Ons is die soort wat geloof het
Geloof word deur Bybelstudie opgebou in Indië
VAN die majestueuse, sneeubedekte Himalajagebergte in die noorde tot die stomende kus van die Indiese Oseaan in die suide, is Indië ’n land van verskeidenheid, op aardrykskundige sowel as godsdienstige gebied. Van sy bevolking van meer as eenmiljard is ongeveer 83 persent Hindoes, is 11 persent Moslems en bestaan die res hoofsaaklik uit verklaarde Christene, Sikhs, Boeddhiste en Djainas. Almal geniet godsdiensvryheid. “Godsdiens speel ’n baie belangrike rol in die Indiese lewenswyse”, sê The World Book Encyclopedia.
Jehovah se Getuies, waarvan daar meer as 21- 200 in Indië is, lewe in ooreenstemming met hulle Christelike geloof. Soos hulle geestelike metgeselle in ander dele van die wêreld beskou die Getuies in Indië dit as ’n voorreg om hulle naaste te help om ’n sterk geloof in God se Woord, die Heilige Bybel, op te bou (2 Timoteus 3:16, 17). Kyk byvoorbeeld hoe een gesin in Chennai in die suide van Indië kennis van Bybelwaarheid opgedoen het.
Voordat hierdie gesin met Jehovah se Getuies in aanraking gekom het, was hulle baie betrokke by Katolieke charismatiese bewegings en het hulle beweer dat hulle visioene sien, in tale praat en die siekes gesond maak. Hulle was vooraanstaande lede van die kerk en die gemeenskap, en mense het party lede van die gesin selfs as “swami” aangespreek, wat “heer” beteken. Toe het ’n Getuie die gesin eendag besoek en uit die Bybel vir hulle gewys dat Jesus die Seun van God is, en nie die Almagtige God, soos oor die algemeen geglo word nie. Die Getuie het ook vir hulle gewys dat God se naam Jehovah is en dat dit Jehovah se voorneme is om die aarde in ’n pragtige paradys te omskep.—Psalm 83:18, NW; Lukas 23:43; Johannes 3:16.
Omdat hulle God se Woord gerespekteer het en gehou het van wat hulle hoor, het lede van hierdie gesin tot ’n gereelde Bybelstudie saam met Jehovah se Getuies ingestem. Dit het veroorsaak dat hulle vriende in die kerk met hulle begin spot het. Die gesin het nietemin vasbeslote gebly om hulle Bybelstudie voort te sit. Namate hulle kennis vermeerder en hulle geloof sterker geword het, het hulle hulle valse godsdiensgebruike laat vaar. Vandag is drie lede van hierdie gesin ywerige, gedoopte Getuies, en die moeder dien as ’n hulppionier wanneer sy kan.
Geloof om met gebreke saam te leef
Sunder Lal, ’n jong man wat in ’n dorpie in die Pandjab woon, het baie geloof en moed nodig gehad om die goeie nuus van God se Koninkryk aan ander te verkondig (Matteus 24:14). In die eerste plek het hy die politeïstiese opvattings van sy familie en dorpie laat vaar om die ware God, Jehovah, te aanbid. En boonop het Sunder Lal nie bene nie.
Tot 1992 was Sunder Lal se lewe heel normaal. Hy het as ’n dokter se assistent gewerk en saam met sy familie verskeie gode met die hulp van hulle gekose ghoeroe aanbid. Toe het hy een nag geval terwyl hy ’n treinspoor oorgesteek het. ’n Trein het oor hom gery en albei sy bene tot by sy bobene vergruis. Hoewel hy gelewe het, het sy wêreld in duie gestort. Dit is te verstane dat Sunder Lal toe baie depressief geword en selfs selfmoord oorweeg het. Sy familie het hom onderskraag, maar sy toekoms het hopeloos gelyk.
Toe het een van Jehovah se Getuies Sunder Lal besoek en uit die Bybel vir hom gewys dat God beloof het om die aarde ’n wonderlike paradys te maak en om volmaakte gesondheid te gee aan almal wat hom liefhet en vrees. Sunder Lal het ingestem tot ’n Bybelstudie, en hy het ’n jaar lank ywerig gestudeer. Hy is genooi om Christelike vergaderinge by te woon en het eindelik agter op ’n vriend se fiets na die vergadering gegaan. Hoewel dit ’n pynlike rit was, was dit baie lonend. Wat hy in sy persoonlike Bybelstudie geleer het, is vir hom bevestig toe hy ander ontmoet het wat werklik die beloftes van God se Woord glo en in ooreenstemming met Bybelleringe lewe.
Sunder Lal het die goeie nuus aan sy naaste begin verkondig, en in 1995 is hy gedoop. Aanvanklik het hy aan die bediening deelgeneem deur homself van deur tot deur in sy dorpie voort te sleep, wat die manier was waarop hy gewoonlik beweeg het. Maar toe het hy ’n geskenk van sy geestelike broers ontvang—’n driewiel wat spesiaal toegerus is om met die hand “getrap” te word. Danksy sy driewiel is hy nou meer onafhanklik en kan hy self die 12 kilometer na die gemeentelike vergaderinge aflê. Partykeer ry hy deur swaar moesonreën; ander kere is die temperatuur oor die 43 grade Celsius.
Behalwe dat Sunder Lal die vergaderinge bywoon, hou hy baie Bybelstudies met mense wat graag gehelp wil word om sterk geloof in die ware God, Jehovah, op te bou. Om die waarheid te sê, sewe van die mense met wie hy die Bybel gestudeer het, is nou gedoop, en so ook drie ander persone met wie hy in aanraking gekom het, maar met wie ander Getuies die Bybel gestudeer het.
“Geloof is”, volgens die Bybel, “nie iets wat alle mense besit nie” (2 Tessalonisense 3:2). Maar vir diegene “wat die regte gesindheid vir die ewige lewe” het, kan ’n gereelde studie van God se Woord sterk geloof opbou (Handelinge 13:48). So ’n studie laat ook mense se oë blink van die hoop op ’n wonderlike toekoms—iets waarin al hoe meer mense in Indië geloof beoefen.
[Kaart op bladsy 30]
(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)
AFGANISTAN
PAKISTAN
NEPAL
BOETAN
CHINA
BANGLADESJ
MYANMA
LAOS
THAILAND
VIËTNAM
KAMBODJA
SRI LANKA
INDIË
[Erkenning]
Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.