Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w92 6/1 bl. 21-23
  • Gileadgegradueerdes aanvaar die gawe van sendingdiens

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Gileadgegradueerdes aanvaar die gawe van sendingdiens
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Soortgelyke materiaal
  • Gileadgegradueerdes begin ’n lonende leefwyse
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Gileadskool—Floreer nog ná 50 jaar!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Nuwe sendelinge streef ware sukses na
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Baan die grootpad na die Paradys
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
w92 6/1 bl. 21-23

Gileadgegradueerdes aanvaar die gawe van sendingdiens

OP 1 Maart 1992 het die 22 lede van die 92ste gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead ’n gawe aanvaar—die gawe van sendingdiens. Toe hy die klas toegespreek het, het Lloyd Barry van die Bestuursliggaam gesê: “Mag julle daardie wonderlike gawe met groot vreugde ontvang, en mag julle dit gebruik om ander met vreugde te vul.”

Sowat 4 662 genooide gaste en lede van die Bethelgesin het by die Jersey City-byeenkomssaal, in New Jersey, vir die gradueringsprogram vergader. Nog 970 by die New York-fasiliteite van die Wagtoringgenootskap in Brooklyn, Wallkill en Patterson is telefonies met die program verbind. Almal het aandagtig geluister toe die gegradueerdes afskeidsraad gekry het wat hulle sal help om die gawe van sendingdiens as iets baie kosbaars te beskou en om dit verstandig te gebruik.

Die program het geopen met lied 155 “Verwelkom mekaar”! wat uit volle bors gesing is. Daarna is almal diep geroer toe Frederick W. Franz, die 98-jarige president van die Gileadskool, ’n hartgrondige gebed gedoen het. Toe het die voorsitter, Carey Barber van die Bestuursliggaam, almal by die gradueringsprogram welkom geheet en gesê: “Daar was nog nooit so ’n groot behoefte aan Gileadsendelinge soos vandag nie.” Na sy kommentare het hy ’n paar kort, nuttige toesprake ingelei.

Curtis Johnson van die Bethelhuis-komitee het die eerste toespraak gehou en die tema “Versorg jou tuin goed” ontwikkel. Broer Johnson het gesê dat elk van hierdie nuwe sendelinge, wanneer hy by sy toewysing kom, ’n geestelike tuin sal hê wat hy moet bewerk (1 Korinthiërs 3:9). Jehovah se volk oor die hele wêreld is ’n geestelike tuin wat geregtigheid en lof voor al die nasies laat uitspruit (Jesaja 61:11). ‘Hoe jy jou geestelike tuin in die toekoms versorg’, het die spreker beklemtoon, ‘sal ’n uiters belangrike uitwerking op jou welslae in jou sendingtoewysing hê.’ Wat sal hulle help om hulle geestelike tuin goed te versorg? ‘Jehovah kan ’n muur van beskerming rondom jou geestelike tuin wees. As jy vasbeslote is om die regte werke aan te kweek, moet jy na aan hom bly in gebed en dan werke doen wat met jou gebede strook.’

Daarna het Lloyd Barry die tema “Verbly julle altyd in die Here” bespreek (Filippense 4:4). Met meer as 25 jaar se ondervinding van sendingdiens in Japan kon hy ’n paar praktiese wenke gee om die gegradueerdes te help om die gawe van sendingdiens te geniet. Hy het gesê: ‘Julle sal vind dat die vreugde wat julle uit God se diens put julle sal help om baie van die druk en miskien sommige fisiese probleme waarmee julle te kampe sal kry te bowe te kom’ (Spreuke 17:22). Hy het die gegradueerdes daaraan herinner dat hulle dalk met toestande en situasies te doen sal kry wat heel anders is as dié waaraan hulle gewoond is. Hulle sal dalk ’n nuwe taal moet leer. ‘Jy sal jou daarop moet toelê om die taal te leer. Maar wanneer jy vrylik met die mense in hulle eie taal kan kommunikeer, sal dit ook tot jou vreugde bydra.’

