Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 2/1 bl. 25-29
  • Ek het as weduwee ware vertroosting gevind

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Ek het as weduwee ware vertroosting gevind
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Ek leer Bybelwaarhede
  • Ek praat oor my nuutgevonde kennis
  • Straatgetuieniswerk
  • Aanmoediging om vrese te oorkom
  • Versterk en geseën
  • Ek handhaaf ’n balans tussen my verantwoordelikhede
  • Lewenslange vertroosting
  • Geloof word deur Bybelstudie opgebou in Indië
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Ek is gehelp toe ek tot God genader het
    Ontwaak!—1993
  • Vertroos dié wat treur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Die uitdaging en vreugde om agt kinders in Jehovah se weë groot te maak
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 2/1 bl. 25-29

Ek het as weduwee ware vertroosting gevind

Soos vertel deur Lily Arthur

’n Jong bedienaar van Jehovah se Getuies het in ’n deel van Ootacamund, Indië, van huis tot huis gewerk. Dit was nie die gebruik dat vroue die deur vir so ’n vreemdeling oopmaak nie. Na ’n paar uur het hy, moeg en ietwat mismoedig, omgedraai om huis toe te gaan. Maar hy het hom besin omdat hy hom gedwonge gevoel het om aan die volgende deur te klop. Kyk wat gebeur het, soos vertel deur die vrou wat die deur oopgemaak het.

EK HET met my twee maand oue babadogtertjie in my arms en my seuntjie van 22 maande langs my, die deur dadelik oopgemaak en ’n vreemdeling daar sien staan. Ek was die vorige nag baie hartseer. Ek het vertroosting gesoek en gebid: “Hemelse Vader, vertroos my asseblief deur u Woord.” Nou, tot my verbasing, het die vreemdeling verduidelik: “Ek bring vir jou ’n boodskap van vertroosting en hoop uit God se Woord.” Dit was vir my asof hy ’n profeet was wat deur God gestuur is. Maar wat was die situasie wat my om hulp laat bid het?

Ek leer Bybelwaarhede

Ek is in 1922 in die dorpie Gudalur in die pragtige Nilgiriheuwels van suidelike Indië gebore. My moeder het gesterf toe ek drie jaar oud was. Later het Vader, wat ’n Protestantse leraar was, weer getrou. Toe ons begin praat, het Vader my en my broers en susters onmiddellik leer bid. Op die ouderdom van vier het ek, terwyl Vader daagliks by sy lessenaar die Bybel gelees het, op die vloer gesit en my eie Bybel gelees.

Toe ek groot word, het ek ’n onderwyseres geword. Later, toe ek 21 geword het, het my vader my huwelik gereël. Ek en my man is geseën met ’n seun, Sunder, en later ’n dogter, Rathna. Kort na Rathna se geboorte het my man egter baie siek geword, en nie lank daarna nie is hy dood. Skielik was ek op 24 ’n weduwee met die verantwoordelikheid van twee jong kinders.

Dit is toe dat ek God gesmeek het om my deur sy Woord te vertroos, en die volgende dag het die bedienaar van Jehovah se Getuies my besoek. Ek het hom ingenooi en die boek “Laat God waaragtig wees” aanvaar. Terwyl ek dit daardie nag gelees het, het ek aanhoudend die naam Jehovah gesien, wat vir my iets baie vreemds was. Later het die bedienaar teruggekom en vir my in die Bybel gewys dat dit God se naam is.

Dit was ook nie lank voor ek uitgevind het dat die leerstellings oor die Drie-eenheid en helse vuur nie op die Bybel gebaseer is nie. Ek het vertroosting en hoop gevind toe ek geleer het dat die aarde onder God se Koninkryk ’n paradys gaan word en dat afgestorwe geliefdes weer in die opstanding sal terugkeer. Maar die belangrikste van alles was dat ek die ware God, Jehovah, wat my gebed verhoor en my gehelp het, leer ken en liefgekry het.

Ek praat oor my nuutgevonde kennis

Ek het begin wonder waarom ek daardie Bybelverse met God se naam nooit raakgesien het nie. En waarom ek nie in my eie Bybellees die duidelike hoop van ewige lewe op ’n paradysaarde gesien het nie? Ek was ’n onderwyseres by ’n skool wat in beheer van Protestantse sendelinge was, en ek het dus die Bybelverse vir die skool se bestuurderes gewys (Exodus 6:3; Psalm 37:29; 83:18, NW; Jesaja 11:6-9; Openbaring 21:3, 4). Ek het gesê dat ons die tekste op die een of ander manier misgekyk het. Maar tot my verbasing het sy nie baie gelukkig gelyk nie.

Toe het ek aan die prinsipaal, wat in ’n ander dorp was, geskryf en hierdie Bybelverse aangehaal. Ek het vir ’n geleentheid gevra om met haar te praat. Sy het geantwoord dat haar vader, ’n bekende leraar van Engeland, die saak met my sou bespreek. Die prinsipaal se broer was ’n vooraanstaande biskop.

Ek het al die punte en tekste voorberei en my boek “Laat God waaragtig wees” en my kinders na die volgende dorp geneem. Geesdriftig het ek verduidelik wie Jehovah is, dat daar nie ’n Drie-eenheid is nie en die ander dinge wat ek geleer het vir hulle vertel. Hulle het ’n rukkie geluister, maar nie ’n woord gesê nie. Toe het die leraar van Engeland gesê: “Ek sal vir jou bid.” Hy het toe oor my gebid en my weggestuur.

Straatgetuieniswerk

Op ’n dag het die bedienaar van Jehovah se Getuies my uitgenooi om op straat met die Wagtoring en Ontwaak! te getuig. Ek het vir hom gesê dat dit iets was wat ek nooit sou kon doen nie omdat mense in Indië sleg sou dink van ’n vrou wat op straat staan of van huis tot huis gaan. Dit sal die vrou se reputasie en selfs dié van haar familie oneer aandoen. Aangesien ek my vader innig liefgehad en gerespekteer het, wou ek nie oneer oor hom bring nie.

Maar die bedienaar het vir my ’n Bybelteks gewys wat sê: “Wees wys, my seun, en verbly my hart, sodat ek hom wat my smaad, kan antwoord gee” (Spreuke 27:11). Hy het gesê: “Jy maak Jehovah se hart bly deur in die openbaar te wys dat jy hom en sy Koninkryk verteenwoordig.” Ek wou Jehovah se hart meer as enigiets anders verbly, en ek het die tydskrifsak geneem en saam met hom op straat gaan getuig. Ek weet tot vandag toe nie hoe ek dit gedoen het nie. Dit was in 1946, omtrent vier maande ná daardie eerste ontmoeting.

Aanmoediging om vrese te oorkom

In 1947 het ek ’n onderwyspos aanvaar in die buitewyke van Madras, aan die ooskus van Indië, en met my kinders daarheen getrek. ’n Klein groepie van omtrent agt Getuies van Jehovah het gereeld in die dorp bymekaargekom. Ons moes 26 kilometer reis om daardie vergaderinge by te woon. In Indië het vroue destyds gewoonlik nie alleen gereis nie. Hulle het op mans staatgemaak om hulle te neem. Ek het nie geweet hoe om op ’n bus te klim, hoe om ’n kaartjie te vra, hoe om van die bus af te klim nie, ensovoorts. Ek het geweet dat ek Jehovah behoort te dien, maar hoe? Ek het dus gebid: “Jehovah God, ek kan nie lewe sonder om u te dien nie. Maar dit is heeltemal onmoontlik vir my as Indiërvrou om van huis tot huis te gaan.”

Ek het gehoop dat Jehovah my sal laat sterf om my van hierdie konflik te verlos. Ek het egter besluit om iets uit die Bybel te lees. Per toeval het ek by Jeremia oopgemaak, waar dit sê: “Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek. Wees vir hulle nie bevrees nie; want Ek is met jou om jou uit te red, spreek die HERE.”—Jeremia 1:7, 8.

