Is wêreldvrede voor die deur?
DEUR die geskiedenis heen was daar nie ’n gebrek aan verskillende vredesvoornemens en vredesverklarings nie. Ongelukkig lyk dit asof daar net soveel oorloë was om hulle nietig te verklaar. Wat vredesverdrae en -verklarings betref, het die meeste mense geleer om nie te veel waarde aan hulle te heg nie.
Baie waarnemers en nuusontleders het egter die afgelope paar jaar begin dink dat iets nuuts besig is om te gebeur. Hulle het selfs die mening gehuldig dat die wêreldsituasie dalk hierdie keer, ten spyte van plaaslike probleme, reg is vir wêreldvrede. “Die hoop op vreedsame oplossing van konflik is beter gegrond as in enige ander jaar sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog”, het die Internasionale Vredesinstituut van Stockholm gesê. ’n Vooraanstaande nuuskorrespondent het na aanleiding van die snelle verloop van gebeure in Oos-Europa gesê: “Vrede op Aarde lyk nou baie moontliker as op enige ander tydstip sedert die Tweede Wêreldoorlog.” Selfs die tydskrif The Bulletin of the Atomic Scientists het hierdie gesindheid weerspieël. In 1988 is sy bekende oordeelsdaghorlosie van drie minute voor middernag teruggestel tot ses minute voor middernag, en toe in April 1990 is dit verder teruggestel na tien minute voor middernag.
Voor die oorlog in die Midde-Ooste uitgebreek het, het al hierdie dinge aanleiding gegee tot heelwat optimisme en ’n gevoel van euforie. Maar selfs daarna sê party mense dat die Koue Oorlog en die wapenwedloop tussen die supermoondhede geëindig het. Sommige het gespekuleer oor wat daar gedoen gaan word met al die geld wat die regerings hoop om op verminderde militêre uitgawes te spaar. Is dit moontlik dat die tyd vir blywende vrede werklik aangebreek het? Leer die nasies werklik om ‘van hulle swaarde pikke te smee en van hulle spiese snoeimesse’? (Jesaja 2:4). Wat toon die feite?
Die vergete oorloë
“Die einde van die koue oorlog en die nuwe ontspanne toestand tussen die Ooste en Weste het party laat glo dat vrede aan die orde van die dag is”, sê The Economist van Londen. “Dit is nie. Die wêreld is ontslae van een groot bron van spanning, maar daar is nog steeds ’n klomp kleintjies.” Wat is hierdie ‘klein’ spanninge of konflikte?
Die Lentz-laboratorium vir vredesnavorsing, ’n onafhanklike navorsingsorganisasie in die Verenigde State, berig dat daar sedert September 1990 ten minste 15 oorloë wêreldwyd gewoed het. Dit sluit nie die Irakese inval van Koeweit in nie, aangesien die verslag net oorloë getel het waarin daar tot op daardie tydstip ten minste duisend mense per jaar dood is. Party van hierdie oorloë woed al 20 jaar of langer. Altesaam het hulle 2 900 000 lewens geëis, waarvan die meeste burgerlikes was. Hierdie getal sluit diegene uit wat dood is in van die bloedigste oorloë wat net die vorige jaar geëindig het, soos dié in Uganda, Afganistan en Iran-Irak.
Amper driemiljoen mense sterf terwyl daar kwansuis vrede in die wêreld is! Dit is op sigself tragies! Maar die grootste tragedie is dat die meeste van hierdie oorloë voortduur terwyl die res van die wêreld dit feitlik nie raaksien—en dit nie betreur nie. Ons kan hulle die vergete oorloë noem, aangesien die meeste van hulle—staatsgrepe, burgeroorloë, revolusies—in die een of ander minder ontwikkelde land gevoer word. Vir die meeste mense in die ryk nywerheidslande is die halfmiljoen mense wat in die Soedan of die derde van ’n miljoen wat in Angola doodgemaak is, oënskynlik nie baie belangrik nie. Trouens, daar is diegene wat redeneer dat die wêreld sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog ’n tydperk van ongeëwenaarde vrede ervaar het omdat daar geen oorlog in die ontwikkelde lande was nie en omdat die supermoondhede, ten spyte van die ontsaglike spanning en wapenophoping, nie ’n oorlog met mekaar aangeknoop het nie.
Is daar hoop op vrede?
As vrede eenvoudig beteken dat daar geen wêreldwye kernoorlog is nie, dan kan ’n mens moontlik redeneer dat die wêreld se nasies reeds ’n mate van sukses met hulle vredespogings behaal het. Die beleid van Wedersyds Versekerde Vernietiging het die supermoondhede tot dusver in toom gehou. Maar is dit werklik vrede? Hoe is dit moontlik as mense voortdurend in vrees lewe vir onmiddellike en totale uitwissing? Hoe kan ons oor vrede praat wanneer daar wêreldwyd soveel mense is wie se lewe vernietig word, wie se lewensonderhoud geruïneer word en wie se vooruitsig op ’n betekenisvolle en bevredigende bestaan deur oorloë, groot of klein, uitgewis word?
Nobelpryswenner Elie Wiesel het eenkeer geskryf: “Mense praat reeds eeue lank oor vrede sonder om dit te bereik. Het ons eenvoudig te min ondervinding? Hoewel ons van vrede praat, voer ons oorlog. Soms voer ons selfs oorlog in die naam van vrede. . . . Oorlog is moontlik ’n te groot deel van die geskiedenis om ooit geëlimineer te word.”
En onlangs het die oorlog in die Midde-Ooste die illusie van vrede verwoes. Is dit moontlik dat die mens eenvoudig hulle hoop op vrede op die verkeerde bron gevestig het?
[Prent op bladsy 3]
“Die geslag wat vandag op aarde is, sal heel moontlik die begin van ’n onomkeerbare tydperk van vrede in die geskiedenis van die beskawing beleef.”—President van die Sowjetunie Mikhail Gorbatsjof by ’n spitsberaad in Washington, D.C., VSA, Mei 1990
[Erkenning]
UPI/Bettmann Newsphotos
[Prente op bladsy 4]
“’n Nuwe wêreld van vryheid lê voor ons . . . , ’n wêreld waar vrede sal voortduur, waar die handel ’n gewete het en waar alles wat moontlik lyk, moontlik is.”—Amerikaanse president George Bush by ’n wêreldspitsberaad oor die ekonomie in Houston, Texas, VSA, Julie 1990
[Erkenning]
UPI/Bettmann Newsphotos
“Die mure wat mense en idees vroeër ingeperk het, is besig om ineen te stort. Europeërs bepaal nou hulle eie lot. Hulle kies vryheid. Hulle kies ekonomiese onafhanklikheid. Hulle kies vrede.”—Verklaring deur NAVO by ’n spitsberaad in Londen, Engeland, Julie 1990
[Foto-erkenning op bladsy 2]
Cover photos: U.S. Naval Observatory (stars); NASA photo (earth)