Die geestelike dronkaards—Wie is hulle?
“Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim.”—JESAJA 28:1.
1. Watter optimisme het baie ervaar, maar sal hulle verwagtinge ooit verwesenlik word?
ONS lewe in opwindende tye. Dramatiese politieke veranderinge oor die hele wêreld en ook die feit dat die Verenigde Nasies meer betrokke was daarby, het opgewondenheid onder baie mense veroorsaak. In Desember 1989 het die Detroit Free Press gesê: “Noudat die planeet die negentigerjare betree, word vrede gesmee.” ’n Sowjet-tydskrif het berig: “Ons het begin om van swaarde ploegskare te smee”, terwyl die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies verklaar het: “Ons is nie meer in die koue oorlog nie.” Ja, daar is hoë verwagtinge, en die wêreldtoneel is ongetwyfeld besig om te verander. Heel onlangs het die Golfoorlog toegelig hoe skielik veranderinge kan plaasvind. Maar sal hierdie teenswoordige wêreld ooit ’n tyd van werklike vrede en veiligheid beleef, met al die gepaardgaande voordele? Die antwoord is nee. Trouens, ’n ernstige krisis is aan die broei wat die wêreld tot op sy fondamente sal skud! Dit is ’n krisis waarby godsdiens diep betrokke is.
2. Hoe is vandag se situasie in eertydse Israel en Juda afgeskadu?
2 Hierdie krisis is voorafgeskadu deur gebeurtenisse in eertydse Israel en Juda gedurende die agtste en die sewende eeu v.G.J. Destyds het die mense ook gedink dat hulle vrede bewerkstellig het. Maar God het deur sy profeet Jesaja gewaarsku dat hulle hoop op vrede ’n illusie was wat spoedig aan die kaak gestel sou word. Jehovah waarsku die mensdom vandag op soortgelyke wyse deur sy Getuies dat hulle mislei word as hulle hoop om blywende vrede deur mensepogings te bewerkstellig. Kom ons lees Jehovah se profetiese waarskuwing en kyk hoe dit vandag van toepassing is. Dit is opgeteken in die 28ste hoofstuk van Jesaja en is voor 740 v.G.J. geskryf, waarskynlik gedurende die heerskappy van goddelose koning Peka van Israel en van eiesinnige koning Agas van Juda.
“Die dronkaards van Efraim”
3. Watter verstommende verklaring het Jesaja gemaak?
3 In vers 1 van hoofstuk 28 word ons geskok deur die verstommende verklaring: “Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim, en wee die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal van hulle wat deur die wyn verslaan is.” Hoe moes dit die Israeliete geskok het om daardie vernietigende oordeel te hoor! Wie was hierdie “dronkaards van Efraim”? Wat was hulle “trotse kroon”? En wat is “die top van die vrugbare dal”? Nog belangriker, watter les hou hierdie woorde vandag vir ons in?
4. (a) Wat was Efraim en die top van die vrugbare vallei? (b) Waarom het Israel veilig gevoel?
4 Aangesien Efraim die grootste van die tien stamme van Israel was, het die term “Efraim” soms na die hele noordelike koninkryk verwys. Die “dronkaards van Efraim” was in werklikheid dus die dronkaards van Israel. Die hoofstad van Israel was Samaria, wat op ’n strategiese hoogte aan die bopunt van ’n vrugbare dal geleë was. Die uitdrukking “die top van die vrugbare dal” verwys derhalwe na Samaria. Toe hierdie woorde geskrywe is, was die koninkryk van Israel uiters verdorwe wat sy godsdiens betref. Boonop het hy reeds ’n politieke bondgenootskap met Sirië teen Juda aangegaan en het hy toe veilig gevoel (Jesaja 7:1-9). Maar dit sou spoedig verander. ’n Krisis was ophande. Daarom het Jehovah verklaar: “Wee die trotse kroon van die dronkaards van Efraim.”
5. (a) Wat was Israel se trotse kroon? (b) Wie was die dronkaards van Efraim?
5 Wat was “die trotse kroon”? ’n Kroon is ’n simbool van koninklike gesag. Die “trotse kroon” was blykbaar Israel se posisie as ’n aparte koninkryk, onafhanklik van Juda. Iets sou gebeur wat Israel se koninklike onafhanklikheid sou vernietig. Wie was dan “die dronkaards van Efraim”? Daar was ongetwyfeld letterlike dronkaards in Israel, aangesien Samaria ’n sentrum van bandelose heidense aanbidding was. Die Bybel praat egter van ’n erger soort dronkenskap. In Jesaja 29:9 lees ons: “Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie.” Dit was ’n geestelike dronkenskap, ’n onreine besopenheid wat dodelik was. Israel se leiers—veral sy godsdiensleiers—was in so ’n geestelik dronk toestand.