Ek was oortuig dat Jehovah inderdaad met my praat. Ek het dus moed geskep en dadelik na my naaimasjien gegaan en ’n sak gemaak waarin ek tydskrifte kon dra. Na ernstige gebed het ek alleen van huis tot huis gegaan, al my lektuur versprei en daardie dag selfs ’n Bybelstudie begin. Ek was vasbeslote om Jehovah die eerste plek in my lewe te gee, en ek het ten volle op hom vertrou. Die openbare predikingswerk het ’n gereelde deel van my lewe geword, ondanks die feit dat mense my uitgeskel het. Ten spyte van die teenkanting, het my bedrywigheid ’n sterk indruk op party gemaak.

’n Voorbeeld hiervan is toe ek en my dogter baie jare later in Madras van huis tot huis gegaan het. ’n Hindoe-man, ’n regter van die hooggeregshof, het my ouderdom verkeerd geskat en gesê: “Ek ken hierdie tydskrifte nog voor jy gebore is! Dertig jaar gelede het ’n vrou gereeld by Mount Road gestaan en hulle aangebied.” Hy wou ’n intekening hê.

By ’n ander huis het ’n Hindoe-Brahmaan, ’n afgetrede amptenaar, ons ingenooi en gesê: “Baie, baie jare gelede het ’n dame Die Wagtoring by Mount Road aangebied. Ek sal neem wat jy my aanbied uit eerbied vir haar.” Ek moes glimlag, want ek het geweet dat ek die vrou was waarna altwee van hulle verwys het.

Versterk en geseën

Dit was in Oktober 1947 dat ek my toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer het. Op daardie tydstip was ek die enigste vroulike Tamil-sprekende Getuie in die hele provinsie, maar nou is honderde Tamil-vroue getroue, bedrywige Getuies van Jehovah aldaar.

Nadat ek gedoop is, het teenkanting uit alle oorde gekom. My broer het geskryf: “Nou het jy alle welvoeglikheid en fatsoenlikheid oorskry.” Ek het ook teenkanting gekry van die skool waar ek gewerk het en van die gemeenskap. Maar ek het net meer op Jehovah vertrou deur volgehoue, opregte gebed. Wanneer ek in die middel van die nag wakker geword het, het ek dadelik die paraffienlamp aangesteek en gestudeer.

Namate ek geestelik sterk geword het, was ek in ’n beter posisie om ander te vertroos en te help. Een bejaarde Hindoe-vrou met wie ek ’n studie gehou het, het ’n vaste standpunt vir Jehovah se aanbidding ingeneem. Toe sy sterf, het ’n ander vrou in die huis gesê: “Wat ons baie gelukkig gemaak het, was haar lojaliteit aan die God wat sy gekies het om tot die einde toe te aanbid.”

’n Ander vrou met wie ek gestudeer het, het nooit geglimlag nie. Haar gesig het altyd kommer en droefheid weerspieël. Maar nadat ek haar van Jehovah geleer het, het ek haar aangemoedig om tot hom te bid, aangesien hy ons probleme ken en vir ons omgee. Die volgende week was sy stralend. Dit was die eerste keer dat ek haar ooit sien glimlag het. “Ek het tot Jehovah gebid”, het sy verduidelik, “en ek het nou gemoedsrus.” Sy het haar lewe aan Jehovah toegewy en is steeds getrou ten spyte van talle moeilikhede.

Ek handhaaf ’n balans tussen my verantwoordelikhede

Met twee klein kindertjies om voor te sorg, het ek gedink dat ek nooit my begeerte om Jehovah voltyds as ’n pionier te dien sal kan verwesenlik nie. Maar ’n nuwe diensgeleentheid het ontstaan toe iemand Bybellektuur in Tamil moes vertaal. Met Jehovah se hulp kon ek na daardie toewysing omsien en terselfdertyd sekulêr as ’n onderwyseres werk, my kinders versorg, my huiswerk doen, al die vergaderinge bywoon en aan die veldbediening deelneem. Uiteindelik, toe my kinders groter was, het ek ’n spesiale pionier geword, ’n voorreg wat ek die afgelope 33 jaar geniet.

Selfs toe Sunder en Rathna nog baie klein was, het ek liefde vir Jehovah, ’n begeerte om sy belange altyd eerste in alle aspekte van hulle lewe te stel, by hulle ingeskerp. Hulle het geweet dat Jehovah die eerste persoon is met wie hulle moes praat wanneer hulle wakker word, en dat hy die laaste een is met wie hulle moes praat voordat hulle gaan slaap. En hulle het geweet dat voorbereiding vir Christelike vergaderinge en die veldbediening nooit eenkant toe geskuif moet word as gevolg van huiswerk wat hulle by die skool gekry het nie. Hoewel ek hulle aangemoedig het om hulle bes te doen in hulle skoolwerk, het ek nooit daarop aangedring dat hulle die hoogste punte moet behaal nie, omdat ek bang was dat hulle dit die belangrikste ding in hulle lewe sou maak.

Nadat hulle gedoop is, het hulle in hulle skoolvakansies aan die pionierdiens deelgeneem. Ek het Rathna aangemoedig om dapper te wees, nie terughoudend en skaam soos ek was nie. Toe sy haar hoërskoolopleiding en kommersiële opleiding voltooi het, het sy die pionierdiens betree, en later het sy ’n spesiale pionier geword. Sy is later getroud met ’n reisende opsiener, Richard Gabriel, wat nou as die Takkomitee-koördineerder vir die Wagtoringgenootskap in Indië dien. Hulle werk voltyds saam met hulle dogter Abigail by die Indiese tak en hulle klein seuntjie Andrew is ’n verkondiger van die goeie nuus.

Sunder het op 18 egter my hart gebreek, toe hy opgehou het om met Jehovah se Getuies om te gaan. Die daaropvolgende jare was vir my baie pynlik. Ek het Jehovah aanhoudend gesmeek om my te vergeef vir enige tekortkominge wat ek ook al gehad het toe ek hom grootgemaak het en om Sunder tot sy sinne te bring sodat hy kon terugkeer. Maar ek het mettertyd alle hoop laat vaar. Toe het hy een dag, 13 jaar later, na my gekom en gesê: “Mammie, moenie bekommerd wees nie, ek sal regkom.”

Kort daarna het Sunder spesiale pogings aangewend om geestelik volwasse te word. Hy het so vooruitgang gemaak dat die toesig oor ’n gemeente van Jehovah se Getuies aan hom toevertrou is. Later het hy sy goed besoldigde werk laat vaar om ’n pionier te word. Nou neem hy en sy vrou Esther deel aan hierdie werk in Bangalore in die suide van Indië.

Lewenslange vertroosting

Ek dank Jehovah dikwels dat hy my toegelaat het om lyding en moeilikhede oor die jare heen te ondervind. Sonder sulke ondervindinge sou ek nie die kosbare voorreg gehad het om Jehovah se goedheid, sy barmhartigheid en medelye en ontferming in so ’n mate te smaak nie (Jakobus 5:11). Dit is sielverkwikkend om in die Bybel te lees hoe Jehovah na “die wees en die weduwee” omsien en oor hulle besorg is (Deuteronomium 24:19-21). Maar dit is niks in vergelyking met die vertroosting en vreugde wanneer ’n mens sy sorg en besorgdheid self ondervind nie.

Ek het geleer om volkome op Jehovah te vertrou en nie op my eie insig te steun nie, maar hom in al my weë te ken (Psalm 43:5; Spreuke 3:5, 6). As jong weduwee het ek tot God gebid vir vertroosting uit sy Woord. Nou, op 68, kan ek waarlik sê dat kennis van die Bybel en toepassing van die raad daarin my vertroosting sonder weerga gegee het.

[Prent op bladsy 26]

Lily Arthur saam met lede van haar gesin

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel