Jesus se lewe en bediening
Aan God se regterhand
DIE uitstorting van die heilige gees met Pinkster is ’n bewys dat Jesus weer terug is in die hemel. Die gesig wat kort hierna aan die dissipel Stefanus gegee word, is ook ’n bewys dat Hy daar is. Net voordat Stefanus weens sy getroue getuieniswerk gestenig word, roep hy uit: “Kyk, ek sien die hemele geopend en die Seun van die mens aan die regterhand van God staan.”
Terwyl Jesus aan God se regterhand is, wag hy op sy Vader se bevel: “Heers te midde van u vyande.” Maar wat doen Jesus intussen, totdat hy teen sy vyande optree? Hy regeer, of heers, oor sy gesalfde dissipels deur hulle in hulle predikingsbedrywighede te rig en deur hulle voor te berei om, deur middel van ’n opstanding, medekonings saam met hom in sy Vader se Koninkryk te word.
Jesus kies byvoorbeeld vir Saulus (wat later bekender was onder sy Romeinse naam, Paulus) om die voortou te neem met die dissipelmaakwerk in ander lande. Saulus is vol ywer vir God se Wet, maar hy is deur die Joodse godsdiensleiers mislei. Saulus keur gevolglik nie net die moord op Stefanus goed nie, maar hy gaan ook na Damaskus op magtiging van die hoëpriester Kajafas om elke man en vrou wat hy as volgelinge van Jesus daar kry te arresteer en na Jerusalem terug te bring. Maar terwyl Saulus daarheen op pad is, omhul ’n skerp lig hom skielik, en hy val op die grond neer.
“Saul, Saul, waarom vervolg jy My?” vra ’n stem uit ’n onsigbare bron. “Wie is U, Here?” vra Saulus.
“Ek is Jesus wat jy vervolg”, kom die antwoord.
Jesus sê vir Saulus, wat deur die wonderbaarlike lig verblind is, om Damaskus binne te gaan en op instruksies te wag. Jesus verskyn dan in ’n visioen aan Ananias, een van sy dissipels. Aangaande Saulus sê Jesus vir Ananias: “Hy is vir my ’n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.”
Saulus (nou bekend as Paulus) en ander evangeliedienaars behaal inderdaad met Jesus se ondersteuning ontsaglike sukses met hulle predikings- en onderrigtingswerk. Trouens, omtrent 25 jaar ná Jesus se verskyning aan hom op die pad na Damaskus skryf Paulus dat die “evangelie” “in die ganse mensdom onder die hemel verkondig” is.
Ná verloop van baie jare gee Jesus ’n reeks visioene aan sy geliefde apostel Johannes. Deur middel van hierdie visioene wat Johannes in die Bybelboek Openbaring beskryf, leef hy as ’t ware om Jesus se terugkeer in Koninkryksmag te sien. Johannes sê dat hy “in die Gees” tot in die toekomstige “dag van die Here” gebring is. Wat is hierdie “dag”?
’n Noukeurige studie van Bybelprofesieë, met inbegrip van Jesus se eie profesie aangaande die laaste dae, toon dat “die dag van die Here” in die geskiedkundige jaar 1914 begin het, ja, in hierdie geslag! Dit was dus in 1914 wat Jesus onsigbaar teruggekeer het, sonder groot trompetgeskal en met net sy getroue knegte wat van sy koms bewus was. Jehovah het Jesus daardie jaar die opdrag gegee om te midde van sy vyande te heers!
Jesus het gehoor gegee aan sy Vader se opdrag en die hemele van Satan en sy demone gereinig en hulle na die aarde neergewerp. Nadat Johannes dit in ’n visioen sien plaasvind het, hoor hy ’n hemelse stem sê: “Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus.” Ja, Christus het in 1914 as Koning begin heers!
Watter goeie nuus is dit tog vir aanbidders van Jehovah in die hemel! Hulle word aangespoor: “Wees verheug, o hemele en die wat daarin woon.” Maar wat is die situasie vir diegene op die aarde? “Wee die bewoners van die aarde en die see”, gaan die stem uit die hemel voort, “want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”
Ons leef nou in daardie kort tydjie. Mense word tans van mekaar afgeskei om òf God se nuwe wêreld binne te gaan òf vernietig te word. Om die waarheid te sê, jou toekoms word nou bepaal deur hoe jy reageer op die goeie nuus van God se Koninkryk wat wêreldwyd onder Christus se leiding verkondig word.
Wanneer die skeiding van mense voltooi is, sal Jesus Christus as God se Verteenwoordiger optree om die aarde van Satan se hele stelsel van dinge en almal wat dit ondersteun te reinig. Jesus sal hierdie verwydering van goddeloosheid tot stand bring tydens die oorlog wat die Bybel Armageddon noem. Daarna sal Jesus, die grootste Persoon in die heelal naas Jehovah God self, Satan en sy demone gevange neem en hulle duisend jaar lank in ’n “afgrond” bind, dit wil sê, in ’n toestand van doodse onaktiwiteit. Handelinge 7:55-60; 8:1-3; 9:1-19; 16:6-10; Psalm 110:1, 2; Hebreërs 10:12, 13; 1 Petrus 3:22; Lukas 22:28-30; Kolossense 1:13, 23; Openbaring 1:1, 10; 12:7-12; 16:14-16; 20:1-3; Mattheüs 24:14; 25:31-33.
◆ Waar is Jesus ná sy hemelvaart, en waarop wag hy?
◆ Oor wie regeer Jesus nadat hy na die hemel opgevaar het, en hoe word sy heerskappy geopenbaar?
◆ Wanneer het “die dag van die Here” begin, en wat het aan die begin daarvan plaasgevind?
◆ Watter skeidingswerk wat vandag plaasvind, raak elkeen van ons persoonlik, en op grond waarvan word die skeiding gedoen?
◆ Watter gebeurtenisse vind plaas wanneer die skeidingswerk voltooi is?