6. Wat was die oorsaak van eertydse Israel se dronkenskap?
6 Wat was die oorsaak van eertydse Israel se geestelike dronkenskap? Dit was basies sy bondgenootskap met Sirië teen Juda, wat die leiers van die volk goed en veilig laat voel het. Hierdie geestelike dronkenskap het gemaak dat Israel voeling met die werklikheid verloor het. Net soos ’n letterlike dronkaard was Israel optimisties, hoewel daar geen rede tot optimisme was nie. Boonop het Israel sy bedwelmende bondgenootskap met Sirië trots gedra asof dit ’n pragtige krans was. Maar, soos Jesaja sê, dit was ’n krans wat sou verwelk. Dit sou nie veel langer hou nie.
7, 8. Wat sou eertydse Israel ondanks sy goeie gevoelens ondervind?
7 Jesaja beklemtoon dit in hoofstuk 28, vers 2: “Kyk, die Here het een wat sterk en magtig is, soos ’n haelstorm, ’n storm vol verwoesting, soos ’n stortbui van geweldige, oorlopende waters wat teen die grond gooi met krag.” Wie was hierdie “een wat sterk en magtig is”? In eertydse Israel se tyd was dit die magtige Assiriese Ryk. Hierdie wrede, genadelose wêreldmoondheid sou soos ’n stortbui van geweldige, oorlopende waters teen Israel kom. Met watter gevolge?
8 Jesaja sê voorts: “Met voete sal vertrap word die trotse kroon van die dronkaards van Efraim; en die blom wat verwelk, sy pronksieraad, wat daar is op die top van die vrugbare dal, sal wees soos ’n voorvy voor die vrugte-oes: iemand sien dit skaars of, terwyl dit nog in sy hand is, sluk hy dit weg” (Jesaja 28:3, 4). Israel se hoofstad, Samaria, was soos ’n ryp vy vir Assirië, reg om gepluk en ingesluk te word. Israel se bondgenootskap met Sirië wat soos ’n pragtige krans was, sou vertrap word. Dit sou waardeloos wees wanneer die dag van vergelding kom. Nog erger, sy sierlike kroon van onafhanklikheid sou deur die Assiriese vyand vertrap word. Wat ’n katastrofe!
“Priester en profeet wankel”
9. Waarom het Juda dalk verwag dat hy ’n beter boodskap as eertydse Israel van Jehovah sou kry?
9 Ja, ’n verskriklike vergelding het op Israel gewag, en net soos Jehovah God gewaarsku het, het daardie vergelding in die jaar 740 v.G.J. gekom toe Samaria deur Assirië vernietig is en die noordelike koninkryk as ’n onafhanklike nasie ophou bestaan het. Wat met eertydse Israel gebeur het, is ’n sombere waarskuwing vir ontroue valse godsdiens vandag, soos ons sal sien. Maar wat van Israel se susterkoninkryk in die suide, Juda? In Jesaja se tyd was Jehovah se tempelreëling nog in Jerusalem, die hoofstad van Juda, in werking. Die lede van die priesterstand het nog daar diens verrig, en profete soos Jesaja, Hosea en Miga het in Jehovah se naam gespreek. Watter boodskap het Jehovah derhalwe vir Juda gehad?
10, 11. Watter walglike situasie het in Juda bestaan?
10 Jesaja sê verder vir ons: “En ook die manne [dit wil sê, die priesters en die profete van Jerusalem] hier wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank; priester en profeet wankel deur sterk drank” (Jesaja 28:7a). Klaarblyklik was Juda se godsdiensleiers ook dronk. Soos in die geval van Israel was sommige bes moontlik letterlike dronkaards, en indien wel, sou dit ’n verskriklike skande gewees het. God se Wet het die priesters uitdruklik verbied om sterk drank te gebruik terwyl hulle in die tempel diens gedoen het (Levitikus 10:8-11). Letterlike dronkenskap in God se huis sou ’n skokkende oortreding van God se Wet wees.
11 Maar nog ernstiger was die geestelike dronkenskap in Juda. Net soos Israel hom by Sirië geskaar het teen Juda, so het Juda veiligheid probeer vind deur ’n bondgenootskap met Assirië aan te gaan (2 Konings 16:5-9). Ondanks die teenwoordigheid van God se tempel en sy profete het Juda op mense gesteun toe hy sy vertroue in Jehovah moes stel. Daarbenewens het sy leiers, as gevolg van so ’n onverstandige bondgenootskap, net so sorgvry soos hulle geestelik dronk bure ten noorde van hulle gevoel. Hulle onverantwoordelike houding was walglik vir Jehovah.
12. Wat sou die gevolge van Juda se geestelike dronkenskap wees?
12 Jesaja sê vervolgens: “Hulle is verward van die wyn, hulle waggel van sterk drank, hulle wankel as hulle gesigte sien, hulle waggel by die regspraak. Want al die tafels is vol walglike uitbraaksel, sodat daar geen plek is nie” (Jesaja 28:7b, 8). Van hulle het waarskynlik in hulle besope toestand werklik in die tempel gebraak. Maar nog ernstiger, die priesters en profete wat godsdiensleiding moes gee, het geestelike walglikhede uitgebraak. Boonop was die oordele van die profete, met die uitsondering van ’n paar getroues, beneweld en het hulle valse dinge vir die volk voorsien. Jehovah sou Juda vir hierdie geestelike onreinheid straf.
Geestelike dronkaards vandag
13. Watter parallel was daar in die eerste eeu G.J. van die situasie in Israel en Juda, en watter parallel is daar vandag?
13 Het Jesaja se profesieë net op eertydse Israel en Juda ’n vervulling gehad? Geensins nie. Beide Jesus en die apostel Paulus het sy woorde oor geestelike dronkenskap aangehaal en dit op die godsdiensleiers van hulle dag toegepas (Jesaja 29:10, 13; Mattheüs 15:8, 9; Romeine 11:8). Daar het vandag ook ’n situasie soos dié in Jesaja se dag ontstaan—hierdie keer in die Christendom, ’n wêreldwye godsdiensorganisasie wat beweer dat hulle God verteenwoordig. Pleks dat hulle ’n onwrikbare standpunt vir die waarheid inneem en op Jehovah vertrou, stel die Christendom, Katolieke en Protestante, hulle geloof in die wêreld. Daarom waggel hulle wankelend rond, net soos die dronkaards van Israel en Juda. Die geestelike dronkaards van daardie eertydse nasies is ’n treffende afskaduwing van die geestelike leiers van die hedendaagse Christendom. Kom ons kyk in watter opsig presies.
14. Hoe is die godsdiensleiers van die Christendom so dronk soos die leiers van eertydse Samaria en Jerusalem?
14 Die Christendom het net soos Samaria en Jerusalem swaar gedrink van die wyn van politieke bondgenootskappe. In 1919 was die Christendom een van die vernaamste voorstanders van die Volkebond. Hoewel Jesus gesê het dat Christene geen deel van die wêreld sou wees nie, knoop die Christendom se leiers betrekkinge met politieke leiers aan (Johannes 17:14-16). Die simboliese wyn van sulke bedrywighede is stimulerend vir die geestelikes. (Vergelyk Openbaring 17:4.) Hulle hou daarvan dat die politici hulle raadpleeg en om met die vername mense van hierdie wêreld te assosieer. Gevolglik kan hulle glad nie ware geestelike leiding gee nie. Hulle braak onreinhede uit pleks dat hulle die suiwer waarheidsboodskap spreek (Sefanja 3:9, NW). Hulle sig is nie goed nie, en hulle is verward en dus nie betroubare leiers vir die mensdom nie.—Mattheüs 15:14.
“Gebod op gebod”
15, 16. Hoe het Jesaja se tydgenote op sy waarskuwings gereageer?
15 In die agtste eeu v.G.J. het Jesaja die verkeerde handelwyse van die geestelike leiers van Juda by uitstek aan die kaak gestel. Hoe het hulle gereageer? Hulle het dit gehaat! Toe Jesaja met die verkondiging van God se waarskuwings volhou, het die godsdiensleiers teruggeantwoord: “Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?” (Jesaja 28:9). Ja, het Jesaja miskien gedink hy praat met klein babatjies? Jerusalem se godsdiensleiers het hulleself as volwasse manne beskou, wat ten volle bevoeg was om vir hulleself besluite te neem. Hulle het nie nodig gehad om na Jesaja se knaende waarskuwings te luister nie.
16 Daardie godsdiensleiers het selfs ’n grap gemaak van Jesaja se predikingswerk. Hulle het hom singpratend toegevoeg: “Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie” (Jesaja 28:10). ‘Jesaja hou aan om homself te herhaal’, het hulle gesê. ‘Hy hou aan sê: “Dit is Jehovah se gebod! Dit is Jehovah se gebod! Dit is Jehovah se standaard! Dit is Jehovah se standaard!”’ In die oorspronklike Hebreeus is Jesaja 28:10 ’n herhalende rympie, baie soos ’n kinderrympie. En dit is hoe die godsdiensleiers die profeet beskou het, as iemand wat homself herhaal en wat kinderagtig is.
17. Hoe reageer baie mense vandag op die waarskuwingsboodskap wat Jehovah se Getuies verkondig?
17 In die eerste eeu G.J. het die prediking van Jesus en sy dissipels insgelyks herhalend en eenvoudig geklink. Jesus se volgelinge is deur die Joodse godsdiensleiers as vervloekte, eenvoudige plattelanders, ongeleerde en gewone manne beskou (Johannes 7:47-49; Handelinge 4:13). Jehovah se Getuies word vandag dikwels ook so beskou. Hulle het nie die kweekskole van die Christendom bygewoon nie, en hulle gebruik nie hoogdrawende titels of teologiese taal soos die geestelikes nie. Die vernames in die Christendom sien dus neer op hulle en dink dat die Getuies hulle plek behoort te ken en hierdie godsdiensleiers met groter eerbied moet behandel.
18. Wat sien die godsdiensleiers vandag oor die hoof?
18 Daar is egter iets wat daardie godsdiensleiers oor die hoof sien. Al het die vernames in Jesaja se dag sy boodskap verwerp, het hy die waarheid gespreek en is sy waarskuwings bewaarheid! Net so is die waarskuwings wat Jehovah se Getuies vandag gee ook waar en uitsluitlik op God se Woord van waarheid, die Bybel, gegrond (Johannes 17:17). Daarom sal dit vervul word.
Die afrekening
19. Hoe is Juda gedwing om na die vreemdelinge se hakkelrige taal te luister?
19 In Jesaja 28:11 lees ons: “Ja, Hy sal deur lippe wat hakkel, en deur ’n vreemde tong met hierdie volk spreek.” Wat Jesaja verkondig het, het vir Juda soos ’n vreemde gebabbel geklink. Hoewel Juda die Assiriese bedreiging oorlewe het waardeur Israel oorweldig is, het Jehovah mettertyd teen Juda opgetree deur ’n ander vreemdeling, Nebukadnesar, te gebruik (Jeremia 5:15-17). Die Babiloniese taal het kras en hakkelrig vir daardie Hebreërs geklink. Maar hulle is gedwing om daarna te luister toe Jerusalem en sy tempel in 607 v.G.J. vernietig is en die inwoners in ballingskap na Babilon weggevoer is. Net so sal die Christendom vandag binnekort moet ly omdat hulle, soos eertydse Juda, Jehovah se teregwysinge ignoreer.
20, 21. Wat verkondig Jehovah se Getuies aanhoudend, maar wat weier die leiers van die Christendom om te doen?
20 Die profesie sê van sulke mense: “Hy wat aan hulle gesê het: Dit is die rus, gee rus aan die vermoeides, en dit is die verkwikking. Maar hulle wou nie luister nie. Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ’n bietjie, daar ’n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.”—Jesaja 28:12, 13.
21 Net soos Jesaja sê Jehovah se Getuies onophoudelik vir die Christendom dat hulle hulle vertroue in Jehovah se woord moet stel. Maar hulle weier om te luister. Vir hulle klink dit of die Getuies in ’n vreemde taal voortbabbel. Hulle praat ’n taal wat die Christendom nie kan verstaan nie. Die Christendom weier om rus vir die vermoeides te gee deur hulle van God se Koninkryk en die nuwe wêreld wat gaan kom te vertel. Hulle is eerder dronk van die wyn van hulle verhouding met hierdie wêreld. Hulle verkies om politieke oplossings vir die mensdom se probleme te ondersteun. Soos die Jode van Jesus se dag, het hulle self nie die Koninkryksrusplek gesoek nie, en hulle vertel ander ook nie daarvan nie.—Mattheüs 23:13.
22. Watter waarskuwing rig Jehovah tot die leiers van die Christendom?
22 Jesaja se profetiese woorde stel die geestelikes derhalwe in kennis dat Jehovah nie altyd met die Christendom by monde van Sy onskadelike Getuies sal spreek nie. Jehovah gaan binnekort die daad by sy “gebod op gebod, reël op reël” voeg, en die gevolge sal rampspoedig wees vir die Christendom. Die godsdiensleiers van die Christendom en hulle kuddes sal “verbreek en verstrik en gevang word”. Ja, soos eertydse Jerusalem sal die Christendom se godsdiensstelsels geheel en al vernietig word. Wat ’n skokkende, onverwagte verwikkeling sal dit tog wees! En hoe afgryslik is die gevolge tog omdat die godsdiensleiers geestelike dronkenskap bo Jehovah se vermaninge verkies het!
Kan jy verduidelik?
◻ Wie was die dronkaards van Efraim, en wat het hulle dronk gemaak?
◻ Hoe is die trotse kroon van die dronkaards van Efraim verbrysel?
◻ Watter skandelike situasie in Juda het Jesaja aan die kaak gestel?
◻ Waar sien ons vandag geestelike dronkenskap?
◻ Waarom moet die Christendom ag slaan op wat met die eertydse nasie Juda gebeur het?