Eldor Timm van die Fabriekskomitee het vervolgens die tema ontwikkel “Hou jou oë gevestig op die prys.” Wat is die prys? Die ewige lewe! Om dit te verkry, moet ons ons oë daarop gevestig hou. Die spreker het ’n paar van die ooreenkomste en verskille gemeld tussen Christene in die wedloop na die lewe en atlete in atletiekkompetisies van die eerste eeu. Soos die atlete moet Christene hard oefen, die reëls nakom en hulle van onnodige laste bevry. Maar in teenstelling met atlete neem Christene aan ’n lewenslange wedloop deel en streef hulle na ’n prys wat vir ewig duur. Pleks dat daar net een wenner is, sal almal wat die wedloop na die lewe tot by die wenpaal voltooi die prys ontvang. Broer Timm het afgesluit: ‘As ons die prys van die lewe wil verkry, moet ons vrede geniet met Jehovah, die Gewer van die prys. En om vrede met Jehovah te geniet, moet ons vrede met ons broers geniet.’

Milton Henschel van die Bestuursliggaam het daarna ’n toespraak gehou oor die onderwerp “Deur bemoediging van die Skrifte kan ons hoop hê” (Romeine 15:4). ‘Vir die afgelope vyf maande’, het die spreker begin, ‘was julle besig met die Bybel. ’n Sterk band is gesmee. Julle het ’n sterk hoop. Wanneer julle na julle toewysings gaan, moet julle asseblief onthou waarom julle hoop so sterk is. Dit is omdat julle diep in die Skrif gedelf het.’ Om ’n voorbeeld te toon van ’n Bybelverslag wat hoop by ’n mens wek, het die spreker na Rigters hoofstukke 6 tot 8 verwys, wat die verhaal vertel van Gideon wat die opdrag gekry het om Israel van Midianitiese verdrukking te bevry. Nadat hy die verhaal en sy betekenis vir ons dag bespreek het, het hy gesê: ‘Wanneer jy die geleentheid kry om diep in die Skrif te delf en oor hierdie dinge na te dink, verkwik dit jou. Jy kry moed.’

Almal was gretig om te hoor watter afskeidsraad die skool se twee hoofinstrukteurs vir die studente sou hê. Jack Redford het eerste gepraat oor die tema: “Doen die regte ding.” Hy het die gegradueerdes daaraan herinner: ‘By Gilead is julle deeglik opgelei in wat reg is volgens die Skrif. Nou gaan julle uit na sendingtoewysings wat ’n uitdaging bied. En ons weet dat julle mettertyd waarskynlik ernstige probleme sal ondervind. Ons weet dat julle ondanks hierdie probleme, en ondanks julle eie gevoelens, die regte ding kan doen.’ Wat sal help? Om maar een ding te noem, om die regte beskouing van ander te hê. Die spreker het gesê: ‘Moenie volmaaktheid van onvolmaaktheid verwag nie.’ As ’n mens die regte beskouing van beproewende situasies het, kan dit jou ook help. ‘Ons het almal ons voor- en teenspoed in die lewe’, het hy gesê. ‘Enigiemand kan die voorspoed hanteer. Dit is hoe jy die teenspoed hanteer wat sal bepaal of jy in die sendingdiens sal volhard.’—Jakobus 1:2-4, NAV.

Die sekretaris van die skool, Ulysses Glass, het die tema “Watter hoop op die toekoms?” gekies. Op ’n vaderlike toon het hy die gegradueerdes aangemoedig om hulle hoop sterk te laat brand (Spreuke 13:12). ‘Dit is dalk skaars merkbaar wanneer ’n mens hoop begin verloor’, het hy verduidelik. ‘Omstandighede veroorsaak dalk dat ons te behep met onsself raak en van ons verhouding met God vergeet. Ons kan siek word of voel dat ander ons sleg behandel. Party het moontlik meer materiële dinge as ons of behaal beter resultate in die bediening, en ons word miskien ’n bietjie jaloers. As ons ooit toelaat dat sulke dinge geleidelik van ons besit neem, sal die werklikheid van die Koninkrykshoop in ons hart en verstand vervaag, en ons sal dalk selfs ophou om in die wedloop na die lewe te volhard.’ Wat kan gedoen word? ‘Positiewe stappe moet gedoen word as ons ons hoop weer lewendig wil maak. Ons moet ons hart en verstand vul met die gewisse beloftes van God en ons volle aandag vestig op die werklikheid van God se Koninkryk. En ons moet ons kommunikasie met Jehovah herstel, want dit sal beslis tot vreugde lei.’

Karl Klein van die Bestuursliggaam het die gradueringsrede gehou. Sy tema was: “Waarom moet ons nederig wees?” En wat is die antwoord op daardie vraag? ‘Omdat dit die regte en die regverdige ding is om te doen, die verstandige en liefdevolle ding is om te doen’, het hy in sy openingswoorde verduidelik. Die gehoor het aandagtig geluister toe hy vier voorbeelde van nederigheid bespreek het wat ons gerus kan navolg: (1) Jehovah God, wat beslis nederig was in sy handelinge met Abraham en Moses (Genesis 18:22-33; Numeri 14:11-21; Efesiërs 5:1); (2) Jesus Christus, wat ‘homself verneder en gehoorsaam geword het tot die dood aan ’n folterpaal’ (Filippense 2:5-8, NW; 1 Petrus 2:21); (3) die apostel Paulus, wat “die Here gedien het met alle nederigheid” (Handelinge 20:18, 19; 1 Korinthiërs 11:1) en (4) ‘diegene wat die leiding onder ons neem’, soos die eerste president van die Genootskap, Broer Russell, wat eenkeer geskryf het: “Die werk waarin die Here ons nederige talente met behae gebruik het, was nie soseer ’n werk om geestelike waarhede te ontdek nie, maar eerder om dit weer saam te stel, aan te pas en met mekaar te laat strook” (Hebreërs 13:7). Broer Klein het verdere kragtige redes gemeld waarom ons nederig moet wees. As die gegradueerdes ag slaan op die raad om nederig te wees, sal dit hulle beslis help om die gawe van sendingdiens verstandig te gebruik!

Na hierdie kommentare het die voorsitter die groete oorgedra wat uit verskeie dele van die aarde ontvang is. Toe het die tyd aangebreek vir die gegradueerdes om hulle diplomas te ontvang. Hulle het van sewe lande gekom—Finland, Frankryk, Kanada, Mauritius, die Nederlande, Swede en die Verenigde State. Maar hulle sendingtoewysings neem hulle na 11 lande—Bolivia, Estland, Grenada, Guatemala, Honduras, Hongarye, Mauritius, Peru, Togo, Turkye en Venezuela.

Na ’n pouse het die middagprogram begin met ’n verkorte Wagtoring-studie wat deur Joel Adams van die Diensafdelingkomitee gehou is. Daarna het die gegradueerdes ’n paar van die velddiensondervindinge opgevoer wat hulle gedurende die duur van die skool geniet het. Ten laaste is die drama Waarom eerbied toon vir teokratiese orde? aangebied tot opbouing van die hele gehoor, waaronder die gegradueerdes.

Hierdie gegradueerdes het waarlik na hulle buitelandse toewysings vertrek met raad en bemoediging wat hulle sal help om die gawe van sendingdiens te gebruik om nie net hulleself nie, maar ook ander met vreugde te vul.

[Tabel op bladsy 22]

Klasstatistiek

Aantal lande verteenwoordig: 7

Aantal lande waarheen gestuur: 11

Aantal studente: 22

Gemiddelde ouderdom: 33,4

Gemiddelde jare in waarheid: 16,7

Gemiddelde jare in voltydse bediening: 11,8

[Prent op bladsy 23]

92ste Gradueringsklas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead

In die lys hieronder word rye van voor na agter genommer en name word van links na regs in elke ry aangegee.

(1) Chan Chin Wah, M.; Bouancheaux, N.; Chapman, B.; Östberg, A.; Cole, L.; Jackson, K.; Meerwijk, A. (2) Smith, J.; Wollin, K.; Chapman, R.; Gabour, N.; Chan Chin Wah, J.; Smith, C.; Edvik, L. (3) Bouancheaux, E.; Östberg, S.; Cole, K.; Jackson, R.; Gabour, S.; Edvik, V.; Meerwijk, R.; Wollin, G.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel