20-22.

[Prente]

Caesar Augustus (27 v.G.J.–14 G.J.)

Tiberius Caesar (14-37 G.J.)

[Erkennings]

Musée de Normandie, Caen, France

Foto geneem met vergunning van die Britse Museum

[Prent op bladsy 8]

Jehovah se engel het nederige herders met die goeie nuus van Christus se geboorte begunstig

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel