‘Leef met Jehovah se dag goed in gedagte’
SOOS VERTEL DEUR LYLE REUSCH
VANDAT ek kan onthou, het ons gesin se lewe gedraai om ’n sterk geloof in die komende nuwe wêreld van geregtigheid. My moeder en vader het vir ons kinders uit die Bybel voorgelees van ‘die nuwe hemele en die nuwe aarde’ en van ‘die koei en die beer wat saam wei, die leeu wat strooi eet soos die os en ’n klein seuntjie wat hulle lei’. Hulle het dit só werklik laat klink dat ek myself as daardie klein seuntjie kon sien.—2 Petrus 3:11-13; Jesaja 11:6-9.
My grootvader, August Reusch, het gedurende die negentigerjare van die vorige eeu basiese Bybelwaarhede geleer deur korrespondensie met Charles T. Russell. Hy het baie gepreek in en om sy tuiste in die Noordwestelike Gebiede van Kanada, nou Yorkton, Saskatchewan. Hy het sy seuns herhaaldelik gemaan: “Seuns, pasop vir 1914!” Die oortuiging dat Jehovah se dag baie naby was, het my vader met ’n gevoel van dringendheid besiel wat hy sy hele lewe lank behou het, en dit is ook hoe ek tot nou toe geleef het.
Ma en Pa was die verpersoonliking van gasvryheid. ’n Bybelstudiegroep, oftewel ’n Ekklesia Bybelstudente, van Saskatoon, Saskatchewan, het gereeld in ons huis bymekaargekom. Reisende evangeliedienaars (wat pelgrims genoem is) het dikwels by ons tuisgegaan. Dit het my, my broer Verne en my suster Vera geestelik goed gedoen. Die boodskap van die Koninkryk was altyd vir ons ’n werklikheid en ons het altyd die dringendheid gevoel om ander daarvan te vertel (Mattheüs 24:14). Min het ek besef dat ek in die jare wat voorgelê het die grootste deel van my lewe daaraan sou bestee om die werk van hierdie pelgrims voort te sit deur as ’n reisende opsiener van Jehovah se Getuies te dien.
In 1927 het Pa met die gesin na Berkeley, Kalifornië, verhuis. Daarna het ek, in die hartjie van die finansiële depressie in 1933, my hoërskoolloopbaan voltooi. Ek en my broer Verne het ons gelukkig geag dat ons ’n betrekking gekry het by die fabriek van die Ford-motormaatskappy in Richmond, Kalifornië. Maar eendag in die lente van 1935 het ek gedink: ‘As ek moet hard werk, kan ek net sowel hard werk vir iets wat die moeite werd is.’ Daardie dag het ek my bedanking ingedien, en die volgende dag het ek geskryf en gevra vir ’n aansoekvorm om te kan dien in Bethel, die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York. Nadat ek in Junie 1935 die opwindende byeenkoms in Washington, D.C., bygewoon het, is ek vir Betheldiens aangeneem.
Betheldiens
Nathan Knorr, die fabrieksbestuurder, het my instandhoudingswerk aan geboue laat doen. Ek het op my eie gewerk. As ’n 20-jarige kêreltjie het ek baie belangrik gevoel. Ek kon oral in die fabriek gaan en niemand het gevra wat ek doen nie. Broer Knorr het waardering gehad vir die manier waarop ek my werk gedoen het, maar hy het ’n gesindheidsprobleem by my bespeur. Hy het my voortdurend bearbei sodat ek nederigheid kon aankweek.
Ek het egter eers na ’n geruime tyd besef dat broer Knorr my eintlik probeer help het. Ek het dus om verskoning gevra oor my houding en vir hom gesê dat ek vasbeslote is om te verbeter. Dit was die begin van ’n lang, hegte vriendskap met broer Knorr, wat in Januarie 1942 die Wagtoringgenootskap se derde president geword het.
Ek het nie net instandhoudingswerk gedoen nie, maar het ook geleer om die meeste van die masjiene in die boekbindery te bedien of om daarmee te help. Mettertyd het ek kantoorwerk gedoen en werksbestellings uitgeskryf en na alle dele van die fabriek uitgestuur. Die lente en somer van 1943 was veral besige en opwindende tye. Die wêreld was in die Tweede Wêreldoorlog gedompel en Jehovah se Getuies het teistering, inhegtenisnemings en tronkstrawwe op allerlei onregverdige aanklagte verduur. In 1940 het die Amerikaanse Appèlhof beslis dat skole van leerlinge kan vereis dat hulle die vlag moet salueer. Dit het aanleiding gegee tot ’n golf van geweld in 44 van die destydse 48 state. Getuiekinders is uit die skole gesit, ouers is in hegtenis geneem en gepeupelbendes het Getuies uit dorpe verdryf. Enkele Getuies is geskiet, ander is geteer-en-veer.
Namate Jehovah se Getuies in die howe teruggeveg het, het al die skryfwerk in die vorm van lasbriewe, saakbriewe en dokumente wat die Genootskap se regspersoneel opgestel het op my lessenaar beland om gedruk te word. Ons het almal baie ekstra ure gewerk om dinge betyds gereed te hê. Die Appèlhofbeslissings wat in Mei en Junie 1943 gelewer is—toe 12 uit 13 sake in die guns van Jehovah se Getuies beslis is—het ’n deel geword van die annale van die regsgeskiedenis. Ek is dankbaar dat ek eerstehands kon waarneem hoe Jehovah die weg geopen het sodat die goeie nuus verdedig en bevestig kon word.—Filippense 1:7.
Die Teokratiese Bedieningskool
Destyds was ons in sekere opsigte swak toegerus om die ontsaglike werk te verrig wat in Mattheüs 24:14 voorspel is, naamlik ‘om die goeie nuus van die Koninkryk oor die hele wêreld te verkondig voor die einde kom’. Broer Knorr het, as die Genootskap se president, die belangrikheid van ’n opleidingsprogram gesien. Ek en ander manlike lede van die Bethelgesin het ’n uitnodiging ontvang om in te skryf vir die “Gevorderde Kursus in Teokratiese Bediening”. Dit het mettertyd ontwikkel tot die Teokratiese Bedieningskool, wat sedert 1943 in die gemeentes van Jehovah se Getuies in werking is.
Ons het Maandagaand, 16 Februarie 1942, in die vergaderkamer van die Bethelgesin byeengekom en broer Knorr het die eerste instruksietoespraak gehou. Sy onderwerp was “Manuskripte van die Bybel”. Broer T. J. Sullivan was die skoolopsiener en het ons raad gegee om ons te help om te verbeter. Mettertyd het ek die toewysing as Bethelskoolopsiener ontvang, wat ek as ’n groot voorreg beskou het. Maar dit het weer tyd geword dat ek gedissiplineer moes word.
Ek was te krities en het nie die nodige respek getoon toe ek ’n ouer broer raad gegee het nie; daarom het broer Knorr reguit vir my gesê: “Niemand hou daarvan dat jy jou so grootmeneer hou nie.” Nadat hy my goed laat verstaan het wat hy bedoel het, en my ore rooi genoeg was, het broer Knorr se groot bruin oë versag. In ’n vriendelike stem het hy Psalm 141:5 gelees: “Laat die regverdige my slaan; dit sal ’n weldaad wees: en laat hom my teregwys; dit sal ’n kosbare olie wees, wat my hoof nie sal breek nie” (King James Version). Ek het daardie teks al dikwels gebruik wanneer dit my verantwoordelikheid was om ander tereg te wys.
Voor die instelling van die Teokratiese Bedieningskool het min van ons die geleentheid gehad om heelwat openbare toesprake te hou. Ná die dood van broer Rutherford het broer Knorr hard daaraan gewerk om sy spreekkuns te verbeter. My Bethelkamer was reg onder syne, en ek kon hoor hoe hy oefen om sy toesprake voor te dra. Hy het letterlik tientalle male die openbare toespraak “Vrede—Kan dit voortduur?” hardop gelees, wat hy by die byeenkoms in Cleveland in 1942 gehou het.
Op die pad
Nadat ek 13 jaar lank in Bethel gedien het, het broer Knorr my aangestel om as ’n streekopsiener in die veld te gaan dien. Toe hy my oor my nuwe toewysing inlig, het hy gesê: “Lyle, nou het jy die geleentheid om eerstehands waar te neem hoe Jehovah werklik met sy volk handel.” Met hierdie woorde in gedagte en twee tasse in die hand het ek op 15 Mei 1948 my loopbaan as ’n reisende opsiener begin. Ek het eers ’n paar maande lank as ’n kringopsiener gedien voordat ek met die streekwerk begin het.
Die eerste groep, of gemeente, wat ek bedien het, was ’n klein plattelandse groepie in Waseca, Minnesota. Ek het voor die tyd aan Dick Cain, die groepkneg (soos die presiderende opsiener destyds genoem is) geskryf om my by die trein te kom ontmoet. Hy was ’n spesiale pionier, en om uitgawes te besnoei het hy pas tevore uit sy gehuurde kamer getrek waar hy vir die winter gebly het, en in sy somertuiste, ’n tent, ingetrek. Maar Mei in Minnesota is nog nie juis somer nie! Daardie nag het ek, terwyl ek in die tent gebibber het, gewonder of ek gemaak is vir hierdie soort lewe. Ek het ’n kwaai verkoue opgedoen wat weke lank geduur het, maar ek het dit oorlewe.
Gedurende daardie vroeë jare het ek by broers tuisgegaan en uit ’n tas gelewe wanneer ek verskillende gemeentes en kringe besoek het. Ek het ondervinding opgedoen van allerlei vorme van huisvesting, en het onder andere op die kombuisvloer, op sitkamerbanke en in warm, bedompige solderkamers geslaap. Soms het ek tuisgegaan waar ’n gesinslid teen ons geloof gekant was. In Wisconsin het ’n ongelowige man my die hele week lank aangegluur elke keer as ek ingekom en uitgegaan het. Toe hy een aand dronk by die huis kom en ek hoor hoe hy dreig om “daardie vent te skiet”, het ek besluit dat dit tyd was om pad te gee. Maar onaangename ondervindings was betreklik min en het my toewysing net interessanter gemaak. Dit was iets waaroor ’n mens later lekker kon lag.
Ek vind ’n huweliksmaat
Ek onthou dit nog goed. By ’n kringbyeenkoms in Tiffin, Ohio, het ek ’n mooi, jong bruinoognooi Leona Ehrman, van Fort Wayne, Indiana, ontmoet. Sy is ook in die Christelike geloof opgevoed en was reeds etlike jare lank ’n getroue pionier. As ’n mens voortdurend aan die rondreis is, het jy nie juis veel geleentheid om iemand die hof te maak nie, maar ons het deur briewe met mekaar in aanraking gebly. Toe, in 1952, het ek gevra, “Sal jy?” en sy het gesê, “Ja, ek sal!” en toe het ons dit gedoen. Ons het getrou. Ons is dikwels gevra waarom ons nooit huis opgesit en met ’n gesin begin het nie, maar ons antwoord is dat ons wel ’n gesin het—broers, susters, vaders en moeders in sowat 44 state waar ons gedien het.—Markus 10:29, 30.
Party het al gevra: ‘Het julle nooit moeg geword en lus gevoel om tou op te gooi nie?’ Ja, meer as een maal. Maar tussen ons twee het die een die ander altyd onderskraag as hy moedeloos gevoel het. Ek het selfs eenkeer aan my broer Verne geskryf en hom gevra oor die moontlikheid om saam met hom te werk in sy verfwerk-onderneming. Sy antwoord was dat hy dikwels daarna uitgesien het omdat ons as kinders sulke groot maats was. Maar hy het my gemaan om baie goed oor my besluit na te dink. Toe het ek die woorde van broer Knorr onthou wat hy dikwels aan lede van die Bethelgesin herhaal het: “Dit is maklik om tou op te gooi; dit vereis moed en getrouheid om in jou toewysing te volhard.” Dit was nog altyd goeie raad.
Geen getroude reisende opsiener kan lank in sy toewysing volhou sonder ’n vrou wat lojaal en onderskragend is, soos Leona nog altyd vir my was nie. Haar hartlike, liefdevolle persoonlikheid en altyd opgeruimde gesindheid in die gemeentes het haar by duisende bemind gemaak. Ek word nooit moeg om vir haar te sê hoe lief ek haar het nie. Ek is oortuig dat dit haar ook help om in die werk te volhard.
Ek kan getuig van Jehovah se seën
Die streekopsiener se werk het hoofsaaklik te doen met kringbyeenkomste, waar hy elke week as voorsitter, openbare spreker en skoolopsiener dien. Jehovah se seën op hierdie reëling blyk duidelik uit die feit dat nie eers een van die honderde kringbyeenkomste waaroor ek toesig gehad het, afgelas moes word nie. Daar is wel steuringe by sommige veroorsaak, maar nie een is gekanselleer nie.
’n Gepeupel van meer as duisend teenstanders het in die lente van 1950 in Wooster, Ohio, buitekant die teater waar die byeenkoms gehou is, begin saamdrom net toe ek die slotlied vir die Saterdagaandsessie aankondig. Die gepeupel het kaste vrot eiers saamgebring om ons mee te bestook wanneer ons uitkom. Maar ons het die situasie opgesom en die program voortgesit met liedere, ondervindings en Bybeltoesprake wat uit die vuis gehou is. Die 800 Getuies het kalm en geduldig gebly.
Teen 2:00 vm. was dit bitter koud. Die saalwagters het die brandslange uitgebring en die eiers wat op die sypaadjie voor die teater beland het, begin afwas asof hulle dit skoonmaak vir die mense wat gaan uitkom. Die gepeupel het die warmte van die nabygeleë busdepot verlaat en weer begin saamdrom. Maar die saalwagters se optrede was ’n set om hulle aandag af te trek, en ons het die gehoor stilletjies by die agterdeur laat uitgaan. Almal het hulle motors veilig bereik. By ander byeenkomste in Ohio, naamlik in Canton, Defiance en Chillicothe, het oproeriges ook steuringe veroorsaak. Maar gepeupelgeweld het geleidelik afgeneem namate die gunstige beslissings van die Amerikaanse Appèlhof op wetteloses toegepas is.
Mettertyd het gesondheidsprobleme ’n verandering genoodsaak. Die Genootskap was dus so vriendelik om my in die middel-sewentigerjare aan te wys as kringopsiener in ’n gebied in Suid-Kalifornië waar gemeentes na aan mekaar is en waar gesondheidsdienste maklik bekombaar is. Die streekopsiener se pligte vereis dat hy baie meer moet reis en oor baie kringe toesig moet hou en hulle moet bedien, terwyl die kringopsiener se pligte insluit dat hy kringbyeenkomste moet reël en programdele moet toewys en moet laat oefen. Daarbenewens moet Pionierdiensskole gereël en gehou word. Die werk van reisende opsieners, hetsy op die streek- of kringwerk, is ’n voltydse, lonende leefwyse.
Ek verwag steeds die dag van Jehovah
Sedert my vroegste herinneringe meer as 70 jaar gelede het ek altyd ’n sterk gevoel van dringendheid gehad. In my gedagte was Armageddon altyd iets wat oormôre gaan kom (Openbaring 16:14, 16). Soos my vader, en sy vader voor hom, het ek altyd geleef soos die apostel Christene aangespoor het: ‘Hou die teenwoordigheid van die dag van Jehovah goed in gedagte.’ Ek het altyd die beloofde nuwe wêreld beskou as ’n ‘werklikheid hoewel dit nie gesien word nie’.—2 Petrus 3:11, 12, NW; Hebreërs 11:1, NW.
Hierdie verwagting wat van kleins af by my ingeskerp is, sal binnekort verwesenlik word. ‘Die koei en die berin sal saamwei’, ‘die leeu sal strooi eet soos die os’ en “’n klein seuntjie sal hulle aanja” (Jesaja 11:6-9). Hierdie hartverblydende beloftes word gewaarborg deur Jesus se woorde aan Johannes in Openbaring 21:5: “Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar.”