Wat sal jy vanjaar op skool doen?
1 In Januarie is dit weer terug skool toe. Vir talle jong Getuies beteken dit nuwe onderwysers, nuwe vakke en nuwe uitdagings. Terwyl jy op skool geleer word, het jy ook die geleentheid om ander te leer. Jy kan die goeie nuus van die Koninkryk met jou onderwysers en jou klasmaats deel. Die bekwame wyse waarop jy by die skool getuig, kan Jehovah se naam tot groot lof strek en sal jou groot bevrediging en vreugde verskaf.
WAT JEHOVAH VERWAG
2 Jehovah God wil hê dat jongmense by ware aanbidding betrokke moet wees (Ps. 148:12,13). Hy het ’n plek vir jongmense is sy diens belowe (Ps. 110:3; Matt. 19:13, 14). Deur jou ywerig besig te hou om vir skoolmaats te getuig en altyd onberispelik en eerlik by die skool te wees, sal jy ’n deel daaraan hê om Jehovah se naam te heilig (Spr. 27:11). Jou opregte voorbeeld van geloof kan ook ander beweeg om Jehovah te verheerlik.—Matt. 21:15, 16; Filip. 2:20.
3 Hou in gedagte dat vaardigheid met opleiding en oefening kom. As iemand geleer het om ’n musiekinstrument te speel, beteken dit nog nie dat hy dit goed speel nie. Net so moet jongmense eers ’n volle aandeel in basiese Christenbedrywighede hê voordat hulle bekwaam in die bediening kan wees. Hou aan om vooruitgang te maak, net soos die jong Jesus vooruitgang gemaak het (Luk. 2:52). Leer om goed te lees. Spits jou op jou skoolwerk toe. Beskou jou gesin- en gemeentelike studies in ’n ernstige lig. Sodoende kan jy, soos die jongman Timotheüs, guns vind in die oë van ander.—Hand. 16:1, 2.
WAT OUERS KAN DOEN
4 Ouers, spoor julle kinders aan en help hulle om informeel te getuig wanneer hulle by die skool is. Help hulle om te besef dat dit hulle dikwels beveilig en beskerm teen verkeerde gedrag op skool as hulle standpunt vir die waarheid inneem en getuig. Dit dwing ook respek af by leerlinge wat nie Getuies is nie.
5 Op skool duik daar dikwels situasies op waar jou maats druk op jou uitoefen om na skool aan klasprojekte of uitstappies deel te neem. Die druk van onderwysers en atletiekafrigters om aan buitemuurse bedrywighede deel te neem, kan dalk groter wees as wat jou kind alleen kan weerstaan. Goeie informasie verskyn op bladsy 22-25 van die Skool-brosjure om korrekte denke oor hierdie aangeleenthede op te bou. Maak gerus sulke onderwerpe ’n ruk lank die grondslag vir julle weeklikse gesinstudie. Die gedeelte op bladsy 8-12 wys kortliks maar duidelik op sedelike beginsels wat ’n jong Getuie moet volg ten einde Jehovah te behaag. As bykomende, diepgaande studie verlang word, kan verdere informasie in die Jeug-boek gevind word. Dit sal voordelig wees as jy die nodige tyd afstaan om hierdie sake met jou kinders te bespreek.—Spr. 22:6.
6 Terwyl jy voortgaan om Christenbeginsels gedurende die skooljaar toe te pas, kan jy daarvan seker wees dat talle goeie seëninge van Jehovah op jou wag, nou en in die toekoms. Soos Spreuke 20:11 sê: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is.”—Kyk ook Psalm 37:37.